Koninkryksverkondigers berig
Soeke na die waarheid beloon
DIE Bybel sê vir ons: “Soek die HERE . . . roep Hom aan” (Jesaja 55:6). Jehovah het vir Salomo gesê: “As jy [Jehovah] soek, sal Hy Hom deur jou laat vind” (1 Kronieke 28:9). ’n Jong meisie in Finland het die waarheid omtrent Jehovah gesoek en is ryklik beloon.
Sy het tot die Staatskerk van Finland behoort en die katkisasieklas bygewoon in die hoop dat sy die waarheid omtrent God sou vind. Sy is egter teleurgestel. Hulle het die Bybel selde in die klas gelees. Trouens, die priester het haar gewaarsku om dit nie te lees nie, aangesien dit haar sou verwar.
Sy het die Bybel nietemin begin lees toe sy die kursus voltooi het. Sy het ook kerk toe gegaan, maar kon geen tevredenheid daar vind nie. Toe is sy na die Pinksterkerk waar sy aangeneem is. Hulle het vir haar gebid en gesê dat sy nou geloof gekry het. Maar sy het geensins nader aan God gevoel as voorheen nie.
Sy het aan die “Bende- en Straatdienssentrum” geskryf en hulp gevra, maar hulle het vir haar slegs ’n telefoonnommer gegee. Toe sy bel, is die telefoon beantwoord deur ’n Metodis wat vir haar ’n gebed gedoen en gesê het dat dit nie saak maak tot watter kerk sy behoort nie, solank sy nie by Jehovah se Getuies of die Mormone aansluit nie!
Sy het die dienste van Peoples Mission bygewoon en is traktate met die titel Jehovah se Getuies, die bedrog van die tyd van die einde gegee om te versprei. Dit het steeds nie haar soeke na die waarheid bevredig of haar ’n doel in die lewe gegee nie.
Toe het sy haar tante besoek wat haar geskok het deur vir haar te sê dat sy glo dat Jehovah se Getuies die waarheid leer. Die tante het kalm tekste uit die Bybel gelees wat bewys het dat dit God se voorneme is om van hierdie aarde ’n paradys te maak, en sy het vir haar die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe gegee. Die meisie het die boek gelees met die doel om fout daarmee te vind—dit te weerlê—maar in stede daarvan het sy weldra besef dat dit die waarheid bevat en vir haar toon wat die doel in die lewe is waarna sy gesoek het. Sy het vir die uitgewers geskryf en ander boeke gevra, asook dat iemand haar besoek. Slegs twee dae later het twee pioniersusters by haar deur aangeklop.
’n Bybelstudie is gereël en die meisie het vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon waar sy diep beïndruk en geroer is deur die liefdevolle atmosfeer daar. Sy het haar Bybelstudie voortgesit, is ’n jaar later gedoop, het pionierdiens begin doen en die Pionierdiensskool bygewoon. “Uiteindelik kan ek gelukkig wees”, het sy gesê. Haar soeke na die waarheid is beloon.
Soortgelyke ondervindinge word duisende kere herhaal gedurende ‘die voleinding van die wêreld’, wanneer Jesus, die Goeie Herder, sy “ander skape” versamel, soos voorspel is in Johannes 10:16 (Mattheüs 24:3). Gelukkig is diegene dus wat na die waarheid van die Bybel soek en deur God beloon word.—Mattheüs 7:7.