Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 4/15 bl. 20-26
  • Die tyd vir ’n wag soos Esegiël

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die tyd vir ’n wag soos Esegiël
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N WAG VIR EERTYDSE ISRAEL
  • WAARSKUWINGS DEUR DIE HEDENDAAGSE WAG
  • “Wagter, hoe ver in die nag?”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Luister—Jehovah se wag spreek!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Ons dien saam met die wag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Die wag se groot verantwoordelikheid
    Ons Christelike lewe en bediening — Vergaderingwerkboek — 2017
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 4/15 bl. 20-26

Die tyd vir ’n wag soos Esegiël

1. (a) Van wanneer af het God sy “wag”-klas die waarskuwing laat hoor, en met watter doel? (b) Wat het die valse Christendom gedoen in plaas daarvan om die waarskuwing te laat hoor?

Meer as 30 jaar voordat atoombomme in die Verre-Ooste gewerp is, het Jehovah barmhartig sy wag verwek om die waarskuwing te laat hoor oor wat eerlank, in hierdie geslag, gaan gebeur. Selfs voordat die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het, het hy sy “wag”-klas verwek om die waarskuwing te laat hoor. Dit is nie gedoen net om diegene te waarsku wat wou weet hoe hulle behoue kon bly nie, maar ook om Jehovah se moedswillige vyande in te lig. Sulke vyande sal dus weet wie hulle vernietig. Geen vitters sal enige rede hê om te kla dat Hy hulle nie vroegtydig gewaarsku het nie. Weens hulle aansprake moes dit na regte die valse Christendom, wat die heilige Bybel in meer as ’n duisend tale het, gewees het wat die waarskuwing laat hoor. Maar hulle het dit nie gedoen nie. Hulle het eerder deelgeneem aan die twee wêreldoorloë en ander oorloë van hierdie eeu wat die aarde in ’n aansienlike mate verderf het. Wie is dus die samegestelde “wag”?

2, 3. (a) Wie het God gekies om die waarskuwing oor die globale vloed wat destyds voorgelê het te laat hoor, en wie gebruik hy om vandag ’n soortgelyke waarskuwing te laat hoor? (b) Waarom kan Jehovah nie vir enige lewensverlies geblameer word nie?

2 In Noag se dag het hy nie alleenlik gepreek nie, maar ook ’n yslike ark gebou om sy mondelinge boodskap te staaf. Noag was dus destyds Jehovah se vernaamste getuie en wag. Noag se gesin van sewe lede het saam met hom die pligte van ’n wag nagekom. Hebreërs 11:1-7 deel ons mee dat Noag getuienis ontvang het dat hy God behaag het. Hy was ’n goedgekeurde getuie van Jehovah God. Hy was ’n “prediker van geregtigheid” (2 Pet. 2:5). Vandag staar ons ’n “daad van God” in die gesig wat net so globaal gaan wees as wat die vloed van Noag se dag was. Wie toon die feite gebruik hy om die hele wêreld hiervan te verwittig? Toegewyde Christene wat oral as “Jehovah se Getuies” bekend staan. Gevolglik is Jehovah se lei nog skoon. Hy het nie versuim om die goddelike waarskuwing deur miljoene van sy getuies te laat hoor nie!

3 Die verantwoordelikheid vir lewensverlies dwarsoor die wêreld gedurende die komende einde van die stelsel van dinge sal dus nie op Jehovah se skouers rus nie. Dit sal vierkantig rus op die skouers van almal wat versuim het om op die goddelike kennisgewing te reageer. Die valse Christendom self het versuim om ag te slaan op die waarskuwing wat die getuies van Jehovah laat hoor. Gestel sy het die Godgegewe waarskuwing saam met Jehovah se Getuies uitgebasuin? Watter verskil sou dit tog in menslike aangeleenthede gemaak het!

’N WAG VIR EERTYDSE ISRAEL

4. (a) Wie het Jehovah verwek om ’n profeet vir sy volk Israel te wees, en wie is deur hierdie profeet afgebeeld? (b) Watter opdrag het Esegiël ontvang?

4 Weens sy goddelike vermoëns het Jehovah vooraf geweet dat sy finale waarskuwing selfs tot die valse Christendom gerig sou moes word. Hy het geweet wat die geskiedenis van sy uitverkore volk in voorchristelike tye aangedui of afgebeeld het. In die jaar 613 v.G.J. het hy ’n Jood genaamd Esegiël verwek om ’n profeet vir sy eie volk te wees. Selfs al was Esegiël destyds ’n balling in die land Babilon, was hy Jehovah se wag vir Israel. Sy profesieë is suid na die land Juda gedra. Die dinge wat Jehovah destyds vir Esegiël gesê het, interesseer ons vandag, want hy het Jehovah se gesalfde getuies van vandag afgebeeld. Hierdie gesalfde klas het gereageer op wat Jehovah met hierdie woorde aan Esegiël gesê het: “Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en as jy ’n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku. As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe—en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.”—Eseg. 3:17, 18.

5, 6. (a) In watter tydperk het Esegiël gelewe? (b) Waarom kon God nie daarvan beskuldig word dat hy ’n moeilike sending op Esegiël afgedwing het nie?

5 Waarom het Jehovah so ernstig met hierdie Jood Esegiël gepraat? Omdat Esegiël in daardie jaar, 613 v.G.J., gelewe het in die laaste dae van die gedoemde koninkryk van Juda met Jerusalem as sy hoofstad. Deur Sy middelaar, die profeet Moses, het sy volk in daardie koninkryk ’n nasionale verbond met Jehovah gesluit. As ’n lid van daardie volk het Esegiël dus ’n lewenslange verpligting teenoor Jehovah gehad. Hy was ook ’n priester, wat Jehovah in sy tempel te Jerusalem moes dien. Hy het God dus uiteraard iets geskuld. God kon gevolglik nie daarvan beskuldig word dat hy verkeerdelik ’n moeilike sending afgedwing het op Esegiël, wat onder die nasionale verbond en met die pligte van die Aäronitiese priesterdom, met hoëpriester Seraja aan die hoof daarvan, gebore is nie.—2 Kon. 25:18.

6 Dit was vir Esegiël se volk dat Jehovah vroeër deur sy profeet Jesaja gesê het: “Julle is my getuies, spreek [Jehovah], en my kneg wat ek uitverkies het” (Jes. 43:10-12). Esegiël het dus die huidige, georganiseerde liggaam geesgesalfde getuies van Jehovah, die geestelike Israeliete, afgebeeld. Hierdie gesalfde getuies lewe in ’n tyd wat baie betekenisvoller as Esegiël se dag is.

7. (a) Watter regering het in Esegiël se dag in gevaar verkeer, maar wat is vandag die geval? (b) Hoe lank het Esegiël die waarskuwing laat hoor voordat die voorspelde vernietiging gekom het?

7 Destyds was dit net die een regering, die klein koninkryk van Juda, wat in gevaar verkeer het. Vandag is dit dit wat deur daardie eertydse koninkryk afgebeeld is, naamlik die valse Christendom, wat in gevaar verkeer, en so ook al hulle wêreldlike metgeselle. Trouens, dit is die hele stelsel van dinge dwarsoor die wêreld wat geoordeel word, net soos dit in Noag se dag die wêreld was wat tot vernietiging gedoem was. Daar was ’n dringender behoefte aan God se waarskuwing deur Esegiël, want Esegiël het begin om die waarskuwing te laat hoor slegs vier jaar voordat die Babiloniese leër sy vaderland binnegeval het, of ses jaar voordat hulle die beleërde stad Jerusalem met sy tempel vernietig het. Baie inwoners van beleërde Jerusalem het weens hongersnood, pessiekte en die oorlogswaard gesterf. Talle oorlewendes is as ballinge weggevoer om in afgeleë Babilon te sterf. Dit was dus Esegiël se eie geslag wat deur daardie ramp bedreig is.

8. (a) Watter eerste-eeuse vernietiging help ons om vas te stel hoe naby die komende wêreldvernietiging deur God is? (b) Wie het toe God se waarskuwing laat hoor, en hoe belangrik was hulle waarskuwingswerk?

8 Hoe min tyd ons vandag nog oor het, kan ons slegs aflei uit wat volgens Bybelprofesie op aarde gebeur. In Jesus se profesie, wat in Mattheüs hoofstukke 24 en 25 opgeteken is, het hy sy dissipels, wat die eerste deel van die “getroue en verstandige dienskneg”-klas sou uitmaak, gewaarsku oor die vernietiging wat Jerusalem in hulle eie geslag sou tref. So het hy sy dissipels bewus gemaak van hulle verantwoordelikheid teenoor die Joodse bewoners van die provinsie Judea. Hulle het in groot gevaar verkeer weens die naderende volksramp. Indien die Christelike “dienskneg”-klas destyds, in daardie kritieke tyd, nie die betrokke Jode gewaarsku en aangespoor het om so vinnig moontlik uit die gevaargebied te kom nie, sou hulle gedeeltelik daarvoor verantwoordelik gewees het dat die Jode wat nie gewaarsku is nie hulle lewe of vryheid verloor het.

