“Koninkrykslojaliteit”—Wat beteken dit vir jou?
MAAR weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal . . . [dislojaal]” wees (2 Tim. 3:1, 2, vgl. NW). Niemand sal stry dat ons vandag ’n vervulling van hierdie profetiese woorde beleef nie. Daar heers ’n immertoenemende gees van dislojaliteit in die wêreld. Dit kom voor op elke vlak van die samelewing, en dit vreet in goeie verhoudinge tussen individue, gesinne, bure en nasies in. Dit is een van daardie dinge wat die tye “swaar” maak en die “laaste dae” van hierdie teenswoordige wêreldstelsel kenmerk.
Maar hoe verkwikkend anders was die algemene gees en boodskap van die honderde “Koninkrykslojaliteit”-Streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies wat verlede jaar gehou is tog nie! Die tema “Koninkrykslojaliteit” het volkome gestrook met die woorde van Dawid: “U lojale dienaars sal u [Jehovah] seën. Oor die heerlikheid van u koningskap sal hulle praat” (Ps. 145:10, 11, NW). Die gebeure by hierdie groot, veelrassige saamtrekke oor die hele aarde het onomstootlik bewys dat daar vandag nog baie mense is wat nie volgens hierdie wêreld se dislojale neigings optree nie. Hulle wil eerder lojaliteit in al hulle handelinge met hulle medemens aan die dag lê, en hulle wil veral lojaal bly aan “die koninkryk van ons Here [Jehovah] en van sy Christus”.—Openb. 11:15, NW.
Het jy die voorreg gehad om een van hierdie byeenkomste by te woon? Ons hoop so. Indien wel, hoe is jy geraak deur die talle toesprake, lewensondervindinge en aangrypende Bybeldramas wat aangebied is? Het dit jou verhouding met Jehovah laat verinnig en jou waardering vir alles wat jou toewyding aan hom beteken en behels, vergroot? Het die koninkryk van God vir jou wesenliker geword? Kortom—Wat beteken Koninkrykslojaliteit nou vir jou?
Vir die voordeel van al ons lesers gaan ons die onderliggende betekenis van die tema van die program en party van die glanspunte wat aangebied is, ontleed. Dit sal die hoofdoelwit van hierdie byeenkomste in ons gedagtes laat kristalliseer en sal toon hoe die kwessie van Koninkrykslojaliteit elke aspek van ons lewens behoort te raak.
WAT IS LOJALITEIT?
Die woord “lojaliteit” is ’n vertaling van die Hebreeuse selfstandige naamwoord hhe’sedh. Dit verwys na goedheid wat hom liefdevol aan ’n voorwerp heg en dit nie los voordat sy voorneme met daardie voorwerp verwesenlik is nie. Dit is die wonderlike eienskap wat God altyd teenoor sy voornemens en sy knegte openbaar. Jehovah is bowenal lojaal aan sy regmatige soewereiniteit. Die tyd het aangebreek dat God se soewereiniteit teenoor hierdie aarde uitgeoefen word deur middel van die Messiaanse koninkryk in die hande van God se Seun, Jesus Christus, en 144 000 hemelse medeheersers en -priesters. Hierdie koninkryk is iets waaraan Jehovah veral geheg is en wat hy nooit sal versaak voordat ‘al die nasies kom en voor hom aanbid’ nie.—Openb. 15:4.
Dit is dus geen wonder nie dat Jehovah se lojaliteit veral geopenbaar word teenoor al diegene wat opreg aanhou bid: “Laat u koninkryk kom” (Matt. 6:10). Dit was die aspek van Christelike lojaliteit wat veral by die byeenkomste aandag geniet het. Kan jy jouself as ’n onderdaan van God se koninkryk sien? ’n Lojale onderdaan? Een wat altyd geheg sal wees aan Jehovah, aan sy Seun en aan ander lojale onderdane van die Koninkryk? (Matt. 22:37; 1 Pet. 4:8). As dit is hoe jy voel, as dit jou voorneme is, dan het jy die gees en die betekenis van die uitdrukking Koninkrykslojaliteit gesnap. Jy kan jou verlustig in die wete dat Jehovah ‘teenoor iemand wat lojaal is, in lojaliteit handel’.—2 Sam. 22:26, NW.
Aangesien jy nou die onderdaan van ’n baie werklike koninkryk, God se koninkryk, is, moet jy bereid wees om jou lojaal te onderwerp en gehoorsaam te wees aan al die wette en beginsels van daardie hemelse regering. Hulle word almal vir ons in God se Woord, die Bybel, uiteengesit. Hulle geld vir alle terreine van die Christen se lewe: in die gesinskring, in ’n mens se predikingswerk as ’n bedienaar van die goeie nuus van God se koninkryk, in die Christengemeente en in ’n mens se algemene gesindheid teenoor die wêreldwye teokratiese reëling wat Jehovah nou op hierdie aarde gebruik. Hierdie vier aspekte van die Christen se lewe is behandel onder die temas Gesinsdag, Veldbedieningdag, Gemeentedag en Koninkryksdag. Kom ons bespreek elkeen afsonderlik om seker te maak dat ons die groot omvang van Koninkrykslojaliteit verstaan en gevolglik beter toegerus is om te antwoord op die persoonlike vraag: Wat beteken dit vir my?
GESINSDAG
Ouers—wat openbaar julle kinders omtrent julle? Wat geniet voorkeur in julle lewe? Is dit Koninkryksbelange of materiële dinge? Die antwoord op sulke indringende vrae is nou verbonde aan julle lojaliteit aan Jehovah. As julle lojaliteit aan God se koninkryk by julle kind saai, kan julle lojaliteit maai. (Vergelyk 2 Korinthiërs 9:6.) Hoe kan julle dit doen? Bestudeer gereeld God se Woord saam met julle gesin. Redeneer met julle kinders waarom Jehovah se raad die beste is. Gaan saam uit. Doen dinge as ’n gesin saam. Hou die kommunikasie oop. Die gemeente kan help, maar dit kan nooit jou plek as ’n ywerige ouer inneem nie (Ef. 6:4). Moet nooit ophou probeer om Koninkrykslojaliteit by julle kinders in te skerp nie!
Kinders—ondersteun en gehoorsaam julle ouers en die ouere manne in die gemeente. Vermy alle vorme van slegte gedrag en vuil taal. So is julle lojaal aan julle ouers, aan die gemeente en aan Jehovah. Wat is julle doelwit in die lewe? Om goeie geestelike eienskappe te verkry? Om gereeld aan die bediening deel te neem? Om vergaderinge gereeld by te woon? Om julle verhouding met Jehovah te verbeter? Om ’n pionier, ’n sendeling of ’n Bethel-werker te word? As dit julle doelwitte is, sal julle die opleiding van lojale ouers weerspieël en toon dat julle lojale onderdane van God se koninkryk is.
VELDBEDIENINGDAG
Jesus het gesê: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Matt. 24:13). As ons geestelike doelwitte voor oë hou, help dit ons almal om te volhard. Hierdie doelwitte sluit Christelike rypheid en groter diensvoorregte, veral die voltydse bediening, in. Opsieners en ouers kan veel doen om oud en jonk aan te spoor om hierdie wonderlike diensvoorreg na te streef en sodoende ‘eers die koninkryk van God in hulle lewe te soek’ (Matt. 6:33). Ook dit is lojaliteit aan God se koninkryk. Die oproep tot aksie is vandag: Voorwaarts, bedienaars van die Koninkryk! Al God se bedienaars behoort inderdaad vorentoe te kyk en voortwaarts te beweeg en sodoende die voorbeeld van Jehovah en Christus Jesus te volg.
GEMEENTEDAG
“’n Opsiener moet . . . lojaal . . . wees” (Tit. 1:7, 8, NW). Lojaal waaraan? Aan Jehovah en sy regverdige beginsels, aan Christus en sy “verstandige dienskneg” en aan die gemeentelike reëling.—Matt. 24:45-47; 1 Thess. 2:10; Openb. 1:12-17; Ef. 1:22, 23.
Is jy ’n opsiener? Volg dan Jesus se voorbeeld. Hy was selfopofferend. Die vernaamste ding in sy lewe was om Jehovah se werk te doen. Sy ywer is ook getoon deur sy liefde vir die goeie en sy haat vir die kwaad.—1 Pet. 2:21; Hebr. 1:9.
Wat is jou gesindheid teenoor voorskrifte van “die getroue en verstandige dienskneg” af? Lojaliteit behoort jou te beweeg om “geseglik” te wees (Jak. 3:17). Probeer altyd om die gees te snap van informasie wat deur die “dienskneg”-klas gepubliseer is. Dra dit dan aan die gemeente oor. Die broers het jou lojale voorbeeld nodig terwyl jy met die res van die liggaam van ouere manne saamwerk. Hulle het jou ondersteuning in die bediening en alle gemeentelike reëlings nodig. Jou lojaliteit sal beloon word net so seker as wat Dawid s’n beloon is (Ps. 18:2-4, 26). Jy sal ’n skoon gewete, gemoedsrus en ’n lojaal verenigde, sterk gemeente hê.
KONINKRYKSDAG
“God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” (1 Kor. 14:33). Jehovah God weet hoe om sake so te reël dat alles wat deur sy wette beheer word sy plek het. Sy skepping getuig hiervan. Dit is dus geen wonder nie dat Jehovah nog altyd belang gestel het in die vrede en orde van sy ware aanbidders op die aarde. ’n Goeie voorbeeld hiervan en die goeie gevolge kan gevind word in Gideon se klein bende van 300 krygers wat gedeel het in ’n groot teokratiese oorwinning oor hulle vyande. Waarom het hulle gewen? As gevolg van lojale gehoorsaamheid en die strenge nakoming van teokratiese instruksies van hulle aanvoerder af. “Hulle het bly staan elkeen op sy plek”, word ons meegedeel (Rigt. 7:19-21). Watter wonderlike voorbeeld vir ware aanbidders van vandag! In plaas daarvan om voort te gaan met ons eie idees en metodes, moet ons ons gewillig onderwerp aan die teokratiese reëling en die kanaal erken waardeur Jehovah sy volk rig.
JEHOVAH BEWAAK SY LOJALE DIENAARS
Dit was ’n paar van die glanspunte wat by die “Koninkrykslojaliteit”-byeenkomste aangebied is en wat al die aanwesiges laat besef het dat “die koninkryk van ons Here en van sy Christus” die lewens van alle hedendaagse ware aanbidders al hoe meer beïnvloed (Openb. 11:15, NW). Die teenswoordige beloning vir almal wat lojaal aan God se koninkryk is, is inderdaad groot. Spreuke 2:8 (NW) verseker hulle: “Hy [Jehovah] sal die weg van sy lojale dienaars bewaak.” Jehovah se Getuies glo dit. Vol vertroue is hulle nou vasbeslote om steeds as God se lojale Koninkryksverkondigers vordering te maak.
[Venster/Prent op bladsy 10]
Een 72-jarige vrou, wat by die streekbyeenkoms in Belmont Park, New York, gedoop is, het haar Koninkrykslojaliteit soos volg uitgedruk: “Daar bestaan by my geen twyfel dat dit die regte geloof is nie”. Ek wil Jehovah as die enige ware God aanbid”
[Venster op bladsy 10]
’n Een-en-sewentigjarige man wat sy lewe lank ’n strawwe drinker en roker was, is by Dodger-Stadion, Los Angeles, gedoop en het die volgende oor die kwessie van lojaliteit gesê: “’n Mens kan nie vir ewig ’n draadsitter wees nie . . . Ek het Jehovah in my hart waarlik liefgekry en dit is my begeerte om hom vir ewig te dien”
[Prent op bladsy 11]
Hierdie gelukkige ouers van twee jong seuns was onder die 744 wat die afgelope noordelike somer by Belmont Park gedoop is. Hulle is saam gedoop en het sodoende hulle lojaliteit aan Jehovah en Jesus Christus getoon
[Venster/Prent op bladsy 12]
Byeenkomsdrama: Jehovah beloon sy lojale dienaars
Israel se eerste koning, Saul, het ongehoorsaam geword—hy het nie op Jehovah gewag nie en dinge op sy manier gedoen. Jehovah het Dawid toe as koning laat salf en Saul op die troon gelaat (1 Sam. 13:9-14; 15:13-23; 16:11-23). Saul het jaloers geword op Dawid en het probeer om hom dood te maak.
Sou jy onder sulke moeilike omstandighede aan Jehovah lojaal gebly het? Sou jy op Jehovah gewag het of probeer het om dinge op jou manier reg te stel?
“Toe probeer Saul om Dawid met die spies teen die muur vas te steek, maar hy het vir Saul gekoes, sodat hy die spies teen die muur vasgooi.”—1 Sam. 19:10.
Met 3 000 man het Saul Dawid gaan soek. Saul het ’n spelonk binnegegaan waar Dawid en sy manne weggekruip het. Dawid is aangespoor om Saul dood te maak, maar hy het gesê: “Mag die HERE my bewaar dat ek so iets aan . . . die gesalfde van die HERE . . . sou doen.”—1 Sam. 24:5, 7.
Saul het in ’n oorlog teen die Filistyne gesneuwel. Later het “die oudstes van Israel . . . Dawid as koning oor Israel gesalf.”—2 Sam. 5:1-3.
Dawid was ’n toonbeeld van lojaliteit aan sy God, Jehovah. Hy het Hom nooit vooruitgeloop en dinge op sy eie manier gedoen nie. Jehovah het hom “’n man na my hart, wat al my welbehae sal doen”, genoem.—Hand. 13:22.
Sal Jehovah dieselfde van jou sê? Sal jy altyd op hom wag? Sal jy lojaal aan Jehovah, sy goedgekeurde gesalfdes en sy teokratiese organisasie en die reëlings daarvan wees? Dan sal Jehovah jou beloon soos hy Dawid beloon het.
[Venster/Prent op bladsy 13]
Pas op vir opstandige praatjies!
Die kinders van Israel het ingestem: “Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen” (Ex. 19:1-5, 8). Maar die laer het begin om teen Moses te murmureer en te kla. Korag, Datan en Abiram was die voorbokke. Hulle het ander beïnvloed en eerlank het baie openlik teen Jehovah in opstand gekom.
Hoe sou jy op daardie opstandige praatjies gereageer het? Sou jou geloof in Jehovah se kneg Moses vas gebly het soos dié van Kaleb en Josua?
’n Man wat hout op die sabbatdag bymekaargemaak het, is na Moses gebring. Jehovah het hom laat doodmaak, want dit was ’n skending van God se wet—nie ‘sommer iets onbenulligs’ nie.—Num. 15:32-36.
“Toe sê die hele vergadering dat [Josua en Kaleb] gestenig moet word”, want uit die 12 man wat gestuur is om Kanaän te verken, het net hulle geloof getoon dat Jehovah die Israeliete die land sou gee.—Num. 13:25-14:10.
Jehovah het Aäron, en Korag saam met 250 ander, beveel om wierook te offer. Vuur het neergedaal en die rebelle verteer. En Jehovah het die aarde Datan en Abiram en hulle huisgesinne sowel as Korag se huisgesin laat insluk (Num. 16:32, 35). So het Hy die geskil oor teokratiese aanstelling besleg.
Opstand kan as iets kleins begin—kritiek op die ouere manne se besluit of ’n voorsiening van die “getroue en verstandige dienskneg”. Maar dit kan tot openlike teenkanting lei. Judas waarsku: “Wee hulle, want hulle het . . . in die verset van Korag omgekom.” Dit is baie beter om op Judas se verdere raad ag te slaan: “Maar julle, geliefdes, moet julleself . . . in die liefde van God bewaar.”—Jud. 11, 20, 21.