Hoe ons God in moeilike tye gedien het
IN DIE winter van 1946 was daar swaar sneeuneerslae in die land in oos-Europa waar ek woon. Op hierdie bepaalde dag het die sneeu die spoorvervoer ontwrig. Ek het dus tevergeefs by die stasie gewag vir ’n trein na die stad. Iemand het vir my beduie hoe om by ’n dorpie te kom vanwaar daar glo ’n busdiens was. Maar toe ek daar kom, moes ek hoor dat geen busse geloop het nie.
Verskeie kere gedurende die voorafgaande paar maande het ek die stad verlaat en op my eie na die woude gegaan. In die stil omgewing het ek dan gekniel en tot God gebid. Nadat ek die verskriklike jare van die Tweede Wêreldoorlog oorlewe het, was sulke gebed al wat my gemoedsrus en tevredenheid gegee het. Ek was ’n Katoliek met ’n sterk geloof in God, maar gebede in die kerk voor dooie beelde het my min troos gebied. Trouens, die gedrag van die priesters het my laat besluit om nooit weer kerk toe te gaan nie.
Tydelik sonder vervoer, honger en moeg het ek daardie dag die teken “Bakkery” op een van die huise in die dorpie gesien. Alhoewel die dame van die huis vir my gesê het dat die bakkery nie oop was nie, het sy my baie vriendelik een van haar broodjies gegee. Ek het gevra: “Kan ek asseblief ’n bietjie hier sit en rus?”
Terwyl ek daar gesit het, het ek ’n boek op die tafel gesien. Toe ek hoor dat dit ’n Bybel is, het ek sommer baie belang gestel. Ek het lank met die vrou en haar man gesels en ontdek dat hulle Jehovah se Getuies is. Die dinge wat ek gehoor het, was soos vars water vir ’n dorstige reisiger. Die egpaar het gesê dat hulle my die volgende Sondag sou besoek.
Die volgende Sondag was ek gereed. Ek het ’n maaltyd voorberei sodat ons meer tyd sou hê om te gesels. Maar die egpaar het nie opgedaag nie. My man wou hê dat ek van hierdie “nuwe geloof” moes vergeet. Ek was baie terneergedruk en het selfs daaraan gedink om selfmoord te pleeg. Maar toe het my oudste dogter vir my ’n brief van die Getuies af gebring. Hulle het nie vergeet nie! Hulle het ons eerlank gehelp om die Bybel in ons huis te bestudeer. My kinders het deelgeneem, naamlik my dogter, 15, my seun, 10, en my jongste dogter, nege. Hulle het almal hulle lesse goed voorberei en die antwoorde op die vrae in aantekeningboeke neergeskryf.
Ek het begin om die dinge wat ek geleer het aan ander te vertel, en dit het my geestelike krag en vreugde gegee. In Augustus 1947 is ek en my oudste dogter gedoop en het ons so ons toewyding aan Jehovah God gesimboliseer.
TEENSTAND VAN MY MAN
My man het dikwels dronk geword en die lewe vir my moeilik gemaak. Hy het ons verbied om Christenvergaderinge by te woon. Ek en my dogter het dus soms vroeg bed toe gegaan, en wanneer hy ons dan nie kon sien nie, het ons weer aangetrek en die huis verlaat. Met ’n byl in sy hand het hy eenkeer geskreeu dat hy my gaan doodmaak. Hy het die byl gegooi, maar hy was so dronk dat dit mis was en agter my geval het. Ek het dus weggekom.
My man het my al hoe meer aangeval en eendag selfs probeer om my met ’n kloofbyl dood te maak. Ek en my jongste dogter het gevlug na die huis van Getuies wat daar naby gewoon het, met my man kort op ons hakke. Omdat die Getuies hom nie wou laat inkom nie, het hy die vensters gebreek en moes die polisie ingryp.
In die vroeë lente van 1948 het my man die ultimatum gestel: “Dis die huis of Jehovah!” Ek het verkies om die huis, ons vier gemeubileerde vertrekke, te verlaat in plaas daarvan om die dinge wat ons geleer het, prys te gee. Ek het slegs my persoonlike besittings en my drie kinders saamgeneem. Die paar goedjies wat ons saamgeneem het, kon deur een persoon gedra word.
TWEE GELUKKIGE JARE
Na hierdie ervarings was ek fisies en geestelik uitgeput, maar ek het ten minste nie meer gesinsvervolging gehad nie. Getuies wat buitekant die stad gewoon het, het ons ingeneem.
In Mei 1948 het my oudste dogter pionierdiens begin doen, soos die voltydse predikingswerk van Jehovah se Getuies genoem word. Sy het na die suidelike deel van die land gegaan, en het ons later aangespoor om by haar aan te sluit. Toe ons daar kom, was daar nie ’n gemeente van Jehovah se Getuies daar nie. Ek het daarin geslaag om werk te kry, asook om twee gemeubileerde vertrekke te huur. Ons kamer met ’n klavier daarin is as ’n Koninkryksaal gebruik.
Ons het begin preek en belangstellendes gevind. Getuies van ’n nabygeleë stad het soontoe gekom, openbare Bybeltoesprake gehou en ons gehelp om geestelike rypheid te verkry. Gedurende die skoolvakansie in 1949 was my jongste dogter ’n vakansiepionier, en die volgende jaar is sy en haar broer gedoop. Maar die gebeure in 1950 het die aangename maar moeilike lewe wat ek saam met my dierbare kinders gehad het, beëindig.
BEPROEWINGS VERSTERK ONS GELOOF
Die werk van Jehovah se Getuies is verban en feitlik almal waarvan die polisie geweet het, onder meer ek en my oudste dogter, is in hegtenis geneem. My 13-jarige seun en 12-jarige dogter is dus my sorg ontneem. Een gesin het my seun ingeneem en ’n ander my dogter.
My oudste dogter is na drie maande uit die tronk vrygelaat. Ek was nog vier maande lank in die tronk. Na my vrylating is ek beveel om die gebied te verlaat. Ons het slegs ons klere en beddegoed gevat, en toe is ons vier na ’n ander stad waar die Getuies ons ingeneem het. Die ondervindinge in die tronk en die verhuising na ’n ander gebied het my geloof en waardering vir Jehovah se sorg en leiding versterk.
Na ’n paar maande het my oudste dogter weer pionierdiens begin doen. Maar weens die verbod kon sy nie van huis tot huis preek nie. Sy het dus persone besoek wat reeds belang gestel het, vir hulle Bybellektuur geneem en die Bybel saam met hulle bestudeer.
In 1952 het my seun gematrikuleer. Ons het toe na ’n ander dorp, meer as 100 kilometer daarvandaan, verhuis waar ek en hy werk by ’n saagmeul gekry het. Aangesien ek net deeltyds gewerk het, was dit vir my ’n vreugde om pionierdiens te begin doen.
Kort hierna is ’n aantal Getuies, ook ek en my seun, in hegtenis geneem omdat ons die Bybel se boodskap verkondig het. Maar omdat ons sekulêre betrekkings gehad het, is ons na twee dae weer vrygelaat. Verskeie van die ander Getuies is verhoor en vonnisse van tot 15 jaar tronkstraf opgelê. Maar ons het aangehou preek en na ’n kort rukkie is 35 mense in ons gebied gedoop.
My oudste dogter is weer in 1953 in hegtenis geneem. Tydens die ondersoek is sy geslaan en later tot vier jaar tronkstraf gevonnis. Dit was omstreeks hierdie tyd dat my jongste dogter haar skoolloopbaan voltooi het en toe het sy en haar broer pionierdiens begin doen. Die volgende jaar, toe sy slegs 16 was, is sy in hegtenis geneem en ’n maand lank in die tronk opgesluit. Daarna is sy na ’n verbeteringskool gestuur.
Omdat die polisie na my gesoek het weens my predikingswerk, kon ek nie my dogter se verhoor bywoon nie. Daar sy geen ouersorg gehad het nie, is sy vir ’n onbeperkte tyd na ’n verbeteringskool gestuur. Weens haar goeie reputasie het hulle haar vertrou om boodskappe dorp toe te dra, en so kon ons mekaar verskeie kere ontmoet. Watter aangename geleenthede was dit tog!
Toe is ek na ’n ander dorp gestuur om daar pionierdiens te doen. Dit was vir my ’n moeilike tyd. My twee dogters was in die tronk. En ek het my seun nie dikwels gesien nie, want hy het in ’n ander deel van die land pionierdiens gedoen. Maar ons het mekaar wel by pioniervergaderinge, wat soms dae geduur het, gesien. Hierdie geestelike feeste is gehou in die meer afgeleë huise van Getuies. Watter vreugdevolle geleenthede was dit tog!
Teen die einde van 1955 is ek versoek om te help met die reproduksie en vervoer van Bybellektuur. Dit was swaar werk, maar ons het geweet hoe belangrik dit is. Ons is versterk deur die vreugde van die broers wat so bly was om die “brood” (ons naam vir Die Wagtoring) en die “pasteie” (ons naam vir die boekies) te ontvang. En wanneer ek die geleentheid gehad het, het ek in die parke gepreek deur gesprekke met mense aan te knoop en herbesoeke te doen.
ONS DOEN ALMAL PIONIERDIENS
Vroeg in 1956 is my jongste dogter vrygelaat en het sy dadelik weer pionierdiens begin doen. Omtrent drie maande later is my oudste dogter uit die tronk vrygelaat, en sy het ook dadelik weer begin pionierdiens doen. Na haar vrylating het ons vier by ’n pioniervergadering ontmoet wat ons nooit sal vergeet nie.
Gedurende die volgende vyf jaar het ons mekaar van tyd tot tyd ontmoet. Ons het aanvanklik elkeen in ’n ander gebied pionierdiens gedoen. Ons “huis” was dus enige plek waar ons ontmoet het. Die plafon was altyd die blou lug, en die vloer was soms groen, of wit, afhangende van die seisoen van die jaar.
Ons het begin om Bybellektuur met elektriese mimeograwe te reproduseer. Eenkeer het die huis met die drukapparaat en papier afgebrand. Die owerheid het ontdek dat daar ’n drukkery in hierdie afgebrande huis was, maar niemand is in hegtenis geneem nie. Toe het ons ’n aandeel in ’n spesiale werk gehad. Ek het gehelp om die druk voor te berei vir die pragtige boek Van die verlore paradys tot die herwonne paradys.
Ons het ons somervakansie in 1961 as ’n gesin deurgebring saam met gasvrye broers in ’n vissersdorpie. Ons kon by die see rus en ons kragte herwin vir die komende jaar se werk. Ons het nie besef wat op ons wag nie.
ONS HELE GESIN IN DIE TRONK
In Augustus is my oudste dogter in hegtenis geneem, en so ook my seun. En drie maande later is ek en my jongste dogter in hegtenis geneem. Ons is meer as ’n jaar lank sonder verhoor aangehou.
Tydens my aanhouding het ek om ’n afspraak met die gevangenistandarts gevra. Terwyl ek my beurt afgewag het, het die gevangene langs my vir my gevra waarom die hoofbewaarder die vorige dag op my geskreeu het. Toe ek vir haar sê dat dit was omdat ek met mede-Getuies gesels het terwyl ons ’n ent moes loop, het die jong vrou langs hierdie vrou my gegryp. Sy het my vreugdevol omhels en gesê dat sy ook een van Jehovah se Getuies is. Sy was besig om ’n vonnis van drie jaar uit te dien omdat sy Bybellektuur geproduseer het. Ek het destyds nie geweet dat sy later my skoondogter—“my derde dogter”—sou word nie.
Terwyl ons in die tronk was, het ek gereelde kontak met my kinders gehad deur middel van briewe. Elke brief is twee keer gesensoreer. Ons het begin om meer Bybelse materiaal in die briewe in te sluit sodat die sensors ’n getuienis oor God se voornemens sou ontvang. Eenkeer het ’n bejaarde vrou, wat ’n afdelingshoof was, my uit my sel ontbied. Sy het my na ’n ander vleuel van die gevangenis geneem om te kan gesels en my uitgevra oor hoe ek my kinders grootgemaak het. Sy het vir my gesê hoe geduldig hulle in die tronk volhard. Sy het ook gesê dat die hele tronkpersoneel baie in ons briewe belanggestel het.
Dit was eers vroeg in 1963, omtrent ’n jaar en ’n half nadat ons in hegtenis geneem is, dat die verhoor begin het. Dit het drie dae geduur. My oudste dogter is ’n tronkvonnis van drie jaar opgelê, en my seun ’n vonnis van twee jaar. My jongste dogter en ek is vrygelaat. Hulle het gemeen dat die tyd wat ons in die tronk was genoeg straf was.
NA ONS VRYLATING
Na ons vrylating het gasvrye broers my en my dogter ingeneem en ons gehelp om ons krag te herwin. Kort daarna is my seun vrygelaat, en toe het ons drie by broers gewoon. Ek het by ’n gietery begin werk, my seun het werk by die spoorweë gekry en my dogter het kantoorwerk gedoen. Na werk het ons almal by die huis gehelp om die setsel vir die tweede uitgawe van die boek “Laat God waaragtig wees” voor te berei.
My oudste dogter is in September 1963 vrygelaat. Ons is terug na die gebied waar ons 15 jaar tevore gewerk het. Daar het ons ’n ou huis gehuur, en met die hulp van die broers wat daar naby gewoon het, het ons dit opgeknap. Die kinders het almal weer pionierdiens begin doen.
My man het na ons gesoek, maar omdat ons voltydse predikers was, het hy ons nooit gevind nie. Ek het geweet waar hy gewoon het, en na 10 jaar van skeiding het ek my kinders dus aangespoor om hom te besoek. Hy was destyds steeds ’n alkoholis.
Maar in 1963 het ek gehoor dat my man opgehou drink het. Ek het vir hom ons adres gestuur sodat hy die kinders kon besoek. Toe hy ons die eerste keer besoek, was my seun reeds getroud. Hy het gesien dat ons vreedsaam en eensgesind saam lewe. Hy was ’n gas by die huwelik van ons oudste dogter, en daarna het hy gesê dat hy graag wil hê dat een van Jehovah se Getuies hom tuis moet besoek.
Later het hy ons weer kom besoek. Dit was ’n kort gesprek en baie moeilik. Hy het erken dat hy God se wet sowel as die landswet verbreek het. Na 22 jaar van skeiding het hy weer by ons ingetrek. Kort daarna, op 4 April 1971, is hy as een van Jehovah se Getuies gedoop.
Vandag het my seun en dogters hulle eie gesinne en is ek ’n gelukkige ouma met vier kleinseuns en twee kleindogters. Ons het baie vreugde gesmaak en het Jehovah se leiding, beskerming en hulp ontvang. Ek is volkome oortuig daarvan dat niemand wat ywerig in Jehovah se diens volhard, teleurgestel sal word nie. Ek het met my hele hart op Jehovah en op sy gerusstellende woorde vertrou: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Hebr. 13:5).—Bygedra.