9. Hoe was Esegiël ’n uitstekende voorbeeld vir God se hedendaagse gesalfde “dienskneg”?

9 Wat sou gebeur het indien Esegiël lank gelede sy toegewese taak om sy bedreigde landgenote van ver af te waarsku, versuim het? Hy sou nie die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. oorlewe het nie, want Jehovah sou hom aanspreeklik gehou het vir hulle bloed. Dit is duidelik dat Esegiël sy goddelike opdrag getrou nagekom het solank as wat kommunikasie met die gedoemde Jerusalem moontlik was, want dit het Jehovah behaag om hom te laat voortlewe. Dit het Jehovah behaag om hom te gebruik om ’n profesie in die 27ste jaar van sy ballingskap in Babilon te uiter. Dit was 16 jaar na die verskriklike bloedbad in Jerusalem in 607 v.G.J. (Eseg. 29:17; 40:1). In hierdie opsig was hy ’n uitstekende voorbeeld vir die gesalfde “dienskneg”-klas in ons gevaarvolle tye. Indien enige indiwidue in die “dienskneg”-klas ophou om die waarskuwing te laat hoor en die goddelose mense te verwittig, sal sulke indiwidue inderdaad rekenskap aan Jehovah moet gee. Maar die “dienskneg”-klas sal oor die algemeen soos Esegiël wees. Hulle sal nie van bloedskuld aangekla kan word nie.

10. (a) Hoe belangrik is die posisie van ’n wag? (b) Hoe toon God sy besorgdheid oor diegene wat gewaarsku moet word sowel as oor sy wag?

10 Dit is baie duidelik dat die posisie van ’n wag ’n baie verantwoordelike is. Indien ’n soldaat tydens oorlog op sy wagpos aan die slaap raak, word hy doodgemaak, want die lewens van ander is in gevaar gestel en dit kon ook meebring dat hulle verslaan word (Rigt. 7:19). God is dus nie net besorg oor die lewens van diegene wat gewaarsku moet word nie, maar ook oor die lewe van sy wag. Dit blyk uit sy verdere woorde aan Esegiël: “Maar as jý die goddelose waarsku, en hy hom nie van sy goddeloosheid en van sy goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jý het jou siel gered. En as ’n regverdige hom van sy geregtigheid afkeer en onreg doen, en Ek ’n struikelblok voor hom gooi, dan sal hy sterwe; omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterwe, en aan sy geregtigheid wat hy beoefen het, sal nie gedink word nie; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jý die regverdige waarsku, dat die regverdige nie moet sondig nie, en hy sondig nie, dan sal hy sekerlik lewe, omdat hy hom laat waarsku het; en jy het jou siel gered.”—Eseg. 3:19-21; 33:2-9.

11. Hoe kom die werk van die “getroue en verstandige dienskneg” ooreen met die van ’n wag?

11 Psalm 127:1 sê: “As die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” ’n Wag op ’n stadsmuur het nietemin die verantwoordelikheid om die lewens van die mense in die stad te bewaak. Hy staan onder verpligting om die burgers te waarsku wanneer hulle lewens of vryheid bedreig word. Hy wil tereg nie hê dat hulle bloed van hom geëis moet word nie. Omdat hy wakker bly en waghou, kry hy die eer vir die bewaring van ander mensesiele se lewens. Dit is die situasie van die “getroue en verstandige dienskneg”-klas in hierdie tyd wanneer die ou stelsel van dinge se einde ophande is. Net soos in Esegiël se geval het Jehovah die “dienskneg”-klas as sy “wag” aangestel om die ewige belange te bewaak van almal wat bely dat hulle Sy volk is.

WAARSKUWINGS DEUR DIE HEDENDAAGSE WAG

12, 13. (a) Watter reaksie wil God graag sien wanneer hy die waarskuwing laat hoor? (b) Wat maak die verkondiging van die waarskuwing vir mense moontlik, maar wat van diegene wat nie daarop ag slaan nie?

12 Maar is dit slegs diegene wat beweer dat hulle Christene is wat vernietiging tydens die einde van hierdie stelsel van dinge in die gesig staar? Nee, alle ander godsdiensbeoefenaars staar vernietiging in die gesig, selfs diegene wat weier om by enige deel van georganiseerde godsdiens aan te sluit. Die aarde se Skepper, Jehovah God, weet dit. Hy sou verkies om die mensdom nie te vernietig nie. Dit is sy hartewens dat soveel mense moontlik van ewige vernietiging gered moet word en die lewe in sy regverdige nuwe stelsel van dinge waardig moet wees. Om daardie rede het hy sy waarskuwing wyd en syd laat hoor.

13 Hy het barmhartig eers die “dienskneg”-klas, wat deur Esegiël afgebeeld is, daarvan verwittig. Sodoende het hy hierdie klas sy samegestelde “wag” gemaak. Die taak om die goddelike waarskuwing te laat hoor, is veral aan hierdie “wag”-klas opgedra. Weens hulle tydige waarskuwingswerk word al hoe meer mense in staat gestel om dit te hoor en gunstig daarop te reageer met die hoop om deur die einde van die ou wêreld heen gespaar te word. Diegene wat weier om op die Godgegewe waarskuwing ag te slaan, se bloed sal op hulle eie hoofde rus!

14, 15. (a) Wie het tevergeefs probeer om diegene wat die waarskuwing laat hoor die swye op te lê, maar wie het geluister en gehoor gegee? (b) Wat sal dit beteken wanneer die tydperk van “die welbehae van die HERE” verstryk?

14 Jehovah se “wag”-klas het wêreldwyd bekend geraak. Hulle vyande sal hulle graag die swye wil oplê. Hulle meen dat die waarskuwing hulle stelsel van dinge ondermyn. Maar dit is tevergeefs! Die waarskuwing is veral sedert 1919, die jaar waarin die wêreld begin het om te herstel van die wonde wat dit deur die Eerste Wêreldoorlog toegebring is, in hulle koppe getrommel. Die tydperk sedertdien maak deel uit van wat Jesaja 61:2 die “jaar van die welbehae van die HERE” noem. Dit beteken dat sy wraak nog nie uitgestort is op die God-uittartende stelsel van dinge nie. Watter doel het dit gedien? Dit het toegelaat dat Jesus se volgende profesie tot nou toe vervul word: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” (Matt. 24:14). As gevolg hiervan het baie wat vandag deel uitmaak van die oorblyfsel erfgename van daardie koninkryk die Koninkryksboodskap aangeneem. Hulle het dus “die welbehae van die HERE” benut. Hulle is deel van die “wag”-klas gemaak. Hulle het ook begin om die goddelike waarskuwing uit te basuin.

15 Die simboliese “jaar” van die “welbehae van die HERE” is ’n beperkte tyd. Alle hedendaagse aanduidings is dat dit binnekort gaan verstryk. Wanneer dit eindig, sal dit nie ’n “Voorspoedige nuwe jaar!” beteken nie, maar dat die tyd aangebreek het vir Jehovah se “welbehae” om te eindig en sy wraak om te begin. Dit beteken die koms van die “dag van die wraak van onse God” (Jes. 61:1, 2). Dit sal die droewigste dag wees wat die mensdom nog ooit beleef het.

16. Wat bereik die “wag”-klas deur die waarskuwing te laat hoor?

16 Dit maak dit dringend dat die “wag”-klas die waarskuwing laat hoor dat die “jaar” van Jehovah se welbehae binnekort gaan verstryk en dat sy ‘dag van wraak’ ophande is. Die feit dat hulle die goddelike waarskuwing gehoorsaam verkondig, sal nie verhoed dat hierdie gelapte ou stelsel van dinge en sy toegewyde aanhangers tydens die komende “groot verdrukking” vernietig word nie. Maar hierdie feit ontmoedig nie die “wag”klas nie. Hulle het die versekering dat indien hulle goddelose mense van hulle goddelose weg bekeer sodat hulle geregtigheid doen, hierdie mense nie saam met hierdie ou wêreld vernietig sal word nie. Die “wag”-klas sal dus nie bloedskuldig wees in die geval van diegene wat hulle dodelike goddeloosheid gestaak het omdat hulle gewaarsku is nie. Die “wag”-klas het ook die versekering dat indien hulle aanhou om hulle waarskuwing te rig hulle baie regverdige persone sal oorreed om nie ’n verkeerde weg in te slaan en by die goddelose wêreld aan te sluit en hulself sodoende tot ondergang daarmee tydens die “groot verdrukking” te verdoem nie. Dit is iets wat die “wag”-klas groot bevrediging verskaf. Hulle diens sal nie tevergeefs wees nie!

17. (a) Watter beloning het die “wag”-klas ontvang? (b) Wie het nou begin om ook die waarskuwing uit te basuin?

17 En die “wag”-klas het nog nie hees geraak van hulle verkondiging van die “dag van die wraak van onse God” nie. Hulle het ook nie hulle stem laat sak nie, en is vasbeslote om dit nie te doen nie. Wat ’n skouspel tot eer van Jehovah begroet tog hulle turende oë as beloning! ’n Tallose “groot menigte” wat gunstig op die waarskuwing reageer, verrys voor die “wag“-klas (Openb. 7:9). Die oë van daardie “groot menigte” is geopen vir die “swaard“ van Jehovah se skerpregter wat op die punt staan om die goddelose teenstanders van sy Messiaanse koninkryk af te maai. Vier jaar voor die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het hierdie “groot menigte” begin vorm aanneem en hulle aan die kant van die “wag”-klas geskaar. Genadiglik het die Tweede Wêreldoorlog nie uitgeloop op die “dag van die wraak van onse God” nie. Die Tweede Wêreldoorlog en sy nasleep het ook nie die toestroming van die “groot menigte” na die kant van die “wag”-klas te midde van wêreldwye vervolging beëindig of vertraag nie. Hulle het aldus onder die verpligting gekom om saam met die “wag”-klas die goddelike waarskuwing onverskrokke uit te basuin. Hulle het nie hierdie verantwoordelikheid ontduik nie. Hulle wil sodoende nie alleen hulle liefdevolle gehoorsaamheid aan Jehovah God betoon nie, maar ook hulle liefde vir hulle naaste, hulle medemens.

18, 19. (a) Aan watter optrede bestaan daar nou die allergrootste behoefte, in ooreenstemming met die woorde in Jesaja 52:8? (b) Wat moet ons beweeg om deel te neem aan die verkondiging van die goddelike waarskuwing?

18 Op hierdie gevorderde stadium, tydens die laaste dae van die valse Christendom en die res van hierdie gedoemde stelsel van dinge, bestaan daar die allergrootste behoefte aan eendragtige optrede. Al was hulle honderde kilometers van mekaar af, het die profeet Esegiël en sy tydgenoot, die profeet Jeremia, lank gelede hulle stemme verenig om hulle eiesinnige nasie te waarsku teen die ‘dag van wraak’ wat ophande was. Nou in ons eeu, is die woorde van Jesaja 52:8 sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog op Jehovah se toegewyde volk van toepassing: “Hoor! Jou wagte! Hulle verhef die stem, hulle jubel almal saam; want hulle sien vlak voor hulle oë hoe die HERE terugkeer na Sion.” Almal wat onder die ‘hemelse Sion’ versamel is, het dieselfde gesig gesien in die lig van Bybelprofesie wat destyds vervul is; saam het hulle gesien hoedat Jehovah se hand tot hulle voordeel werk. Hulle het ’n verenigde boodskap aan die hele wêreld verkondig. Vandag, meer as 60 jaar later, moet hulle voortgaan met hulle verenigde getuienis, maar nou moet hulle die dringende waarskuwing oor Jehovah se ‘dag van wraak’ insluit. Die “groot menigte” uit baie nasies en baie tale se stemme moet saamsmelt met die van die “wag”.

19 Gaan dus eendragtig voort om die waarskuwing oor die “dag van die wraak van onse God” te laat hoor! Laat ons ons vry van bloedskuld hou. Dit is omdat ons in daardie ‘dag van wraak’ gespaar wil word. Baie van ons medemense wil graag dieselfde redding geniet. Mag ons oortreffende liefde vir Jehovah en Christus en ons liefde vir ons naaste, ons medemens, ons onweerstaanbaar beweeg om die lewegewende waarskuwing te laat hoor. Ons sal matelose vreugde smaak! Maar dit sal bowenal Jehovah regverdig as ’n God wat liefdevol besorg was!

[Prent op bladsy 23]

Net soos Esegiël gewaarsku het, het die Babiloniese leër Jerusalem vernietig en baie van die oorlewendes in ballingskap weggevoer

[Prent op bladsy 25]

Net soos Esegiël laat die hedendaagse “wag”-klas die waarskuwing hoor—en hulle word nou bygestaan deur die “groot menigte” medewerkers

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel