Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 9/1 bl. 27-30
  • Die Katare—Was hulle Christenmartelaars?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Katare—Was hulle Christenmartelaars?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Godsdiensverdeeldheid in Middeleeuse Europa
  • Rondgaande predikers
  • Wie was die Katare?
  • Gesindheid teenoor die Bybel
  • Nie Christene nie
  • ’n Onheilige kruistog
  • Die inkwisisie dien die nekslag toe
  • Die Waldense—Van kettery tot Protestantisme
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Die Waldense—Ketters of soekers na die waarheid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Die verhoor en teregstelling van ’n “ketter”
    Ontwaak!—1997
  • Afvalligheid—’n Versperring op die weg na God
    Die mensdom se soeke na God
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 9/1 bl. 27-30

Die Katare—Was hulle Christenmartelaars?

“MAAK hulle almal dood; God sal Sy eie mense herken.” Op daardie somersdag in 1209 is die bevolking van Béziers, in Suid-Frankryk, uitgewis. Die monnik Arnold Amalric, wat as pouslike gesant aan die hoof van die Katolieke kruisvaarders aangestel is, het geen genade getoon nie. Toe sy manne gevra het hoe hulle tussen Katolieke en ketters moes onderskei, het hy na bewering die genadelose antwoord gegee wat hierbo aangehaal word. Katolieke geskiedkundiges versag dit tot: “Moenie bekommerd wees nie. Ek glo dat baie min bekeer sal word.” Wat sy presiese antwoord ook al was, die gevolg was die slagting van ten minste 20 000 manne, vroue en kinders deur sowat 300 000 kruisvaarders wat deur kerkvorste van die Katolieke Kerk gelei is.

Wat was die oorsaak van hierdie bloedbad? Dit was net die begin van die Albigense-kruistog wat pous Innocentius III teen sogenaamde ketters in die provinsie Languedoc, suid van Sentraal-Frankryk, geloods het. Voordat dit byna 20 jaar later geëindig het, het moontlik eenmiljoen mense—Katare, Waldense en selfs baie Katolieke—hulle lewens verloor.

Godsdiensverdeeldheid in Middeleeuse Europa

Die vinnige groei van die handel in die 11de eeu G.J. het groot veranderinge in die maatskaplike en ekonomiese samestelling van Middeleeuse Europa gebring. Dorpe het ontstaan om die groeiende getal ambagsmanne en handelaars te huisves. Dit het vrugbare grond vir nuwe idees voorsien. Godsdiensafwyking het in Languedoc wortelgeskiet, waar ’n merkwaardig verdraagsame en gevorderde gemeenskap gefloreer het soos nêrens anders in Europa nie. Die stad Toulouse in Languedoc was die derde rykste in Europa. Dit was die wêreld waarin die minnesangers gewild was, waarvan party se lirieke politieke en godsdienstige onderwerpe aangeroer het.

In ’n beskrywing van die godsdienstige toestand in die 11de en 12de eeu sê die Revue d’histoire et de philosophie religieuses: “In die 12de eeu, soos in die vorige eeu, is die sedes van die geestelikes, hulle oorvloed, hulle korrupsie en hulle onsedelikheid steeds bevraagteken, maar dit was hoofsaaklik hulle rykdom en mag, hulle geheul met die sekulêre owerhede en hulle kruiperige houding wat afgekeur is.”

Rondgaande predikers

Selfs pous Innocentius III het erken dat die wydverspreide korrupsie in die kerk die oorsaak was van die toenemende getal andersdenkende, rondgaande predikers in Europa, veral in Suid-Frankryk en Noord-Italië. Die meeste van hulle was Katare of Waldense. Hy het die priesters aangespreek omdat hulle die mense nie onderrig het nie en gesê: “Die kinders het die brood nodig wat julle nie lus het om vir hulle te breek nie.” Maar pleks dat Innocentius Bybelonderrig vir die mense bevorder het, het hy beweer dat “die Goddelike Geskrifte so diep is dat, nie net die eenvoudiges en ongeletterdes nie, maar selfs die verstandiges en geleerdes nie toegerus is om dit te verstaan nie”. Bybellees was vir almal buiten die geestelikes verbode, en hulle mag dit net in Latyns gelees het.

In ’n poging om die rondgaande prediking van die andersdenkendes teë te werk, het die pous die stigting van die Orde van Preekbroeders, of Dominikane, goedgekeur. In teenstelling met die vermoënde Katolieke geestelikes, sou hierdie monnike reisende predikers wees wat die opdrag gehad het om die Katolieke leer teen die “ketters” in Suid-Frankryk te verdedig. Die pous het ook pouslike gesante gestuur om met die Katare te redeneer en te probeer om hulle in die Katolieke kudde terug te bring. Omdat hierdie pogings misluk het en een van sy gesante glo deur ’n ketter doodgemaak is, het Innocentius III die Albigense-kruistog van 1209 op tou gesit. Albi is een van die dorpe waar die Katare besonder talryk was, en daarom het kerkskrywers die Katare Albigense (Frans, Albigeois) genoem en het hulle die uitdrukking gebruik om al die “ketters” in daardie streek, wat die Waldense ingesluit het, te onderskei. (Sien venster hieronder.)

Wie was die Katare?

Die woord “Kataar” kom van die Griekse woord ka·tha·rosʹ, wat “suiwer” beteken. Vanaf die 11de tot die 14de eeu het Katarisme veral in Lombardye, Noord-Italië, en in Languedoc versprei. Kataarse opvattings was ’n mengsel van Oosterse dualisme en Gnostisisme, wat moontlik deur handelaars en sendelinge uit die buiteland ingevoer is. The Encyclopedia of Religion omskryf Kataarse dualisme as geloof in “twee beginsels: ’n goeie, wat alles beheer wat geestelik is, en ’n bose, wat vir die materiële wêreld, insluitende die mens se liggaam, verantwoordelik is.” Die Katare het geglo dat Satan die materiële wêreld geskep het, wat onherroeplik tot vernietiging gedoem is. Hulle het gehoop om aan die bose, materiële wêreld te ontkom.

Die Katare was in twee klasse verdeel, die volmaaktes en die gelowiges. Die volmaaktes is ingewy deur ’n seremonie van geestelike doop, wat consolamentum genoem is. Dit is gedoen deur handoplegging ná een jaar van proeftyd. Hulle het gedink dat die seremonie die kandidaat van Satan se heerskappy bevry, hom van alle sonde reinig en hom die heilige gees gee. Dit het aanleiding gegee tot die gebruik van die benaming “volmaakte”, wat van toepassing was op die betreklike klein keurgroepie wat as bedienaars vir die gelowiges opgetree het. Die volmaaktes het geloftes van onthouding, kuisheid en armoede afgelê. ’n Volmaakte wat getroud was, moes sy of haar eggenoot verlaat, aangesien die Katare geglo het dat geslagsomgang die eerste sonde was.

Gelowiges was mense wat, terwyl hulle nie ’n asketiese lewe gelei het nie, Kataarse leringe nietemin aangeneem het. Deur in ’n seremonie wat melioramentum genoem is uit eerbied vir die volmaaktes te kniel, het die gelowige om vergifnis en ’n seëning gevra. Sodat hulle normale lewens kon lei, het gelowiges ’n convenenza, of ooreenkoms, met die volmaaktes aangegaan wat voorsiening gemaak het vir die toediening van geestelike doop, of consolamentum, by die sterfbed.

Gesindheid teenoor die Bybel

Alhoewel die Katare baie uit die Bybel aangehaal het, het hulle dit hoofsaaklik as ’n bron van allegorieë en fabels beskou. Hulle het gemeen dat die grootste deel van die Hebreeuse Geskrifte van die Duiwel gekom het. Hulle het dele van die Griekse Geskrifte, soos tekste wat die vlees met die gees kontrasteer, gebruik om hulle dualistiese filosofie te steun. In die Onse Vader het hulle om “ons transendentale brood” (oftewel “geestelike brood”), in plaas van “ons daaglikse brood” gebid, omdat brood in hulle oë ’n noodsaaklike kwaad was.

