‘Dankie dat julle ons oë geopen het’
IN DIE twaalfde eeu het daar ’n godsdiensgroep genaamd die Waldense in die pragtige valleie van suidelike Frankryk gewoon.a Hierdie opregte soekers na die waarheid het geglo dat die Bybel die Woord van God is en het probeer om die beginsels daarvan na te leef. Maar omdat hulle die dinge wat hulle uit die Skrif geleer het aan ander verkondig het, is hulle as ketters vervolg. Baie van hulle het aan vervolging ontkom deur na ander lande te vlug, en party het skuiling gesoek in noordelike Italië, waar daar vandag nog ’n Waldensiese gemeenskap bestaan. Maar daar is mettertyd van baie van die Bybel se leerstellings en gebruike van die vroeë Waldense afgesien.
’n Aantal Waldense in noordelike Italië bestudeer nou al geruime tyd die Bybel saam met Jehovah se Getuies. Die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Italië het onlangs ’n brief van hulle ontvang. Hulle het die volgende geskryf:
“Ons is almal bewus van die vervolging wat [die vroeë Waldense] eeue lank verduur het. Maar baie mense weet nie dat hierdie mense vandag teruggekeer het na heidense gebruike en nie langer by die Bybel bly nie.
“Hulle kan nou slegs uitgeken word aan hulle simbool (die Hugenote-kruis) aan ’n kettinkie wat duidelik teen die voorruit van hulle motors vertoon word of aan die bottels jenewerbessies of ander aandenkings gehang word.
“Ons wil julle susters en broers van Jehovah se Getuies bedank dat julle ure van julle tyd opgeoffer het om ons oë oop te maak en die waarheid by ons harde koppe in te kry. . . . Die tyd wat julle aan ons wy, is baie kosbaar, veel kosbaarder as geld. Julle altruïstiese liefde (die ware liefde sonder enige vertoon) vir julle naaste identifiseer julle as daardie dissipels wat Jesus in Johannes 13:35 en Mattheüs 24:45 beskryf. Ons navorsing het aan die lig gebring dat die Waldense in die verlede God se naam, Jehovah, gebruik het. . . . Maar vandag verwerp hulle hierdie naam onvoorwaardelik, al meld Handelinge 15:14 dat God vir hom ‘’n volk vir sy Naam’ uit die nasies sou aanneem. Ons kan sien dat hierdie volk vandag as Jehovah se Getuies geïdentifiseer kan word, aangesien hulle die enigste persone is wat die Naam dra (Jesaja 43:10-12). ‘Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is’ (Sagaria 8:23).”
[Voetnoot]
a Kyk Die Wagtoring van 15 Oktober 1981, bladsye 11-15, vir ’n vollediger bespreking van die vroeë Waldense.