Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 8/1 bl. 3-8
  • Ek het gesien hoe lewens wonderbaarlik verander

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het gesien hoe lewens wonderbaarlik verander
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N WILDE LEWE
  • ’N MATE VAN VERANTWOORDELIKHEIDSIN
  • ’N GOEIE INVLOED IN MY LEWE
  • HOE MY LEWE DRAMATIES VERANDER HET
  • DIE BEGIN VAN ’N NUWE LEWE
  • GROTER DIENSVOORREGTE
  • DIE LEWE AS SENDELINGE IN JAPAN
  • VERANDERDE LEWENS—IETS MOOIS
  • DIE OË GEVESTIG OP DIE HOOP
  • Ek het geleer om ten volle op Jehovah te vertrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • “Gaan voort met die werk totdat dit gedaan is”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Ek het God se beskouing van bloed aanvaar
    Ontwaak!—2003
  • Ons was ’n Span
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 8/1 bl. 3-8

Ek het gesien hoe LEWENS WONDERBAARLIK VERANDER

Soos vertel deur Percy Iszlaub

IN 1949 het ’n Japannese man genaamd Kimihiro Nakata twee mans vermoor. Hy is betaal om dit te doen. Dit was gewelddadige tye. Miljoene lewens is op die slagvelde verkwis, en die geweld van daardie tye het na die oorlog ’n ruk lank voortgeduur.

Ek en my vrou, Ilma, het kort na die Tweede Wêreldoorlog as sendelinge na Japan gekom. Kimihiro was toe slegs 18 jaar oud. Die hof het beslis dat hy gehang moes word. As hy slegs ’n paar maande jonger was, sou hy nie die doodvonnis kon kry nie. Hy is na Fukuoka-gevangenis gestuur en in die dodesel geplaas.

In Japan is dit nie die beleid om vir ’n veroordeelde te sê wanneer die doodvonnis voltrek gaan word nie. ’n Persoon kan ’n week, ’n maand, ’n jaar of jare lank in die dodesel wees; een man was 30 jaar lank daar. In die tronk het Kimihiro ’n versteurde en ’n gewelddadige man geword. Hy het die tralies van sy sel vasgegryp en geskreeu: “Maak my dood! Kry dit agter die rug!” Maar die jare het verstryk en hy is nie tereggestel nie.

Mettertyd het Kimihiro in godsdiens begin belangstel. Hy het ’n Bybel gekry en dit geniet om dit te lees. Maar hy het vrae gehad waarop hy nie antwoorde kon kry nie. Eendag, hier teen die middel van die vyftigerjare, het hy ’n eksemplaar van Die Wagtoring ontvang. ’n Kennis, wat self nie in die tydskrif belanggestel het nie, het dit vir hom gestuur. Dit was net waarna Kimihiro gesoek het. Hy het aan die Wagtoringgenootskap geskryf om meer informasie, en een van Jehovah se Getuies is gestuur om hom te besoek. Die Getuie het by die tronk aangekom, en daar, reg in die dodesel, het Kimihiro begin om die Bybel te bestudeer.

In September 1957 is ons sendingtoewysing na die stad Fukuoka verander. Die Getuie wat saam met Kimihiro gestudeer het, is dieselfde tyd daar weg, en ek het begin om die weeklikse studies in die dodesel te hou. Net voordat ons in Fukuoka aangekom het, is Kimihiro in die tronk se bad gedoop.

Hier het ek dus ’n Christenbroer aangetref wie se persoonlikheid ingrypend verander het. Ek het al hoe gehegter aan Kimihiro geraak namate my weeklikse besoeke voortgeduur en die maande verstryk het. Namate ons mekaar beter leer ken het, kon ek ooreenkomste tussen ons vroeëre lewens sien. Trouens, ek het dikwels gedink dat indien ek met my voormalige lewenswyse voortgegaan het, ek dalk ook in die tronk sou beland het.

’N WILDE LEWE

Ek het in suidoostelike Queensland, Australië, grootgeword en as ’n skoolseun begin rook en drink. Dit het daartoe gelei dat ek met die plaaslike polisie deurmekaargeraak het. Kroeggevegte was ’n weeklikse gebeurtenis. Toe iemand my eenkeer beledig het, het ek ’n glas bier in sy gesig gegooi. Ek het twee motors verwoes terwyl ek onder die invloed van drank bestuur het, en tydens motorfietswedrenne naelskraap aan ernstige beserings ontkom.

My rook- en drinkgewoonte het tot dobbelary aanleiding gegee. Wanneer die polisie ’n klopjag op ons dobbelplek uitgevoer het, het ons net ’n ander plek gevind om te dobbel. Om ’n weddenskap te wen, het ek eenkeer om middernag in my slaapklere en met ’n roomys in my een hand en ’n string wors om my nek by ’n stampvol danssaal ingeloop. Ek het die weddenskap gewen, maar die wedloop met die polisie verloor. Ek is van wanordelike gedrag aangekla.

Ek het selfs gesteel, en met hierdie gewoonte begin deur by ’n huis in te breek. Toe het ek by ’n bioskoop ingebreek en geld en sigarette gesteel. My onwettige bedrywighede het uitgebrei toe ek en ’n vriend ’n motorenjin gesteel het en dit in ’n ander motor gesit het. Ons het dit teen ’n wins verkoop.

Rugby was my gunstelingsport. Ek het skakel agter die skrum gespeel. Ons het gespeel om te wen; ‘kom die ander ou by’ was ons leuse. Terwyl ek eendag met die bal gehardloop het, het die ander span my “bygekom”—ek het met twee gebreekte ribbes en ’n beskadigde mantelvlies daarvan afgekom.

’N MATE VAN VERANTWOORDELIKHEIDSIN

Ek het terselfdertyd vir my gesin gesorg. Toe my vader en moeder siek geword het en nie kon werk nie, het ek die skool verlaat en werk gekry as ’n motorwerktuigkundige om die gesin te help onderhou. Ek was slegs 14. Tien jaar later, in 1940, was ek die voorman van ’n motorhawe, met 17 werktuigkundiges onder my.

’n Belangrike vorm van vermaak in daardie dae was die danse op Saterdagaande. Ek het die kornet in ’n orkes gespeel. Ek is Saterdae dikwels omtrent 12-uur by die werk weg, het dan na ’n afgeleë dorp gereis en tot laat in die nag gespeel, om tuis te kom wanneer die son opkom. Danse op Saterdagaande en afsprake met meisies was ’n belangrike deel van my lewe.

’N GOEIE INVLOED IN MY LEWE

Ek was omtrent 23 toe ek Ilma by ’n dans ontmoet het. Ons het mekaar gereeld begin sien, aanvanklik by die danse. Maar toe het sy na ons huis toe begin kom, en sy en my moeder het goeie vriendinne geword. Ek het eerlank laat blyk dat ek met haar wou trou. Wat ’n verandering sou ons verhouding tog op my lewe hê!

Ek moet hier meld dat my moeder ’n paar jaar tevore een van Jehovah se Getuies geword het. O, hoe het dit my tog gegrief! Ek het my so geskaam wanneer sy op die strate gaan staan het om vir verbygangers Bybellektuur aan te bied. Ek het haar probeer oorreed om daarmee op te hou, maar tevergeefs. En ek het haar duidelik laat verstaan dat ek nie wou hê dat sy met Ilma oor haar ʻsimpele ou geloofʼ moes praat nie.

In elk geval, na ’n dans het ek en Ilma een aand oor die oorlog gesels—die tweede wêreldoorlog het pas tevore in September 1939 uitgebreek. Tydens ons gesprek het wêreldtoestande ter sprake gekom, en Ilma het gesê: “Sou jy nie graag wou sien dat ’n regverdige regering opgerig word wat vir die hele mensdom vreedsame toestande bring nie?”

“Natuurlik”, het ek geantwoord, “maar wie kan dit doen? Die mens probeer al jare lank, en wat doen ons nou? Ons het met ’n wêreldoorlog begin!”

“Wel, die almagtige God kan dit doen, en hy gaan dit doen”, het Ilma geantwoord.

“Hoekom het die Almagtige dan nog niks gedoen nie? Kyk net na die oorlog en al die lyding. Kan jy dit verklaar?”

Wel, Ilma het my vraag beantwoord, maar nie op die wyse wat ek verwag het nie. Sy het ’n boekie uitgehaal, Regering en vrede, en daaruit begin lees: “Daar kan geen duursame vrede wees sonder ’n regverdige regering van geregtigheid nie. Daar kan geen regverdige regering van geregtigheid wees sonder vrede nie.”

Ek het saamgestem. “Maar hoe kan so iets tot stand kom?” het ek gevra. “Wys vir my daardie boekie.”

Sy het dit vir my gegee. Toe ek na bladsy twee blaai, het ek gesien “WAGTORING- BYBEL- EN TRAKTAATGENOOTSKAP . . . Eerste uitgawe 10 000 000 eksemplare.” Ek was briesend kwaad! “Waar het jy dit gekry!” het ek gevra.

“By jou moeder”, het sy gesê, “en ek het dit gelees en ek glo dit.”

Dit het my nog woedender gemaak om uit te vind dat Moeder met Ilma oor godsdiens gepraat het. Ilma het toevallig ’n paar weke tevore ’n vraag aan Moeder gestel oor iets wat haar verwar het. “My kerk leer dat die slegte mense hel toe gaan en dat die goeie mense hemel toe gaan”, het sy begin. “Wel, ek dink nie dat ek goed genoeg is om hemel toe te gaan nie, maar ek is nie so sleg dat ek hel toe moet gaan nie. Waar pas ek dan in?”

Moeder het hierdie geleentheid aangegryp om vir Ilma te vertel van God se oorspronklike voorneme om die aarde ’n paradys te maak, en hoe daardie voorneme binnekort onder die bewind van sy koninkryk volbring sou word. Sy het vir haar tekste gelees soos Psalm 37:11 en 29, wat sê: “Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede. Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” En sy het verduidelik dat Jesus selfs vir die kwaaddoener wat langs hom gesterf het, beloof het dat hy in daardie aardse paradys opgewek sou word.—Luk. 23:43.

Wanneer Ilma naweke vir ons kom kuier het, het my moeder my vriendelik versoek om mark toe te gaan om ’n paar goedjies vir aandete te koop. Terwyl ek weg was, was sy druk besig om Bybelleerstellings met Ilma te bespreek. Ek het nie geweet hoe lank dit al aangehou het nie, maar daardie aand het ek die saak na ’n punt toe gedryf.

Ek het vir Ilma gesê dat my moeder nie veronderstel was om met haar oor haar geloof te praat nie omdat dit nie my goedkeuring weggedra het nie. Maar toe het Ilma gevra: “Glo jy nie aan vryheid nie?”

“Natuurlik!”

“Is jy dan nie skynheilig nie?” het sy gevra.

Ek is al erger dinge genoem, maar dit was anders, want dit het van Ilma gekom. “Jy het gesê dat dit wonderlik sou wees as daar ’n vreedsame regering was”, het sy voorts gesê. “Maar toe jy hoor dat dit Jehovah se Getuies is wat verkondig hoe God so iets tot stand gaan bring, het jy nie belanggestel nie.”

Dit was stof tot nadenke, en ek is nukkerig daar weg. ’n Week later het ek Ilma gebel om te hoor of ek weer vir haar kon kom kuier. “Ja, as jy redelik is en gesels oor die dinge wat ons nou die aand bespreek het”, het sy gesê.

Ek het haar dus besoek en vir haar gevra wat haar “Rutherford se geloof” laat glo het, soos ek dit genoem het. (J. F. Rutherford was destyds president van die Wagtoringgenootskap.) “Dit is die eerste keer dat ek sulke wonderlike dinge gehoor het”, het sy gesê. “Dit het vir my sin. Toe jou moeder my vrae beantwoord het, het ek lus gevoel om te dans van vreugde. Ek het geweet dat dit die waarheid is die oomblik toe ek dit hoor.”

Ek moet erken dat ek nie juis lus was om te dans nie. Maar ek het na ’n paar tekste geluister en ingestem om verder ondersoek in te stel. Ons is op 8 Desember 1939 getroud.

HOE MY LEWE DRAMATIES VERANDER HET

“Goed, ons kan iemand kry om die Bybel saam met ons te bestudeer”, het ek vir Ilma gesê. “Maar ek wil nie my ma of haar 70-jarige vriendin hê nie.” Ek het gedink dat dit net ’n geloof vir ou vrouens was. Twee voltydse predikers van Jehovah se Getuies het dus gekom.

Ek het aanvanklik baie met hulle gestry. Ek kon byvoorbeeld nie begryp hoe die eerste man Adam kon gesondig het as hy volmaak was nie. Dit het vir my gelyk asof God hom nie juis goed van sy taak gekwyt het toe hy Adam gemaak het as dié sleg uitgeval het nie. Maar mettertyd het dit tot my deurgedring dat God die mens as ’n kiesende wese geskep het—nie as ’n robot nie. Hy het dus die vermoë gehad om te kies of hy goed of kwaad wou doen.

Namate ons studies tot in Februarie en Maart gestrek het, het my belangstelling toegeneem. Eendag het ek vir Ilma gesê: “Kom ons woon die byeenkoms in Brisbane by.” Dit was in April, net vier maande na ons huwelik. Ons is dus soontoe. Dit het ’n geweldige indruk op my gemaak! Ek kon nie glo dat daar soveel jongmense van ons ouderdom was nie; dit was beslis nie net ’n geloof vir ou mense nie.

Tuis het ek ons studies selfs ernstiger opgeneem en ywerig vir ander begin preek. In ’n dorp daar naby het Norman Bellotti, ’n jongman wat aan ’n mededingende bende behoort het, ook ’n Getuie geword. Ons was dus nou mede-predikers in plaas van mededingende vegters. In ons dorpies het baie ons geken en hulle kon hulle oë nie glo nie. Rook, dronkmansbakleiery, diefstal, roekelose bestuur, dobbelary, losbandigheid—alles het tot die verlede behoort. Waarom?

Die oë van my verstand is geopen. Ek het uit my hele hart geglo dat Jehovah God ’n regverdige regering, sy koninkryk waarvoor ons bid, sou oprig (Matt. 6:9, 10; Dan. 2:44). Dit was hierdie kennis en my waardering daarvoor wat verantwoordelik was vir die dramatiese veranderinge in my lewe. Dit het my gered van die soort moeilikheid waarin Kimihiro Nakata beland het.

DIE BEGIN VAN ’N NUWE LEWE

In Julie 1940 het ek en Ilma besluit om die byeenkoms in Sydney by te woon en om daarna voltydse predikers of pioniers te word. Ek het uit my werk as voorman by die motorhawe bedank en ons het al ons pasgekoopte meubels verkoop. Ek het Norman gebel om vir hom van ons planne te vertel. “Wag vir my! Wag vir my! Ek kom ook!” het hy gesê. Norman en sy suster Beatrice het dus by ons aangesluit.

Tydens ’n geloofversterkende byeenkoms het ons al vier op 24 Julie 1940 ons toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer. Daarna is ons na die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Sydney en het ons om pioniertoewysings gevra. Ons is na die stad Townsville in Noord-Queensland gestuur.

Ons nuwe lewe was nie maklik nie. Maar dit was lonend en ons was gelukkig omdat ons seker was dat wat ons gedoen het Jehovah God behaag het.

In Noord-Queensland strek die reënseisoen van November tot Januarie. Soms het dit daagliks 39 sentimeter en meer gereën en skielike oorstromings veroorsaak. Ons was eenkeer dae lank tussen twee vol riviere vasgekeer. Toe ons kos opraak, het ons wilde tamaties geëet.

Namate die wêreldoorlog voortgeduur het, het vooroordeel teen Jehovah se Getuies toegeneem. In Januarie 1941 het die regering ons werk in Australië in die ban gedoen. Maar ons het met ons predikingswerk aangehou. Ek en Norman het Maandagoggende in afgeleë buitegebiede gaan preek. Ons het twee kartonne boeke op een fiets gelaai en komberse, ’n pan en ’n houer met water vir tee op die ander. Ilma en Beatrice het intussen in die dorp gepreek totdat ons Vrydagaand teruggekeer het.

Soms het ons kos opgeraak en het ek en Norman ’n dag of twee niks gehad om te eet nie. Dan het ons weer daarin geslaag om ’n paar boeke vir kos te verruil. Of nou en dan het ons hout gekap in ruil vir ’n maaltyd. Ons het snags onder ’n ou brug of meestal onder ’n boom geslaap. Om die swerms muskiete weg te hou, het ons beesmis gebrand, ’n hoop by die voetenent van ons kombers en nog ’n hoop by ons kop.

GROTER DIENSVOORREGTE

Nadat ons ’n paar maande lank in die pionierdiens was, het ons eendag ’n brief van die Wagtoringgenootskap ontvang. Dit was ’n uitnodiging om by Bethel, die takkantoor van Jehovah se Getuies in Sydney, te kom dien. Ons het dit vreugdevol aanvaar. Maar kort nadat ons by Bethel begin werk het, het die regering al die lede van die Bethelgesin beveel om die takkantoor te verlaat en die Genootskap se eiendom oorgeneem.

Ek en Ilma is aangewys om in Melbourne te werk. Tydens die verbod het ons net met ons Bybel gepreek en so onopsigtelik moontlik op ons eie gewerk. Dit was soms baie eensaam, maar daar was ook seëninge. Ilma stel dit so: “Terwyl ek eendag gepreek het, het ek vir ’n middeljarige dame van die paradysaarde vertel. Sy het dadelik die klank van Bybelwaarheid herken. Sy het gestudeer en mooi gevorder, selfs al was ons op daardie tydstip in die ban.” Die verbod is in Junie 1943 opgehef.

In 1947 het ons kringwerk in Nieu-Suid-Wallis gedoen, daar ek toe as ’n reisende verteenwoordiger van Jehovah se Getuies gedien het. Toe het ons ’n nuwe voorreg ontvang—’n uitnodiging om die Wagtoring-Bybelskool Gilead, ’n opleidingskool vir sendelinge in die staat New York, by te woon. Wat moes ons doen?

Omdat ek op die ouderdom van 14 uit die skool is, was ek bang omdat ek onbekwaam gevoel het om so ’n skool by te woon. Maar omdat ons die uitnodiging as God se wil beskou het, was ons antwoord dié van sy profeet Jesaja: “Hier is ons, stuur ons” (Jes. 6:8). In Januarie 1948 het ons dus per boot na die Verenigde State vertrek saam met 17 ander uit Australië en Nieu-Seeland—onder meer my voormalige pioniermaat Norman Bellotti.

Na vyf maande van intensiewe Bybelonderrig het ons ons sendelingtoewysings ontvang. Ons is na Japan gestuur.

DIE LEWE AS SENDELINGE IN JAPAN

Ons eerste toewysing was die stad Kobe. Ons sendinghuis was op ’n hoë heuwel geleë, en dit het ons ’n pragtige uitsig oor die mooi Binnesee gegee, waar oulike bote met allerande vorms en groottes heen en weer op die vaargeule gevaar het. ’n Vuurtoring, wat getrou dag en nag geflikker het, het seemanne om blinde rotse gelei.

’n Vriendelike dokter wat langs ons gewoon het, het gesê: “Hierdie sendinghuis sal ’n bron van geestelike lig vir die mense van hierdie omgewing word.” Hoe waar was sy woorde tog! Daar was destyds geen plaaslike Getuies in Kobe nie, maar nou is daar 20 gemeentes met amper 1 400 Koninkryksverkondigers. Die dokter se twee dogters is meer as 20 jaar later in die omgewing van Tokio gedoop.

Daar was geen meubels in ons huis nie en dit was taamlik vuil. Die gras in die tuin was baie hoog en ons het dit dus gesny, dit op die vloer gegooi en drie weke lank in ons klere op die gras geslaap totdat ons meubels gekom het. Ons het grappig daarna verwys as die “Three-Week Itch Hitch”.

Dit was aanvanklik vir ons, en veral vir my, baie moeilik om die taal te leer. Ek het byvoorbeeld vir die broers gesê dat hulle die skape moet “eet” (taberu) in plaas van “voed” (tabesaseru), of dat hulle die Wagtoring “noedels” (udon) moet ondersteun in plaas van die Wagtoring-“kampanje” (undo). Maar die broers het my altyd liefdevol deur hierdie blapse gehelp, en ons het deurgedruk.

VERANDERDE LEWENS—IETS MOOIS

Ek en Ilma is nou al meer as 31 jaar in Japan. Dit het ons tuiste geword. Toe ons gekom het, was daar slegs drie boorling-Getuies in die hele land. Nou is daar meer as 58 400 van ons broers en susters wat die goeie nuus van die Koninkryk verkondig. Gedurende hierdie jare het ek gesien hoedat talle, talle lewens wonderbaarlik verander—mense wat hulle skuldig gemaak het aan oneerlike saketransaksies en diegene wat baie onsedelike lewens gelei het. Maar toe het die waarhede van God se Woord hulle harte geraak, en hoe mooi was dit tog om die verandering te aanskou!

Maar vir my was die mees dramatiese verandering in enigiemand se lewe dié van Kimihiro Nakata, die versteurde, gewelddadige gevangene in die dodesel en moordenaar van twee mans. Wat ’n sagmoedige, vriendelike jongman het hy tog geword! Hy was een van die ywerigste Koninkryksverkondigers wat ek ooit geken het. Hy het vir besoekers gesê: “Hoe wens ek tog ek kan julle daar buite help preek wanneer ek die blou hemel deur my selvenster sien!”

Maar selfs uit sy dodesel het Kimihiro baie gehelp. Hy het geskryf aan die familie van die persone wat hy doodgemaak het en vir hulle getuig, en hulle het belangstelling getoon. Hy het ook baie vir sy eie familie getuig. Hy het Braille bestudeer en die boek “Laat God waaragtig wees”, die boekie “Hierdie goeie nuus van die koninkryk” en artikels in Die Wagtoring en Ontwaak! in Braille oorgesit. Hierdie publikasies is na verskillende dele van Japan geneem, onder meer skole vir blindes.

DIE OË GEVESTIG OP DIE HOOP

Op 10 Junie 1959 het ’n polisiemotor voor ons sendinghuis stilgehou. Kimihiro het versoek dat ek daardie oggend teenwoordig moes wees wanneer hy tereggestel word. Ek sal nooit sy laaste woorde aan my vergeet nie: “Vandag is ek vol vertroue in Jehovah, en in die losprysoffer en die opstandingshoop. Ek sal ’n kort rukkie slaap, maar indien dit Jehovah se wil is, sal ek julle almal in die paradys sien.” Kimihiro het gesterf om reg te laat geskied, en hy het ʻlewe vir lewe’ gegee. Hy het egter nie as ’n verstokte misdadiger sonder ’n hoop gesterf nie, maar as ’n toegewyde, gedoopte, getroue kneg van Jehovah.

Ja, ek het gesien hoe lewens wonderbaarlik verander—Kimihiro se lewe, my lewe. Ondanks swak gesondheid is Ilma steeds my getroue metgesel in die voltydse diens, ’n voorreg wat ons nou al meer as 40 jaar lank geniet. Ons is Jehovah, die God wat lewens kan verander, albei baie dankbaar hiervoor.

[Lokteks op bladsy 8]

Kimihiro het versoek dat ek daardie oggend teenwoordig moes wees wanneer hy tereggestel word

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel