Die Waldense—Ketters of soekers na die waarheid?
DIE tyd? Die 12de eeu G.J.—200 jaar voor Wycliffe en Huss en 300 jaar voor Luther. Die plek? Suidelike Frankryk en die Alpevalleie van daardie land en noordelike Italië. Die omstandighede? Die gewone mense lewe in armoede en word opsetlik in onkunde gehou deur ryk en dikwels losbandige geestelikes. In die hele Europa is die Rooms-Katolieke Kerk oppermagtig daar dit invloedryk, ryk en wêrelds is.
Teen hierdie agtergrond vind ons ’n groep mense wat ’n skerp kontras vorm. Hulle glo dat die Bybel die Woord van God is en probeer om volgens die regverdige beginsels daarvan te lewe. Hulle gaan twee-twee berg op en dal af om die waarhede, wat hulle ontdek het deur die dele van die Skrif wat in hulle taal beskikbaar is te lees, aan ander te verkondig en te leer. Hiervoor word daar as ketters op hulle jag gemaak en boet baie met hulle lewe. Wie is hulle?
Hulle het later in Frankryk bekend gestaan as die Vaudois. Hulle Katolieke vervolgers het hulle in Latyn Valdenses genoem, en dit is waar die Afrikaanse woord Waldense vandaan kom.
VOORLOPERS
Katolieke en Protestantse geskiedkundiges is dit nie eens oor die ontstaan van die Waldense nie. Eersgenoemde wil ons wysmaak dat wat hulle die “kettersekte” van die Waldense noem ’n alleenstaande verskynsel is wat skielik aan die einde van die 12de eeu na vore gekom het onder die leierskap van ’n Fransman van Lyon genaamd Valdès of Waldus. Baie Protestante beweer andersyds dat die Waldense ’n skakel in die ongebroke ketting andersdenkendes tussen die dae van keiser Konstantyn (vierde eeu G.J.) en die Protestantse hervormers van die 16de eeu is. Hierdie Protestante is die mening toegedaan dat die naam Waldense kom van die Latynse woord vallis, wat “vallei” beteken en verwys na die feit dat hierdie andersdenkendes, op wie daar deurgaans as ketters jag gemaak is, verplig was om in die Alpevalleie van Frankryk en Italië skuiling te soek.
Katolieke geskiedkundiges verwerp natuurlik hierdie Protestantse verklaring as onhistories. Maar deur te sê dat die Waldense skielik met Valdès of Waldus op die toneel van Middeleeuse geskiedenis verskyn het, probeer die Katolieke Kerk die duidelike geskiedkundige feit afmaak dat daar baie ander andersdenkendes was voordat Waldus in die laat sewentigerjare van die twaalfde eeu met sy predikingswerk begin het. Die waarheid is skynbaar dat Waldus en sy metgeselle ’n saamtrekpunt was vir soortgelyke groepe andersdenkendes, waarvan party al lank bestaan het.
Die Katolieke Kerk wil graag hê dat ons moet vergeet dat sade van ontevredenheid reeds baie jare voor Waldus in haar midde gevind kon word. Biskop Agobard van Lyon, Frankryk (779-840 G.J.), het hom byvoorbeeld sterk uitgespreek teen beeldeaanbidding, kerke wat aan heiliges toegewy is en kerkliturgie wat nie in ooreenstemming met die Heilige Skrif is nie.
Oorkant die Alpe, in Turyn, Italië, het ’n tydgenoot van Agobard, biskop Claudius, ’n soortgelyke standpunt ingeneem. Hy het gebede aan heiliges en die verering van relikwieë en die kruis veroordeel en kerktradisie oor die algemeen verwerp as iets wat strydig met die Skrif is. Claudius van Turyn is al “die eerste Protestantse hervormer” genoem. Hy is tussen 827 en 839 G.J. oorlede.
In die 11de eeu het aartsdeken Bérenger, of Berengarius, van Tours, Frankryk, glo een van die invloedrykste teoloë van sy dag, die leer van transsubstansiasie teengestaan en volgehou dat die brood en die wyn wat gebruik is om Christus se dood te herdenk embleme is en nie wonderdadig in die liggaam en bloed van Christus verander nie. Hy het ook die Bybel belangriker as tradisie beskou. Berenger is in 1050 as ’n ketter geëkskommuniseer.
Baie vroeg in die 12de eeu was daar twee manne wat opvallend was onder die voorste andersdenkendes in Frankryk. Hulle is Petrus van Bruys en Hendrik van Lausanne. Eersgenoemde het sy volwasse lewe as ’n priester in die Alpe van suid-oostelike Frankryk begin. Hy het eerlank uit die priesteramp getree omdat hy dit nie met die kerk eens was oor belangrike leerstellings soos kinderdoop, transsubstansiasie, gebede vir die dode, die aanbidding van die kruis en die nodigheid vir kerkgeboue nie. Toe hy uit die bisdomme van die suidelike Alpe verban is, het hy regstreeks vir die mense dwarsdeur suidelike Frankryk gepreek en baie dissipels gemaak. Hy het eindelik in 1140 by St. Gilles, naby Arles, op die brandstapel gesterf.
Die werk van Petrus van Bruys is voortgesit deur Hendrik van Lausanne, ook genaamd Hendrik van Cluny. Hy was ’n monnik wat hom reeds in 1101 moedig begin uitspreek het teen kerkliturgie, die verdorwe geestelikes van sy dag en die priesterlike rangorde. Hy het volgehou dat die Bybel die enigste grondslag vir geloof en aanbidding is. Hendrik van Lausanne het met sy predikingswerk in Le Mans, in westelike Frankryk, begin. Toe hy daar verban is, het hy dwarsdeur suidelike Frankryk met sy sendingwerk voortgegaan en eindelik vir Petrus van Bruys ontmoet. In 1148 is hy in hegtenis geneem en lewenslank tronk toe gestuur. Maar die gedagtes van hierdie manne het soos ’n veldbrand van die suidelike Alpe na die Middellandse See en reg oor suidelike Frankryk na die Golf van Biskaje versprei.
WALDUS EN DIE “ARM MANNE VAN LYON”
Dit was teen hierdie geskiedkundige agtergrond dat ’n leek in Lyon, Frankryk, op die toneel verskyn het. Ons weet niks van hierdie man se herkoms af nie, behalwe dat hy omstreeks 1140 G.J. gebore is. Daar is selfs nie duidelikheid oor sy naam nie, daar dit soms Valdès, Valdo of Waldus gespel word. Die voornaam Pierre, of Petrus, verskyn in geen manuskrip voor 1368 nie. Daar word gemeen dat sy latere volgelinge die naam aan hom gegee het om aan te dui dat hy ’n waardiger navolger van die apostel Petrus was as wat die pouse van Rome was wat beweer dat hulle Petrus se opvolgers is.
Waldus was ’n ryk handelaar van Lyon. Hy was getroud en het twee dogters gehad. Daar hy ’n vroom man en ’n praktiserende Katoliek was, het hy vir ’n vriend, ’n teoloog, om Skriftuurlike raad gevra oor wat hy moes doen om God te behaag. In antwoord het sy vriend Mattheüs 19:21 aangehaal waar Jesus vir die ryk jongman gesê het: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My.”
Waldus het hierdie raad ter harte geneem. Nadat hy vir sy vrou voorsiening gemaak het en sy twee dogters in ’n klooster gesit het, het hy twee priesters, Etienne d’Anse en Bernard Ydros, gehuur om die Evangelies en ander Bybelboeke in die volkstaal van die provinsies Provence en Dauphine in suidoostelike Frankryk te vertaal. Toe het hy die res van sy aardse besittings aan die armes gegee en begin om die Woord van God te bestudeer. Hy het ook in die strate van Lyon gepreek en die inwoners genooi om geestelik te ontwaak en terug te keer na eenvoudige, Bybelse Christelikheid.
Omdat hy alom bekend was as ’n welvarende sakeman, het Waldus baie horende ore gekry en gou ’n groep volgelinge gehad. Hulle het hulle verheug omdat hulle die Bybel se vertroostende boodskap in hulle eie taal kon hoor, want tot op daardie stadium het die kerk verbied dat die Bybel in enige taal behalwe Latyn vertaal word. Baie het ingestem om hulle besittings prys te gee en hulself te wy aan die werk om die Bybel in die taal van die gewone mense aan ander te leer. Hulle het bekendgeraak as die “Arm manne van Lyon”.
Hierdie predikingswerk deur leke het die geestelikes se toorn gewek. In 1179 het pous Alexander III Waldus en sy volgelinge verbied om sonder die toestemming van die plaaslike biskop te preek. Soos ons kan verwag, het biskop Bellesmains van Lyon geweier om sy toestemming hiervoor te gee. Toe hierdie toestemming geweier is, het Waldus volgens geskiedkundige verslae die hiërargie geantwoord met die woorde van Handelinge 5:29: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”
Waldus en sy metgeselle het aangehou preek. In 1184 het pous Lucius III hulle dus geëkskommuniseer, en die biskop van Lyon het hulle uit sy bisdom verban. Die gevolg was baie soos dié toe die vroeë Christene uit Jerusalem verjaag is. Die Bybel sê van hulle: “Die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig.”—Hand. 8:1-4.
Hierdie 12de-eeuse andersdenkendes het skuiling gesoek in die Alpe en dwarsdeur suidelike Frankryk waar hulle die Bybel verkondig het terwyl hulle van plek tot plek gegaan het. Hulle het ongetwyfeld afgekom op ander groepe andersdenkendes, soos die volgelinge van Petrus van Bruys en Hendrik van Lausanne. Toe hulle die Alpepasse na Noord-Italië oorgesteek het, het hulle in aanraking gekom met groepe andersdenkendes wat reeds in die valleie van Piedmont en Lombardye bestaan het. Hierdie Bybel-georiënteerde groepe andersdenkendes, wat later dwarsoor Europa bekendgestaan het as die Waldense, moet onderskei word van groepe “ketters” van daardie tyd, soos die Kathaars en die Albigense, wie se leerstellings meer op Persiese filosofie as op die Bybel gegrond was. Geskiedkundige verslae toon dat die Waldense aan die begin van die 13de eeu nie alleen in suidelike Frankryk en noordelike Italië aangetref is nie, maar ook in oostelike en noordelike Frankryk, Vlaandere, Duitsland, Oostenryk en selfs Boheme, waar Waldus glo in 1217 gesterf het.
DIE SOEKE NA BYBELWAARHEID
Of Waldus nou die stigter van die Waldense was of nie, hy moet die eer kry as die persoon wat die inisiatief geneem het om die Bybel uit Latyn te laat vertaal in die volkstale van die gewone mense vir wie hy en sy metgeselle gepreek het. En onthou, dit was sowat 200 jaar voordat Wycliffe die Bybel vir Engelssprekende andersdenkendes vertaal het.
Die basiese standpunt van die vroeë Waldense was dat die Bybel die enigste bron van godsdienswaarheid is. In ’n wêreld wat pas tevore uit die sogenaamde “Donker Eeue” gekom het, het hulle rondgetas na Christelike waarheid. Hulle het klaarblyklik hulle bes gedoen met die paar boeke van die Hebreeuse en Griekse Skrifte wat hulle besit het in ’n taal wat hulle kon lees en verstaan. Uit sekere verslae blyk dit dat hulle nie die regte begrip van leerstellings soos die Drie-eenheid, onsterflikheid van die siel en helse vuur gehad het nie.
Hierdie vroeë Waldense het nietemin die Bybel goed genoeg verstaan om beeldeaanbidding, transsubstansiasie, kinderdoop, die vaevuur, Maria-aanbidding, gebede tot heiliges, die verering van die kruis en relikwieë, sterfbedbekering, belydenis aan priesters, Misse vir die dode, pouslike aflate, die priesterselibaat en die gebruik van vleeslike wapens te verwerp. Hulle het ook indrukwekkende, oordadige kerkgeboue verwerp en gemeen dat “die groot Babilon, die moeder van die hoere” die Kerk van Rome is, waaruit hulle hulle hoorders aangespoor het om te vlug (Openb. 17:5; 18:4). En dít reeds in die laat 12de en vroeë 13de eeu!
In hulle predikingswerk het die vroeë Waldense die Bybel verkondig en baie klem gelê op die Bergpredikasie en die Onse Vader, wat albei God se koninkryk voorhou as die ding waarvoor ons moet bid en wat ons eerste moet soek (Matt. 6:10, 33). Hulle het volgehou dat enige Christen of Christin wat genoeg Bybelkennis gehad het, die reg gehad het om die “evangelie” te verkondig. Hulle het ook geglo dat Jesus die enigste middelaar tussen God en die mens is. Daar Jesus een maal gesterf het, het hulle gesê dat sy offer nie hernieu kon word deur ’n priester wat die Mis opdra nie. Die vroeë Waldense het die Gedenkmaal van Christus se dood een keer per jaar gevier en brood en wyn as simbole gebruik.
PREDIKINGSWERK BRING VERVOLGING
Die primitiewe Waldense het beweer dat dit nie nodig is om na ’n kerkgebou te gaan om God te aanbid nie. Hulle het ondergrondse vergaderinge in skure, huise of enige ander plek waar hulle kon, gehou. Daar het hulle die Bybel bestudeer en nuwe predikers opgelei, wat hulle saam met meer ervare predikers uitgestuur het. Hulle het twee-twee van plaas tot plaas en, in die dorpe en gehuggies, van huis tot huis gegaan. Die gesaghebbende Dictionnaire de Théologie Catholique (D1. 15, kolom 2591) sê in ’n artikel wat die Waldense origens in ’n slegte lig stel: “Van hulle vroegste jare af het hulle kinders die Evangelies en die Sendbriewe begin leer. Die predikingswerk van hulle diakens, priesters en biskoppe het hoofsaaklik uit aanhalings uit die Bybel bestaan.”
Ander werke deel ons mee dat die Waldense ’n goeie reputasie vir vlyt, hoë sedelikheid en eerlike betaling van belastings gehad het. Hulle het onberouvolle sondaars uitgesit. Hulle is daarbenewens “die oudste en die mees evangeliesgesinde van die Middeleeuse sektes” genoem.
Dit is die soort Godvresende mense wat deur hulle godsdiensvyande vervolg is en waarvan daar baie op die brandstapel gesterf het. Baie van hulle was die slagoffers van die verskriklike kruistog wat pous Innocentius III in 1209 teen die Kathaars en die Albigense in die suide van Frankryk gelas het. Ander is gemartel en doodgemaak deur die gevreesde Inkwisisie wat in 1229 in suidelike Frankryk begin het. Party van die Waldense het daarin geslaag om na ander lande te vlug, en baie meer het in die hoë bergvalleie van die Franse en Italiaanse Alpe skuiling gesoek, waar Waldensiese gemeenskappe eeue lank voortbestaan het.
Maar met verloop van tyd is baie van die Bybelse leerstellings wat Waldus en ander ontdek het deur die Bybel te lees, verwerp. In die vroeë 16de eeu is die Waldense deur die Protestantse Hervorming geabsorbeer. Teen die einde van die 17de eeu het hulle selfs die wapens opgeneem.
Alhoewel die vroeë Waldense daarvan beskuldig is dat hulle “ketters” is, was hulle in werklikheid opregte soekers na waarheid en baanbrekers op die gebied van Bybelvertaling, Bybelonderrig en eenvoudige Christelikheid. Hulle het weliswaar nie gebreek met al die valse leerstellings van Babiloniese valse godsdiens nie. Maar hulle het klaarblyklik gelewe volgens die kennis wat hulle van God se Woord gehad het. Dit blyk dat baie bereid was om liewer te sterf as om hulle geloof prys te gee. Maar net “die Here ken die wat syne is”. Ons kan dit dus met veiligheid aan hom oorlaat om mense in die toekoms met lewe te beloon.—2 Tim. 2:19.