God se Woord is lewend
Vierings om verlossing te herdenk
WATTER wonderlike verlossing was dit tog! Die nasie Israel was slawe in Egipte, en Farao het geweier om hulle vry te laat. Jehovah het die Israeliete toe beveel om ’n lam dood te maak en die bloed daarvan aan die deurposte en die bo-drumpels van hulle huise te stryk, soos jy kan sien. Daardie selfde nag het die engel van Jehovah die huise met die bloed aan hulle deurposte oorgeslaan, maar die eersgebore seuns in die huise van al die Egiptenaars doodgemaak. Toe het Farao die Israeliete laat trek.
Was daardie bevryding van die Israeliete waarlik ’n volkome verlossing? Wel, hulle eersgeborenes het gelewe; hulle is uit slawerny in Egipte verlos en eindelik gebring na “’n land wat oorloop van melk en heuning” (Exodus 13:5). Maar die mense het steeds siek geword; hulle het oud geword en gesterf. Hulle is nie van sonde en sy nadraai, die dood, verlos nie.
Later het Jesus Christus op die aarde verskyn. Eendag het Johannes, wat Jesus gedoop het, na hom gewys en gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29). Net soos die bloed van die Pasgalam verlossing vir die Israelitiese eersgeborenes beteken het, kan Christus se vergote bloed verlos. Dit kan ’n beter, vollediger verlossing bewerk. Diegene met geloof in Christus se offerande se sondes sal verwyder word (Johannes 3:16, 36). Hulle sal vir ewig kan lewe sonder om oud te word, siek te word of dood te gaan.—Openbaring 21:4.
Jesus het ’n spesiale maal ingestel om hierdie wonderlike verlossing te herdenk, met spesiale klem op die betekenis wat dit het vir diegene wat opgewek gaan word om die hemelse koninkryk saam met hom te beërf. Die aand voordat hy aan die paal genael is, het Jesus brood aan sy getroue apostels gegee en gesê: “Neem, eet, dit is my liggaam.” Toe het hy vir hulle ’n beker wyn gegee en gesê: “Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.” Jesus het ook gesê: “Doen dit tot my gedagtenis.”—Mattheüs 26:26-28; Lukas 22:19, 20.
Dit sou gevolglik ’n jaarlikse viering wees om Jesus se dood te herdenk. By hierdie spesiale geleentheid word die betekenis van Christus se dood, nie alleen vir die Koninkrykserfgename nie, maar ook vir alle gelowiges, hersien en by die verstand en hart ingeskerp. Jehovah se Getuies nooi jou om hierdie herdenking van Christus se dood vanjaar op 8 April saam met hulle te vier. Woon dit by in die naaste Koninkryksaal. Vind by die plaaslike Getuies uit presies hoe laat die verrigtinge begin.