Haar hoop is vir haar ’n werklikheid
Verlede jaar het ’n hoërskoolleerling in New Jersey ’n opstel as deel van haar skoolwerk geskryf. Die opdrag was: “Gestel jy het na die toekoms gereis. Hoe ver sou jy graag wou gaan? Meld die jaar. Skryf hoe die wêreld dan sal lyk. Beskryf hoe die mense sal lyk. Beskryf hulle lewenswyse; wat hulle doen om ’n bestaan te maak; wat hulle eet; ens.” Hierdie 15-jarige meisie—een van Jehovah se Getuies—het geskryf:
“En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”
“Ek bestudeer die Bybel al jare lank, en ek word deur hierdie passasie bekoor. Ek het oor elke woord van hierdie teks gepeins en het altyd gewonder of hierdie toestande werklik in die toekoms op die aarde sal wees. Ek het dus ’n voertuig—die eerste van sy soort—gebou waarmee ek na die toekoms kon reis.
“Die reis was sonder voorval. Ek het tien jaar per minuut afgelê. Hoewel ek stilgestaan het, het die wêreld rondom my baie verander. Ek het aaklige dinge sien gebeur: aardbewings, oorloë, hongersnood, wetteloosheid, net soos in Mattheüs 24:6-8 in die Bybel beskryf word. Maar hierdie dinge het voor my oë verbygeflits. Daarna het ek gesien hoe alles rondom my heeltemal vernietig word. Mense is deur iets vernietig, nie hulle eie oorlogswapens nie, maar deur geweldige natuurkragte wat ingespan is deur iemand wat baie sterker as die mens is.
“Ek het stadiger in tyd gereis sodat ek al hierdie ongelooflike dinge kon sien gebeur. Ek het vervolgens gesien hoedat mense hard werk en die aarde skoonmaak, bou en alles verander. Hulle het klaarblyklik aan die vernietiging ontkom en was besig om opruimingswerk te doen. Hulle het almal eensgesind saamgewerk. Hierna het ek baie meer manne en vroue op die aarde gesien. Ek het nie geweet waar hulle vandaan kom nie. Ek het gekyk totdat ek ’n man gesien het wat soos my oupa gelyk het—trouens, dit was my oupa. Hy het in 1972 gesterf. Ek het al my toerusting nagegaan om seker te maak dat ek nie in die verlede terug beweeg nie. Ek het nie. Ek was in werklikheid besig om vorentoe te beweeg, en tog het ek mense gesien wat gesterf het. Toe het ek die Bybelteks in Handelinge 24:15 onthou: ‘Daar sal ’n opstanding wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges.’ Ek was besig om die opstanding te aanskou.
“Ek het nou vinniger beweeg sodat kleure en lig saamgesmelt het. Ek het besluit om stil te hou. Die plek waar ek stilgehou het, was natuurlik dieselfde plek vanwaar ek vertrek het, maar dit was in die toekoms. . . .
“Ek kon sien hoe ’n jong seun ’n ent daarvandaan met ’n groot dier speel. . . . Dit was nou waarlik ’n . . . LEEU! Ek wou soontoe hardloop en hom waarsku hoe gevaarlik dit is, maar iets het my gekeer. Die leeu was mak en was soos ’n katjie in die kind se arms. Toe ek verder geloop het, het ek meer van hierdie vrede tussen mens en dier en tussen dier en dier gesien. Maar die aangrypendste harmonie was dié tussen mense. Alle rasse het dieselfde taal gepraat en oor die weg gekom asof hulle broers en susters was. . . . Ek het gesien dat hierdie mense geen gebreke gehad het nie. Daar was geen siektes, geen kwale nie. Hulle was volmaak. Toe het iets my geskok. Hulle was dieselfde mense wat ek 400 jaar vroeër tydens my reis gesien het, maar hulle het almal ewe oud gelyk. Niemand was siek, oud of sterwend nie. . . .
“Ek het dit waarlik geniet om in hierdie wonderlike tyd in die toekoms te wees. Ek is nou weer tuis, terug in ons tyd. Ek kan niemand oortuig van die dinge wat ek gesien het nie. Maar alles wat ek in die Bybel lees, is nou helder in my verstand. Ek wil baie graag teruggaan en vir ewig saam met daardie mense lewe. Maar toe het ek ’n passasie in die Bybel onthou wat my verseker dat ek dit heel moontlik sal sien, en sommer binnekort. Dis in Psalm 37:10, 11: ‘En nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie. Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.’”