Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 1/15 bl. 25-26
  • Bybelkritici verander van mening

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bybelkritici verander van mening
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe betroubaar is die Evangelies?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Die Evangelies—Geskiedenis of mite?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Studie nommer 6—Die Christelike Griekse teks van die Heilige Skrif
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Apokriewe evangelies—Verborge waarhede oor Jesus?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 1/15 bl. 25-26

Bybelkritici verander van mening

IN DIE 20ste eeu is groot vordering gemaak in die rigting van ’n akkurater Bybelteks. Die ontdekking van talle vroeë manuskripte, veral die Chester Beatty en Bodmer Papyri en die Dooie See-rolle het gelei tot ’n teks wat baie nader aan die oorspronklike is as wat baie geleerdes gehoop het om te bereik. Groter begrip van die oorspronklike Hebreeus en Grieks het juister vertalings van die Bybel in baie tale rondom die wêreld beteken. Dit wil dus voorkom asof sulke vordering die gedagtes van 200 jaar gelede baie verouderd maak, selfs al het dit baie te danke aan die werk van daardie tyd.

Dit is moontlik verbasend om te vind dat die gedagtes van Johann Jakob Griesbach (1745-1812) weer in ons dag bespreek word. In 1976 is ’n konferensie in Münster, die Bondsrepubliek van Duitsland, gehou wat uitsluitlik gewy was aan die werk van hierdie geleerde. Waarom herleef sy studies vandag?

Nadat hy ’n meestersgraad gekry het toe hy 23 was, het Griesbach deur Europa gereis en biblioteke besoek om manuskripte van die Christelike Griekse Skrifte te ondersoek. Die vrug van hierdie navorsing is in 1774 en 1775 gepubliseer, en sy Griekse teks (in latere uitgawes) is deur ’n aantal Bybelvertalers gebruik, onder meer aartsbiskop Newcome, Abner Kneeland, Samuel Sharpe, Edgar Taylor en Benjamin Wilson (laasgenoemde in The Emphatic Diaglott).

Griesbach was die eerste wat ouer manuskriplesings ingesluit het as dié wat deur Erasmus in sy Griekse teks van 1516 G.J. gebruik is. Die betekenis van hierdie navorsing blyk uit die volgende kommentaar: “Griesbach het baie ure bestee om die beste lesings onder die talle variante in die Nuwe Testament te vind. Sy werk het die grondslag gevorm van hedendaagse tekskritiek en hy is in ’n baie groot mate verantwoordelik vir die vaste Nieu-Testamentiese teks wat ons vandag besit.”—J. J. Griesbach: Synoptic and Text-Critical Studies, 1776-1976, bl. xi.

In 1776 het Griesbach sy Sinopsis van die Evangelies van Mattheüs, Markus en Lukas uitgegee, met die teks in parallelle kolomme sodat dit maklik vergelyk kon word. Sedertdien word dit die “sinoptiese” Evangelies genoem omdat hulle ’n “oorsig” daarvan bied. Griesbach het vas geglo dat hierdie Evangelies geskryf is deur die persone waarna die boeke vernoem is, dat Mattheüs ’n ooggetuie was van die gebeure wat hy neergeskryf het, en dat “die apostels deur die Heilige Gees toegerus is om die leer te begryp en sonder die gevaar van dwaling oor te dra”.

Uit sy studies het Griesbach tot die gevolgtrekking gekom dat die eerste Evangelie deur Mattheüs geskryf is, die tweede deur Lukas en die derde deur Markus. Maar selfs gedurende Griesbach se leeftyd het G. S. Storr met die gedagte vorendag gekom dat Markus die eerste Evangelie is wat geskryf is. Sedertdien het hierdie teorie algemene steun ontvang, tesame met die mening dat die verlore dokument genaamd ‘Q’ die grondslag van die Evangelies vorm. Latere geleerdes het ander brokkies en bronne by hierdie teorie gevoeg, en talle boeke en duisende artikels is oor die onderwerp geskryf. Dit het vir baie teoloë so belangrik geword dat dit selfs die vorm van “’n geloofsartikel” aangeneem het. Griesbach is gevolglik verwerp en dikwels skerp gekritiseer.

Nadat dit die gebied so lank oorheers het, word die ‘bronnedokument’-teorie nou gekritiseer. Namate baie geleerdes van mening verander, het hulle die gedagtes van Griesbach ‘herontdek’. Nadat dit met sekere wysigings bygewerk is, is daar bevind dat hierdie gedagtes bestaande vrae oor die Evangelies op bevredigender wyse opklaar.

Die ‘bronnedokument’-gedagte het baie mense se geloof in die goddelike inspirasie van die Bybel vernietig (2 Tim. 3:16, 17). Hierdie neiging is nie nuut nie, want die apostel Paulus het vir Timotheüs gesê “om sekere persone te beveel dat hulle geen ander leer moet leer nie, en hulle nie besig hou met fabels en eindelose geslagsregister nie, wat net twisvrae [“bespiegeling”, RS] bevorder meer as stigting van God wat in die geloof is”.—1 Tim. 1:3, 4.

Dit is interessant dat biskop B. C. Butler, wat ’n paar jaar gelede feitlik al voorstander was van die gedagte dat Mattheüs eerste geskryf is, die spyker op die kop geslaan het toe hy gesê het: “’n Onbevooroordeelde ondersoeker wat graag die waarheid wil ontdek, sal, as hy die Sinoptiese Evangelies as hele boeke lees en weer lees, oor die algemeen tot die gevolgtrekking kom dat die skrywers eerlike manne was wat neergeskryf het wat hulle opreg geglo het waar is. Hy sal dan besef dat hulle nie kon geglo het dat hierdie dinge waar is nie tensy die geskiedkundige feite wesenlik was soos hulle dit weergegee het.”—Searchings, bl. 85.

Geen ongeïnspireerde, verlore dokument het as grondslag gedien vir die Evangelieverslae van Mattheüs, Markus, Lukas en Johannes nie. Hulle het onder die invloed van Jehovah God se heilige gees geskryf. Die onjuiste teorieë van mense kan natuurlik baie lank heers, in hierdie geval sowat 200 jaar. Intussen word baie mense se geloof in God se Woord ondermyn. Maar as ons verstandig is, sal ons ag slaan op al die getuienis wat opgehoop het om te toon dat die Bybel betroubaar en deur God geïnspireer is. En die kritici kan maar van mening verander so dikwels as wat hulle wil.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel