Ontwikkel jou waarnemingsvermoëns
1 Die angsvolle laaste dae, waarin ons ons nou bevind, het oral toenemende druk asook allerhande ernstige beproewinge vir God se volk meegebring (2 Tim. 3:1-5). Ons almal het aanmoediging nodig om vas te staan in die geloof (1 Kor. 16:13). Ons kan dit met Jehovah se hulp doen, terwyl ons voortgaan om ons gereeld met sy Woord te voed, op sy heilige gees te vertrou en na aan sy organisasie te bly.—Ps. 37:28; Rom. 8:38, 39; Op. 2:10.
2 Die tema van die program vir verlede jaar se spesiale byeenkomsdag was heel gepas “Word volgroeid in begripsvermoëns”. Dit was gebaseer op 1 Korintiërs 14:20, waar ons die apostel Paulus se woorde lees: “Broers, moenie jong kinders in begripsvermoëns word nie, maar wees klein kindertjies ten opsigte van slegtheid; word egter volgroeid in begripsvermoëns.” Wat het jy van die program gedink?
3 “Hoe aanmoedigend!” “Dit was net wat ons nodig gehad het!” Dit was net ’n paar van die kommentare. Selfs ’n man wat nie ’n Getuie is nie en na die spesiale byeenkomsdag gekom het om te sien hoe sy 12-jarige dogter gedoop word, het gesê dat hy baie beïndruk was met die program en dat hy kon sien hoe sy gesin daarby sou baat vind. Is dit hoe jy voel? Kom ons hersien ’n paar van die programhoogtepunte.
4 Juiste kennis is nodig om waarnemingsvermoëns te ontwikkel: Wat het die spreker in die openingstoespraak, “Ontwikkel nou jou begripsvermoëns”, beklemtoon sal nodig wees om die uitdagings van vandag die hoof te bied? Meer as verstandelike vermoëns. Ons moet ons vermoëns om die Bybel te begryp, ontwikkel en verbeter as ons nie oorwin wil word deur al die slegtheid waaraan ons blootgestel word nie. Hierdie begrip vereis Goddelike leiding. Soos die psalmis moet ons Jehovah biddend vra om ons sy wette en herinneringe te laat verstaan sodat ons hom heelhartig kan dien.—Ps. 119:1, 2, 34, NW.
5 In die volgende deel het die kringopsiener getoon dat Jehovah ons, deur middel van sy Woord en organisasie, voorsien van “Hulpmiddele om volgroeid te word in ons begrip van die Bybel”. Begrip is gedefinieer as “die vermoë om tot die kern van ’n saak deur te dring en die samestelling daarvan te onderskei deur in te sien watter verband daar tussen die dele daarvan en die geheel bestaan, en sodoende die sin daarvan te begryp”. Wie kan ons help om hierdie vermoë te ontwikkel? Jehovah het gawes in die vorm van mense voorsien om ons te help om geestelike vooruitgang te maak (Ef. 4:11, 12). Sy aardse organisasie spoor ons aan om God se Woord elke dag te lees en om gereeld al die gemeentelike vergaderinge by te woon (Ps. 1:2). Ons word geleer hoe om die Bybel en ons Christelike publikasies in ons persoonlike en gesinstudie te gebruik, sowel as in ons voorbereiding vir vergaderinge en velddiens. Maak jy van hierdie voorsienings gebruik? Het jy ’n gereelde, persoonlike Bybelleesprogram? Dit is noodsaaklik as ons beskerm wil word sodat ons nie ’n slagoffer van wêreldse neigings, giere, filosofieë en bedrieglike invloede word nie.—Kol. 2:6-8.
6 Ons waarnemingsvermoëns moet geoefen word: Die besoekende spreker het in sy eerste toespraak, met die tema “Beskerm jou geestelikheid deur jou waarnemingsvermoëns te oefen”, verduidelik dat mense in die wêreld nie tussen reg en verkeerd kan onderskei nie (Jes. 5:20, 21). Dit is omdat hulle weier om God se regverdige standaarde te erken en te handhaaf. Ons wat geestelike opleiding in Jehovah se organisasie ontvang het, erken daarenteen God se standaarde, wat ons bedrywighede en ons gedrag rig. Ons is dus in staat om ons te vergewis van wat goed en aanneemlik in Jehovah se oë is en wat in ooreenstemming met sy volmaakte wil is.—Rom. 12:2.
7 As ons die wêreld se verwarde denke en die slegte vrugte wat daaruit voortspruit, wil vermy, moet ons ons waarnemingsvermoëns voortdurend oefen. Hoe kry ons dit reg? Soos opgeteken in Hebreërs 5:12-14 het die apostel Paulus beklemtoon dat ons meer as net die “melk” van die woord moet inneem. Ons het vaste geestelike voedsel nodig, soos wat ons in die studie van Jesaja se profesie by die Gemeentelike Boekstudie ontvang. Dan moet ons wat ons leer, geredelik in ons lewe toepas. Wanneer ons dit doen, oortuig dit ons van die regverdigheid van Jehovah se beginsels en standaarde. Dit oefen ook ons waarnemingsvermoëns om duidelik tussen reg en verkeerd te onderskei.
8 Ongelukkig het party geestelik gewankel. Waarom? Hulle het nie hulle aandag gevestig op wat goed en reg in Jehovah se oë is nie. Gevolglik het hulle die slagoffers geword van radio- en televisiegeselsprogramme waarvan die inhoud volgens die Bybel afkeurenswaardig is, van verderflike musiek of van slegte invloede in rekenaarkletskamers. As ons verstandig optree, sal ons nie beïnvloed word deur onsedelike, dwase of goddelose mense nie.—Spr. 13:20; Gal. 5:7; 1 Tim. 6:20, 21.
9 Jongmense moet “klein kindertjies ten opsigte van slegtheid” wees: Die program het twee dele gehad wat spesifiek jongmense aangemoedig het om hulle waarnemingsvermoëns te ontwikkel. Die sprekers het getoon dat om “klein kindertjies ten opsigte van slegtheid” te wees, beteken dat ’n mens onervare bly, dit wil sê onskuldig soos klein kindertjies, in dinge wat onrein in Jehovah se oë is (1 Kor. 14:20). Ons almal is aangespoor om streng te let op hoe ons ons tyd gebruik sodat ons nie aan allerhande slegte dinge blootgestel en daardeur besoedel word nie (Ef. 5:15-17). Ons is aangespoor om te bereken hoeveel tyd ons daaraan bestee om materiaal te lees wat nie direk tot ons groter begrip van geestelike dinge bydra nie. Het jy dit gedoen? Wat het die resultate getoon? Buiten ons daaglikse Bybellees moet ons ook vasbeslote wees om by te hou met die leesstof wat die organisasie voorsien. As ons dit doen, sal dit ons almal, insluitende jongmense, help om ‘begrip te verwerf’.—Spr. 4:7-9, NW.
10 “Vind daarby baat om Bybelbeginsels met begrip toe te pas”: Dit was die tema van die laaste toespraak van die program vir die spesiale byeenkomsdag. Die gasspreker het verduidelik dat Jehovah die Bron van lewegewende begrip is, wat ver verhewe is bo dié van alle mense. Stel jou net voor dat ’n mens die geleentheid kan hê om van Jehovah se begrip te verkry! Hy gee oorvloedige begrip aan diegene wat opreg daarna soek en in geloof daarom vra (Spr. 2:3-5, 9; 28:5). Maak jy ten volle gebruik van sy aanbod?
11 Ons is aangemoedig om te leer om beginsels te identifiseer terwyl ons die Bybel lees (2 Tim. 3:16, 17). Bestudeer dit sorgvuldig om ’n juiste begrip te kry van wat Jehovah sê. Neem die tyd om oor hierdie beginsels te peins en dit in jou verstand en hart te laat insink. Dit sal jou waarnemingsvermoëns oefen sodat jy suksesvol kan wees wanneer jy besluite in die lewe neem (Jos. 1:8). Kom ons kyk na ’n paar situasies waarvoor baie te staan kom om te sien hoe die toepassing van Bybelbeginsels ons kan help om suksesvol te wees.
12 ‘Moet ek ’n sekere styl van kleredrag en persoonsversorging aanneem?’ Die wêreld se giere wat klere en persoonsversorging betref, weerspieël dikwels ’n opstandige gees. Hierdie gees beïnvloed mense om slordig en onaantreklik aan te trek of om seksualiteit te beklemtoon. Watter toepaslike Bybelbeginsels sal ons help om sulke neigings teë te werk? As ons ons waarnemingsvermoëns geoefen het, sal ons die beginsel in 1 Timoteus 2:9, 10 in ag neem om ons te klee “met beskeidenheid en gesonde verstand, soos dit [mense] betaam wat bely dat hulle God vereer”. Ander beginsels wat van toepassing is, sluit dié in wat in 2 Korintiërs 6:3 en Kolossense 3:18, 20 gemeld word.
13 ‘Wat kan ek doen om my gesinsbande sterk te hou?’ Goeie kommunikasie onder gesinslede is noodsaaklik. Jakobus 1:19 sê vir ons: “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig ten opsigte van gramskap.” Gesinslede moet na mekaar luister en met mekaar praat, want gesinskommunikasie is ’n tweerigtingpad. Maar selfs al is dit wat ons sê waar, sal dit waarskynlik meer kwaad as goed doen as dit op ’n hardvogtige, trotse of ongevoelige manier gesê word. Hetsy ons dus ’n man of ’n vrou, ’n ouer of ’n kind is, ons moet ons spraak ‘altyd aangenaam laat wees, smaaklik gemaak met sout’.—Kol. 4:6.
14 ‘Word ek deur materialisme beïnvloed?’ Materialisme is ’n wêreldse druk wat ’n mens se lewe ingewikkeld maak. Dit lei nie tot geluk nie (Pred. 5:9; Luk. 12:15; 1 Tim. 6:9, 10). Om ons te help om die strik van materialisme te vermy, het Jesus ons hierdie belangrike beginsel geleer: Hou jou oog eenvoudig. As ons ’n gebalanseerde, eenvoudiger lewe wil lei, moet ons ons oë op Koninkryksbelange gevestig hou en alle ander dinge in die tweede plek stel.—Matt. 6:22, 23, 33.
15 Wat ons doel moet wees: God se Woord is vir ons ’n betroubare bron van regverdige beginsels om ons te lei wanneer ons besluite neem. Ons moet hierdie beginsels leer ken, daaroor peins en verstaan hoe dit in ons lewe toegepas kan word. Deur sodoende ons ‘waarnemingsvermoëns te oefen om te onderskei wat reg en verkeerd is’, sal ons ons bevoordeel en Jehovah eer.—Heb. 5:14.