Goeie gedrag raakgesien
TEEN die einde van die “Koninkrykslojaliteit”-Streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies wat onlangs in Pretoria gehou is, is ’n brief van die Hoofsekuriteitsbeampte van die skouterrein ontvang waarin hy sy dank uitspreek vir die Getuies se gedrag en die samewerking wat hy verkry het. Hy het onder meer gesê:
“Dit was so opmerklik om op te let na die gedrag van u besoekers, almal is en was hoflik, hoe mooi almal met almal praat, die gesindheid wat hier geheers het die afgelope paar dae, dit alles getuig van die kaliber van die lede van u gemeenskap, en dat almal soos een gelukkige familie saam leef.
“Ook wil ek noem dat die netheid van al die besoekers so opvallend was, die terrein was altyd pragtig en skoon agtergelaat. Ek het gesien hoe persone bv. enige stukkie papier of iets wat rondlê sou optel en in ’n vullisbak gaan gooi. Pragtige gedrag sowaar.
“Verder wil ek u almal van my kant af geluk wens met u onderneming. Ek glo dat al u lede fantastiese persone is, en die goeie gees, soos ek reeds gemeld het wat onder u heers, voorwaar merkbaar van liefde getuig.”
Dit is tipies van verslae wat uit alle dele van die aarde ontvang word oor die gedrag van Jehovah se Getuies by hulle groot byeenkomste. Hierdie gedrag is kenmerkend van Jehovah se Getuies, nie omdat hulle beter as ander is nie, maar omdat hulle daarna strewe om Bybelbeginsels getrou toe te pas. Jesus het immers gesê dat sy volgelinge aan hulle liefde uitgeken sou word.—Joh. 13:34, 35.