Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 10/1 bl. 30-31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Soortgelyke materiaal
  • Egbreuk—Moet dit vergewe word of nie?
    Ontwaak!—1995
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Wees lojaal aan mekaar
    Julle gesin kan gelukkig wees
  • Kan ’n huwelik ná ontrouheid gered word?
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 10/1 bl. 30-31

VRAE van LESERS

• Gestel ’n onskuldige huweliksmaat hervat geslagsomgang met ’n owerspelige maat nadat hy of sy van die owerspel te hore gekom het. Kan hierdie hervatting van geslagsomgang beskou word as bewys dat die onskuldige huweliksmaat die ander een vergewe het?

Buite-egtelike geslagsomgang is ’n grondslag vir egskeiding, as die onskuldige maat dit verkies; om dieselfde rede kan die hervatting van geslagsomgang beskou word as ’n blyk van vergifnis en versoening. Anders is daar nie werklik daadwerklike vergifnis nie.—Matt. 19:9; 5:37.

Wanneer daar opregte berou aan die kant van die owerspelige maat is, en albei huweliksmaats ’n opregte begeerte het om saam te werk om die probleme wat ontstaan het op te los, sal dit beslis uiters gepas wees om genade te betoon en die oortreder te vergewe. Alle redelike stappe moet gedoen word om die huweliksverhouding wat bestaan, te bewaar, met die besef dat daar waarskynlik ’n ruk lank gespanne verhoudings en probleme sal wees wat opgelos moet word. So sal sake dan nie alleen verloop op ’n wyse wat die egpaar en enige kinders wat nog in die huis is tot seën strek nie, maar sal dit ook ’n neerlaag wees vir die groot huweliksverwoester, Satan die Duiwel.

In party gevalle sal dit vir die onskuldige huweliksmaat baie moeilik wees om ’n ware grondslag te vind om met die huwelik voort te gaan. Selfs voordat die owerspel aan die lig gekom het, was daar moontlik ernstige probleme met die toepassing van Bybelbeginsels in verband met hoofskap en onderdanigheid. Daar was miskien baie min kommunikasie, asook min liefde en wedersydse respek. Bitterheid, gekrenktheid of ander faktore het miskien verhinder dat hulle die verskuldigde geslagsomgang het. Gaan daar werklik enige verbetering wees in die pogings om hierdie ernstige, diepgewortelde probleme op te los as vergifnis geskenk word? Die onskuldige huweliksmaat kan meen dat die kanse op verbetering baie gering is en verkies dalk om van die owerspelige huweliksmaat te skei, selfs al beteken dit dat daar aanpassings gemaak moet word, onder meer dat die egskeidingstrauma verduur moet word, en ander huisvesting moontlik gevind moet word, dat kinders versorg moet word, ensovoorts. lets wat ’n mens ook in gedagte moet hou, is die feit dat Jehovah ‘egskeiding haat’—Mal. 2:16.

Dit is almal faktore wat die onskuldige huweliksmaat in aanmerking moet neem wanneer daar besluit word of vergifnis geskenk moet word of nie. Dit moet gedoen word voordat geslagsomgang hervat word, voordat die intieme voorregte wat net vir getroudes beskore is, hervat word. As daar oor sake gesels word, probleemgebiede bespreek word, ’n poging aangewend word om ’n ooreenkoms te bereik, en daar probeer word om vas te stel of albei persone werklik bereid is om hard te werk om liefde en respek in die huwelik op te bou, beteken dit nie dat vergifnis geskenk is nie. Maar wanneer die onskuldige huweliksmaat hom of haar emosioneel tot die punt bring waar hy of sy geslagsomgang met die owerspelige huweliksmaat kan hê, kan daar aanvaar word dat die onskuldige huweliksmaat sonder voorbehoud vergifnis geskenk het en nie die ontrouheid waarvan hy of sy bewus is as ’n grondslag sal gebruik om ’n Skriftuurlike egskeiding te verkry wat hom of haar in staat sal stel om weer te trou nie.

Deur aldus konsekwent op te tree nadat vergifnis geskenk is, volg die onskuldige huweliksmaat Jehovah na in die wyse waarop hy of sy vergewe, en sal hy of sy nie die skuldige een met sy of haar sondes van die verlede dreig en voortdurend ou koeie uit die sloot grawe nie (Ps. 103:3, 8-14; Jes. 55:7; Ef. 4:32; 1 Pet. 4:8; 1 Joh. 1:9). Dit plaas natuurlik ’n verantwoordelikheid op die een wat die vergifnis ontvang om dit te waardeer en nie weer die oortreding te herhaal nie.

Soms duik daar weliswaar later tragiese, onvoorsiene probleme op wat, indien dit bekend was, sou meegebring het dat die onskuldige huweliksmaat nie vergifnis geskenk en geslagsomgang hervat het nie. Dit bied egter nie ’n grondslag om die status van die huwelik te verander nie. Maar die moontlikheid dat hierdie probleme kan ontstaan, beklemtoon net weer hoe belangrik dit is dat die onskuldige huweliksmaat alle faktore noukeurig in aanmerking moet neem en nie oorhaastig ’n besluit moet neem wanneer hy of sy voor ’n besluit te staan kom of vergifnis geskenk moet word of nie.

Die situasie sal dieselfde wees selfs wanneer die vrou swanger raak nadat sy owerspel gepleeg het en die swangerskap nie bekend was toe die man geslagsomgang met sy vrou hervat het nie. Die moontlikheid van swangerskap is beslis iets wat die man in aanmerking sal wil neem wanneer hy besluit of hy sy vrou moet vergewe en haar terug moet neem. Praktiese wysheid sou voorskryf dat hy wag totdat daar definitief vasgestel kan word of sy met ’n ander man se kind swanger is of nie. Gestel hy vergewe haar en het omgang met haar voordat hy dit weet. Wat dan? Dan moes hy vooraf besluit het dat hy bereid is om die moontlikheid te aanvaar dat sy swanger kan wees en dat indien sy vrou die lewe aan ’n kind skenk, hy die kind in sy huis sal aanvaar en as sy eie sal versorg.

Dit spreek vanself dat wanneer ’n gelowige huweliksmaat se “hoerery” aan die lig kom, die liggaam van ouere manne in die gemeente daarvan verwittig moet word (Matt. 19:9). As die skuldige party dit nie doen nie, sal dit die verantwoordelikheid van die onskuldige huweliksmaat wees om die oortreding aan te meld om Jehovah se gemeente skoon te hou. As die skuldige party waarlik berouvol is, kan so ’n persoon ’n lid van die gemeente bly, hetsy die onskuldige huweliksmaat verkies om vergifnis te skenk of nie. Indien daar geen berou is nie, sal die skuldige huweliksmaat uitgesit word, selfs al besluit die onskuldige maat om vergifnis te skenk en by die uitgesitte maat te bly.

Al hierdie dinge beklemtoon dat huweliksverantwoordelikhede nie ligtelik opgeneem kan word nie. Slegs “hoerery” deur een van die huweliksmaats gee aan die ander maat Skriftuurlike rede om die huwelik te ontbind met die oog daarop om weer te trou. Maar nadat geslagsomgang hervat is, moet die Christengemeente sowel as die egpaar konsekwent wees en die “hoerery” van die verlede waarvan hulle bewus is nie langer beskou as ’n grondslag om die huwelik te ontbind nie. Die egpaar moet hulle tot Jehovah wend en hard werk om liefde en respek in hulle verhouding op te bou sodat hulle ’n goeie mate van geluk in hulle huwelik kan smaak en sukses daarmee kan behaal.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel