Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 1/1 bl. 30-31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Soortgelyke materiaal
  • Heg die regte waarde aan jou gawe van lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Bloed—Noodsaaklik vir lewe
    Hoe kan bloed jou lewe red?
  • Red jou lewe met bloed—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • ’n Goddelike beskouing van lewe
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 1/1 bl. 30-31

Vrae van lesers

• Hoe moet ’n Christen dit beskou wanneer bloed as misstof, as dierekos of op ’n ander manier gebruik word, solank hy dit nie hoef te eet nie?

In sake van hierdie aard moet ’n Christen se denke en dade sy Bybelse agting vir die heiligheid van bloed weerspieël.

Baie mense wat nie weet of omgee wat God dink nie, keur die gebruik van mensebloed vir bloedoortappings goed. In party plekke eet mense ook dierebloed in kos, soos in bloedwors. En die misbruik van bloed eindig nie hier nie. Party sakemanne probeer om munt te slaan uit die bloed van geslagte diere deur misstowwe daarmee te berei, dit by honde- of katkos te voeg of in ander handelsprodukte te gebruik.

Christene weet egter uit die Bybel dat bloed nie bloot nog ’n biologiese produk is wat op enige moontlike of winsgewende manier gebruik kan word nie. Die Bybel toon dat bloed die lewe voorstel. God het dus deur Noag vir die mensdom gesê dat mense nie bloed moet eet nie (Gen. 9:3, 4). Later het Jehovah God hierdie verbod ’n deel van die Mosaïese wet gemaak (Lev. 17:12; Deut. 12:23). Nadat die Wet opgehef is, het Hy Christene beveel dat “hulle hul moet onthou . . . van bloed”. Jehovah se Getuies eet gevolglik nie bloed nie en aanvaar nie bloedoortappings nie. Hulle keur ook nie allerlei handelsgebruike van bloed goed nie.—Hand. 15:19, 20, 28, 29.

Ons kan beter besef waarom dit die regte beskouing is as ons aandag skenk aan hierdie vraag: Wat is in eertydse Israel gedoen met die bloed van ’n dier wat doodgemaak is?

God het vir die Israeliete gesê dat bloed op die altaar geoffer kan word (Lev. 17:11). As dit nie op daardie manier gebruik is nie, moes ’n dier se bloed op die grond uitgegooi word. In ’n sekere sin is die bloed aldus aan God teruggegee, want die aarde is sy voetbank.—Lev. 17:13, 14; Jes. 66:1.

God se verbod op die gebruik van bloed is verder by die Israeliete ingeskerp deur wat hy vir hulle oor vet gesê het. In teenstelling met wat voor en na die Mosaïese wet van ware aanbidders verwag is, moes Israeliete nie vet geëet het terwyl die Mosaïese wet van krag was nie. Die vet van ’n diereoffer is beskou as sy rykste of beste deel, en gevolglik kon dit as ’n offer aan God op die altaar verbrand word (Lev. 3:3-5, 16). In hierdie opsig was daar ’n ooreenkoms in die wyse waarop diegene onder die Wet die gebruik van bloed en vet beskou het. Maar daar was ook ’n verskil. God se wet het gesê dat die vet van ’n dier wat vanself gevrek het of deur ’n ander dier doodgemaak is, “vir allerhande werk gebruik [kan] word, maar jy mag niks daarvan eet nie”. Snap jy die punt? Hoewel hulle verbied is om bloed of vet te eet, het Jehovah gesê dat hulle vet op ander maniere benewens vir offerandes kon gebruik. Maar God het dit nie van bloed gesê nie. As bloed nie op die altaar geplaas is nie, moes dit op die grond uitgegooi word, want sodoende sou die dier se lewe aan die Lewegewer teruggegee word.—Lev. 7:22-27.

Christene is nie onder die Mosaïese wet nie (Rom. 7:6; Kol. 2:13-16). Ons is egter spesifiek beveel om ons te “onthou . . . van bloed”. En ons behoort beslis die heiligheid van bloed te respekteer daar ons besef dat ons redding deur die bloed van Christus moontlik gemaak is (Ef. 1:7; Kol. 1:13, 14, 20). ’n Christen wat dit deeglik besef, het nie eindelose reëls nodig oor hoe hy teenoor kommersiële gebruike van bloed moet staan nie.

Beskou byvoorbeeld die gebruik van bloed as ’n misstof. Wanneer ’n Israelitiese jagter ’n dier se bloed op die grond uitgegooi het. was dit nie om die grond vrugbaar te maak nie. Hy het dit op die grond uitgegiet uit eerbied vir bloed se heiligheid. Sal ’n Christen met ’n soortgelyke besef van die betekenis van bloed dan doelbewus die bloed van geslagte diere bymekaarmaak om dit as ’n misstof te gebruik? Nouliks, want sulke kommersialisering van bloed sal nie strook met innige eerbied vir die waarde van bloed as iets wat die lewe voorstel nie.

Christene kan natuurlik nie vir nie-Christene sê dat hulle bloed nie moet gebruik om misstowwe of ander handelsprodukte te maak nie. As die meeste misstowwe op die mark dus bloed bevat, sal die Christen self moet besluit wat hy wil doen. Hy kan faktore soos die Bybel se raad dat ons ons moet “onthou . . . van bloed”, die beskikbaarheid van alternatiewe produkte, die voorskrifte van sy Bybelopgeleide gewete en ander se gevoelens in aanmerking neem.—Vergelyk 1 Korinthiërs 8:10-13.

Nog ’n situasie wat soms ontstaan, is die gebruik van bloed as dierekos. Dit is waar dat baie wilde diere op die oomblik nie van plante lewe soos die Bybel sê oorspronklik die geval was nie (Gen. 1:30). Hulle eet ander skepsele, bloed en al. Maar sal ’n Christen wat God se wet oor bloed ken doelbewus bloed aan diere in sy sorg voer? Sal dit strook met die manier waarop hy weet bloed onder die Wet gebruik is?

Laastens, vrae het ontstaan oor wat gedoen mag word met dierekarkasse wat bloed bevat. ln Israel kon ’n persoon wat afgekom het op ’n karkas van ’n dier wat vanself gevrek het dit aan ’n uitlander verkoop wat nie daarin belang gestel het om God se wet te hou nie (Deut. 14:21). Maar dit is opmerklik dat hierdie voorsiening nie gemaak is sodat ’n Israeliet ’n bestaan kon maak uit die verkoop van bloed of vleis waarvan die bloed nie uitgeloop het nie. En ’n Israeliet het ook nie doelbewus ’n dier doodgemaak en die bloed daarin gelos omdat party persone hou van die smaak van vleis waarvan die bloed nie uitgeloop het nie of sodat die karkas meer sou weeg nie. Hy het eerder net ontslae geraak van ’n karkas wat hy nie vir voedsel kon gebruik nie en wat verwyder moes word.

’n Boer moet vandag dalk dienooreenkomstig ontslae raak van ’n karkas waarvan die bloed nie uitgeloop het nie, soos dié van ’n koei wat dood aangetref is sodat dit nie moontlik was om die bloed te laat uitloop nie. Of ’n jagter vind miskien ’n dooie dier in ’n strik. Wat kan hy doen met so ’n dier waarvan die bloed nie uitgeloop het nie? Sal hy die karkas aan ’n fabriek verkoop? Sal hy die dooie dier aan ’n nie-Christen verkoop wat ’n persoonlike of kommersiële gebruik vir die vleis het? Die individuele Christen sal self moet besluit nadat hy aandag geskenk het aan wat die landswet vereis en faktore soos hierbo bespreek, onder meer die waarde van ’n goeie gewete voor God en mense.—Hand. 24:16.

• Wie het in die gelykenis van die 10 maagde (Matt. 25:1-13) uitgeroep: “Daar kom die bruidegom: gaan uit hom tegemoet”?

Jesus het nie gesê nie. Met ’n Hebreeuse huwelik, soos wat Jesus in sy gelykenis gebruik het, sou die bruidegom waarskynlik vergesel gewees het van manlike bediendes of vriende (Joh. 3:29). Hulle kon enige mense wat op die bruidegom en sy geselskap gewag het, waarsku. Dit was egter nie vir Jesus nodig om sulke bediendes te meld nie. Hulle sou ook geen toepassing in ’n figuurlike sin hê nie. Die punt is dat daar ’n geroep was wat die maagde gewaarsku en tot optrede aangespoor het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel