Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 8/1 bl. 9-12
  • Betoon lewensreddende naasteliefde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Betoon lewensreddende naasteliefde
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N WAARSKUWING WORD VANDAG UITGEBASUIN
  • DIE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK VAN HUIS TOT HUIS
  • ’N PROFETIESE PATROON
  • Die huis-tot-huis-bediening—Waarom nou belangrik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderrig in die openbaar en van huis tot huis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • “Maak ’n merk op die voorkoppe”
    Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel!
  • Die uitdaging van die huis-tot-huiswerk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 8/1 bl. 9-12

Betoon LEWENSREDDENDE NAASTELIEFDE

DIE jaar was 1559 van ons Gewone Jaartelling. Prins Willem van die Nederlande en koning Hendrik van Frankryk was in ’n jaggeselskap aan die buitewyke van Parys. Toe die twee manne heel toevallig van die res van die geselskap geskei geraak het, het koning Hendrik vryelik met die prins gesels oor ’n plan van koning Filips van Spanje om al die Protestante in die Nederlande en Frankryk dood te maak. Die teregstellers in die Nederlande sou die Spaanse troepe wees wat daar gestasioneer was.

Dit was skokkende nuus vir die Nederlandse prins, aangesien hy geen vermoede gehad het dat so ’n plan in die mou gevoer word nie.a Alhoewel hy as ’n Katoliek (met ’n Lutherse agtergrond) grootgemaak is, het hy innig jammer gevoel vir al daardie Protestante wat bestem was om vermoor te word. Hy het heel verstandig geen verbasing of enige ander emosie getoon toe hy van hierdie moorddadige plan te hore kom nie, en dit is waarom hy bekend staan as “Willem die Swyger”.

Voordat hy na die Nederlande teruggekeer het, het hy spesifieke bevele oor sy aandeel aan hierdie verskriklike komplot ontvang. Maar onmiddellik nadat hy na sy tuisland teruggekeer het, het hy die openbare gevoel dat die Spaanse troepe sy land moes verlaat, begin wek. Trouens, hy het sy bes gedoen om daardie bose plan in die wiele te ry—en dit alles het daartoe bygedra dat hy later “die Vader van sy land” genoem is.

Daar is ook vir Willem spesifieke name gegee van sekere “voortreflike persone wat vermoedelik aan die nuwe geloof behoort het”, met instruksies om te sorg dat hulle nie ontvlug nie. Maar in plaas daarvan om sulke instruksies uit te voer, het hy daardie “voortreflike persone” gewaarsku en hulle in staat gestel om weg te kom. Hy het, soos hy dit later gestel het, “dit belangriker geag om God te gehoorsaam as mense”. Deur dit te doen, het Willem waarlik lewensreddende naasteliefde betoon.b

’N WAARSKUWING WORD VANDAG UITGEBASUIN

Daar is vandag ’n groep mense, die Christengetuies van Jehovah, wat dieselfde beweegrede het. Hulle waarsku soveel mense moontlik teen ’n sekere ontsettende lot in die nabye toekoms. Maar die lot wat vandag op soveel mense wag, is nie die gevolg van godsdienstige onverdraagsaamheid aan die kant van manne wat verblind is nie. Dit is eerder omdat die regverdige God van hemel en aarde binnekort gaan optree teen almal wat sy naam smaad en die aarde verderf. Die vervulling van Bybelprofesie dui aan dat “die tyd” vinnig nader kom vir Jehovah God “om die verderwers van die aarde te verderf” (Openb. 11:18). Ja, die tyd vir die aanvang van die grootste verdrukking in die geskiedenis is ophande.—Matt. 24:21.

Weens die nabyheid van daardie ramp maak Jehovah se Getuies die engel se waarskuwing aan alle liefhebbers van waarheid en geregtigheid in die wêreldryk van valse godsdiens, “Babilon die Grote”, hul eie: “Gaan uit haar uit, . . . sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openb. 18:2, 4, vgl. NW). Dit is natuurlik nie genoeg vir hierdie opregte persone om hulself net van alle valse georganiseerde godsdiens af te skei nie. Hulle moet ook na God se koninkryk vlug. Die Getuies hou dus aan om “hierdie evangelie van die koninkryk” dwarsoor die wêreld te verkondig.—Matt. 24:14.

Dit is ook waarom Jehovah se Getuies al hulle kragte inspan om opregte waarheidsoekers te help om gehoorsaam te wees aan die bevel in die Bybelboek Sefanja: “Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE” (Sef. 2:3). Hierdie Getuies gehoorsaam aldus die afskeidsbevel van Jesus Christus aan sy volgelinge: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”—Matt. 28:19, 20.

DIE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK VAN HUIS TOT HUIS

Dit is weens die nabyheid van Jehovah se oordeelsdag dat die Getuies meen dat dit dringend is om liefhebbers van waarheid se aandag te vestig op God se koninkryk as hulle enigste redmiddel. Omdat die lewe so belangrik is, is dit beslis ’n blyk van liefde om mense op hierdie manier te help.

Verslae toon dat voorbeeldige Christelike gedrag party mense gehelp het om op die weg na die lewe te kom. Dit is soos een Russiese joernalis, wat ’n byeenkoms van die Getuies in Duitsland bygewoon het, dit gestel het: “Julle gedrag is julle beste preek.” Die Getuies het gevind dat die gebruik om op straathoeke te staan en Bybeltydskrifte vir verbygangers aan te bied ’n doeltreffende manier is om die “evangelie” te verkondig. Daarbenewens is die Getuies wakker om geleenthede te vind of te skep om die goeie nuus van God se koninkryk mee te deel aan mense wat hulle tydens hulle sekulêre werk teëkom of wanneer hulle reis, of om vir mense saam met wie hulle werk te preek. Die feite toon dat al sulke bedrywigheid ook goeie vrugte afwerp.

Maar dit is duidelik dat as Jehovah se volk hulle getuieniswerk tot hierdie bedrywighede beperk het, baie wat liefhebbers van waarheid en geregtigheid is en verdien om die waarskuwingsboodskap sowel as die Koninkryks-evangelie te hoor oor die hoof gesien sou word. Daarom preek die Getuies van huis tot huis. Trouens, hulle doen hierdie vorm van predikingswerk so naarstiglik dat dit as ’t ware ’n kenmerk van die Getuies geword het. In ’n sekere TV-program het ’n lid van ’n gesin byvoorbeeld die volgende gesê nadat iemand aan die deur geklop het: “Seker weer een van Jehovah se Getuies.”

’n Ruk gelede is hierdie bedrywigheid van die Getuies in ’n sekere land in Sentraal-Amerika verbied. Toe die Getuies geappelleer het, het die regeringsamptenaar wat die appèl behartig het, gesê: “Ander kerke gaan nie soos julle Getuies van huis tot huis nie. Is hierdie werk deel van julle aanbidding?” Hy is meegedeel dat dit nie alleen ’n deel van hulle aanbidding is nie, maar een van die belangrikste dele van hulle aanbidding. Die gevolg was dat die verbod opgehef is.

Die Getuies het goeie, Skriftuurlike presedente vir hulle huis-tot-huiswerk. Toe Jesus sy dissipels uitgestuur het, het hy hulle beveel om met hulle boodskap na die huise van die mense te gaan (Matt. 10:7, 12, 13, 42; Luk. 10:5, 6). Daarbenewens het die apostel Paulus vir die ouere manne van die gemeente in Efese gesê: “Julle weet hoe ek, van die eerste dag af dat ek in Asië aangekom het, die hele tyd by julle gewees het en . . . hoe ek niks agtergehou het van wat nuttig is nie, om dit aan julle te verkondig en julle te onderrig in die openbaar en in julle huise, terwyl ek kragtig by die Jode sowel as die Grieke aangedring het op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus.”—Hand. 20:18-21.

Ja, Paulus het van ‘huis tot huis’ gepreek. Hoewel Paulus ongetwyfeld diegene besoek het wat reeds Christene was om hulle te versterk en te bemoedig, kan ons glad nie Paulus se woorde hier tot sulke herderlike bedrywigheid beperk nie. Waarom nie? Omdat Paulus gesê het dat hy by Jode sowel as Grieke aangedring het “op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus”. Dit toon duidelik dat hierdie mense nog nie Christene was nie. En dit blyk uit sy verdere verklaring dat hy dit as ’n lewensreddende werk beskou het, want hy het gesê dat hy, as gevolg van sy predikingswerk, “rein is van die bloed van almal”.—Hand. 20:25-27.

’N PROFETIESE PATROON

Die voorafgaande word bevestig deur die profesie in Esegiël hoofstuk 9, wat die hedendaagse huis-tot-huiswerk van Jehovah se Getuies afgeskadu het. Dit vertel van ’n gesig wat die profeet Esegiël sowat 2 500 jaar gelede gehad het.

In die vorige hoofstuk vertel die profeet van ’n gesig wat aan hom gegee is van die verskillende afgoderye en afvalligheid wat deur die Jode by hulle tempel in Jerusalem bedryf is. In Eze hoofstuk 9 beskryf Esegiël dan ’n gesig van ses manne wat met vernietigingswapens toegerus is en ’n sewende man wat nie in wapenrusting geklee is nie, maar in linne met ’n skrywer se inkpot aan sy heupe. Hierdie man is aangesê om deur die stad Jerusalem te trek en “’n teken [te maak] op die voorhoofde van die manne wat sug en steun oor al die gruwels wat daarin gedoen word” Eze 9 (Vers 4). Die ses manne met vernietigingswapens is beveel om agter hom aan te trek en almal om die lewe te bring wat nie die teken gehad het nie, ja, almal wat nie gesug en gesteun het oor al die goddeloosheid wat in die stad gedoen is nie.

Hoe sou hierdie man wat met linne bekleed was almal wat sug en steun, vind? Die Wagtoring van 1 April 1972 het verduidelik: “Nie deur maar net na die openbare plein of na die markplein toe te gaan nie, maar na die huise van die mense, deur van huis tot huis te gaan. Aldus sou hy kon hoor hoe hulle in hulle hart oor sake voel en besluit of die teken aan hulle voorhoof gemaak moet word of nie. Dit was hoegenaamd nie ’n vinnige werk nie, maar dit het geverg dat hy geduldig en pligsgetrou van huis tot huis of van deur tot deur moet gaan en ’n eerlike inspeksie doen, geen partydigheid betoon nie maar net aan diegene ’n teken maak wat opreg bedroef was oor al die gruwels wat ander binne die koninklike stad bedrywe het. . . . hy het die onderskeidende teken op hulle voorhoofde gemaak waar dit in die openbaar deur vriend of vyand gesien kan word.”

Net soos die man wat met linne bekleed was huisbesoek moes doen om sy plig na te kom om ’n teken te maak aan die voorhoofde van diegene wat verdien het om gespaar te word, moet Jehovah se Getuies vandag huisbesoek doen om almal te vind wat waarheid en geregtigheid liefhet en hulle die geleentheid te bied om na God se koninkryk te vlug.

Wat kom vandag ooreen met die teken wat die man wat met linne bekleed was, gemaak het op die voorhoofde van diegene wat verdien het om gespaar te word? Die verkryging van die teken op die voorhoof beeld skynbaar die aankweek van ’n Christelike persoonlikheid af. Slegs deur so ’n persoonlikheid te besit, sal iemand verdien om tydens die komende “groot verdrukking” deur Jehovah se skerpregters gespaar te word (Matt. 24:21). ’n Christelike persoonlikheid is iets wat almal kan sien, net soos ’n teken op die voorhoof deur almal gesien kan word. Die Skrif spoor ons herhaaldelik aan om so ’n Christelike persoonlikheid aan te kweek. Dit verg natuurlik baie tyd, krag en geld om ’n persoon so ’n teken op die voorhoof te gee, maar Jehovah se Getuies maak met graagte sulke opofferings. Dit is nog ’n manier waarop hulle lewensreddende naasteliefde betoon.—Ef. 4:20-24; Kol. 3:9-11.

Ja, al is die eerste stap om van huis tot huis te gaan om liefhebbers van waarheid en geregtigheid wat oor die goddelose toestande sug en steun te vind uiters belangrik, is dit maar net die eerste stap. As die kneg van Jehovah lewensreddende naasteliefde wil betoon, moet hy dit opvolg deur herbesoeke te doen en Bybelstudies te hou. Sulke Bybelstudente moet ook leer hoe om te bid, hulle moet met die Christengemeente omgaan en moet Bybelbeginsels in hulle lewens toepas. Dan moet hulle op hulle beurt vir ander vertel wat hulle leer. Al hierdie dinge moet daartoe lei dat hulle hulself aan Jehovah God toewy om sy wil te doen en dat hulle hulle laat doop. Daar moet net bygevoeg word dat so ’n weg onontbeerlik is om die “teken” te ontvang, om ’n mens met die Christelike persoonlikheid te beklee. En deur hierdie werk te doen, betoon die Getuies van Jehovah waarlik lewensreddende naasteliefde.

[Voetnote]

a Die toevallige ontdekking van hierdie komplot deur Willem was waarskynlik ‘n bestiering, want wie weet watter uitwerking dit op die geskiedenis van Europa en die vordering tot godsdiensvryheid kon gehad het as die komplot met welslae deurgevoer is.

b Rise of the Dutch Republic, Dl. 1, ble. 239, 240.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel