Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 1/15 bl. 21-24
  • Kan jy onderskei tussen reg en verkeerd?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan jy onderskei tussen reg en verkeerd?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ONS WAARNEMINGSVERMOË
  • OORGEËRFDE ONVOLMAAKTHEID
  • DIE GEWILDHEID EN BEKORING VAN VERKEERDE DINGE
  • DRUK DEUR METGESELLE
  • DIE INGEWIKKELDHEID VAN DIE HEDENDAAGSE LEWE
  • Kan jy “onderskei wat reg sowel as verkeerd is”?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Jongmense—Oefen julle waarnemingsvermoëns!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Ontwikkel jou waarnemingsvermoëns
    Ons Koninkryksbediening—2001
  • Maak die Bybel se standaarde van reg en verkeerd nog enigsins saak?
    Nog onderwerpe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 1/15 bl. 21-24

Kan jy onderskei tussen reg en verkeerd?

KEN jy die verskil tussen reg en verkeerd? ‘Natuurlik’, sê jy. Maar vandag se vinnig verslegtende sedelike standaarde dui daarop dat dit nie altyd so maklik is nie.

Selfs die kerke gee nie langer duidelike leiding nie. Rooms-Katolieke priester Kevin Madigan het die aandag gevestig op die probleme wat baie in hierdie opsig het en gesê: “Sondes is nie meer skerp omlyn nie. Dinge verander so vinnig. Dinge wat op vandag se lys sondes is, is dalk nie meer môre daar nie.” Is daar ’n bron waarheen ons ons kan wend vir hulp om te besluit wat reg en wat verkeerd is?

Een gesaghebbende werk wat miljoene mense se honger na betroubare sedelike voorligting gestil het, is die Bybel. Hierdie boek het 2 000 jaar lank nie sy basiese beginsels oor sedelikheid verander nie. Dit is bestendig, prakties en, van die grootste belang vir die tagtigerjare, dit werk.

Maar ondanks die feit dat die Bybel die wêreld se grootste suksesboek is, en dat feitlik elke huis in party lande ’n eksemplaar besit, bestaan daar steeds algemene verwarring oor sedelikheid. Dit toon dat as ’n persoon ’n Bybel besit—en dit selfs lees—dit nie waarborg dat hy geleer het om reg van verkeerd te onderskei nie. Meer is nodig.

ONS WAARNEMINGSVERMOË

Die skrywer van die Bybelboek Hebreërs het van hierdie probleem gepraat. Hy het gesê: “Vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Hebr. 5:14). Hy toon hier dat diegene wat met welslae tussen reg en verkeerd kan onderskei, volwasse mense is, nie onervare of kinderagtige persone nie. Hulle besit onderskeidingsvermoë, sodat hulle nie deur die skyn of vleiery bedrieg word nie en regte besluite kan neem. Hierdie onderskeidingsvermoë is deur ervaring verskerp of deur “die gewoonte geoefen”. En dit word voortdurend versterk deur “vaste spys”, kragtige geestelike informasie uit die Bybel.

Maar daar is faktore wat dit vir ’n Christen moeilik kan maak om daardie soort rype insig te verkry.

OORGEËRFDE ONVOLMAAKTHEID

Die skrywer van Hebreërs sê dat ons “geestesvermoëns” gebruik word om tussen reg en verkeerd te onderskei. Die Griekse woord wat weergegee word as “geestesvermoëns” verwys letterlik na ons “waarnemingsorgane”, of “die waarnemingsvermoëns van die verstand” (volgens Word Studies in the New Testament, deur Marvin R. Vincent). Maar ons waarnemingsvermoë het alte dikwels ’n dodelike gebrek. Wat is dit?

Ons is onvolmaak, geneig tot sonde (Gen. 8:21; Rom. 5:12). Ons sinne kan dus bedrieg word om te glo dat iets goed is bloot omdat dit iets is wat ons wil hê, of ons prikkel, terwyl dit in werklikheid dodelik kan wees.

Ons moet dus ons sinne oplei om nie maklik bedrieg te word, soos dit die geval met ’n kind sou wees nie. Ons moet leer om morele onderskeidingsvermoë aan die dag te lê soos wat ’n skerpsinnige volwassene sou doen.

Wanneer ’n mens byvoorbeeld twee muntstukke vir ’n baie jong kind aanbied, sal hy vanselfsprekend die groter, blinker een bo die kleiner, dowwer muntstuk verkies, al is die kleiner muntstuk ook meer werd. Waarom? Omdat hy nie geleer is om die waarde van geld te onderskei nie. Vir sy onopgeleide sinne is die groter en blinker muntstuk beter.

Wanneer hy ouer word, sal hy ’n beter begrip van die waarde van geld hê. Maar dan het hy moontlik probleme met kos. Hy verkies dalk om roomys, lekkers, koekies en koek te eet in plaas van groente en ander kossoorte wat die liggaam opbou. Waarom? Omdat die snoepgoed vir hom lekkerder smaak.

Net so wanneer ons tussen reg en verkeerd moet kies. Ons moet leer dat dinge wat vir ons sinne aangenaam is, nie altyd reg is nie. Die korrekte ding is nie altyd die prikkelendste of die maklikste ding nie, maar dit sal altyd moreel reg en vir ons die voordeligste wees. Soos die skrywer van die boek Hebreërs getoon het, verg dit dikwels rypheid om te onderskei wat reg is.

DIE GEWILDHEID EN BEKORING VAN VERKEERDE DINGE

’n Tweede faktor wat dit moeilik maak om tussen reg en verkeerd te onderskei, is die feit dat verkeerde gedrag in hierdie wêreld gewild en selfs aanloklik gemaak word. Tonele wat vandag op televisie en in rolprente verskyn, sou die meeste ordentlike mense ’n paar dekades gelede geskok het. Maar nou word hulle sonder ’n woord van afkeuring aanskou. Waarom? Omdat laer sedelike standaarde geleidelik ingevoer is en mense op subtiele wyse geleer is om hulle te aanvaar. Dinge wat sedelik verkeerd is, word dikwels uitgebeeld in ’n situasie wat onskuldig of grappig lyk, en sodoende word ’n toeskouer se morele oordeel verwar.

Let byvoorbeeld op die kommentare van een televisieresensente oor komende programme in die Verenigde State. Dieselfde kan ongetwyfeld van baie ander lande gesê word. Sy het gesê:

“Ons stuur af op ’n seksasionele herfs, en dus sal jy jou eie sensor moet wees. Onder die onderwerpe wat oordink moet word, is:

“Moet ’n jong tienderjarige saam met haar kêrel slaap in dieselfde motel waar haar moeder ’n verhouding het?—CBS ‘Midland Heights’.

“Sal twee viriele mans wat hulle as vroue voordoen op seksuele gebied ’n slag slaan in ’n hotel uitsluitlik vir vroue?—ABC ‘Bosom Buddies.’

“Dit is net ’n paar voorbeelde van wat ons in September kan verwag.

“Televisie sal van die standpunt uitgaan dat die hele Amerika net vir seks lewe en aan niks anders dink nie. Nie seks op die gewone manier nie . . . maar seks op die pynlike, dom, kinderagtige manier wat bedoel is om toeskouers te prikkel.”

Die reklamewêreld probeer eweneens om verkeerde dinge onskadelik te laat lyk. Dit is amper onmoontlik om ’n tydskrif op te tel, na ’n aanplakbord te kyk of ’n televisie-advertensie dop te hou sonder om ’n advertensie te sien wat die laer drifte probeer uitbuit nie. Veral jongmense is ’n vername teiken. “Daar was ’n geweldige toename in seksueel suggestiewe advertensies wat kindermodelle gebruik en gemik is op prepubers”, berig New York se Times.

Daarbenewens onthul bekende persoonlikhede op die gebied van sport en in die sosiale en politieke lewe geheime oor hulle wangedrag wat hulle volgelinge jare gelede sou geskok het. Maar nou beweeg sulke dinge bloot hulle bewonderaars om hulle lewenswyse na te volg.

Al hierdie propaganda kan meebring dat ons onderskeidingsvermoë tussen wat reg en wat verkeerd is, afgestomp word. Om dit teen te werk, moet ons ons onderskeidingsvermoë verskerp deur gereeld na te dink oor die voordele as ons volgens ’n hoër, goddelike sedelike standaard lewe.—Ps. 119:104.

DRUK DEUR METGESELLE

Nog ’n faktor is druk wat deur metgeselle uitgeoefen word. Dit is natuurlik dat ons wil hê dat ander van ons moet hou. Maar dit hou ’n gevaar in. Kollegas, skoolmaats, bure, familielede of enigiemand met wie ons assosieer, kan ’n sterk, oorredende invloed op ons uitoefen om ons onderskeidingsvermoë van wat reg en wat verkeerd is, te verdraai. Een opname het aan die lig gebring dat slegs 10 persent van die volwasse bevolking gewetensgetroue morele besluite neem wat berus op gekose etiese beginsels ongeag wat ander glo.

Die Bybel toon dat ons druk deur metgeselle om verkeerde dinge te doen, moet weerstaan wanneer dit sê: “Julle het die stroom gevolg en was net soos al die ander, vol sonde” (Ef. 2:2, The Living Bible). Maar daardie begeerte dat ander van ons moet hou, kan benut word as ons omgaan met diegene wie se morele standaarde ons kan respekteer omdat dit edel en godvrugtig is. “Laat ons [dus] op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”—Hebr. 10:24, 25.

Ja, Christene kan hulle morele onderskeidingsvermoë verskerp deur gereelde omgang by Christenvergaderinge waar God se verhewe sedelike beginsels gerespekteer word. Dit kan ’n heilsame soort “druk deur metgeselle” wees.

DIE INGEWIKKELDHEID VAN DIE HEDENDAAGSE LEWE

’n Vierde faktor is die ingewikkeldheid van die hedendaagse lewe. Jesus het vir ons gesê watter soort gedrag verkeerd is: “Uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal” (Matt. 15:19). Dit is nie moeilik om hierdie woorde te verstaan nie.

Maar wat van die sogenaamde grys gebied waar besluite oor reg en verkeerd nie so skerp omlyn is nie? Op die gebied van ontspanning, saketransaksies, musiek en danse, modes, ensovoorts, is dit dikwels moeilik om te sê wanneer ’n gebruik presies ’n sonde word.

Gestel ’n man sien ’n vrou (nie sy eggenote nie) en merk op dat sy aantreklik en goed geklee is. Verbreek hy God se wet? Waarskynlik nie. Maar gestel dieselfde man kyk na die vrou met belangstelling en wonder of sy “beskikbaar” is, of sy die volgende dag weer daarlangs sal kom, ensovoorts. Op watter stadium steek hy die onsigbare skeidslyn oor en pleeg hy “in sy hart” met haar egbreuk?—Matt. 5:28.

’n Vrou kan eweneens ontspan deur na die televisie te kyk of tydskrifte te lees. Skielik besef sy dat sy romantiese gedagtes koester teenoor iemand op die televisieskerm of op die tydskrifbladsy. Wanneer het sy daardie onsigbare skeidslyn oorgesteek?

Wat is die morele skeidslyn tussen ’n goeie saketransaksie en ’n oneerlike, skelm transaksie? Of wanneer is ’n dans of ’n rok nie meer beskeie nie en word dit verleidelik of suggestief? Of wanneer word iemand wat sterk drank drink ’n ‘wynsuiper’? (Spr. 23:20). Wanneer hou ’n Christen op om geestelik gesonde vrae in geloof te stel en word hy ’n twyfelaar of ’n skeptikus?

In sulke sake het ons goeie “geestesvermoëns” nodig om tussen reg en verkeerd te kan onderskei. Veral jongmense en pasgedoopte Christene kan op hierdie gebiede mislei word. Onervare jongmense is nie vertroud met die subtiele weë van hierdie verderflike wêreld nie, en pasgedoopte persone weet nie altyd hoe Bybelbeginsels presies toegepas moet word nie. Albei moet hulle “geestesvermoëns” verder oefen, en dit kan slegs gedoen word deur meer “vaste spys”—vaste, betroubare waarhede uit God se Woord, die Bybel—in te neem.—Hebr. 5:13, 14.

Alle Christene moet ‘bevestig raak in die geloof’ (Kol. 2:6, 7). Dan sal die veranderende winde van die morele filosofieë van hierdie wêreld ons nie mislei of verlei nie. Ouers en Bybelonderrigters kan gerus onthou dat diens aan Jehovah meer behels as ’n kennis van die leerstellings van die Koninkryk. Dit beteken ook dat ’n mens God se geregtigheid verstaan en daarvolgens leef.—Matt. 6:33.

Namate die morele kode dat alles aanvaarbaar is sy greep op hierdie wêreld versterk, moet ons nou meer vasbeslote wees om ons lewenswyse na die betroubare standaarde van ons hemelse Vader te skik. En terwyl die wêreld al die reëls van godvrugtige gedrag verbreek—en aldus verraai dat hulle ’n “onverstandige hart” het en ‘dwaas geword het in hul oorlegginge’—moet ons ons “geestesvermoëns” oefen deur gereeld die Bybel te lees en daaroor te peins. Laat ons omgaan met ander wat “net so ’n kosbare geloof as ons verkry het” en wat ’n heilsame “druk” op ons kan uitoefen en ons teen verdorwenheid kan versterk. Laat ons ander eweneens help om hulle “waardig die evangelie van Christus” te gedra.—Rom. 1:21, 28; Filip. 1:27; 2 Pet. 1:1.

Hoewel daar verwarring op die gebied van hierdie wêreld se morele standaarde heers, is Christene opgelei om tussen reg en verkeerd te onderskei. Hulle slaan ag op die goeie raad: “Alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” As jy dit gereeld doen, ‘sal die God van vrede met jou wees’.—Filip. 4:8, 9.

[Prent op bladsy 22]

Weet jy hoe om waardes te beoordeel? Kinders sal iets verkies wat blink of stroopsoet is

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel