Kaarte—Wat bybelgebeure laat leef
“DIT lyk na reën”, het ’n bekommerde Engelse toeris in Israel gesê terwyl hy deur die toerbus se venster na ’n paar wolke gekyk het. Toe die plaaslike gids die opmerking hoor, het hy gelag en sy kop geskud. “Dit sal nooit hierdie tyd van die jaar in Israel reën nie. U is nie nou in Engeland nie.”
Hoe maklik is dit tog vir ons om die Bybellande volgens ons eie land en ons eie ervaring te beoordeel, veral as ons nog nooit die Midde-Ooste besoek het nie! Sonder om dit te besef, kan ons baie mis wanneer ons God se Woord lees, net omdat ons nie die agtergrond ken nie. Deur meer uit te vind omtrent die gebruike en gewoontes van die mense in die lande waar hulle gewoon het, kan ons ’n groter waardering verkry vir talle gebeure wat in die Bybel opgeteken is.
Kaarte speel ’n belangrike rol by die oordra van hierdie informasie, en in baie opsigte sê hulle meer as wat woorde kan. Party mense vind dit nietemin moeilik om kaarte te lees en te verstaan. Die bietjie tyd wat nodig is om kaarte, hulle simbole en kontoere, en die betekenis van die verskillende kleure te leer ken, sal ons help daar ons goed beloon sal word wanneer ons hulle as hulpmiddele tydens ons studie gebruik. Kaarte moet nie net gebruik word om uit te vind waar plekke geleë is nie. Nadat ons ’n bepaalde plek op die kaart gevind het, moet ons, volgens Bybelgeograaf Denis Baly, “ten minste ook weet wat die terreingesteldheid daarvan is, waar dit geleë is ten opsigte van valleie, heuwels, riviere en vlaktes”.
Dit is dan dat ons ’n beeld begin vorm, en as ons ook nog foto’s van die betrokke gebied kan sien, sal dit die agtergrond laat leef. Hoe maklik is dit tog vir ons, wanneer ons dan ’n Bybelverslag lees, om daardie toneel te vul met die karakters wat beskryf word, net asof ons persoonlik daar was! Ons sal hierdie gebruik van Bybelkaarte toelig deur na ’n paar voorbeelde te kyk.
TOE DAWID VIR KONING SAUL GEVLUG HET
Nadat jong Dawid die reus Goliat doodgemaak het, het hy die Filistyne verslaan. Hy het so gewild geraak in Israel dat die vroue die oorwinning met sang en danse gevier het en die duisende wat koning Saul verslaan het, vergelyk het met die tienduisende wat Dawid verslaan het. Hoe woedend het Saul tog geword toe hy dit gehoor het! Bewondering het in haat verander, sodat hy Dawid met sy spies teen die muur probeer vassteek het. Dawid se toenemende sukses het sake vererger, en Saul het “nog meer bevrees geword vir Dawid, en Saul het Dawid se vyand geword al die dae”.—1 Sam. 18:6-29.
Ondanks die hulp van Saul se seun Jonatan en sy eie vrou Migal het Dawid besef dat daar “maar net een tree tussen my en die dood” is, soos hy dit gestel het (1 Sam. 20:3). Hy het eindelik na die spelonk van Adullam gevlug. Dit was geleë suidwes van Jerusalem in ’n gebied waar die berge van Juda met die kus vlakte afdaal. In hierdie ontoeganklike gebied is daar talle kalksteenspelonke, en dit is hier dat honderde manne hulle by Dawid aangesluit het (1 Sam. 22:1, 2). Maar nadat Jehovah Dawid gewaarsku het dat die mense van Kehila, naby Adullam, hom aan Saul sou uitlewer, het hy ’n veiliger skuilplek gesoek.—1 Sam. 23:6-13.
Die woestyn van Juda was so ’n toevlugsoord. Honderde jare later het Jesus Christus 40 dae hier deurgebring terwyl die engele hom teen die wilde diere—luiperds, wolwe en hiënas—beskerm het (Mark. 1:12, 13). In ons dag is opsienbarende ontdekkings in party van die duisende spelonke aldaar gedoen. Antieke Bybelrolle wat sowat 2 000 jaar oud is en behoue gebly het weens die buitengewoon droë klimaat, is al gevind. Nie ver daarvandaan nie het ’n ander spelonk oorblyfsels bevat van die tweede Joodse opstand teen die Romeine in 132-135 G.J. Waarom het die leier, Bar Kokhba, na hierdie gebied gevlug, en waarom het hierdie rolle so lank versteek gebly? Om presies dieselfde rede dat Dawid “gebly [het] in die woestyn, in die bergvestings [in moeilik toeganklike plekke”, NW], ook op die gebergte in die woestyn Sif’.—1 Sam. 23:14, 15.
Die woestyn Sif en die woestyn Maon daar naby maak die hoë sentrale deel van die woestyn van Juda uit (1 Sam. 23:24). Wanneer ons na ’n kaart kyk, kan hierdie wildernis na die suide van Jerusalem gesien word waar dit al langs die westelike kant van die Dooie See strek, terwyl die drie stede, Jerusalem, Betlehem en Hebron naastenby die ander grens vorm. Ons sien vervolgens ook ’n aantal valleie of wadi’s wat van wes na oos deur die woestyn loop sodat dit amper onmoontlik is om van noord na suid te reis.
Wanneer ’n mens van die tempelberg in Jerusalem af met die Kidronvallei langs loop, verlaat jy gou die besige stad en gaan jy, volgens Israeli-argeoloog Yohanan Aharoni, “hierdie verskriklike woestyn” binne. As ’n mens die voortsetting van hierdie vallei, die Wadi en-Nar (“vuur-wadi”), volg, daal dit sowat 900 meter na die Dooie See en word dit ’n diep ravyn of canyon met steil kranse van meer as 60 meter aan weerskante. Wanneer jy in die winter met die bedding langs loop, bestaan die gevaar dat jy weggevoer sal word deur ’n frats-vloed in die wadi na ’n skielike stortbui. In die somer kan die hitte versengend wees. Elk van die wadi’s in die gebied bied soortgelyke probleme.
Geen wonder dat dit vir Dawid ’n veilige toevlugsoord was nie! Selfs met ’n leër van 3 000 man was dit vir koning Saul moeilik om die tallose spelonke in die kalksteenkranse, waarvan baie slegs met ’n tou van bo af bereik kon word, te deursoek. Hy en sy manne het later gehoor dat Dawid na Engedi, ’n oase naby die kus van die Dooie See, getrek het, en Saul het “op die kaal steenbokrotse” na hulle gaan soek. Terwyl Dawid agter in die donkerste deel van ’n spelonk weggekruip het, het hy ’n goeie geleentheid gehad om Saul dood te maak, maar hy het geweier om sy hand aan Jehovah se gesalfde te slaan.—1 Sam. 24:1-15, vgl. NW.
By ’n ander geleentheid, toe hy die slapende koning in sy laer kon doodmaak, het Dawid net sy agtervolger se spies en waterkruik by sy sy geneem en later aan die anderkant van die ravyn gaan staan en Saul se manskappe betig omdat hulle nie hulle koning beskerm het nie. Dawid se stem het tussen die kaal heuwels weerklink toe hy na Saul geroep het en vir hom gevra het wat hy gedoen het sodat Saul na hom moes soek “soos ’n man ’n patrys op die berge agtervolg”.—1 Sam. 26:1-20.
Hoe nuttig is hierdie beeld tog wanneer ons dink aan die baie voorbeelde van Dawid se hulpgeroep in die Psalms! Hoewel hy in die versoeking kon kom om te dink dat letterlike kranse en rotse—ja, hoë berge—sy skuilplek was, het hy hom voortdurend daaraan herinner dat Jehovah sy eintlike beskermer en redder is. As ’n herder was Dawid gewoond aan die heuwels. Hy was rats en snelvoetig soos die langhoringsteenbok. Dit was nietemin sy God wat verhoed het dat sy voete op die smal pad gly (Ps. 18:2-4, 32-34). Toe hy deur die mense van Sif verraai is en agtervolg is deur sy vyande wat strikke vir hom gestel het, kon Dawid se hart steeds op Jehovah vertrou, en kon hy op sy harp speel en sing tussen die verlate kranse en klowe (Ps. 54, 57). Selfs toe die druk deur Dawid se vyande hom baie terneergedruk gemaak het, kon hy steeds met Jehovah praat en op Hom staatmaak vir redding (Ps. 142). Kan ons dit doen wanneer ons groot probleme het? Ons kan, mits ons ons geloof in God versterk.
’N AANVAL OP JUDA
Terwyl Josafat in die 10de eeu v.G.J. koning oor Juda was, het hy ontstellende nuus ontvang. ’n Bondgenootskap van stamme uit die ooste, Moabiete, Ammoniete en inwoners van die gebergte Seïr, het volgens berig opgeruk teen Juda “van anderkant die see, van Edom af, en kyk, hulle is al in Haseson-Tamar—dit is Engedi” (2 Kron. 20:1, 2, 10, 11). Wanneer ons na ons kaart kyk, weet ons reeds waar Engedi is, en kan ons maklik Moab, Amnion en Edom vind. Maar ons vra moontlik: Hoe het hierdie leër by Engedi gekom, en waarom het dit juis daardie roete gekies?
’n Vroeëre koning van Juda, Rehabeam, het ’n reeks versterkte stede op strategiese plekke gebou. Ons kaart identifiseer Betlehem, Etam, Tekoa, Bet-Sur, Hebron en Sif as die stede wat die oostelike kant van Juda beskerm het (2 Kron. 11:5-12). Om te slaag, moes die vyand hulle verras, en hulle het waarskynlik gedink dat die verlate en onherbergsame woestyn van Juda die weg was waarlangs hulle onverwags kon toeslaan. Hulle het moontlik rondom die suidelike puntjie van die Dooie See getrek. Of hulle het miskien oor die lae Lisan-skiereiland opgetrek en op sy smalste punt (omtrent drie kilometer) deur die Dooie See getrek oor ’n ou en vlak drif wat volgens party geleerdes destyds bestaan het. Daarna het hulle by die groot rots van Masada verbygetrek en Engedi bereik voordat hulle gesien is, moontlik deur ’n verkenner in een van die vestings hoër op.
Dit het Josafat min tyd gegee, want die vyand was omtrent ’n dagreis van Jerusalem af. Net soos Dawid het hy op Jehovah vertrou en tot hom geroep om hulp. Die antwoord: “Die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God.” Hy is aangesê om sy manne net onderkant Tekoa aan die punt van die dal op te stel, want die vyandelike magte het “met die hoogte Hassis” langs opgekom. Dit is toe wat Josafat gedoen het, en hy het die sangers op die voorpunt geplaas.—2 Kron. 20:3-21.
Die hoogte Hassis of Hassis-pas het naby Engedi begin en noordwes gestrek. Dit het eers sowat 390 meter met ’n steil kronkelpad geklim, dan het dit oor ’n heuwelagtige plato geloop, waarna dit weer ’n slingerpad na Tekoa, nagenoeg 820 meter bo seespieël, gevolg het. Dit was ’n lang klim, met baie opdraandes en afdraandes terwyl die pad deur kleiner wadi’s en takrivierbeddings gegaan het! Die vyand, wat warm gekry het en moeg was, het waarskynlik gehoop om ongesien naby die bopunt te rus. Maar dit was hulle nie beskore nie. Hulle is gewaar en ’n lokval is gestel. Groot verwarring het ontstaan terwyl hulle gewonder het waar die lokval vandaan kom, daar hulle nie besef het dat Jehovah Juda help nie! Terwyl die heuwels van die Judeërs se lofsange weerklink het, het die invallers gedink dat hulle eie bondgenote daarvoor verantwoordelik was. Onenigheid het ontstaan, en hulle het met mekaar begin veg totdat die hele leër totaal verslaan en vernietig was. Kan ons sien en hoor hoe daardie geveg tussen daardie rotsagtige en verlate hoogtes woed, terwyl lofliedere oor die berge rondomheen weerklink? Hoe het Juda Jehovah tog geloof vir sy groot oorwinning!—2 Kron. 20:22-30.
DIE BARMHARTIGE SAMARITAAN
Jesus se bekende gelykenis oor ’n Samaritaan wat ’n man gehelp het wat deur rowers aangeval is, het hom afgespeel op ’n pad net noord van die woestyn van Juda of Judea. Die verslag beklemtoon etlike kere dat diegene wat op die pad van Jerusalem na Jerigo gereis het, “afgegaan” het (Luk. 10:29-37). Hoe goed het Jesus tog daardie roete geken! En ons kan vandag amper dieselfde pad volg. Raadpleeg die kaart en jy sal sien dat dit in die 23 kilometer van Jerusalem na Jerigo omtrent 914 meter daal. Die grootste deel van die pad loop al langs die rand van die woestyn, en ’n lang stuk lê onder seevlak. Omdat daar baie min mense langs die roete woon, kan die pad baie eensaam en skroeiend warm wees. En hoe maklik is dit tog vir rowers om die niksvermoedende reisiger agter ’n uitstekende krans of rots voor te lê!
Dit was nie sonder rede dat Jesus hierdie terrein as agtergrond vir sy gelykenis gebruik het nie. Baie van sy toehoorders het daardie pad geken, en hulle kon dit in hulle geestesoog sien. Hulle kon “sien” wat gebeur, en hulle kon hulle voorstel hoe die barmhartige Samaritaan sy instruksies by die afgeleë herberg gee. Kan ons ons dit ook voorstel terwyl ons die verslag lees?
GEBRUIK BYBELKAARTE
Die voorbeelde wat hier gemeld is, toon hoe ons kaarte van Bybellande kan gebruik. As jy besonderhede verlang, moet jy ’n grootskaalse kaart van die gebied kry. Gaan die liggings na, en kyk dan na die kontoerlyne en kleure wat op party kaarte aangegee word, en let op na enige riviere, hoofpaaie of grenslyne. Probeer om jou voor te stel hoe die gebied lyk, terwyl jy in gedagte hou dat digte, kronkelende kontoerlyne en kleure wat vinnig verander baie heuwels en valleie aandui, terwyl kontoere wat ver van mekaar is en egalig loop, met slegs een of twee kleure tussenin, vlaktes en gelyker terrein aandui. As jy ’n paar prente van die gebied kan vind, sal dit jou help om ’n denkbeeld te vorm.
Kleinskaalse kaarte kan nuttig wees om langer roetes, soos Paulus se reise, te volg waar besonderhede nie so belangrik is nie. Kyk byvoorbeeld na die kaarte heel voor en heel agter in die New World Translation. Maar hoe kleiner die kaart, des te groter die moontlikheid dat dit nie al die name sal bevat wat jy soek nie, en hulle ligging sal slegs benaderd wees. En kaarte geld dikwels vir ’n bepaalde tydperk in die geskiedenis, want name het die gewoonte om dikwels te verander. Die boek Aid to Bible Understandinga bevat talle nuttige kaarte.
Alhoewel jy dalk nooit die geleentheid sal hê om Bybellande te besoek nie, kan jy hulle met behulp van kaarte leer ken. Maak jou Skriflesing sinvoller deur ’n beeld in jou gedagte te skep. Dan sal dit daar bly en jou help om ’n Bybelgebeurtenis makliker te herroep.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap
[Grafiek op bladsy 28]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
METER
900
JERUSALEM
600
300
0
JERIGO
-300
[Kaart op bladsy 27]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Jerigo,
Jordaan
Ammon
Moab
LISAN
Edom
drif?
WOESTYN VAN JUDA
Masada
Engedi
WOESTYNE SIF EN MAON
Sif
Hebron,
Die hoogte Hassis
Bet-Sur
Tekoa
Etam
Betlehem
Wadi en-Nar
Qumran
JERUSALEM
Dooie See
[Kaart op bladsy 28]
(Sien publikasie vir volledige teksuitleg)
JERIGO
Dooie See
Betanië
Betfage
JERUSALEM
[Prente op bladsy 26]
Spelonke in die woestyn van Judea
Die suidelike punt van die Dooie See, soos gesien vanaf Engedi
[Prent op bladsy 29]
Die pad na Jerigo daal meer as 900 meter