Jehovah—’n sterk toring
VERTROUE op Jehovah bring redding, soos twee vleeslike susters in suidoostelike Frankryk ondervind het. Een van hulle vertel:
“Dit was halfeen in die oggend en ons het albei rustig geslaap. Ons het skielik wakker geword weens ’n buitengewone geraas in die kombuis, en toe het ’n man in die deur verskyn. My suster het paniekbevange uitgeroep: Jehovah, Jehovah, help ons asseblief!’ Daarop het die man ons beveel om stil te bly en ons met ’n mes en vyl gedreig. Danksy Jehovah het ons kalmte teruggekeer en het ons ons aangetrek.
“Die indringer het oor ons balkon op die sesde verdieping geklim en sy hand gesny toe hy ’n kombuisruit gebreek het om in te kom. Ek het sy wond behandel en kos en koffie gemaak om hom te help om heeltemal nugter te word. Ek het ook met hom gesels oor Jehovah en vir hom gewys dat ons op Hom moet vertrou. Hy het geantwoord dat hy Jehovah nie ken nie en selfs sy naam gelaster. Terwyl hy toegekyk het, het my suster die Bybel gelees en het ek stil gebid. Hy is oënskynlike deur sulke kalmte geïrriteer, want hy het ’n stuk glas van die stukkende ruit opgetel, dit teen my suster se keel gehou terwyl hy die mes teen die agterkant van haar nek gehou het en gesê: ‘Net ’n bietjie druk en die bloed sal vloei!’ Ek het opgespring en met ’n helder stem gesê: ‘Jy kan ons nie bangmaak nie, want ons het Jehovah om ons te onderskraag en te verlos. Selfs al maak jy ons dood het ons die hoop op die opstanding.’ Hy was verstom oor hierdie woorde en het haar gelos.
“Dit was omtrent 2:45 vm. toe hy gesê het dat hy gaan vertrek, en ek het hom tot by die deur vergesel. Toe hy uitloop, het hy gesê: ‘Goed. Ek begryp. Jehovah is sterker as ek.’ Nadat ons die kombuishortjies toegemaak het, het ons ’n dankgebed gedoen tot Jehovah ons God, wat ons nie verlaat het nie.”—Spr. 18:10.