SY HET DIE BRON VAN GROTER VREUGDE GEVIND
’n Hartverblydende verslag uit Trinidad
“ONDERWYSERES bedank om sendelinge te word.” In 1955 het hierdie opskrif in ons plaaslike dagblad, The Trinidad Guardian, verskyn. Wie was hierdie onderwyseres? Wat het haar so ’n besluit laat neem? Het sy iets verloor deur hierdie stap te doen? Is sy steeds ’n sendelinge?
Sylvia is in ’n rustige plaasdorpie genaamd Flanagin Town in sentrale Trinidad gebore. Die gemeenskappie was nie baie geletterd nie, en die enigste skool was een met Katolieke onderwysers onder die toesig van ’n priester wat die gebied een keer per week besoek het. Sylvia het daar skoolgegaan en het toe ’n kwekeling-onderwyseres in dieselfde skool geword. In die veertigerjare het ’n bejaarde egpaar, albei Jehovah se Getuies, haar geestelik begin onderrig. Godsdienstig bevooroordeelde mede-inwoners van die dorpie het op hierdie man en sy vrou neergesien, maar hulle het moedig aangehou om die Bybel se boodskap aan almal in die dorpie te verkondig. ’n Ander egpaar het by hulle aangesluit, en hierdie groepie het draagbare grammofone gebruik om plate met Bybel-preke te speel, waarna hulle lektuur aangebied het wat die boodskap verduidelik.
DIE VREUGDE BEGIN
Sylvia se ouma het na die plaatpreke geluister, lektuur gekoop en dit gebêre sonder om dit ooit te lees. Maar Sylvia het die publikasies gelees. Op die ouderdom van 17 het sy na die Getuies gaan soek en hulle met vrae bestook. Sylvia het kort daarna begin om die Bybelstudievergaderinge saam met die vier Getuies in haar dorpie by te woon. Die vyf het die Skrif in die lig van ’n lampolielamp sit en bespreek, omdat daar geen elektrisiteit was nie.
Toe het Sylvia met haar ouma en sekere onderwysers begin praat oor die dinge wat sy geleer het. Die nuus dat Sylvia in die geheim die vergaderinge van Jehovah se Getuies bygewoon het, het soos ’n veldbrand deur die dorpie versprei. Hoe kon ’n aktiewe Katoliek dit doen? Was sy dan nie ’n koorlid en ’n “Kind van Maria” nie? Was sy nie ’n kwekeling-onderwyseres in die Katolieke skool nie? Wat sou “Vader” sê? Wat sou hy doen? Die priester het Sylvia ontslaan en haar per brief verwittig dat haar werk as onderwyseres by die skool beëindig is omdat sy volgehou het om die dienste van ’n valse godsdiens, soos hy dit beskou het, by te woon.
Dit het nie haar vreugde gedemp nie. Trouens, ’n rukkie hierna is sy gedoop om haar toewyding aan Jehovah God te simboliseer. In 1949 is sy na die regering se Onderwyskollege waar sy in 1950 gegradueer het. Die volgende vyf jaar het sy in regeringskole onderwys gegee, maar in 1955 het sy as onderwyseres bedank om al haar tyd te gebruik om die Bybel se “evangelie” aan ander te verkondig (Matt. 24:14). Waarom het Sylvia haar posisie prysgegee? Waarom het sy ’n gereelde salaris vaarwel gesê om voltyds as ’n “pionier” sonder ’n vaste inkomste te preek?
WAAROM PIONIERDIENS DOEN?
Vra vir Sylvia en sy sal jou verskeie interessante redes gee. Een is dat haar moeder, alhoewel sy teen die Getuies gekant was, toegelaat het dat die jong Sylvia elke vakansie by ’n tante deurbring wat ’n Getuie is. Sy het dan baie van haar tyd gebruik om die Bybel se boodskap aan ander te verkondig. Sylvia het hierdie vakansies baie geniet en geestelik versterk teruggekeer huis toe, net meer daarvan oortuig dat sy die glorieryke “evangelie” aan soveel moontlik moet verkondig. Sy het ook later besef dat die Koninkryk bo-aan ’n Christen se lys prioriteite moet wees (Matt. 6:33). In haar omstandighede het Sylvia gesien dat dit vir haar belangriker was om Bybelwaarheid te verkondig as om voltydse sekulêre werk te doen.
Selfs vandag nog praat Sylvia oor die groot indruk wat sekere pioniers, Constance Mills en Maude De Freitas, op haar gemaak het. Sy onthou nog duidelik hulle blydskap in Jehovah, hulle groot ywer vir die voltydse werk en hulle opvallende vermoë om oor die Koninkryk te praat en dit vir haar so werklik te laat lyk. Sylvia het ook ou broer William Jordan bewonder en kan nog haar gesprekke met hom tydens haar etensuur duidelik voor die gees roep, asook hoe dit haar gehelp het om haar aandag op Jehovah se diens te vestig. Sy het dus as onderwyseres bedank om ’n pionier te word. Wat het sy verloor? “Om ’n pionier te word, moes ek ’n gerieflike tuiste en my loopbaan prysgee. Ek moes my versekeringspolis opsê en vergeet van die gedagte om ’n motor te koop”, het sy gesê. “Maar ek het besef dat alles wat ek gehad het aan Jehovah toegewy was, en dit het die deurslag gegee.”
Sylvia sal vir jou sê dat die besluit om ’n pionier te word een van verskeie belangrike besluite was. ’n Ander persoonlike besluit was of sy moes trou of nie. Sy is ongetroud en meen nie dat sy slegter daaraan toe is nie. Alhoewel sy nie ’n veldtog voer om mense te oorreed om ongetroud te bly nie, het sy die besluit geneem om ongetroud te bly. “Dit is nie omdat broers my nie gevra het nie. Ek het verskeie ‘aansoeke’ gehad”, sê sy. “Maar ek het my besluit geneem, en my lewe is gelukkig en vol. Ek meen nie dat ek iets misloop nie. Ek is in elk geval te besig om my daaroor te bekommer.”—Matt. 19:10-12.
SEËNINGE VERGROOT VREUGDE
Die feit dat Sylvia na Trinidad teruggestuur is as ’n spesiale pionier nadat sy in 1959 uit die Gilead-sendingskool gegradueer het, was ’n bedekte seën. Sy het met groot afwagting daarna uitgesien om in ’n ander land te dien, en erken openlik: “Ek was baie teleurgesteld toe ek gehoor het dat ek teruggestuur word na Trinidad om in dieselfde, bekende omgewing te kom werk.” Maar het sake goed verloop?
Sylvia sê die volgende oor die wyse waarop Jehovah haar gebruik het: “Hy het my gebruik om groepies van ses, vier, drie en soms een of twee te help. Ek het die voorreg gehad om vier vleeslike broers en susters en hulle huweliksmaats te help. Dit is hartverblydend om te sien en te hoor hoedat hulle ten gunste van Jehovah en sy koninkryk spreek.” Daar is amper nie ’n enkele doopplegtigheid waar daar nie een van Sylvia se studente onder die doopkandidate is nie.
Dit was nie altyd maklik nie. Een jaar het Sylvia se huis afgebrand en het sy en haar maat alles verloor! Maar ander Getuies het hulle ingeneem en van klere voorsien totdat hulle weer op eie bene kon staan.—Mark. 10:29, 30.
In 1968 moes Sylvia besluit of sy in die voltydse diens gaan aanbly. Hier is hoe sy dit self stel: “Die bloedkwessie het ter sprake gekom aangesien ek ’n groot buikoperasie moes ondergaan. Die operasie was ’n sukses. Geen bloed is gebruik nie, maar ek was baie swak en terneergedruk.
Ek moes besluit of ek in die voltydse diens sou kon aanbly of nie. Party mede-Getuies het gedink dat ek die voltydse diens moes verlaat omdat ek te swak was. Maar Jehovah het my gebede verhoor en my weer opgehef. Hy het my krag hernieu en na drie maande was ek terug in die veld op soek na sy ‘skape’ (Jes. 40:28-31). Ek meen dat ek nou, danksy Jehovah, meer kan verrig as voor die operasie.”
Sylvia het ’n innemende geaardheid. As ’n persoon met die straat afloop, sal hy haar daar voor hom sien—’n tingerige, meisieagtige figuur, verstandig en smaakvol geklee, en met ’n aanvallige glimlag op ’n vriendelike gesig. Dit is so natuurlik vir mense om haar aanbod van Bybellektuur te aanvaar. Haar lewensvreugde steek haar hoorders aan terwyl hulle na haar luister. Sy vestig die aandag op Jehovah as die bron van geluk: “Dit was ’n uiters lonende en aangrypende ondervinding om sy liefdevolle, tere sorg deur die jare heen te ontvang en saam met hom te werk. Ek dank Jehovah nederig daarvoor.” Waarlik, “die ootmoediges sal vreugde op vreugde smaak in die HERE”.—Jes. 29:19.