God se Woord is lewend
Kan jy met die dode praat?
Aangesien so baie mense sê dat hulle met die dode gepraat het, is dit duidelik dat ten minste party van hulle met iemand in die geesteryk gepraat het. Meer as 3 000 jaar gelede het Saul, die koning van Israel, so ’n ondervinding gehad. Kom ons kyk wat ons daaruit kan leer.
’n Magtige leër van die Filistyne het teen Saul se Israelitiese leër opgetrek, en hy was baie bang. Saul het God se wet geken: “Begeef julle nie tot geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê nie” (Lev. 19:31). Maar Saul het van Jehovah God afvallig geword. En nou, in sy tyd van nood, was hy so radeloos dat hy na ’n medium in Endor gegaan het.
Die medium het die gedaante van ’n persoon wat vir haar sigbaar was, laat opkom. Volgens haar beskrywing van die gedaante, het Saul hom as “Samuel” geïdentifiseer. Samuel was God se profeet wat gesterf het.
“Waarom verontrus jy my deur my te laat opkom?” het die geespersoon met wie daar in aanraking gekom is, gevra.
“Ek is baie benoud, want die Filistyne voer teen my oorlog”, het Saul geantwoord.
“Maar waarom raadpleeg jy my terwyl die HERE van jou gewyk . . . het?” het die gees gevra.
Na hierdie slegte ondervinding het Saul baie bevrees geword en moedeloos op die grond geval.—1 Sam. 28:3-20.
Hierdie persoon uit die geesteryk kon nie werklik Samuel gewees het nie. Samuel was dood, en die Bybel se: “Die dooies weet glad niks nie” (Pred. 9:5). Terwyl Samuel nog gelewe het, het hy boonop geweier om ontroue Saul te sien (1 Sam. 15:35). Selfs al het Samuel na sy dood voortgelewe, sou hy beslis nie toegelaat het dat ’n medium reël dat hy Saul ontmoet nie. Ons kan dus seker wees dat ’n medium Jehovah nie kon dwing om deur dooie Samuel vir Saul ’n boodskap te gee nie.
Maar gestel dat die lewendes inderdaad met afgestorwe dierbares kon praat, soos die mense by hierdie séance probeer doen. As hulle kon, sou ’n God van liefde tog nie in die Bybel gesê het nie: “Daar mag niemand by jou gevind word . . . wat die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat [dit] doen, is vir die HERE ’n gruwel.”—Deut. 18:10-12.
Wie het dus gemaak asof hy Samuel is? ’n Bose geespersoon. Bose geeste of duiwels is die engele wat by Satan aangesluit het en teen God in opstand gekom het. Om die leuen te bevorder dat die dood slegs ’n verandering na ’n ander lewe is, doen hulle hulle voor as persone wat gesterf het. Maar die waarheid is dat die dode heeltemal niks weet nie en wag op die tyd wanneer God hulle in die opstanding gaan onthou (Hand. 24:15). Nie jy of enigiemand anders kan dus met die dode praat nie.