Liefhebbers van God neem hulle voor . . .
Hierdie Resolusie is verlede jaar geesdriftig deur honderdduisende by die “Goddelike Liefde”-streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies aangeneem.
1. Watter waarskuwing laat Jehovah se Getuies hoor, en waarom?
Meer as 100 jaar lank maak Jehovah God dit al deur sy getuies bekend dat hierdie wêreld of stelsel van dinge nie kan voortduur nie. Omdat ons besorg is oor ons naaste, ongeag watter nasie, stam, volk of taal hulle is, word ons deur goddelike liefde aangespoor om indiwidue se aandag te vestig op God se weg as die enigste oplossing vir die mensdom se probleme.
2. Watter dinge het skeefgeloop in die wêreld?
2 Wat sien ons, noudat ons die tagtigerjare binnegegaan het, is die gevolge omdat indiwidue en nasies God se weg ignoreer of trotseer en hulle eie weg van selfbewind en onafhanklikheid bewandel? Verantwoordelike persone oral spreek groot besorgdheid uit oor die wêreld se rigtingloosheid en verwarde toedrag van sake. En geen wonder nie—soveel dinge loop skeef. Op die gebiede van vervoer, kommunikasie, die geneeskunde, die wetenskap en tegnologie was baie dinge wat eens as ’n hoop of seën begroet is, alte dikwels teleurstellend en selfs dodelik. Die samelewing word vandag deur eindelose probleme oorweldig—misdadigheid, verdorwenheid, bose perversiteite, maatskaplike onrus, terrorisme en ander dreigende gevare. Die mensdom se huidige wêreldtoneel is voorwaar onrusbarend. Uit ’n blote menslike standpunt word die voortbestaan van die huidige wêreldorde nou ernstig bevraagteken. Maar hoeveel mense beskou vandag die betekenis van hierdie ongeëwenaarde toestande op ’n nugtere wyse in die lig van God se Woord, die Bybel?
3. Watter Bybelprofesieë se vervulling oortuig Jehovah se Getuies daarvan dat die einde van hierdie stelsel ophande is? Wat sê hierdie profesieë?
3 Jesus Christus het ’n gedetailleerde, samegestelde teken gegee vir die voleinding van hierdie stelsel van dinge en die tyd wanneer hy sy Koninkryksmag oor die mensdom sou begin uitoefen. Sy profetiese kommentaar oor ons tyd is opgeteken in die verslag in Mattheüs hoofstukke 24 en 25, Lukas hoofstuk 21 en Markus hoofstuk 13. Geïnspireerde beskrywings van hierdie laaste dae wat met sy groot profesie strook, word gevind in 2 Timotheüs 3:1-5, Openbaring hoofstuk 6 en verwante profetiese gedeeltes in die Hebreeuse en Christelike Griekse Skrifte. Ywerige Bybelstudente onder ons het die vervulling van die meeste van hierdie profesieë gedurende hierdie eeu gesien.
4. Watter onomstootlike getuienis is daar ‘dat die hele skepping nou in barensnood is’?
4 In elke stand en op elke vlak van die samelewing is daar onomstootlike getuienis “dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe” (Rom. 8:22). Ons sien indiwidue wat geteister word deur ’n magdom fisiese, geestelike en emosionele kwale en ineenstortings ondanks mediese uitvindsels wat algemeen toegejuig is. Huweliksbande verbrokkel. In baie lande is die aantal geregtelike skeidings en egskeidings gelyk aan of groter as die aantal huwelike. Gesinslewe is wanordelik en dit laat baie wonder of hierdie basiese eenheid van die samelewing veel langer kan voortbestaan. Stede gaan gebuk onder ondraaglike finansiële laste en staar ineenstorting in die gesig. Nasies verkeer in benoudheid, want hulle word van binne deur verdelende faksies geskeur en van buite deur onvriendelike en aggressiewe bure bedreig. Die wêreld oor die algemeen worstel met ekonomiese en finansiële krisisse, energietekorte, besoedeling, gesondheidsgevare, oorbevolking en verhongering in baie plekke. Bo-oor al hierdie dinge hang die donker wolk van ’n bewapeningswedloop wat dreig om matelose ellende en kernvernietiging op die mensdom te ontketen. Mense se harte beswyk waarlik van vrees vir die dinge wat hulle oor die wêreld sien kom.
5. (a) Wat doen die meeste mense te midde van sulke wanorde? (b) Wat moet mense doen om die naderende groot verdrukking te oorleef, en watter voorbeelde van oorlewing is daar?
5 Te midde van sulke wanorde bly party onverskillig terwyl ander saamdryf met die verderflike stroom en gees van wat op daardie betrokke tydstip gewild is. Dan is daar ook diegene wat vyande van God is en daadwerklik ’n standpunt inneem teen sy regverdige beginsels en universele soewereiniteit. Die wêreld maai nou wat dit gesaai het—bedorwe vrugte. God se tyd kom nader vir die wêreld se skielike en gewelddadige vernietiging. Regverdiggesinde persone wat bewus is van die gevaar wat die mensdom se selfsugtige, materialistiese, genotsieke en agtelose weg inhou, word aangespoor om ag te slaan op die goddelike waarskuwing voordat dit te laat is. Deur dit te doen sal hulle moontlik, ooreenkomstig God se handelinge van die verlede, onder diegene wees wat die vooruitsig het om die naderende groot verdrukking te oorlewe. Drie-en-veertig eeue gelede het God Noag en sy gesin van ’n globale vloed gered. Eeue later het Hy Lot en sy twee dogters gered toe Sodom en Gomorra vernietig is. Dit bied ’n patroon van hoe God sal handel met diegene wat in geloof optree en gunstig reageer op die ewige goeie nuus wat dwarsdeur hierdie eeu verkondig is.
6. (a) Waarom was daar soveel wêreldweë sedert 1914? (Openb. 12:7-12). (b) Wat sal tydens die “groot verdrukking” met valse godsdiens en daarna met wêreldlike nasies gebeur? (Openb. 18:9, 10, 21-24; 19:11-16).
6 Hedendaagse geskiedkundiges besef dat 1914 ’n keerpunt was. Sedert daardie betekenisvolle jaar lewe die mensdom in ’n onstuimige tydperk van ontsaglike veranderinge. Wat baie nie besef nie, is dat Bybelprofesie toon dat dit ’n tydperk van weë vir die mensdom is, “want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openb. 12:7-12). ’n Dag van afrekening kom vinnig nader. Dit sal oor hierdie geslag losbars in wat Jesus as die “groot verdrukking” beskryf het, ’n verdrukking waartydens God se oordeel voltrek sal word aan Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, waarvan die valse Christendom die vernaamste deel is. Daarna sal al die nasies wat teen God se koninkryk, sy inkomende wêreldregering, gekant is, deelneem aan die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God wat in die Bybel Armageddon genoem word, waar hulle ’n ewige neerlaag sal ly.—Openb. 16:14-16.
7. (a) Wat sal na Armageddon met die Duiwel en sy geesmagte gebeur? (Openb. 20:1-3). (b) Watter toekoms sal die mensdom dan geniet, soos aangetoon word deur Bybelprofesieë? (Openb. 21:3, 4; Ps. 37:9-11, 29; Jes. 11:6-9; 33:24; 65:21-24).
7 Eindelik sal die Duiwel en sy bose geesmagte in die simboliese afgrond van onaktiwiteit gewerp word, en so sal die weg gebaan word vir die ongehinderde, aardwye bewind van God se koninkryk van ’n duisend jaar (Openb. 20:1-3; 21:3, 4). Hoe dankbaar is ons tog dat ons te wete gekom het hoe God goddeloosheid van die aarde af gaan uitwis! Sien ons nie vol afwagting uit na sulke ingryping deur God nie? Ja, en vreugdevol begroet ons die goewermentele nuwe hemele en ’n gereinigde nuwe aardse gemeenskap wat hy beloof het!—2 Pet. 3:13.
DERHALWE NEEM ONS ONS VOOR OM
8. Watter weg het ons ons voorgeneem om as lojale onderdane van God se koninkryk in navolging van Jesus Christus te bewandel? (Mark. 1:38; Luk. 4:43; Joh. 6:15; 15:19; 17:16; 18:36).
8 As Jehovah se Getuies ons pogings te verskerp om die goeie nuus van die Koninkryk ywerig te verkondig asook om God se oordeelsboodskap binne die Godgegewe tyd moedig bekend te maak. Ons sal voortgaan om ons heelhartige trou aan God se koninkryk te gee en ons daarop toelê om lojale onderdane daarvan te wees. Ons is vasbeslote om dit te doen deur die getroue weg van Jesus Christus te bewandel en afgeskeie van die wêreld te bly, nie daarin verwikkeld te raak nie, nie by sy geskille betrokke te raak nie en geen kompromis aan te gaan nie. Al maak dit ons ongewild en haal dit ons die wêreld se haat op die hals, is ons vasbeslote om ons te laat lei deur die Skriftuurlike beginsel dat enigeen wat ’n vriend van die wêreld is, homself ’n vyand van God maak.—Jak. 4:4.
9. (a) Watter Skriftuurlike waarskuwing het ons ons voorgeneem om steeds te laat hoor? (b) Wat behels die nalewing van ons besluit om die vrugte van die Koninkryk en die vrug van God se gees te dra? (Mark. 13:10; Joh. 13:34, 35; Gal. 5:22; Kol. 3:12-14).
9 Omdat ons self uit Babilon die Grote gekom het, sal ons aanhou om die Skriftuurlike waarskuwing te laat hoor: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openb. 18:4). In die gees van selfopoffering is ons vasbeslote om voort te gaan om die menigtes te help wat dalk nog hulle standpunt aan die kant van die waarheid sal inneem voordat goddelike oordeel die wêreldryk van valse godsdiens inhaal. Terwyl die valse Christendom se laakbare weg God se naam oneer aandoen, is dit ons besluit om ware dissipels van Jesus Christus te wees deur die vrugte van die Koninkryk sowel as die vrug van God se gees te dra en aldus ons hemelse Vader, Jehovah, te verheerlik.—Joh. 15:8.
10. (a) Hoe het ons ons voorgeneem om die waarheid aan te bied wanneer ons vir God heilige diens verrig? (Kol. 4:6; 1 Pet. 3:15). (b) Watter voorbeeld van die apostels ten opsigte van moed en eerbied vir gesag is ons vasbeslote om na te volg?
10 Ongeag wat ons indiwiduele omstandighede is en waar ons ons bevind, sal ons behae daarin skep om dag en nag heilige diens voor God te verrig. Ons sal onverpoos alle geleenthede benut om kragtig oor God se naam en voorneme te getuig en die waarheid op ’n aantreklike wyse aan te bied terwyl ons ‘altyd ons woord aangenaam laat wees, met sout besprinkel’ (Kol. 4:6). Ons sal terselfdertyd probeer om moedig te wees en die Woord van God met alle vrymoedigheid te spreek, veral in die aangesig van dreigemente, vervolging of ander vorms van teenstand. Net soos die apostels ‘is dit vir ons onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie’ (Hand. 4:19, 20). Hoewel ons die hoëre owerhede die nodige eerbied betoon en aan die keiser gee wat die keiser toekom, sal ons die apostels navolg deur ‘aan God meer gehoorsaam te wees as aan die mense’ wanneer geskille ontstaan waarby ons aanbidding en diens aan God betrokke is.—Hand. 5:29.
11. (a) Watter werk het ons ons voorgeneem om te volbring? (Matt. 24:14). (b) Na wie wend ons ons vir leiding, en bestaan daar ’n ware grondslag om sy steun te verwag? (Filip. 4:13, NW).
11 Deur voorkeur aan geestelike dinge in ons lewens te gee, is dit ons voorneme om die werk te volbring om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en die goddelike waarskuwing uit God se Woord te laat hoor. Met hierdie doel voor oë sal ons met ons hele hart op Jehovah vertrou en altyd op sy leiding en sorg en verdere blyke van sy liefde staatmaak. In ons opregte gebede sal ons ons hemelse Vader versoek dat hierdie weg van ons vir Hom behaaglik en aanneemlik sal wees, want Hy is die een ‘wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink’ (Ef. 3:20). Mag sy wil geskied sodat ons en ander wat God liefhet, nou en tot in alle ewigheid ongekende vreugdes en seëninge kan smaak.
[Venster op bladsy 29]
Gaan rampokker “hemel” toe?
’n Regter het onlangs beslis dat ’n 89-jarige leier van die onderwêreld van New Jersey weens sy ouderdom nie op aanklagte van moord en afpersing tereg hoef te staan nie. Die bejaarde man, wat ander baie tydens sy lewe laat ly het, het by die regter oor sy kwale gekla en gesê: “Ek verduur angs en pyn. Sê asseblief vir St. Petrus om my hemel toe te vat . . . Ek wil net gaan lê en hoop dat God my uit my ellende sal verlos.” Die rampokker se priester het klaarblyklik nie vir sy gemeentelid verduidelik wat die loon van die sonde is nie.—Rom. 6:23.