’n Negejarige seuntjie red ’n huwelik
MÓÉT ’n vrou van haar man skei nadat hy een maal owerspel gepleeg het, selfs al is hy waarlik berouvol? Een vrou het so gedink, maar haar negejarige seun het anders oor die saak gevoel.
’n Gedoopte man met ’n toegewyde vrou en drie jong kinders het onlangs owerspel gepleeg. Dit was ’n enkele oortreding en hy het die aangestelde gemeentelike ouere manne dadelik daarvan verwittig. Hy is deur die ouere manne aangespoor om sy vrou om vergifnis te vra deur ook by haar te gaan bely. Die vrou was baie ontsteld en was vasbeslote om die huwelik te beëindig. Sy het vir die ouere manne wat die saak hanteer het, gesê dat sy klaar besluit het en reeds ’n prokureur gaan spreek het. Die ouere manne het met haar gepraat en gemeld dat die drie kinders nog baie jonk is—die oudste is maar nege. Hulle kon haar egter nie van plan laat verander nie. Haar man was gevolglik diep bedroef en het amper nie geëet nie. Hy het die meeste van die tyd gehuil.
Intussen het die kinders uitgevind wat gebeur het en het die oudste seun besluit om iets omtrent die saak te doen. Hy het gaan sit en ’n toespraak opgestel, iets wat hy vir sy moeder wou sê. Hy het ’n paar tekste onthou wat hy tydens vergaderinge by die Koninkryksaal geleer het, en ook informasie uit die boek “Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou”. Nou was hy gereed vir sy mammie. Hy het haar gevra om na die slaapkamer te kom en by haar gaan sit. Hy het begin deur te sê dat hy baie ontsteld is en nie wou hê dat die gesin moes verbrokkel nie. Toe het hy gesê: “Mammie, kyk wat sê die Bybel in Nehemia 9:17.” Nadat die moeder hierdie teks gelees het, het hy gesê: “Sien Mammie, Jehovah is ’n God wat vergewe. Dink Mammie nie dat Mammie ook vir Pappie moet vergewe nie?” “Miskien”, het sy moeder geantwoord. Hy was werklik vasbeslote om sy moeder te help om te sien hoe belangrik dit is om vergewensgesind te wees.
Die knaap het ook Efesiërs 5:22, 33 aangehaal en gesê dat aangesien sy pappie die hoof van die huis is, sy mammie na hom moes luister. Toe het die seun na Mattheüs 6:11, 12 verwys. Nadat hy hierdie verse gelees het, het hy vir sy moeder gevra wat die woord “skulde” beteken. Sy het geantwoord en hy het haar aangespoor om “Pappie se skulde” te vergewe. Hy het nog baie tekste gebruik en ten slotte vir sy moeder gevra: “Dink Mammie nie dat Mammie vir Pappie moet vergewe nie?” Gelukkig was die antwoord: “Ja, ek sal.”
Nou is die gesin weer eens gelukkig en verenig. Die vrou het later gesê dat sy bly was oor die wyse waarop dinge verloop het en gemeld dat sy kon sien dat haar man werklik berouvol is en hard probeer om in die gesinsverhouding te vergoed vir wat hy gedoen het. Met behulp van God se Woord kon ’n negejarige seun dus regkry wat ander nie kon regkry nie. Waarlik, “uit die mond van kinders . . . het [Jehovah] sterkte gegrondves.”—Ps. 8:3.