Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 9/1 bl. 23-27
  • “Gaan voort met die werk totdat dit gedaan is”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Gaan voort met die werk totdat dit gedaan is”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE GETUIENISWERK TYDENS ’N VERBOD
  • SPESIALE PIONIERDIENS
  • UITNODIGING OM ’N SENDELING TE WORD
  • SENDINGWERK IN JAPAN
  • JEHOVAH STORT SEËNINGE UIT
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Onderskraag deur die God wat nie kan lieg nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 9/1 bl. 23-27

“Gaan voort met die werk totdat dit gedaan is”

Soos vertel deur Lois Dyer

Dit was my voorneme toe ek 49 jaar gelede met voltydse diens begin het. Toewysings het my van Perth na Tokio geneem, met talle lonende ondervindings langs die pad.

Ek is in 1910 in die plattelandse dorp Northam, Wes-Australië, gebore. Onder my vroegste herinneringe is ’n paar groot boeke op die onderste rak van ons boekrak. Dit was bundels van die tydskrif die Watch Tower vanaf die jaar 1904.

Daar was destyds geen gemeente van Jehovah se volk in die dorp nie, maar kolporteurs het ons nou en dan besoek. My vader het geglo wat hy in die Wagtoringpublikasies gelees het, en selfs nadat hy siek geword het, het hy met ander oor Bybelwaarhede gesels. Broer Robert Lazenby het in 1929 van Perth af gekom om my vader se begrafnistoespraak te hou. Toe ek hierdie toespraak hoor, het ek dadelik die waarheid herken, en sedertdien het ek al die beskikbare publikasies van die Genootskap gelees.

Weens ’n brandende begeerte om Jehovah te dien, het ek in Julie 1931 aan die Wagtoringgenootskap geskryf en my wens uitgespreek om van huis tot huis te getuig. In antwoord hierop het hulle ’n hele paar kartonne boeke en ’n aansoekvorm om hulppionierdiens aan my gestuur. Ja, die naam van hierdie spesiale vorm van diens was destyds dieselfde, en so ook die vereiste dat daar elke maand 60 uur aan die verkondiging van die “goeie nuus” gewy moes word. Ek het die voorreg aanvaar, selfs al was ek nog nie gedoop nie.

Die eerste brief wat ek hierna van die Genootskap ontvang het, het ’n eksemplaar bevat van die resolusie wat in 1931 by die byeenkoms te Columbus, Ohio, aangeneem is, en waarin die naam “Jehovah se Getuies” aanvaar is (Jes. 43:10-12, NW). Ek en my moeder het dit met graagte geteken. Ons was nog steeds afgesonder, maar ek het begin om in my tuisdorp te getuig. Omdat ek twee jaar lank as ’n leerlingonderwyseres by die plaaslike laerskool skoolgehou het, was ek goed bekend in die gemeenskap. Dit was nie maklik om alleen van huis tot huis te begin getuig nie, veral nie wanneer ’n mens geen regstreekse kontak met ’n gemeente gehad het nie. Ek het baie argumente met godsdiensteenstanders gehad. Een Anglikaanse predikant het vol veragting gesê: “Jy glo tog nie daardie storie oor Adam en Eva nie!” Ander persone het geluister en lektuur aanvaar, maar ek het nie geweet hoe om die belangstelling op te volg nie. My suster en haar man het Die Wagtoring gelees, alhoewel ons geen georganiseerde studie gehad het nie, en ek was diep bewus van die behoefte aan omgang met ’n gemeente.

Op 1 Januarie 1932 het ek en my moeder na Perth verhuis. Hoe aangenaam was dit tog om vir die eerste keer met ’n Christengemeente te assosieer! ’n Paar dae later is ons albei op 4 Januarie 1932 in die Subiaco-Koninkryksaal gedoop. Net die volgende dag het ek as ’n gewone pionier begin en saam met ’n groep ywerige pioniers gearbei. Ek was so bly oor hierdie hulp van ervare Koninkryksverkondigers. Hulle het my almal aangespoor om ‘voort te gaan met die werk totdat dit gedaan is’.

’n Paar weke later het vier van ons per motor vertrek om in plattelandse gebied in die suidwestelike deel van Wes-Australië te gaan preek. Engelse setlaars is toegelaat om hulle in hierdie gebied te vestig. Hulle het die woude afgekap en begin om met melkbeeste te boer. Elke groep het ’n nommer gehad, en die setlaars is “groupies” genoem. Omdat hulle min geld gehad het, het ons dikwels boeke verruil vir melk, eiers en groente. Eenkeer het ons ’n paar boeke verruil vir ’n kas tamaties wat ’n hele week gehou het. Ons het van groep tot groep getrek, en in tente geslaap wanneer die dag se werk gedaan was.

Daardie jaar, 1932, het ons die Herdenking van Christus se dood in die dorpie Donnybrook gevier by die huis van Arthur Williams, Sr., een van die eerste persone in Wes-Australië wat Bybelwaarheid aanvaar het. Sy suster, Vi Williams, was jare lank ’n getroue pionier en het vir my sommer baie, goeie raad gegee. Die Williams-gesin is nou dwarsdeur daardie gebied bekend as Jehovah se Getuies.

DIE GETUIENISWERK TYDENS ’N VERBOD

Ek het lank gelede geleer om die woorde van Psalm 55:23 toe te pas: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.” Dit was veral waar toe die regering Jehovah se Getuies van Januarie 1941 tot Junie 1943 in die ban gedoen het.

Gedurende daardie tyd het ons voortgegaan om ondergronds te preek, en ons moes die Bybelpublikasies wat ons gehad het, spaarsaam gebruik. My lektuur is bewaar in ’n bliktrommel wat begrawe was in die tuin van my suster en haar man se huis. Ons het met die Bybel getuig, en wanneer ons iemand teëgekom het wat waarlik belang gestel het, sou jy ons daardie nag in die tuin aantref stilletjies besig om te grawe! Die getuieniswerk het gefloreer en die aantal Koninkryksverkondigers in Australië het gedurende daardie tydperk verdubbel. Jehovah het waarlik sy knegte wat met die werk voortgegaan het, onderskraag.

SPESIALE PIONIERDIENS

In 1942 het ek as ’n spesiale pionier na my tuisdorp Northam teruggekeer. Teen daardie tyd het my broer Dan sy standpunt vir die waarheid ingeneem, en so ook sy vrou en kinders. Dit het my baie bly gemaak. Ek en ’n ander pionier, Mary Ham (nou Willis) het soms ’n perd en drafkarretjie in plaas van ons fietse gebruik. Die perd was baie oud en ons het hom soggens slegs met ’n groot gesukkel aan die loop gekry. My broer se kinders het gehelp deur met ’n handvol gras of ’n stuk appel vooruit te loop om hom aan te spoor om aan die gang te kom.

My volgende toewysing was heeltemal anders. Dit was die sakegebied in die stad Perth. Die gedagte om in banke en kantore te getuig, het my aanvanklik bang gemaak, maar ek het gedink: “Mense is dieselfde of hulle nou in ’n huis of ’n kantoorgebou is. Waarom moet ek dus bang wees weens so ’n omgewing?” Ek het op Jehovah staatgemaak en die bul by die horings gepak. Hoewel dit moeilik was om Bybelstudies te begin, het ek ’n goeie tydskrifroete opgebou, en voordat ek hierdie gebied verlaat het, het ek 50 intekeninge op ons tydskrifte verkry.

In 1947 is ek aangewys om alleen te getuig in die dorpie Katanning, wat destyds ’n inwonertal van sowat 3 000 gehad het. Hierdie dorp was in die middel van ’n streek waar daar met skape en koring geboer is. Ek het elke dag sowat 30 tot 50 kilometer met my fiets afgelê om by die omliggende plase te kom. Die mense was baie gasvry en het my dikwels genooi om saam met hulle te eet. Tydens die lente, wanneer die veldblomme ’n kleurryke tapyt aan albei kante van die plaaspaaie gevorm het, het ek dikwels van my fiets afgeklim en ’n rukkie lank die pragtige toneel ingedrink.

UITNODIGING OM ’N SENDELING TE WORD

Na slegs ses maande in Katanning het ek ’n wonderlike nuwe diensvoorreg gekry. Ek is genooi vir die 11de klas van die Wagtoring- Bybelskool Gilead, en was een van ’n groep van 19 uit Australië en Nieu-Seeland. Molly Heron was ook in hierdie groep, en ons het sedertdien saamgewerk. Molly het ook in 1932 in Brisbane pionierdiens begin doen. Daar ons ewe lank in die voltydse diens was, het ons veel gemeen gehad. Hoewel ek geneig is om voortvarend te wees, tree Molly met groter versigtigheid op. Ons was dus ’n goeie kombinasie en werk al sowat 31 jaar lank gelukkig saam.

Na vyf druk besige en aangename maande in Gilead te South Lansing, New York, het ons ons toewysing ontvang. Ons groep, wat uit vyf susters bestaan het, sou na Nieu-Caledonië gaan. Maar Broer N. H. Knorr het later gesê dat hy gehoor het dat daar nog steeds koppesnellers op daardie eiland was! Ons toewysing is dus verander na Fidji. Terwyl ons gewag het vir ons visums om Fidji binne te gaan, het ons 16 maande in San Francisco, Kalifornië, deurgebring waar ons saam met die Daly City-gemeente gewerk en talle goeie vriende gemaak het.

In Oktober 1949 het ons gesien hoedat ’n groep wat saam met ons in die 11de klas was San Francisco per boot verlaat na hulle toewysing in Japan. Hulle was Lloyd en Melba Barry, Percy en Ilima Iszlaub, en Adrian Thompson. “Sien julle na Armageddon”, het ons uitgeroep toe die boot van die kaai weggeseil het (Openb. 16:14, 16). Maar die owerheid het geweier om vir ons visums vir Fidji te gee. In Januarie 1950 het ons dus ons vriende na Japan gevolg, waar ons in die sendinghuis te Tarumi, Kobe, by hulle aangesluit het.

SENDINGWERK IN JAPAN

So het die aangenaamste deel van my 49 jaar van voltydse diens begin. Aanvanklik het ons gebrekkige kennis van die taal en gewoontes van die Japannese ons baie foute laat begaan. Ek het byvoorbeeld eenkeer vir die mense gesê dat ek van huis tot huis hoes (in plaas van besoek aflê). Maar ek het altyd Broer Knorr se raad in gedagte gehou: “Doen jou bes, en al maak jy foute, DOEN IETS!” Ons het dus aangehou en ons bes gedoen, en met Jehovah se hulp het ons geleidelik verbeter.

Een nuwe ondervinding was om die woede van Tifoon Jane te oorleef. Ons was besig om velddiens te doen toe die wind opgekom het, en die verkondigers het ons aangeraai om huis toe te gaan. Maar omdat ons nie besef het hoe gevaarlik dit is nie, het ek en Molly so lank moontlik probeer preek. Maar dit was een keer dat ons vroeg moes ophou. Terwyl kragdrade geruk en gebreek het in die wind wat stormsterkte bereik het, het ons net betyds na die sendinghuis gevlug om te voorkom dat ons beseer word deur dakteëls en takke wat deur die lug gevlieg het.

Een sendelinge was nie daar nie! Sy het egter om middernag veilig opgedaag nadat sy die hele dag in ’n trein vasgekeer was. Nadat die storm bedaar het, het ons vasgestel dat die sendinghuis slegs ’n paar gebreekte ruite en ’n bietjie waterskade gehad het. Op ander plekke het mense hulle lewens verloor, en in die hawe het 500 bote gesink.

Tydens daardie vroeë jare het ons ook ons eerste ondervinding met aardbewings gehad, iets wat taamlik algemeen in Japan voorkom. Een van hulle het die groot kliplantern in die tuin van die sendinghuis laat omval. Gelukkig was daar op daardie tydstip niemand daar naby nie.

Daar was ook talle aangename ondervindinge. Tydens ons vier jaar in Kobe het ons die voorreg gehad om te help met die stigting van die Tarumi- Akasji-gemeente. Party van die persone met wie ons destyds die Bybel bestudeer het, dien nou as pioniers en aangestelde ouere manne in die gemeentes.

Ons volgende toewysing was Kioto, ’n stad met duisende heiligdomme en tempels. Hoewel die meeste mense hoofsaaklik belang gestel het in hulle kleurryke godsdiensfeeste, het ons gevind dat talle indiwidue bereid was om die Bybel saam met ons te bestudeer. Een van hulle was Sjozo Mima, ’n opregte Boeddhis. Hy het in sy hart geglo dat daar ’n Skepper moet wees en gesê: “Ek wil graag van die ware God leer.” Omdat hy talle vrae gehad het en altyd bereid was om die Bybel se antwoorde te aanvaar, het ek dit waarlik geniet om saam met hom te studeer. Hy was eerlank ’n ywerige pionier-Getuie en is aangestel om na die gemeente om te sien nadat die sendelinge Kioto verlaat het. Daar was destyds slegs 36 Koninkryksverkondigers, maar nou is daar 11 gemeentes en ses Koninkryksale in daardie stad.

Ek en Molly is verplaas na Koemamoto, op die eiland Kioesjioe. Dit was ’n streng feodale stad, en aanvanklik was dit moeilik om vooruitgang te maak met die verkondiging van die “goeie nuus”. Hana Mihara en Margaret Waterer (nou Pastor) het by ons aangesluit, en ons vier susters het geworstel met die voor- en teenspoed van ’n nuwe gemeente. Dit was ’n groot uitdaging. Maar nadat ons ses jaar gearbei het, kon ons ’n gemeente met 31 ywerige verkondigers agterlaat, en party van hulle is nou al jare lank in die pionierdiens. Daar is vandag drie gemeentes in Koemamoto.

Ons volgende toewysing was Tokio, waar ons die afgelope 15 jaar saam met die Tamagawa- en Setagaja-gemeente dien. Die meeste van die mense saam met wie ons studeer, kom uit Boeddhistiese gesinne, hoewel party kontak met die kerke van die Christendom gehad het. Kort nadat ons in Setagaja begin werk het, het ek Tosjiko Nakamoera ontmoet, wat al 20 jaar lank na ’n verduideliking van die profesieë in Openbaring en Mattheüs hoofstuk 24 gesoek het. Sy het 13 verskillende kerke besoek en verskeie predikante uitgevra. Maar hulle het vir haar gesê dat niemand sulke profesieë kon verduidelik nie. Een van hulle het gesê: “Nadat jy gesterf het, sal jy hierdie dinge verstaan.” Terwyl sy die Bybel bestudeer het, het sy vreugdevol vir haar seun gesê: “Uiteindelik het ek die waarheid gevind.” Omdat sy moeder hom vantevore na 13 verskillende kerke geneem het, was hy taamlik skepties, maar hy het ingestem om te studeer en vinnig gevorder. Hy is nou al agt jaar lank ’n gewone pionier en dien as ’n ouere man in die Setagaja-gemeente.

JEHOVAH STORT SEËNINGE UIT

Dit het ons baie vreugde verskaf om hier in Japan aan die dissipelmaakwerk deel te neem. Hoewel dit aanvanklik moeilik was, is ons bly dat ons volhard het. Ons het gesien hoedat die werk vorder van 12 verkondigers tot meer as 52 000, en ons het talle hartverblydende ondervindinge gehad. En soos enigiemand anders het ons gesondheidsprobleme en teleurstellings gehad. Maar ons het nooit daaraan gedink om op te hou voordat die werk gedaan is nie. Ons voel nou baie tuis by ons Japannese broers en susters. Trouens, wanneer ons byeenkomste oorsee bywoon, voel dit vir ons of ons die besoekers daar is.

Wanneer ek terugdink aan die jare wat so vinnig verbygevlieg het, kan ek waarlik sê dat Jehovah die vensters van die hemel oopgemaak en ’n oorvloedige seën uitgestort het (Mal. 3:10). Voltydse diens is ’n skat. Dit kan inderdaad gesê word van alle opregte bedrywigheid wat ons hemelse Vader tot lof strek. En as ons met die werk voortgaan totdat dit gedaan is, sal Jehovah beslis sy ryke seën byvoeg.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel