’n Vol lewe in Jehovah se diens
Soos vertel deur Joseph Dos Santos
DIT was ’n warm, tropiese hag in Februarie 1945. Algehele verwarring het geheers op die terrein van die Santo Tomas-Universiteit in Manila, die hoofstad van die Filippyne, waar ons deur die Japannese, gevange gehou is. Amerikaanse troepe het onverwags opgedaag om ons te bevry, en die Japannese het weerwraak geneem deur die universiteit te bombardeer en groot verwoesting aan te rig.
In die donkerte het, vrouegevangenes hulle kruise gesoen ep hardop gebid. ’n Bom het naby ons geval en die gevangene voor my gedood. Geskok maar ongedeerd het ek my uitgeteerde liggaam voortgesleep om skuiling te soek agter die gebou wat drie jaar lank my gevangenis was. Die bombardering het eindelik afgeneem, die Amerikaners het volle beheer oorgeneem en ons is kort daarna bevry. Nadat ons drie jaar van mekaar geskei was, het ek weer by my vrou en kinders aangesluit om voort te gaan met die werk wat ek halfpad om die wêreld gekom het om te doen.
Die “Golden Age” het my lewe verander
Watter werk? Hoe het ek in so ’n gevaarlike situasie so ver van my geboorteplek in Hawaii beland? Dit het in werklikheid jare tevore en 14 500 kilometer daarvandaan in Kalifornië, V.S.A., begin toe ek gestudeer het om ’n chiropraktisyn te word. Daar het ek ’n tydskrif met die titel The Golden Age (nou bekend as Ontwaak!) by my losies-huishoudster, mev. Bright, geleen. Die dinge wat ek in daardie tydskrif gelees het, het begin om my hele lewensbeskouing te verander.
Ek is in ’n Rooms-Katolieke huis in Hawaii grootgemaak, maar, nòg daardie geloof nòg al die ander wat ek ondersoek het, het na die waarheid gelyk. Hulle het nie die leemte in my gevul nie. Maar die dinge wat ek in daardie nommer van The Golden Age gelees het, het begin om die leemte te vul.
Die tydskrif is deur die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend was, uitgegee. ’n Plaaslike Bybelstudent het van my belangstelling gehoor en vir my meer lektuur gebring. Kort daarna het daar by my geen twyfel bestaan dat ek die waarheid gevind het nie. Ek is later terug na Hawaii om my beroep te beoefen. Maar net soos in die geval van Jeremia was Bybelwaarheid soos ’n vuur in my gebeente en kon ek nie stilbly nie (Jeremia 20:9). Ek het vir my bure vertel wat ek geleer het en dit was nie lank voordat ons ’n Bybelklas van 22 persone gehad het nie.
Ek was nie alleen nie
Ek het gemeen dat els die enigste Bybelstudent in Hawaii was. Maar mettertyd het ek ses ander gevind, onder meer broer Solomon, die depotbestuurder. Ek kon gevolglik omgang met met medeaanbidders geniet.
Ek wou graag meer doen, en daarom het ek vir broer Solomon gesê dat ek graag op die ander eilande wou preek. Hy het vir my gesê dat niemand nog ooit die goeie nuus verder as Honolulu verkondig het nie, maar omdat hy kon sien dat ek vasbeslote was, het hy vir my ’n woonbus gereël (hy het ’n motorwerkwinkel gehad) en vir my gesê dat ek op al die eilande behalwe in Honolulu kon preek. Ek moes dit vir die ander ses Bybelstudente los. My voltydse predikingsloopbaan het dus in 1929 begin.
Ek het drie en ’n half jaar lank geesdriftig op die Hawaiïese Eilande gepreek. Ek was jonk en sterk, het dikwels kilometers ver geloop op paadjies wat vir motors onbegaanbaar was en berge uitgeklim met twee tasse vol lektuur. Die paaie was soms so steil dat ek moes kruip. Ek het lektuur by die leprosenedersetting Moloakati gelaat. Gedurende daardie drie en ’n half jaar het ek elke maand gemiddeld 230 uur aan die diens bestee en altesaam 46 000 stukke lektuur versprei.
Maar ek het nog steeds gemeen dat ek meer ken doen. Ek het dus aangebied om om die wêreld te preek. Die Wagtoringgenootskap se president, J. F. Rutherford, het van my begeerte te hore gekom en my na Brasilië gestuur. Ek het dus ’n reisplan voorberei wat my van Hawaii deur die Ooste na Brasilië sou neem. Die Filippyne was die eerste plek wat ek sou besoek.
’n Gebeurtenisvolle reis
Dit was dus in 1933 dat ek met ’n trommel vol lektuur wat ek by broer Solomon gekry het aan boord van die stoomboot The Great Northern gegaan en met my wêreldtoer begin het. Nog ’n trommel lektuur is regstreeks van die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier in Brooklyn na die Filippyne gestuur.
Ons moes Japan aandoen, maar omdat ek geweet het dat Jehovah se Getuies reeds probleme in Japan ondervind het, het ek nie om ’n visum aansoek gedoen om aan wal te stap nie. Ek wou nie hulle probleme vererger nie. Maar ’n geestelike aan boord het uitgevind wie ek is en ’n telegram gestuur om die Japannese owerheid te verwittig dat ek lektuur aan boord gehad het. Toe die skip in Jokohama vasgemeer het, het die Japannese polisie aan boord gekom en al my lektuur reg uit die skip se bagasieruim gekonfiskeer! Daar was niks wat die skip se offisiere daaromtrent kon doen nie, en daarom moes ek my reis na die Filippyne daarsonder voortsit.
Toe ek in Manila aankom, is ek dadelik na die doeanehoof ontbied. Hy het verneem dat ek ’n kommunis is en een van my boeke geneem om te lees. ’n Week later het hy vir my gesê dat hy verbaas was om te vind dat die boek uitsluitlik oor die Bybel gehandel het en beslis nie kommunisties was nie.
’n “Tydelike” vertraging in die Filippyne
Ek het ’n woonstel in Manila gehuur met die doel om ’n ruk daar te preek voordat ek na Brasilië gaan. Die plaaslike organisasie van Jehovah se Getuies aldaar het egter probleme ondervind, en daarom het broer Rutherford ’n brief aan my geskryf en my versoek om oor te neem totdat ’n plaasvervanger gestuur word. Ek het ingestem om dit te doen, maar my plaasvervanger het eers 13 jaar later opgedaag!
Ons werk in vooroorlogse Manila was interessant. Ons het destyds nie herbesoeke gedoen nie, maar het te voet, per bus, per trem of per calesa (soortgelyk aan ’n verewa) deur die hele stad gereis en Bybellektuur versprei. Die werk het geleidelik na al die Filippynse Eilande uitgebrei namate ons pioniers gestuur het om in verskillende gebiede te arbei. In 1935 is ek met Rosario Lopez getroud en mettertyd is ons met twee kinders, ’n seun en dogter, geseën.
Die aantyging dat ons kommuniste is, is nooit werklik vergeet nie. Eendag het ’n man na my gekom en my meegedeel dat hy ’n lid van die geheime polisie is en dat hy my al verskeie maande lank dophou omdat ek ’n vermeende kommunis is. Hy was egter van plan om te berig dat ek nie een is nie. By ’n ander geleentheid het ’n prokureur ingestem om die Bybel saam met my te bestudeer. Later het ek uitgevind dat die enigste rede waarom hy dit gedoen het, was om uit te vind of ek ’n kommunis is of nie. Toe hy vasgestel het dat ek nie een is nie, het ons goeie vriende geword en het hy baie regsake vir my hanteer.
Intussen het die predikingswerk uitgebrei. Omdat die plek wat ek gehuur het te klein geword het, het ons na ander stuk grond gekoop en ons kantoor soon toe verskuif. Ons klein hoofkwartierpersoneel het uitgebrei toe Narciso Delavin en later die jong dame wat sy vrou sou word, by ons aangesluit het.
Valse aantygings en die oorlog
Maar sake het vir ons moeiliker geword. In 1941 is oorlog verklaar. Minder as ’n week daarna het twee polisiemanne na die kantoor gekom en is ek en drie ander broers na die yslike, gevangenis in Muntinlupa, ’n ent van Manila af, geneem. Ek is van die ander geskei en in ’n klein afgesonderde selletjie toegesluit. Dit was dolleeg, en ek moes op die betonvloer slaap totdat ’n prisonier wat spesiale voorregte geniet het elke aand uit die goedheid van sy hart stilletjies vir my twee komberse en ’n kussing gegee het.
Die superintendent het my in eensame opsluiting gehou, en omdat die ander prisoniers gemeen het dat ek ’n vyfdekolonner die hoof van die Kommunistiese Party was, het hulle my beledigings deur die mure toegesnou. Eindelik het hulle ons protestasies dat ons nie kommuniste is nie, geglo, en na twee weke is ons al vier vrygelaat. Polisiemanne moes my na die gevangenishek vergesel; anders sou die ander gevangenes my verskeur het.
Die nag nadat ons vrygelaat is, was daar ’n oproer in die gevangenis, en ek is seker dat ons in gevaar sou verkeer het as ons nog daar was. Ons was Jehovah dankbaar vir ons vryheid en, ek het ’n vreugdevolle reünie met my gesin in Manila gehad.
In die tronk
Maar ons probleme het nog net begin. ’n Kort rukkie later is Manila deur die Japannese invalsmagte beset en is ek saam met ander buitelanders in die Santo Tomas-Universiteit, naby die middestad van Manila, opgesluit omdat ek ’n Amerikaner was. Dit is waar ek die volgende drie jaar, van Januarie 1942 tot Maart 1945 deurgebring het. Ek het die goeie nuus aan soveel moontlik in die kamp verkondig, en ek weet dat ten minste een van my medegevangenes later ’n getuie van Jehovah geword het.
Hoe langer die oorlog voortgeduur het, des te moeiliker het die lewe in die gevangeniskamp geword. Ons rantsoen het afgeneem totdat ons elke dag net ’n koppie rys gekry het. Ons het alles gedoen om die knaende hongerpyne te stil—ons het selfs die onkruid wat op die groot kampus gegroei het, geëet. Party het honde, katte en selfs rotte geëet. Ek het 61 kilogram geweeg toe ek opgesluit is, maar net 36 kilogram toe ek vrygelaat is.
Enkele prominente gevangenes is onthoof. Eindelik is nie eers dokters in die kamp toegelaat nie, en die heining rondom die universiteitsterrein is versterk sodat niemand van buite af kon insien nie. Elke dag het 30 of meer van die honger omgekom. Eindelik het daardie verskriklike nag aangebreek toe die Amerikaanse troepe ingebreek en ons bevry het ondanks die Japannese se bombardering. Hoe bly was ons om weer by die buitewêreld aan te sluit!
Terug werk toe
Die Amerikaners het ons die eerste regte kos gegee wat ons in ’n lang ruk gekry het. Ek onthou dat ons blikkiesvleis geëet het, maar ons was so honger dat ons nie geweet het wanneer ons versadig was nie. Ek het dae lank na daardie eerste maaltyd ongemaklik gevoel! Maar 18 dae nadat die Amerikaners oorgeneem het, is ons vrygelaat. Die Amerikaners het aangebied om my na die Verenigde State te repatrieer, maar ek het nog steeds gewag op die plaasvervanger wat die toesig oor die predikingswerk in die Filippyne moes oorneem. Ek sou bly totdat hy kom!
Ek is weer eens vreugdevol met my vrou en gesin verenig, en ons het weer met die predikingswerk begin. Vir die eerste keer sedert Desember 1941 het ek met die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier in Brooklyn, New York, in verbinding getree, en ons het al die ouer nommers van Die Wagtoring, sowel as ander informasie wat ons in die Filippyne gedurende die oorlog gemis het, ontvang. Ons het die takkantoor heropen en ’n aantal gemeentes besoek, en ook vergaderinge met sommige presiderende opsieners gehou om hulle op hoogte van sake te bring.
In November 1945 het ons ’n hoërskoolsaal in Pangasinan, sowat 200 kilometer noord van Manila, met die owerheid se amptelike goedkeuring vir ons eerste na-oorlogse byeenkoms gebruik. Ek het nog nooit gehoor dat lofliedere tot Jehovah met soveel gevoel gesing word soos by daardie byeenkoms nie. Die meeste van die vriende daar het verhale gehad oor hoe Jehovah hulle deur die gevare van die oorlog gelei het. Ek self het sy beskermende hand talle male waargeneem. Ons was almal baie dankbaar.
Ons was ook dankbaar om te sien hoe Jehovah sy volk gedurende die oorlogsjare met vermeerderinge geseën het. Die laaste diensrapport van Jehovah se Getuies in die Filippyne voor die oorlog (in 1941) het getoon dat altesaam 378 predikers die goeie nuus van die Koninkryk verkondig het. Terwyl ek in die tronk was, het daardie getal tot 2 000 toegeneem, en 4 000 mense het na die openbare toespraak by hierdie eerste naoorlogse byeenkoms kom luister.
In 1947 het my langverwagte plaasvervanger, Earl Stewart, saam met drie ander sendelinge opgedaag. Ek het in die takkantoor aangebly tot 1949 toe ek en my gesin eindelik die Filippyne verlaat het.
Ek bied myself nog steeds gewillig aan
Wel, ek het nooit in Brasilië uitgekom nie. Omstandighede het dit raadsaam gemaak om na Hawaii terug te keer. Maar ons het nie ons begeerte om Jehovah te dien en vir ander van hom te vertel, verloor nie. Ek en my vrou preek tot vandag toe voltyds vir ander in hierdie pragtige eilande waar ek in 1929 in die pionierdiens getree het.
Ek is nou 87 jaar oud en kan oor 54 jaar van voltydse diens aan Jehovah terugkyk. Hoewel ons baie beproewinge verduur het, onder meer jare waartydens ons van ons Christenbroers sowel as van mekaar geskei was, het die vreugde wat Jehovah ons gegee het die beproewinge verreweg oorskadu. As ek die geleentheid sou kry om weer voor te begin, sou ek steeds gewillig die lonende lewe lei wat ek gelei het en al my tyd gebruik om die grote God, Jehovah, te loof.—Psalm 110:3.