Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 4/1 bl. 9-13
  • Skep moed terwyl verlossing nader kom

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Skep moed terwyl verlossing nader kom
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’
  • Geen verlossing deur mense
  • Verlossing naby—Vir wie?
  • Die hoofverlosser
  • Verlossings in die verlede
  • Voorbereiding vir verlossing tot in ’n nuwe wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Verlossing deur God se Koninkryk is op hande!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderwerp vir gesprekke
    Ons Koninkryksbediening—1991
  • Waardeer jy wat Jehovah gedoen het om jou te verlos?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 4/1 bl. 9-13

Skep moed terwyl verlossing nader kom

“Ek is met jou, spreek die HERE, om jou uit te red.”—JEREMIA 1:19.

1, 2. Waarom het die mensdom verlossing nodig?

VERLOSSING! Wat ’n vertroostende woord tog! Om verlos te word, beteken om gered te word, om van ’n slegte, ongelukkige situasie bevry te word. Dit sluit die gedagte in om in ’n baie beter, gelukkiger toestand gebring te word.

2 Hoe groot is die mensdom se behoefte tog nou aan hierdie soort verlossing! Oral word mense deur moeilike probleme belas en ontmoedig—ekonomiese, maatskaplike, liggaamlike, verstandelike en emosionele probleme. Die oorgrote meerderheid is ontevrede en teleurgesteld met wêreldgebeure en sou graag ’n verandering ten goede wou hê.—Jesaja 60:2; Matteus 9:36.

‘Kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’

3, 4. Waarom is daar nou ’n groter behoefte aan verlossing?

3 Aangesien hierdie 20ste eeu groter lyding as enige ander eeu ervaar het, is daar nou ’n groter behoefte aan verlossing as ooit tevore. Vandag lewe baie meer as ’n miljard mense in volslae armoede, en daardie syfer styg jaarliks met sowat 25 miljoen. Elke jaar sterf daar ongeveer 13 miljoen kinders aan wanvoeding of ander armoedeverwante oorsake—meer as 35 000 per dag! En miljoene ouer mense sterf ’n ontydige dood as gevolg van verskillende siektes.—Lukas 21:11; Openbaring 6:8.

4 Oorloë en burgeronluste het eindelose lyding veroorsaak. Die boek Death by Government sê dat oorloë, etniese en godsdienskonflikte sowel as massamoord wat regerings op hulle eie burgers gepleeg het “in hierdie eeu meer as 203 miljoen mense se lewens geëis” het. Dit sê verder: “Die dodetal is heel moontlik byna 360 miljoen. Dit is asof ons spesie deur ’n hedendaagse Swart Dood geteister is. En dit is in werklikheid wat gebeur het, maar die verwoesting is nie deur kieme veroorsaak nie, maar deur Mag.” Die skrywer Richard Harwood het opgemerk: “Die barbaarse oorloë van vorige eeue was straatgevegte in vergelyking hiermee.”—Matteus 24:6, 7; Openbaring 6:4.

5, 6. Wat maak ons tyd so angswekkend?

5 Ander dinge wat bydra tot die angswekkende toestande in onlangse jare is die groot toename in geweldsmisdade, onsedelikheid en gesinsverbrokkeling. Die voormalige Amerikaanse Minister van Opvoeding William Bennett het gesê dat die Amerikaanse bevolking in 30 jaar met 41 persent toegeneem het, maar geweldsmisdade het met 560 persent toegeneem, buite-egtelike geboortes met 400 persent, egskeidings met 300 persent en die tienerselfmoordsyfer met 200 persent. Professor John DiIulio jr. aan die Princeton-universiteit, het gewaarsku teen die toenemende aantal jong “supermisdadigers” wat “moor, aanrand, verkrag, beroof, inbreek en ernstige versteurings in die gemeenskap veroorsaak. Hulle vrees nie die stigma van inhegtenisname, die ellendes van opsluiting of gewetenswroeging nie.” In daardie land is moord nou die tweedegrootste doodsoorsaak onder 15- tot 19-jariges. En meer kinders jonger as vier sterf weens mishandeling as aan siekte.

6 Sulke misdaad en geweld is nie tot een nasie beperk nie. Volgens berig is daar soortgelyke tendense in die meeste lande. Wat hiertoe bydra, is die golf van onwettige dwelmmisbruik wat miljoene verderf. Australië se Sydney Morning Herald het gesê: “Internasionale dwelmhandel het naas die wapenhandel die wêreld se winsgewendste bedryf geword.” Nog ’n faktor is die geweld en onsedelikheid waarvan die televisie nou deurtrek is. In baie lande het ’n kind, teen die tyd dat hy 18 is, tienduisende dade van geweld en tallose onsedelike tonele op TV gesien. Dit is ’n groot verderflike invloed, aangesien ons persoonlikheid gevorm word deur die dinge waarmee ons ons verstand gereeld voed.—Romeine 12:2; Efesiërs 5:3, 4.

7. Hoe het Bybelprofesieë die huidige slegte toestande voorspel?

7 Bybelprofesieë het akkuraat voorspel dat gebeure in ons eeu so ’n aaklige wending sou neem. Dit het gesê dat daar wêreldomvattende oorloë, siekte-epidemies, voedseltekorte en toenemende wetteloosheid sou wees (Matteus 24:7-12; Lukas 21:10, 11). En wanneer ons aan die profesie in 2 Timoteus 3:1-5 dink, is dit soos om na daaglikse nuusberigte te luister. Dit identifiseer ons tyd as “die laaste dae” en beskryf mense as ‘liefhebbers van hulleself, liefhebbers van geld, ongehoorsaam aan ouers, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, sonder selfbeheersing, wreedaardig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God’. Dit is presies hoe die wêreld vandag is. Soos William Bennett erken het: “Daar is net te veel tekens dat . . . die beskawing verdorwe geraak het.” Daar is al selfs gesê dat die beskawing met die Eerste Wêreldoorlog geëindig het.

8. Waarom het God die Vloed in Noag se dag gebring, en hoe hou dit met ons dag verband?

8 Die situasie is nou selfs erger as voor die Vloed in Noag se dag, toe ‘die aarde vol geweld was’. Destyds het die mense oor die algemeen geweier om berou te toon oor hulle slegte weë. Daarom het God gesê: “Die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle . . . verdelg.” Die Vloed het ’n einde gemaak aan daardie gewelddadige wêreld.—Genesis 6:11, 13; 7:17-24.

Geen verlossing deur mense

9, 10. Waarom moet ons nie op mense vertrou om verlossing te voorsien nie?

9 Kan mensepogings ons van hierdie slegte toestande verlos? God se Woord antwoord hierop: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.” ‘Dit behoort nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie’ (Psalm 146:3; Jeremia 10:23). Duisende jare van geskiedenis het hierdie waarhede bevestig. Mense het elke denkbare politieke, ekonomiese en maatskaplike stelsel beproef, maar toestande versleg. As daar ’n menslike oplossing was, sou dit nou al duidelik gewees het. Die werklikheid is eerder dat ‘die een mens oor die ander geheers het tot sy ongeluk’.—Prediker 8:9; Spreuke 29:2; Jeremia 17:5, 6.

10 ’n Paar jaar gelede het die voormalige Amerikaanse nasionale veiligheidsraadgewer Zbigniew Brzezinski gesê: “Die onvermydelike gevolgtrekking van enige objektiewe ontleding van wêreldneigings is dat maatskaplike beroering, politieke onrus, ekonomiese krisisse en internasionale wrywing waarskynlik algemener sal word.” Hy het bygevoeg: “Die mensdom word deur wêreldwye anargie bedreig.” Daardie opsomming van wêreldtoestande is vandag selfs geldiger. ’n Hoofartikel in die Register van New Haven, Connecticut, het op hierdie tydperk van toenemende geweld kommentaar gelewer en gesê: “Dit lyk of ons al té ver gegaan het om dit stop te sit.” Nee, niemand sal hierdie wêreld se agteruitgang stopsit nie, want die profesie aangaande hierdie “laaste dae” sê ook: “Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, terwyl hulle mislei en mislei word.”—2 Timoteus 3:13.

11. Waarom sal mensepogings nie ’n ommekeer in verslegtende toestande teweegbring nie?

11 Mense kan nie ’n ommekeer in hierdie tendense teweegbring nie, want Satan is “die god van hierdie stelsel van dinge” (2 Korintiërs 4:4). Ja, “die hele wêreld lê in die mag van die bose”. (1 Johannes 5:19; sien ook Johannes 14:30.) Die Bybel sê tereg oor ons dag: “Wee die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydperk het” (Openbaring 12:12). Satan weet dat sy heerskappy en sy wêreld binnekort gaan eindig, daarom is hy soos “’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind”.—1 Petrus 5:8.

Verlossing naby—Vir wie?

12. Vir wie kom verlossing nader?

12 Die feit dat toestande op aarde al hoe moeiliker word, is ’n duidelike bewys dat ’n omvattende verandering—trouens, ’n groot verlossing—op hande is! Vir wie? Verlossing kom nader vir diegene wat op die waarskuwingstekens ag gee en wat gepaste stappe doen. Eerste Johannes 2:17 toon wat gedoen moet word: “Die wêreld [Satan se stelsel van dinge] gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—Sien ook 2 Petrus 3:10-13.

13, 14. Hoe het Jesus die belangrikheid daarvan beklemtoon dat ons wakker moet bly?

13 Jesus het voorspel dat die verdorwe samelewing van vandag binnekort uitgewis gaan word in ’n tyd van benoudheid “soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matteus 24:21). Dit is waarom hy gewaarsku het: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie. Want dit sal oor almal kom wat op die oppervlak van die hele aarde woon. Bly dus wakker en doen te alle tye smeekbedes dat julle daarin sal slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur.”—Lukas 21:34-36.

14 Diegene wat ‘oplet’ en ‘wakker bly’, sal uitvind wat die wil van God is en dit doen (Spreuke 2:1-5; Romeine 12:2). Dit is hulle wat “daarin sal slaag om te ontkom” aan die vernietiging wat binnekort oor Satan se stelsel gebring sal word. En hulle kan heeltemal seker wees dat hulle verlos sal word.—Psalm 34:16; Spreuke 10:28-30.

Die hoofverlosser

15, 16. Wie is die Hoofverlosser, en waarom is ons seker dat sy oordele regverdig sal wees?

15 Voordat God se knegte verlos kan word, moet Satan en sy hele wêreldwye stelsel van dinge uit die weg geruim word. Dit vereis ’n bron van verlossing wat baie kragtiger as mense is. Daardie bron is Jehovah God, die Allerhoogste Soewerein, die almagtige Skepper van die ontsagwekkende heelal. Hy is die Hoofverlosser: “Ek, Ek is [Jehovah, NW], en daar is geen Heiland buiten My nie.”—Jesaja 43:11; Spreuke 18:10.

16 Jehovah besit ongeëwenaarde krag, wysheid, geregtigheid en liefde (Psalm 147:5; Spreuke 2:6; Jesaja 61:8; 1 Johannes 4:8). Wanneer hy dus sy oordele voltrek, kan ons seker wees dat sy optrede regverdig sal wees. Abraham het gevra: “Sal die Regter van die ganse aarde geen reg doen nie?” (Genesis 18:24-33). Paulus het gesê: “Is daar onregverdigheid by God? Mag dit nooit die geval word nie!” (Romeine 9:14). Johannes het geskryf: “Ja, Jehovah God, die Almagtige, waaragtig en regverdig is u regterlike beslissings.”—Openbaring 16:7.

17. Hoe het Jehovah se knegte in die verlede vertroue in sy beloftes uitgespreek?

17 Wanneer Jehovah verlossing belowe, sal hy dit beslis volbring. Josua het gesê: “Geen woord van al die goeie woorde wat die HERE . . . gespreek het, het onvervuld gebly nie” (Josua 21:45). Salomo het gesê: “Geen enkele woord het onvervuld gebly van al die goeie woorde wat Hy . . . gespreek het nie” (1 Konings 8:56). Die apostel Paulus het opgemerk dat Abraham ‘nie in ongeloof gewankel het nie, omdat hy heeltemal daarvan oortuig was dat God ook kon doen wat hy beloof het’. Sara het eweneens God “wat beloof het getrou geag”.—Romeine 4:20, 21; Hebreërs 11:11.

18. Waarom kan Jehovah se hedendaagse knegte seker wees dat hulle verlos sal word?

18 Anders as mense is Jehovah volkome betroubaar, getrou aan sy woord. “Die HERE van die leërskare het gesweer en gesê: Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand” (Jesaja 14:24). Wanneer die Bybel dus sê dat “Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos, maar om onregverdige mense te bewaar vir die dag van die oordeel om afgesny te word”, kan ons heeltemal seker wees dat dit sal gebeur (2 Petrus 2:9). Selfs wanneer magtige vyande dreig om Jehovah se knegte te vernietig, skep hulle moed vanweë sy gesindheid, wat in sy belofte aan een van sy profete weerspieël word: “Hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie; want Ek is met jou, spreek die HERE, om jou uit te red.”—Jeremia 1:19; Psalm 33:18, 19; Titus 1:2.

Verlossings in die verlede

19. Hoe het Jehovah Lot verlos, en hoe stem dit met ons tyd ooreen?

19 Ons kan grootliks bemoedig word as ons sommige van Jehovah se reddingsdade van die verlede hersien. Lot was byvoorbeeld ‘grootliks gekwel’ deur die goddeloosheid van Sodom en Gomorra. Maar Jehovah het kennis geneem van die “klaaggeroep” teen daardie stede. Op die regte tyd het hy boodskappers gestuur om Lot en sy gesin dringend aan te spoor om daardie gebied onmiddellik te verlaat. Die gevolg? Jehovah het “die regverdige Lot verlos” en ‘die stede Sodom en Gomorra tot as verbrand’ (2 Petrus 2:6-8; Genesis 18:20, 21, vgl. NW). Jehovah neem ook vandag kennis van die klaaggeroep oor hierdie wêreld se verskriklike goddeloosheid. Wanneer sy hedendaagse boodskappers hulle dringende getuieniswerk voltooi het tot die mate wat hy dit gedoen wil hê, sal hy teen hierdie wêreld optree en sy knegte verlos soos hy met Lot gedoen het.—Matteus 24:14.

20. Beskryf hoe Jehovah eertydse Israel uit Egipte verlos het.

20 Miljoene van God se volk was slawe in eertydse Egipte. Jehovah het oor hulle gesê: “Ek het hulle jammerklagte . . . gehoor, ja, Ek ken hulle smarte. Daarom het Ek neergedaal om hulle . . . te verlos” (Exodus 3:7, 8). Maar nadat Farao God se volk laat gaan het, het hy van gedagte verander en hulle met sy magtige leër agternagesit. Dit het gelyk asof die Israeliete by die Rooi See vasgekeer is. Tog het Moses gesê: “Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk” (Exodus 14:8-14). Jehovah het die Rooi See verdeel, en die Israeliete het ontsnap. Farao se leër het agter hulle aan gestorm, maar Jehovah het sy krag gebruik sodat ‘die see hulle oordek het; soos lood het hulle gesink in die geweldige waters’. Daarna het Moses in ’n lied tot Jehovah gejuig: “Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?”—Exodus 15:4-12, 19.

21. Hoe is Jehovah se volk van Ammon, Moab en Seïr gered?

21 By ’n ander geleentheid het die vyandige nasies Ammon, Moab en Seïr (Edom) Jehovah se volk met vernietiging gedreig. Jehovah het gesê: “Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot [vyandige] menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God. . . . Julle hoef daarby nie te veg nie . . . Bly staan en aanskou die redding van die HERE by julle.” Jehovah het sy volk verlos deur verwarring onder die vyand te saai sodat hulle mekaar doodgemaak het.—2 Kronieke 20:15-23.

22. Hoe het Jehovah Israel wonderbaarlik van Assirië verlos?

22 Toe die Assiriese Wêreldmoondheid teen Jerusalem opgetrek het, het koning Sanherib Jehovah uitgetart deur vir die mense op die muur te sê: “Wie is daar onder al die gode van hierdie lande [wat ek verower het] wat hulle land gered het uit my hand, dat die HERE Jerusalem uit my hand sou red?” Vir God se knegte het hy gesê: “Hiskia moet julle nie op die HERE laat vertrou nie deur te sê: Die HERE sal ons sekerlik red.” Toe het Hiskia vurig om verlossing gebid “sodat al die koninkryke van die aarde mag weet dat u, o Jehovah, alleen God is” (NW). Jehovah het 185 000 Assiriese soldate neergevel, en God se knegte is verlos. Later, terwyl Sanherib sy valse god aanbid het, het sy seuns hom vermoor.—Jesaja, hoofstukke 36 en 37.

23. Watter vrae moet beantwoord word met betrekking tot verlossing in ons dag?

23 Ons kan beslis moed skep wanneer ons sien hoe Jehovah sy volk in die verlede op wonderlike wyse verlos het. Wat van vandag? In watter gevaarlike situasie sal sy getroue knegte hulle binnekort bevind wat sy wonderbaarlike verlossing sal vereis? Waarom het hy tot nou toe gewag om hulle te verlos? Watter vervulling sal daar van Jesus se volgende woorde wees: “Wanneer hierdie dinge begin gebeur, rig julle dan op en hef julle hoofde op, want julle verlossing kom nader”? (Lukas 21:28). En hoe sal God se knegte wat reeds gesterf het, verlos word? Die volgende artikel sal hierdie vrae ondersoek.

Hersieningsvrae

◻ Waarom is daar ’n groot behoefte aan verlossing?

◻ Waarom moet ons nie op mense vertrou om ons te verlos nie?

◻ Vir wie is verlossing naby?

◻ Waarom kan ons op Jehovah se verlossing vertrou?

◻ Watter voorbeelde van verlossings in die verlede is bemoedigend?

[Prent op bladsy 10]

Abraham was onder diegene wat ten volle op Jehovah vertrou het

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel