Die Messias se teenwoordigheid en sy heerskappy
“Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.”—HANDELINGE 1:11.
1, 2. (a) Hoe het twee engele Jesus se apostels vertroos toe hy na die hemel opgevaar het? (b) Watter vrae ontstaan oor die vooruitsig op Christus se wederkoms?
ELF manne het teen die oostelike hang van die Olyfberg gestaan en hemelwaarts gekyk. Jesus Christus het kort tevore van hulle af opgevaar en sy gestalte het geleidelik verdwyn totdat hy deur ’n wolk verberg is. Hierdie manne het in hulle jare saam met Jesus gesien hoe hy oorvloedige bewys lewer dat hy die Messias is; hulle het selfs die hartseer van sy dood en die vreugde van sy opstanding deurgemaak. Nou was hy weg.
2 Twee engele het skielik verskyn en hierdie vertroostende woorde geuiter: “Galilese manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (Handelinge 1:11). Hoe gerusstellend tog—Jesus se hemelvaart het nie beteken dat hy klaar was met die aarde en die mensdom nie! Inteendeel, Jesus sou terugkom. Hierdie woorde het die apostels ongetwyfeld met hoop vervul. Miljoene mense heg vandag ook groot belangrikheid aan die belofte van Christus se wederkoms. Sommige noem dit die “Tweede koms” of “Advent”. Maar die meeste mense verstaan blykbaar nie wat Christus se wederkoms werklik beteken nie. Hoe keer Christus terug? Wanneer? En hoe beïnvloed dit ons lewe vandag?
Hoe Christus se wederkoms sou plaasvind
3. Wat glo baie mense oor Christus se wederkoms?
3 Volgens die boek An Evangelical Christology “word die koninkryk van God eindelik, openlik en vir ewig tydens Christus se tweede koms of wederkoms (parousia) opgerig”. Die meeste mense glo dat Christus se wederkoms openlik sigbaar sal wees, dat almal op die planeet dit letterlik sal sien. Ter ondersteuning hiervan vestig baie die aandag op Openbaring 1:7, waar dit sê: “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het.” Maar moet hierdie vers letterlik verstaan word?
4, 5. (a) Hoe weet ons dat Openbaring 1:7 nie letterlik opgeneem moet word nie? (b) Hoe bevestig Jesus se eie woorde hierdie begrip?
4 ’n Mens moet onthou dat die boek Openbaring “in tekens” oorgedra word (Openbaring 1:1, NW). Hierdie deel moet dus simbolies wees; hoe kon “hulle wat Hom deursteek het” Christus se wederkoms immers sien? Hulle is al byna 20 eeue lank dood! Afgesien daarvan het die engele gesê dat Christus “net so” sou kom soos hy vertrek het. Wel, hoe het hy vertrek? Het miljoene dit sien gebeur? Nee, net ’n paar getroues het dit sien gebeur. En het die apostels, toe die engele met hulle gepraat het, Christus die heeltyd gesien terwyl hy na die hemel opgevaar het? Nee, ’n wolkbedekking het Jesus vir hulle verberg. Hy moes dus die geestehemele die een of ander tyd daarna as ’n geespersoon, onsigbaar vir mense-oë, binnegegaan het (1 Korinthiërs 15:50). Die apostels het derhalwe nét die begin van Jesus se hemelvaart gesien; hulle kon nie die einde daarvan, sy terugkeer na die hemelse teenwoordigheid van sy Vader, Jehovah, sien nie. Hulle kon dit net met hulle oë van die geloof sien.—Johannes 20:17.
5 Die Bybel leer dat Jesus op ’n baie soortgelyke wyse sal terugkeer. Jesus self het kort voor sy dood gesê: “Nog ’n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie” (Johannes 14:19). Hy het ook gesê: “Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie” (Lukas 17:20). Hoe sal “elke oog” hom dan sien? Om dit te beantwoord, moet ons eers ’n duidelike begrip kry van die woord wat Jesus en sy volgelinge in verband met sy wederkoms gebruik het.
6. (a) Waarom is woorde soos “wederkoms”, “aankoms”, “advent” en “koms” nie gepaste vertalings van die Griekse woord pa·rou·siʹa nie? (b) Wat toon dat die pa·rou·siʹa of “teenwoordigheid” baie langer as net ’n oomblik duur?
6 Feit is dat Christus baie meer doen as om bloot ‘weer te kom’. Die woord “wederkoms”, soos “koms”, “aankoms” of “advent”, beteken ’n enkele gebeurtenis wat vinnig verby is. Maar die Griekse woord wat Jesus en sy volgelinge gebruik het, beteken baie meer. Die woord is pa·rou·siʹa wat letterlik “om langsaan te wees” of “teenwoordigheid” beteken. Die meeste geleerdes stem saam dat hierdie woord nie net ’n aankoms behels nie, maar ook ’n daaropvolgende teenwoordigheid—soos wanneer ’n koninklike persoon ’n staatsbesoek aflê. Hierdie teenwoordigheid is nie net ’n kortstondige gebeurtenis nie; dit is ’n bepaalde tydvak, ’n vasgestelde tydperk. In Mattheüs 24:37-39 het Jesus gesê dat “die teenwoordigheid [pa·rou·siʹa] van die Seun van die mens” soos “die dae van Noag” sal wees wat sy klimaks in die Vloed bereik het (NW). Noag het dekades lank aan die ark gebou en die goddeloses gewaarsku voor die Vloed gekom en daardie verdorwe wêreldstelsel uitgewis het. Christus se onsigbare teenwoordigheid strek dus ook oor ’n tydperk wat etlike dekades duur voordat dit ook sy klimaks in ’n groot vernietiging bereik.
7. (a) Wat bewys dat die pa·rou·siʹa onsigbaar vir mense-oë is? (b) Hoe en wanneer sal tekste vervul word wat Christus se wederkoms as sigbaar vir “elke oog” beskryf?
7 Die pa·rou·siʹa is gewis onsigbaar vir mense-oë. Indien dit sigbaar sou wees, waarom het Jesus dan, soos ons sal sien, soveel tyd daaraan bestee om sy volgelinge ’n teken te gee wat hulle kan help om sy teenwoordigheid te onderskei?a Maar wanneer Christus kom om Satan se wêreldstelsel te vernietig, sal die feit dat hy teenwoordig is vir almal baie duidelik wees. Dit is dán wanneer ‘elke oog Hom sal sien’. Selfs Jesus se teenstanders sal tot hulle ontsteltenis kan sien dat Christus se heerskappy ’n werklikheid is.—Sien Mattheüs 24:30; 2 Thessalonicense 2:8; Openbaring 1:5, 6.
Wanneer begin dit?
8. Watter gebeurtenis kenmerk die begin van Christus se teenwoordigheid, en waar het dit gebeur?
8 Die Messias se teenwoordigheid begin met ’n gebeurtenis ter vervulling van iets wat herhaaldelik in die Messiaanse profesieë voorkom. Hy word as Koning in die hemel gekroon (2 Samuel 7:12-16; Jesaja 9:5, 6; Esegiël 21:26, 27). Jesus het self getoon dat sy teenwoordigheid met sy koningskap verband sou hou. Hy het homself in verskeie gelykenisse vergelyk met ’n huisheer wat sy huishouding en sy diensknegte verlaat en vir ’n lang tyd na ’n “ver land” reis waar hy “koningskap” ontvang. Hy het een so ’n gelykenis gegee as deel van sy antwoord op sy apostels se vraag oor wanneer sy pa·rou·siʹa sou begin; ’n ander een het hy gegee omdat “hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn” (Lukas 19:11, 12, 15; Mattheüs 24:3; 25:14, 19). Gedurende sy tyd as ’n mens op die aarde was sy kroning iets wat nog ver in die toekoms was, iets wat in die “ver land” van die hemel sou plaasvind. Wanneer sou dit gebeur?
9, 10. Watter bewys is daar dat Christus tans in die hemel regeer, en wanneer het hy begin regeer?
9 Toe Jesus se dissipels hom gevra het: “Wat is die teken van u koms [“teenwoordigheid”, NW] en van die voleinding van die wêreld?” het Jesus geantwoord deur hulle ’n breedvoerige beskrywing van daardie toekomstige tyd te gee. (Mattheüs, hoofstuk 24; Markus, hoofstuk 13; Lukas, hoofstuk 21; sien ook 2 Timotheüs 3:1-5; Openbaring, hoofstuk 6.) Hierdie teken is ’n uitvoerige beskrywing van ’n moeilike tydperk. Dit is ’n tydperk wat gekenmerk word deur internasionale oorloë, stygende misdaadsyfers, verslegtende gesinslewe, siekte-epidemies, hongersnode en aardbewings—nie as probleme op plaaslike gebied nie, maar as krisisse wat op wêreldskaal plaasvind. Klink dit bekend? Elke nuwe dag bevestig dat die 20ste eeu Jesus se beskrywing volmaak pas.
10 Geskiedkundiges stem saam dat 1914 ’n keerpunt in die mensegeskiedenis was, ’n deurslaggewende jaar, waarná baie van hierdie probleme begin handuit ruk en op ’n wêreldskaal begin toeneem het. Ja, fisiese wêreldgebeure ter vervulling van Bybelprofesieë dui almal op 1914 as die jaar toe Jesus as Koning in die hemel begin regeer het. Daarbenewens verskaf ’n profesie in Daniël hoofstuk 4 chronologiese bewys wat ons by presies daardie selfde jaar—1914—bring as die tyd wanneer Jehovah se aangestelde Koning sy heerskappy sou begin.b
Waarom ’n tyd van probleme?
11, 12. (a) Waarom is dit vir sommige moeilik om te glo dat Christus nou in die hemel regeer? (b) Hoe kan ons illustreer wat gebeur het nadat Jesus as Koning gekroon is?
11 Maar sommige wonder: ‘Waarom is die wêreld so vol probleme as die Messias in die hemel regeer? Is sy heerskappy ondoeltreffend?’ ’n Illustrasie kan help. ’n Slegte president regeer ’n land. Hy het ’n verdorwe stelsel opgerig wat ’n invloed op die hele land het. Maar ’n verkiesing word gehou; ’n goeie man wen. Wat nou? Soos in die geval van sommige demokratiese lande volg daar ’n oorgangstydperk van etlike maande voordat die nuwe president ingehuldig word. Hoe sal hierdie twee manne gedurende so ’n tydperk optree? Sal die goeie man onmiddellik stappe doen teen al die slegte dinge wat sy voorganger deur die hele land gedoen het en ’n einde daaraan maak? Sal hy nie eerder eers aandag aan die hoofstad skenk, ’n nuwe kabinet saamstel en die vorige president se oneerlike kamerade en makkers afdank nie? Sodoende kan hy, wanneer hy die bewind ten volle oorneem, vanuit ’n skoon, doeltreffende regeringsetel regeer. En sal die verdorwe president nie die kort tydjie wat hy oor het, benut om soveel voordele as wat hy kan op oneerlike wyse uit die land te kry voordat hy al sy mag verloor nie?
12 Dit is as ’t ware dieselfde met Christus se pa·rou·siʹa. Openbaring 12:7-12 toon dat Christus, toe hy Koning in die hemel gemaak is, eers Satan en sy demone uit die hemel gewerp en sodoende die plek van Sy regering skoongemaak het. Noudat Satan hierdie langverwagte neerlaag gely het, het hy “min tyd” oor. Hoe tree hy op tydens hierdie “min tyd” voordat Christus sy volle mag oor die aarde oorneem? Soos daardie verdorwe president probeer hy alles wat hy kan uit hierdie ou stelsel kry. Hy stel nie in geld belang nie; hy stel in menselewens belang. Hy wil soveel mense as moontlik van Jehovah en Sy regerende Koning vervreem.
13. Hoe toon die Skrif dat die begin van Christus se heerskappy ’n tyd van weë hier op die aarde sal wees?
13 Dit is dus geen wonder dat die begin van die Messias se heerskappy ’n tydperk van ‘weë vir die bewoners van die aarde’ beteken nie (Openbaring 12:12). Psalm 110:1, 2, 6 toon eweneens dat die Messias sy heerskappy ‘te midde van sy vyande’ begin. Hy sal “die nasies”, asook elke aspek van Satan se verdorwe stelsel, eers later geheel en al vernietig!
Wanneer die Messias oor die aarde heers
14. Wat sal die Messias kan doen nadat hy Satan se goddelose stelsel van dinge vernietig het?
14 Nadat Satan se stelsel en almal wat dit steun deur die Messiaanse Koning, Jesus Christus, vernietig is, sal hy eindelik in ’n posisie wees om wonderlike Bybelprofesieë te vervul wat sy Duisendjarige Heerskappy beskryf. Jesaja 11:1-10 help ons om te sien presies watter soort heerser die Messias sal wees. Vers 2 sê vir ons dat hy “die Gees van die HERE sal hê . . . , die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte”.
15. Wat sal ‘die Gees van sterkte’ tydens die Messiaanse heerskappy beteken?
15 Dink net wat ‘die Gees van sterkte’ tydens Jesus se heerskappy sal beteken. Toe hy op die aarde was, het Jehovah hom ’n mate van mag gegee sodat hy wonderwerke kon verrig. En hy het getoon dat hy ’n hartgrondige begeerte het om mense te help deur te sê: “Ek wil” (Mattheüs 8:3). Maar die wonderwerke wat hy destyds gedoen het, was net ’n voorsmaak van wat hy gaan doen wanneer hy vanuit die hemel regeer. Jesus sal wonderwerke op ’n wêreldskaal verrig! Siekes, blindes, dowes, verminktes en verlamdes sal vir ewig genees word (Jesaja 35:5, 6). ’n Oorvloed voedsel wat regverdig versprei word, sal vir ewig ’n einde aan honger maak (Psalm 72:16). Wat van daardie ontelbare miljoene in die grafte vir wie God graag onthou? Jesus se “sterkte” sal onder andere behels dat hy die mag het om hulle op te wek, wat elkeen die geleentheid sal bied om vir ewig in die Paradys te lewe! (Johannes 5:28, 29). Tog sal die Messiaanse Koning met al sy sterkte altyd uiters nederig wees. Hy het “’n welgevalle aan die vrees van die HERE”.—Jesaja 11:3.
16. Watter soort Regter sal die Messiaanse Koning wees, en hoe sal dit verskil van die rekord van menseregters?
16 Hierdie Koning sal ook ’n volmaakte Regter wees. Hy “sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie”. Van watter menseregter in die verlede of in die hede kan daar dieselfde gesê word? Selfs ’n baie wyse man kan net oordeel na wat hy sien en hoor, ongeag hoeveel wysheid of insig hy besit. Geslepe redeneringe, slim sette in die hof of teenstrydige getuienis kan regters en juries van hierdie ou wêreld dus beïnvloed of verwar. Dit is dikwels net die rykes en magtiges wat ’n goeie verdediging kan bekostig en sodoende koop hulle in werklikheid geregtigheid. Dit sal nie die geval onder die Messiaanse Regter wees nie! Hy lees harte. Hy sien alles raak. Reg wat met liefde en genade versag is, sal nie te koop wees nie. Dit sal altyd seëvier.—Jesaja 11:3-5.
Hoe sy heerskappy jou raak
17, 18. (a) Watter pragtige prentjie word in Jesaja 11:6-9 van die mensdom se toekoms geskilder? (b) Op wie is hierdie profesie hoofsaaklik van toepassing, en waarom? (c) Hoe sal hierdie profesie ’n letterlike vervulling hê?
17 Die Messias se heerskappy het begryplikerwys ’n diepgaande invloed op sy onderdane. Dit verander mense. Jesaja 11:6-9 toon presies hoe omvattend sulke veranderings is. Hierdie profesie skilder ’n aangrypende prentjie van gevaarlike roofdiere—bere, wolwe, luiperds, leeus, kobras—saam met onskadelike huisdiere en selfs kinders. Maar die roofdiere hou vir hulle geen gevaar in nie! Waarom nie? Vers 9 antwoord: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE [“Jehovah”, NW] soos die waters die seebodem oordek.”
18 “Die kennis van die HERE [“Jehovah”, NW]” kan natuurlik geen uitwerking op letterlike diere hê nie; hierdie verse moet gevolglik hoofsaaklik op mense van toepassing wees. Die Messias se heerskappy waarborg ’n wêreldwye onderrigtingsprogram wat mense van Jehovah en sy weë sal leer en alle mense sal leer om hulle medemens met liefde, respek en waardigheid te behandel. In die toekomstige Paradys sal die Messias die mensdom wonderdadig tot fisiese en sedelike volmaaktheid verhef. Die roofsugtige, dierlike eienskappe wat die onvolmaakte menslike natuur ontsier, sal tot die verlede behoort. Die mensdom sal uiteindelik letterlik ook in vrede met die diere saamlewe!—Vergelyk Genesis 1:28.
19. Hoe beïnvloed die Messias se heerskappy die lewe van mense in hierdie laaste dae?
19 Maar ons moet in gedagte hou dat die Messias nou regeer. Die onderdane van sy Koninkryk leer nou al om in vrede met mekaar saam te lewe en Jesaja 11:6-9 dus in een opsig te vervul. Daarbenewens vervul Jesus Jesaja 11:10 al byna 80 jaar lank: “In dié dag sal die nasies vra na die wortel van Isai, wat daar staan as ’n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees.” Mense uit alle nasies wend hulle tot die Messias. Waarom? Omdat hy “as ’n banier” staan sedert hy begin regeer het. Hy maak sy teenwoordigheid wêreldwyd bekend deur middel van die ontsaglike onderrigtingsprogram wat hierbo beskryf word. Trouens, Jesus het voorspel dat ’n wêreldwye predikingswerk ’n vername teken van sy teenwoordigheid voor die einde van hierdie ou stelsel sou wees.—Mattheüs 24:14.
20. Watter gesindheid moet alle onderdane van die Messiaanse heerskappy vermy, en waarom?
20 Christus se teenwoordigheid in Koninklike mag is derhalwe nie ’n ver verwyderde, teoretiese saak wat bloot ’n onderwerp vir intellektuele debat onder teoloë is nie. Sy heerskappy beïnvloed en verander lewens hier op die aarde, net soos Jesaja voorspel het dit sou. Jesus het miljoene onderdane vir sy Koninkryk uit hierdie verdorwe wêreldstelsel gelei. Is jy een van hierdie onderdane? Dan moet jy ons Heerser met al die geesdrif en vreugde dien wat hy verdien! Dit is weliswaar baie maklik om moeg te raak, om soos die wêreld sinies uit te roep: “Waar is die belofte van sy wederkoms?” (2 Petrus 3:4). Maar soos Jesus self gesê het: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”—Mattheüs 24:13.
21. Hoe kan ons almal ons waardering vir die Messiaanse hoop vergroot?
21 Elke nuwe dag bring ons nader aan die groot dag wanneer Jehovah sy Seun sal beveel om sy teenwoordigheid aan die hele wêreld te openbaar. Jy moet nooit jou hoop op daardie dag laat vervaag nie. Peins oor Jesus se Messiasskap en oor sy eienskappe as heersende Koning. Dink ook diep na oor Jehovah God, die bron en opperbrein van die grootse Messiaanse hoop wat in die Bybel uiteengesit word. As jy dit doen, sal jy ongetwyfeld al hoe meer soos die apostel Paulus voel toe hy geskryf het: “o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!”—Romeine 11:33.
[Voetnote]
a Teoloog R. Govett het dit in 1864 so gestel: “Dít is vir my baie deurslaggewend. Die feit dat ’n teken vir die Teenwoordigheid gegee is, toon dat dit in die geheim gebeur. Ons het nie ’n teken nodig om die teenwoordigheid wat ons kan sien aan ons bekend te maak nie.”
b Sien die boek “Let Your Kingdom Come”, bladsye 133-9, vir besonderhede.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Hoe vind Christus se wederkoms plaas?
◻ Hoe weet ons dat Christus se pa·rou·siʹa onsigbaar is en oor ’n taamlike lang tydperk strek?
◻ Wanneer begin Christus se teenwoordigheid, en hoe weet ons dit?
◻ Watter soort hemelse heerser is die Messias?
◻ Op watter maniere beïnvloed Christus se heerskappy die lewe van sy onderdane?
[Prent op bladsy 15]
Die hoop dat Jesus weer sou kom, het vir sy getroue apostels baie beteken
[Prent op bladsy 17]
Wanneer Jesus vanuit die hemel regeer, sal hy wonderwerke op ’n wêreldskaal verrig
[Erkenning]
Earth: Based on NASA photo