Baie Kataarse leringe was direk in teenstelling met die Bybel. Hulle het byvoorbeeld in die onsterflikheid van die siel en in reïnkarnasie geglo. (Vergelyk Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4, 20.) Hulle het ook hulle oortuigings op apokriewe geskrifte gebaseer. Maar aangesien die Katare dele van die Skrif in die volkstaal vertaal het, het hulle die Bybel wel tot ’n mate in die Middeleeue ’n bekender boek gemaak.

Nie Christene nie

Die volmaaktes het hulleself as die regmatige opvolgers van die apostels beskou en hulleself gevolglik “Christene” genoem en dit beklemtoon deur “ware” of “goeie” by te voeg. Maar baie Kataarse opvattings was eintlik nie deel van die Christelike leer nie. Hoewel die Katare Jesus as die Seun van God erken het, het hulle sy koms in die vlees en sy soenofferande verwerp. Hulle het die Bybel se veroordeling van die vlees en die wêreld verkeerd vertolk en gemeen dat alle tasbare dinge uit boosheid ontstaan. Hulle het dus geglo dat Jesus net ’n geestelike liggaam kon gehad het en dit net gelyk het of hy ’n vleeslike liggaam het terwyl hy op aarde was. Soos eerste-eeuse afvalliges was die Katare “mense wat nie bely [het] dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie”.—2 Johannes 7.

In sy boek Medieval Heresy skryf M. D. Lambert dat Katarisme “’n Christelike moraliteit met ’n gedwonge asketisme vervang het, . . . verlossing uitgeskakel het deur te weier om die reddende krag van [Christus se dood] te erken”. Hy meen dat “die volmaaktes se ware bande met die asketiese leermeesters van die Ooste was, die Boeddhistiese priesters en fakirs van China of Indië, die ingewydes van die Orfiese geheime of die leermeesters van Gnostisisme”. In die Kataarse geloof is redding nie van die losprysofferande van Jesus Christus afhanklik nie, maar eerder van die consolamentum, of doop in die heilige gees in. Vir dié wat so gereinig is, sou die dood ’n bevryding van tasbare dinge bring.

’n Onheilige kruistog

Die gewone mense, wat moeg was vir die geestelikes se buitensporige eise en wydverspreide verdorwenheid, is tot die lewenswyse van die Katare aangetrek. Die volmaaktes het die Katolieke Kerk en sy hiërargie as “die sinagoge van Satan” en “die moeder van die hoere” van Openbaring 3:9 en 17:5 geïdentifiseer. Katarisme het gefloreer en die kerk in Suid-Frankryk begin verdring. Pous Innocentius III se reaksie was om die so genoemde Albigense-kruistog te loods en te finansier, die eerste kruistog wat binne die Christendom georganiseer is teen mense wat beweer het dat hulle Christene is.

Deur middel van briewe en gesante het die pous die Katolieke konings, grawe, hertoë en ridders van Europa lastig geval. Hy het aflate en die rykdom van Languedoc aan almal belowe wat sou veg om die kettery “op watter manier ook al” uit te roei. Daar is aan sy versoek gehoor gegee. Met Katolieke kerkvorste en monnike aan die spits het ’n gemengde mag kruisvaarders uit die noorde van Frankryk, Vlaandere en Duitsland suid met die Rhône-vallei af beweeg.

Die vernietiging van Béziers was die begin van ’n oorlog van verowering wat Languedoc in ’n orgie van vuur en bloed verswelg het. Albi, Carcassonne, Castres, Foix, Narbonne, Terme en Toulouse het almal voor die bloeddorstige kruisvaarders geval. In Kataarvestings soos Cassès, Minerve, en Lavaur het honderde van die volmaaktes op die brandstapel gesterf. Volgens die monnikskrywer Pierre des Vaux-de-Cernay het die kruisvaarders ‘met vreugde in hulle harte die volmaaktes lewendig verbrand’. In 1229, ná 20 jaar van oorlog en verwoesting, het Languedoc onder die Franse Kroon gekom. Maar die slagting was nog nie verby nie.

Die inkwisisie dien die nekslag toe

In 1231 het pous Gregorius IX die pouslike inkwisisie ingestel om die gewapende stryd te ondersteun.a Die inkwisisiestelsel was aanvanklik gebaseer op aanklagte en dreigemente, maar later op stelselmatige marteling. Die doelwit daarvan was om uit te wis wat die swaard nie kon vernietig nie. Inkwisisieregters—hoofsaaklik Dominikaanse en Franciskaanse monnike—moes net aan die pous verantwoording doen. Die dood deur verbranding was die amptelike straf vir kettery. Die fanatisme en wreedheid van die inkwisiteurs was so erg dat opstande onder andere in Albi en Toulouse uitgebreek het. In Avignonet is al die lede van die inkwisitoriale tribunaal vermoor.

In 1244 het die oorgawe van die bergvesting van Montségur, die laaste toevlug vir talle volmaaktes, die doodsklok vir Katarisme gelui. Omtrent 200 mans en vrouens het omgekom in ’n massaverbranding op die brandstapel. Met die verloop van jare het die inkwisisie die oorblywende Katare uitgesnuffel. Die laaste Kataar het na bewering in 1330 in Languedoc op die brandstapel gesterf. Die boek Medieval Heresy sê: “Die val van Katarisme was die grootste prestasie van die inkwisisie.”

Die Katare was alles behalwe ware Christene. Maar het hulle kritiek teen die Katolieke Kerk die feit geregverdig dat hulle op so ’n wrede manier deur sogenaamde Christene uitgewis is? Hulle Katolieke vervolgers en moordenaars het God en Christus onteer en ’n verwronge beeld van die ware Christelike geloof gegee terwyl hulle daardie tienduisende andersdenkendes gefolter en vermoor het.

[Voetnoot]

a Sien “Die skrikwekkende Inkwisisie” in die Ontwaak! van 22 April 1986, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, bladsye 20-3, vir verdere besonderhede van die middeleeuse inkwisisie.

[Venster op bladsy 28]

DIE WALDENSE

Teen die einde van die 12de eeu G.J. het Pierre Valdès, of Petrus Waldus, ’n ryk handelaar van Lyon, die geld verskaf vir die eerste vertalings van dele van die Bybel in verskeie plaaslike dialekte van Provensaals, die volkstaal wat in Suid- en Suidoos-Frankryk gepraat word. Hy was ’n opregte Katoliek wat sy sakeonderneming laat vaar het en hom aan die verkondiging van die Evangelie gewy het. Weens hulle misnoeë met die korrupte geestelikes het baie ander Katolieke hom gevolg en rondgaande predikers geword.

Waldus het weldra die vyandigheid van die plaaslike geestelikes ondervind, en hulle het die pous oortuig om sy openbare getuieniswerk te verbied. Sy antwoord was glo: “Ons moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense.” (Vergelyk Handelinge 5:29.) Weens sy volharding is Waldus geëkskommunikeer. Sy volgelinge, wat die Waldense, of die Arm Manne van Lyon, genoem is, het sy voorbeeld ywerig probeer navolg en het twee-twee in mense se huise gepreek. Dit het daartoe gelei dat hulle leringe vinnig deur Suid-, Oos- en dele van Noord-Frankryk, sowel as in Noord-Italië, versprei het.

Hulle het hoofsaaklik ’n terugkeer tot die geloof en gebruike van die vroeë Christelike godsdiens voorgestaan. Hulle het, onder andere, die leerstellings van die vaevuur, gebede vir die dooies, Maria-aanbidding, gebede tot die “heiliges”, verering van die kruis, aflate, die Heilige Sakrament en kinderdoop betwis.b

Die leringe van die Waldense het heeltemal verskil van die nie-Christelike dualistiese leringe van die Katare, met wie hulle dikwels verwar word. Hierdie verwarring is hoofsaaklik te wyte aan Katolieke polemiste wat die Waldensiese prediking opsetlik met die leringe van die Albigense, of Katare, probeer vereenselwig het.

[Voetnote]

b Sien die artikel “Die Waldense—Ketters of soekers na die waarheid?” in Die Wagtoring van 15 Oktober 1981, bladsye 11-15, vir meer inligting oor die Waldense.

[Prent op bladsy 29]

Seweduisend het in die Kerk van St. Maria Magdalena in Béziers gesterf, waar kruisvaarders 20 000 mans, vrouens en kinders vermoor het

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel