Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 10/1 bl. 26-29
  • ’n Gevangene se gebede word verhoor

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Gevangene se gebede word verhoor
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • VROEË LEWE EN INVLOEDE
  • EK VIND JEHOVAH SE VOLK
  • ONS RAAK GEORGANISEERD AS WARE CHRISTENE
  • EK BLY BESIG IN JEHOVAH SE DIENS
  • STEL JEHOVAH EERSTE
  • ONS MAAK ONS KINDERS GROOT
  • DIENSVOORREGTE
  • ’n Vol lewe in Jehovah se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die oorlog het nie ons predikingswerk beëindig nie
    Ontwaak!—2001
  • Hoe ons God in moeilike tye gedien het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 10/1 bl. 26-29

’n Gevangene se gebede word verhoor

Soos vertel deur Isaac V. Espeleta

EK EN 11 metgeselle is in 1945 deur die Japannese in hegtenis geneem nadat die Amerikaanse magte reeds die Filippyne binnegeval het. Ons is in klein sinkselle opgesluit wat nie veel groter as hondehokke was nie. Bedags was dit ondraaglik warm en snags het ’n mens verkluim.

Al my metgeselle het tydens die daaropvolgende ondervragings beswyk. Alhoewel ek 45 dae lank intensief ondervra is en drie keer wreed gemartel is, het ek nie skuld erken op die misdade waarvan ek aangekla is nie. Ek het opgelet dat ’n persoon dadelik geskiet of met ’n bajonet doodgesteek is as hy tydens marteling skuld erken het. Ek het dus die marteling verkies.

Daar in daardie selletjie het ek tot Jehovah God gebid en hom beloof dat ek, indien ek dit oorleef het, hom sou soek en hom die res van my lewe sou dien. Maar voordat ek uitwei oor my soektog na Jehovah, wil ek eers verduidelik waarom ek gevange geneem is en wat my daardie belofte aan Jehovah laat doen het.

VROEË LEWE EN INVLOEDE

Ons was ’n Katolieke gesin wat in die dorpie Biñan, omtrent 30 kilometer suid van Manila, gewoon het. Die groot invloed in my jeug was my oupa aan vaderskant. Hy is deur die Katolieke kerk ontnugter en het in die Bybel begin belangstel. Hy het vir my die goeie gewoonte geleer om die Skrif te lees, en ek sal hom altyd daarvoor dankbaar wees.

Toe ek ouer word, het ek ’n regte boekwurm geword. Toe die Tweede Wêreldoorlog die Filippyne tref, het die voorraad Engelse leesstof opgeraak. Eendag het ek afgekom op die boek Rykdom, wat deur die Wagtoringgenootskap gedruk is. Eindelik het ek weer iets gehad om te lees! Die inhoud was baie stimulerend.

lets wat my veral getref het, was die feit dat God ’n naam het—Jehovah. Ek het dit nagegaan in die Bybel wat my oupa vir my gegee het. Ja, daar was dit. God se naam was werklik Jehovah (Ex. 6:3, Authorized Version; Ps. 83:18, AV). Maar weens die oorlog kon ek nie dadelik ooreenkomstig my pasgevonde kennis handel nie.

Ek is ’n paar jaar tevore, in 1936, getroud. Toe die oorlog uitbreek, het ek drie klein kindertjies gehad om te onderhou. As deel van my sekulêre werk moes ek na suidelike Luzon reis om timmerhout en vuurmaakhout te koop. In daardie woude het daar manne weggekruip wat die Japannese besetting aktief teëgestaan het. Hulle het my gewerf om lektuur vir hulle te versprei, en gedurende die oorlog was ek ’n koerier vir die ondergrondse beweging.

In 1945 het die Japannese my van ondergrondse bedrywighede verdink en my in hegtenis geneem. Gelukkig het ons reeds van al die ondermynende lektuur ontslae geraak. Maar gedurende die ure wat ek alleen in daardie selletjie deurgebring het, het my gedagtes herhaaldelik teruggekeer na die God waarvan ek gelees het—Jehovah.

Die Japannese het nie werklik enige bewys van my skuld gehad nie. Hulle het my vrygelaat, en ek het dadelik by die pro-Amerikaanse weerstandsbeweging aangesluit. Maar toe het die Amerikaners die lewe vir my moeilik gemaak omdat hulle vermoed het dat ek ’n Japannese spioen is! Die Japannese besetting van die Filippyne het egter ten einde geloop, en so ook my nasionalistiese geesdrif. Ek het egter nie vergeet van die belofte wat ek aan God gedoen het nie. Ek het dadelik na Jehovah begin soek.

EK VIND JEHOVAH SE VOLK

Saam met ’n vriend uit my kinderdae, Pablo Quiohilag, het ek na verskeie kerke gegaan, maar nie een van hulle het die regte boodskap gehad nie. Toe het ek eendag gehoor hoe iemand oor Jehovah preek. Ek het hom na my kampong in Biñan genooi en vir hom gesê om daar te preek so lank as wat hy wou.

In 1947 het een van ons gehoor hoedat iemand anders oor Jehovah preek. Hierdie keer was dit ’n Kanadese sendeling, Vic White, een van Jehovah se Getuies. Hy het ons groep kom toespreek en ek is gekies om vir hom te tolk. Ons het ontdek dat die persoon wat in my kampong gepreek het nie meer een van Jehovah se Getuies was nie, maar voor die oorlog uitgesit is. Hierdie informasie het ’n krisis in ons groepie veroorsaak.

Dit was omtrent hierdie tyd dat ons gehoor het van die eerste kringbyeenkoms van Jehovah se Getuies wat na die oorlog in Manila gehou sou word. Ek het dit bygewoon en Vic White het my voorgestel aan die takopsiener, Earl K. Stewart. By die takkantoor het hy later verduidelik wat ons sou moes doen om Jehovah se Getuies te word. Dit het natuurlik die Christelike verantwoordelikheid ingesluit om van huis tot huis te preek. Na my terugkeer na Biñan het ons hele groepie ons aan die uitgesette persoon onttrek en besluit om met Jehovah se Getuies te begin assosieer.

ONS RAAK GEORGANISEERD AS WARE CHRISTENE

Die Biñan-gemeente is toe gebore. Maar baie vrae moes nog beantwoord word. Die meeste lede van ons groep, wat destyds omtrent 15 getel het, is by voorbeeld gedoop deur die uitgesette persoon wat vir ons gepreek het. Ons het nou gewonder: “Moet ons herdoop word?” Party het gedink dat dit nie nodig is nie, aangesien die Bybel praat van “een Here, een geloof, een doop” (Ef. 4:5). Ons is een keer gedoop, waarom dit dan weer doen? Maar ek het geredeneer dat die “een doop” tog verband moet hou met die “een geloof”. Aangesien ons nou die ware geloof gevind het, moes ons herdoop word deur diegene wat daaraan verbonde is. En dit is wat ons gedoen het.

Toe moes ons die huis-tot-huiswerk aanpak. Hoe moes ons te werk gaan? Nie een van ons het geweet hoe nie. Ek en Pablo Quiohilag het dus saam van huis tot huis gewerk. Voor elke huis het ons ’n muntstuk opgegooi. Die verloorder moes die praatwerk doen! Ek is nie seker wat ons gesê het nie, maar Jehovah het tog seker ons pogings om hom in die openbaar te loof, gerig ondanks ons onervarenheid.

Eindelik is twee ervare broers, Salvador Liwag en Vic Amores, van die Bethel af gestuur om ons te help. Hulle het vir ons gewys hoe om te preek en hoe om vergaderinge te hou. Ek het begin om die diensvergadering van die Santa Ana-Gemeente in Manila op Donderdae by te woon sodat ek dieselfde program Vrydae doeltreffender vir ons groepie kon aanbied.

EK BLY BESIG IN JEHOVAH SE DIENS

Terwyl ons onlangs na ’n streekbyeenkoms gereis het, het my vrou skielik gesê: “Hoe het ons dit gedoen?”

“Wat?” het ek gevra.

“Onthou jy hoedat hierdie hele gebied van Sucat, Muntinlupa, in Rizal tot Cabuyao in Laguna [omtrent 40 kilometer] ons gebied was?”

In daardie vroeë jare het ons nie ’n motor gehad nie. Ons het partymaal ’n hele dag lank geloop om belangstellendes te vind. Ons het soms ’n lampolielamp saamgedra om die Wagtoring-studie en die openbare vergadering na sononder te hou.

“Ek sal dit nie nou kan doen nie”, het my vrou gesê.

Dit is waarskynlik waar, want sy ly nou aan been-en-gewrigsontsteking. Maar toe ons ons jeug en krag gehad het, het ons dit in Jehovah se diens gebruik. In daardie vroeë jare het ek ses dae per week om 4 vm. opgestaan om voor 8 vm. in Manila by die werk aan te kom. Saans het ek gewoonlik reguit van die werk af na my Bybelstudies toe gegaan. Dit het soms beteken dat ek 16 kilometer na die huis van ’n belangstellende moes loop en dan weer 16 kilometer terug huis toe. Gedurende die reënseisoen het ek dikwels sopnat om 1 vm. by die huis aangekom, slegs om weer drie uur later op te staan om te gaan werk.

Ek het destyds ook die voorreg gehad om Die Wagtoring in ons plaaslike dialek, Tagalog, te vertaal. My vrou het tereg gevra: “Hoe het ons dit gedoen?” Dit was slegs met Jehovah se hulp moontlik (Filip. 4:13, NW). Maar dit is ’n seën om “oorvloedig in die werk van die Here” te wees.—1 Kor. 15:58.

STEL JEHOVAH EERSTE

Om Jehovah eerste in ons lewens te stel, moes ons soms opofferings maak, maar ons het nooit daaronder gely nie. Na die oorlog was ons huis in Biñan so te sê ’n krot. Ons het dus geld gespaar vir ’n beter huis, en eindelik 500 pesos (omtrent R175 in daardie dae) gehad. Maar toe het ons die nodigheid vir ’n geskikte Koninkryksaal bespreek. Ek was skynbaar die enigste een met ’n bietjie geld. Ek het dus vir broer Jose Nava gesê: “Gaan vra my vrou vir die 500 pesos.” Sy het die geld vir hom gegee sonder om te kla en ons het ’n oulike Koninkryksaaltjie daarmee gebou.

Kort daarna het Jehovah dit in elk geval vir ons moontlik gemaak om ons huis te bou, en ons het gerieflik daarin gewoon tot 1954, toe dit so erg deur termiete beskadig is dat dit opgeknap moes word. Ons het skaars planne gemaak om dit te doen, of dit was duidelik dat die ou Koninkryksaal te klein was vir ons groeiende gemeente. Weer eens het my vrou al ons spaargeld oorhandig sonder om te kla, en ons het dit tot die nuwe Koninkryksaal bygedra wat toe langs die hoofpad gebou is. Jehovah het dit egter weer eens gou vir ons moontlik gemaak om ons huis op te knap. Ons het nie aan die kortste ent getrek omdat ons hom eerste gestel het nie.—Matt. 6:33.

’n Paar jaar later, toe ek diep betrokke was by die bou van ’n derde Koninkryksaal, het my vrou vir my gesê: “Jy weet, jy het een van die duurste stokperdjies waarvan ek weet.”

“Wat is dit?” het ek gevra.

“Jy bou Koninkryksale,” het sy glimlaggend gesê.

ONS MAAK ONS KINDERS GROOT

Toe ons laaste seun in 1956 gebore is, het ons reeds vier seuns en ses dogters gehad. Toe hulle jonk was, het ons altyd die Bybelteks vir die dag met hulle bespreek. Ons het ook besef dat dit nodig is om ’n gereelde gesinstudie te hê. Ons het ook as gesin in die velddiens uitgegaan. Ons het ons bes gedoen om ons kinders op te voed “in die tug en vermaning van die Here”.—Ef. 6:4.

Ons het ’n paar netelige probleme gehad. Maar daar was seeninge—sommer baie! Op verskillende tye was al ons kinders in die pionierdiens as voltydse Koninkryksverkondigers. My oudste dogter het etlike jare in die Bethel gedien voordat sy getrou en ’n gesin gehad het. Ons drie oudste dogters was onder die eerste spesiale pioniers in die Filippyne, en een dien al baie jare lank getrou as ’n sendelinge in Thailand. Op een na staan al ons kinders vas in die geloof.

Ons tweede-oudste dogter het haar eerste spesialepioniertoewysing gekry toe sy 17 jaar oud was. Nadat sy die huis verlaat het, het sy ’n brief aan ons geskryf, en tot vandag toe kom daar trane in my oë wanneer ek daaraan dink. Sy het gesê dat sy, toe sy jonger was, gedink het dat ek die allerwreedste vader is. Maar nou het sy besef dat as dit nie vir ons ferme dissipline as ouers was nie, sy nooit die wonderlike voorreg sou gehad het om ’n spesiale pionier te wees nie (wat later daartoe gelei het dat sy ’n sendelingtoewysing in die buiteland ontvang het). As Christenouers moet ons dus nie nalaat om ons kinders te tugtig nie (Spr. 22:6). Hulle het dit nodig, en hulle sal dit later waardeer.

DIENSVOORREGTE

Ek het baie voorregte in my omgang met Jehovah se volk geniet. Ek het byvoorbeeld die voorreg gehad om die eerste byeenkomskafeterias in die Filippyne te organiseer. Ek het jare lank die wonderlike voorreg gehad om Die Wagtoring in my dialek te vertaal. Intussen het ons gesien hoedat daardie groepie van 15 persone in 11 groot, florerende gemeentes verander.

Nog ’n voorreg het my na die Nasionale Strafgevangenis naby my huis geneem. Van tyd tot tyd skryf gevangenes aan die Wagtoringgenootskap en vra hulle om geestelike hulp. Hierdie briewe word dikwels na my verwys, en sedert 1947 hou ek gereelde Bybelstudies saam met belangstellende gevangenes. Oor die jare heen het omtrent 50 persone hulle standpunt vir Jehovah ingeneem en is hulle gedoop terwyl hulle nog in die tronk was. By een streekbyeenkoms het ek 23 van hulle weer raakgeloop. Na hulle vrylating het party van hulle pioniers sowel as reisende opsieners geword, en baie dien nou as ouere manne.

Een persoon wat ek nooit verwag het om in die tronk raak te loop nie, was die uitgesette persoon wat aan die begin vir my oor Jehovah gepreek het. Hierdie man is in hegtenis geneem op aanklag dat hy met die Japannese saam werk. (Hy is later begenadig en vrygelaat.) Terwyl hy in die tronk was, het hy nederig die vergaderinge bygewoon wat ek gehou het. Baie jare later, in 1975, was ek ’n lid van die regterlike komitee wat sy versoek om herstelling bespreek het. Nadat hy amper 40 jaar uitgesit was, kon hy weer eens vryelik met God se volk omgaan.

Gedurende al hierdie jare was my vrou waarlik ’n groot hulp—’n lojale ondersteuner in God se diens. Nou kan ons saam terugkyk oor meer as drie dekades van diens aan Jehovah. Nadat ek Hom gesoek en gevind het, vervul ek daardie belofte wat ek jare gelede in die Japannese gevangeniskamp gemaak het. Hoe dankbaar is ek dat ek Jehovah God gedurende die produktiewe jare van my lewe gevind het en hulle in sy diens kon deurbring!

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel