Kan Christus terugkeer sonder dat ons hom sien?
WAAROM hierdie vraag? Want Jesus het self vir sy dissipels gesê: “Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:30). Maar toe hy later sy laaste aandete saam met sy dissipels genuttig het, het hy gesê: “Nog ’n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe” (Joh. 14:19). Hierdie oënskynlike weerspreking word verder gekompliseer deur die openbaring wat sowat ses dekades later aan die apostel Johannes gegee is. Dit lui: “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf.”—Openb. 1:7.
Moet al hierdie verklarings dat mense hom sal “sien” letterlik opgeneem word? Of het dit ’n dieper betekenis? Die belangrikheid van hierdie vrae word toegelig deur gebeure in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling, toe baie Jode hulle Messias verwag het.
HY HET VERSKYN, MAAR IS NIE HERKEN NIE
Die groot vraag kon destyds gewees het: ‘Kon die Messias of Christus verskyn sonder om herken te word?’ Hy sou natuurlik sigbaar wees as ’n mens, maar sou die Joodse publiek hom onderskei as die Een wat deur God gestuur is?
Die Bybelverslag toon duidelik hoe die meerderheid van die skare gereageer het. Met sy triomftog in Jerusalem in het hulle uitgeroep: “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” Toe ander gevra het: “Wie is hierdie man?” het die skares bly antwoord: “Dit is Jesus, die profeet, van Nasaret in Galilea.” Dit het vir hulle gelyk of hierdie wonderdoener nou sou optree en die Jode van die Romeinse juk sou bevry. Maar dit is nie wat gebeur het nie. Jesus was nie ’n politieke opstandeling nie, maar het eerder geestelike vryheid en godsdiensreinheid bevorder. Watter teleurstelling tog vir die nasionalistiese ambisies van baie mense van daardie tyd! Hierdie “messias” het nie gepas by hulle vooropgesette mening oor ’n verlosser vir Israel nie. Watter teenstelling tog tussen die vriendelike skare op 9 Nisan (Sondag) en die bloeddorstige gepeupel op 14 Nisan (Vrydag)! Hulle het almal gesê: “Laat Hom gekruisig word! . . . Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!”—Matt. 21:9-11; 27:22-25.
Weens hulle kortsigtigheid het die meerderheid van die Joodse volk die heerlike voorreg verbeur om konings saam met Christus in sy hemelse koninkryk te wees. Hulle politieke en patriotiese ideale het hulle blind gemaak vir geestelike seëninge wat hulle tot voordeel kon strek. Hulle wou ’n messias hê slegs vir hulle geslag en vir hulle bepaalde probleem—die Romeinse besetting van hulle land. Hulle het in gebreke gebly om die ware Messias te herken ondanks al die bewyse van sy identiteit.—Matt. 1:21-2:6.
IS DAAR ’N HEDENDAAGSE PARALLEL?
Is dit moontlik dat iets soortgelyks in ons 20ste eeu gebeur het? Is dit moontlik dat miljoene verkeerdelik verwag om Christus letterlik op die wolke te sien kom?
Ons het ’n betekenisvolle leidraad op hierdie vrae in Jesus se waarskuwing aan sy volgelinge: “As iemand dan vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar!—moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik is, ook die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê” (Matt. 24:23-25). Dit toon dat Christus se teenwoordigheid nie by hierdie of daardie geografiese plek sigbaar sal wees nie. Diegene wat beweer dat hulle die teruggekeerde Christus is of dat hulle hom “hier” of “daar” gesien het, is gevolglik òf mislei òf bedrieërs.
Die sleutel tot ’n begrip van die hele saak lê in die vraag wat vier van Christus se dissipels aan hulle Heer gestel het terwyl hulle van die nabygeleë Olyfberg af na Jerusalem en sy tempel gekyk het. Jesus het hulle verbaas deur te profeteer dat die tempel, die destydse sentrum van Joodse aanbidding, geheel en al vernietig sou word. Hulle het dus vir hom gevra: “Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u teenwoordigheid [Grieks, parousía] en van die voleinding van die stelsel?”
Jy wil miskien nou daardie teks, wat uit die New World Translation aangehaal is, vergelyk met jou eie eksemplaar van die Bybel. Volgens die Afrikaanse Bybel lui hierdie vers: “Wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” Die 1979-vertaling van die Die Nuwe Testament en die Psalms lui: “Wat sal die teken van u koms en van die einde van hierdie wêreld wees?” En Die Lewende Nuwe Testament sê: “Wat sal daar gebeur voordat U terugkom en voor die einde van die wêreld om te wys dat die tyd naby is?”—Matt. 24:3.
Die vertalings wat hier aangehaal is, het baie mense op ’n dwaalspoor gebring waar dit kom by die ware betekenis en toepassing van Jesus se antwoord aan sy dissipels. Dit is een ding vir gebeure om te toon dat iemand aan die kom of aan die terugkeer is, en iets heeltemal anders vir gebeure om te staaf dat die verwagte persoon reeds aangekom het. Jy het dit moontlik al ondervind toe jy by ’n lughawe of ’n spoorwegstasie vir iemand gewag het. Daar is dieselfde nuanse van betekenis tussen Christus se wederkoms en sy “teenwoordigheid”. Verbaas dit jou?
Maar hoe kan ons weet watter een—“teenwoordigheid” of “koms”—die akkurater vertaling is? Kom ons blaai na ’n ander teks wat dieselfde Griekse woord parousía gebruik en dan kyk ons hoe party van die gemelde Bybels dit vertaal. In Filippense 2:12 lees ons byvoorbeeld: “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid [Grieks, parousía] alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing” (AB). Hier sê die 1979-vertaling van Die Nuwe Testament en die Psalms: “My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was.” Vergelyk Filippense 1:26, wat parousías gebruik.a
Watter woorde word hier gebruik om parousía te vertaal? “Teenwoordigheid” en “by julle”. “Aankoms” of “koms” sal nie pas nie. Terloops, die spesifieke Griekse woord vir “koms”, eleúsis, is deur die Christenmartelaar Stefanus gebruik toe hy die volgende reguit vraag in sy verdediging voor die Joodse Raad gestel het: “Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms [Grieks, eleúseos] verkondig het van die Regverdige.”—Hand. 7:52.
SIGBAAR OF ONSIGBAAR?
In die lig van die feit dat Jesus sigbare tekens gegee het om sy teenwoordigheid aan te dui, is die vraag nou: Sou hy dan self sigbaar of onsigbaar wees? In plaas daarvan om tradisionele gedagtes hieroor te aanvaar, kan ons ons laat lei deur wat die Skrif toon. Die apostel Petrus het byvoorbeeld in sy eerste geïnspireerde brief geskryf: “Ook Christus het eens vir altyd betreffende sonde gesterf, ’n regverdige vir onregverdiges, om julle tot God te lei, hy, wat gedood is in die vlees, maar lewend gemaak is in die gees” (1 Pet. 3:18, NW). Die apostel Paulus lewer dieselfde getuienis wanneer hy sê: “Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tog nie meer so nie.”—2 Kor. 5:16.
Gestel Jesus het in die vlees teruggekeer. Sou dit die mensdom werklik tot voordeel strek, of sou dit ons tot nadeel strek? Dit sou inderdaad vrae laat ontstaan oor die geldigheid van sy offerande en die doel van sy eerste koms na die aarde. Christus het self gesê: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee [nie tydelik leen nie], is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee” (Joh. 6:51). Sy offerande is die grondslag vir die mensdom se verlossing, en sy opstanding tot geeslewe beteken dat ons ’n simpatieke voorspraak het om ons saak te bepleit. Paulus het gevolglik geskryf: “Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” Die mensdom sou niks baat indien Christus daardie posisie sou versaak om in die vlees op aarde te verskyn nie.—Rom. 8:34.
Wat is dan die alternatief vir Christus se wederkoms in die vlees? Kortom, dit is sy teenwoordigheid, of parousía, as die onsigbare Seun van God, wat met Koninkryksmag beklee is en sy aandag op die aarde toespits. Dit is waarom hy vir ons sigbare tekens gegee het om sy onsigbare teenwoordigheid te staaf.—Matt. 24:3-25:46.
HOE ‘GESIEN’?
Kom ons gaan nou, met hierdie punte in gedagte, terug na die tekste wat ons aan die begin van hierdie artikel aangehaal het. Een van hulle was Johannes 14:19, waar Jesus gesê het: “Nog ’n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe.” Ja, sy volgelinge, maar nie die algemene publiek nie, het hom by verskeie geleenthede na sy opstanding gesien. Dit was nie omdat hy weer sy geofferde liggaam teruggeneem het nie, maar hy het eerder vleeslike liggame aangeneem volgens die behoeftes van die geleentheid, soos engele tevore gedoen het (Luk. 1:11, 26, 27; 2:9-14). By twee geleenthede het hy in ’n vertrek aan sy dissipels verskyn “terwyl die deure gesluit was”. Geen normale skepsel van vlees en bloed kan tog onder sulke omstandighede verskyn en verdwyn nie.—Joh. 20:19, 26; 1 Kor. 15:3-8.
Jesus se woorde “julle sien My” het natuurlik baie groter betekenis as net sy verskyning as die verrese Christus. Hy het self ’n rukkie tevore gesê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek bereik het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” Hier was ’n duidelike aanduiding dat sy gesalfde volgelinge sy hemelse woning sal deel en hom op daardie lewensvlak sal sien.—Joh. 14:2, 3.
Maar hoe moet ons Openbaring 1:7 verstaan, wat daarop dui dat selfs ongelowiges ‘hom sal sien’? Daardie vers sê: “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf.” Moet dit letterlik opgeneem word? Hoe kan elke oog hom sien as Christus op die letterlike wolke ry? As hy in Australië sigbaar is, kan hy beslis nie terselfdertyd in Europa en die meeste ander dele van die aarde sigbaar wees nie, ongeag hoe hoog hy is. Die feit dat Christus se teenwoordigheid in verskeie tekste aan die figuurlike gebruik van wolke gekoppel word, help ons om te begryp dat sy teenwoordigheid onsigbaar moet wees aangesien wolke nie help om sigbaarheid te verbeter nie, soos enige vlieënier of vlugbeheerder maar te goed weet.
Maar wie is diegene wat hom deursteek het? Dit is letterlik deur Romeinse soldate gedoen, maar hulle is al lank dood (Joh. 19:23, 32-34). Hierdie woorde moet dus ’n ander betekenis hê. Jesus self verstrek die leidraad in sy gelykenis van die ‘skape en die bokke’ wanneer hy sê: “Vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen” (Matt. 25:31-46). Die nasies en individue wat Christus se dissipels in hierdie 20ste eeu op aarde mishandel of “deursteek”, word dus gereken as persone wat Christus gedurende hierdie tyd van sy onsigbare teenwoordigheid ‘deursteek’. En hulle sal bewus gemaak word van die erns van hulle dade en wie hulle oordeel. Ja, “al die geslagte van die aarde” sal Christus se teenwoordigheid en openbaring “sien” of met die geestesoog waarneem as gevolg van die skielike verandering van omstandighede wat hulle sal ondervind. Hulle sal besef dat Christus heers en oordeel, maar nie in hulle guns nie. Hulle sal goeie rede hê om rou te bedryf.
Miljoene persone rondom die wêreld het andersyds Christus se teenwoordigheid sedert die veelbewoë jaar 1914 waargeneem. Hoewel hulle weet dat oorloë, hongersnode en aardbewings in talle geslagte voorgekom het, besef hulle dat geen ander geslag selfs een wêreldoorlog, wat nog te sê twee, ondervind het nie. Geen vorige geslag het die vermoë besit om feitlik die hele mensdom uit te wis nie. Hoewel hulle weet dat Christus se profesie ’n kleiner vervulling voor die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. gehad het, besef hulle ook dat die bewoording van die profesie op iets groters gedui het. Die talle fasette van die teken wat Jesus voorspel het, kan nou waargeneem word, en party lede van die geslag wat die begin van hierdie rampe in 1914 gesien het, is nog met ons.—Matt. 24:34.
WAT GAAN JY DOEN?
Die vraag is nou: Wat gaan jou gesindheid teenoor Christus se onsigbare teenwoordigheid, sy parousía, wees? In hierdie eeu van toenemende sinisme het baie verkies om onverskillig te staan of te spot. Maar kan jy bekostig om dit te doen waar dit kom by God se voorneme om die mensdom te red? Is dit verstandig om die Soewereine Heer Jehovah se waarborge en voorsienings vir die toekoms van die mensdom ligtelik af te maak? In hierdie verband is Petrus se waarskuwing gepas: “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.”—2 Pet. 3:3, 4.
Wanneer die tyd aanbreek vir Christus se openbaring of regterlike optrede teenoor hierdie wêreld, sal niemand kan pleit dat hy weens omstandighede onkundig of onverskillig was nie. Jesus het dit self duidelik uiteengesit toe hy gesê het: “Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.” Daardie verpligte erkenning van Christus se teenwoordigheid sal te laat kom vir hulle welsyn. Dit sal vernietiging beteken vir diegene wat geen ag geslaan het nie.—Matt. 24:30; Openb. 1:7; 11:18.
Wat kan jy dus doen om nou God se seën te ontvang? Soek Jehovah nederig terwyl hy nog te vinde is. Lees en bestudeer die Bybel met die doel om vas te stel hoe Christus met sy eerste koms die volmaakte losprysoffer geword het, en met sy teenwoordigheid, waartydens ons nou lewe, ’n glorieryke geeskoning. Dit kan vir jou lewe en vreugde beteken. Tree sonder versuim in verbinding met Jehovah se Getuies by hulle plaaslike Koninkryksaal. Hulle sal jou met graagte en gratis help om jou Bybel te verstaan. As jy nie weet waar om met die Getuies in jou omgewing in verbinding te tree nie, kan jy gerus aan die uitgewers van hierdie tydskrif skryf by die naaste adres wat op bladsy 2 aangegee word.—Sef. 2:3.
[Voetnoot]
a Hier is al 24 plekke waar parousía voorkom, as jy hulle graag wil naslaan: Mattheüs 24:3, 27, 37, 39; 1 Korinthiërs 15:23; 16:17; 2 Korinthiërs 7:6, 7; 10:10; Filippense 1:26; 2:12; 1 Thessalonicense 2:19; 3:13; 4:15; 5:23; 2 Thessalonicense 2:1, 8, 9; Jakobus 5:7, 8; 2 Petrus 1:16; 3:4, 12; 1 Johannes 2:28. Dit is ook interessant om op te let dat drie van die vyf skrywers van die Christelike Griekse Skrifte wat die woord parousía gebruik het, deel was van die groep wat die vraag op die Olyfberg aan Jesus gestel het.—Markus 13:3.
[Prent op bladsy 5]
Hoewel die skares Jesus aanvanklik toegejuig het, het hy nie die soort messias geblyk te wees wat baie verwag het nie
[Prent op bladsy 6]
Wanneer ’n mens iemand se koms verwag, is dit nie dieselfde as om die persoon teenwoordig te hê nie
[Prent op bladsy 7]
Sou Jesus, as hy sigbare tekens gegee het om sy teenwoordigheid aan te dui, dan self sigbaar of onsigbaar wees?