Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • tp hfst. 6 bl. 55-68
  • Wat het God intussen gedoen?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat het God intussen gedoen?
  • Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe God homself geopenbaar het
  • Waarom hy in die besonder met eertydse Israel gehandel het
  • Die voorbereiding van heersers vir die mensdom
  • Wyl “die einde” nader kom
  • Die regering wat die Paradys gaan bring
    Die regering wat ’n Paradys gaan bring
  • “Kyk, Ek maak alles nuut”
    “Kyk, Ek maak alles nuut”
  • Oorlewendes uit al die nasies
    Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
  • ’n Veilige toekoms—Hoe jy dit kan vind
    ‘n Veilige toekoms—Hoe jy dit kan vind
Sien nog
Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
tp hfst. 6 bl. 55-68

Hoofstuk 6

Wat het God intussen gedoen?

1. Wat glo baie mense vandag omtrent God, maar is dit waar?

BAIE mense glo vandag dat God nie daadwerklik in die aarde belangstel of dat hy niks doen in verband met die probleme wat die mensdom teister nie. Maar die feit is dat God wel baie omgee. Hy het weliswaar nie gedoen wat die mens van hom verwag het om te doen nie. Maar dit wil nie sê dat hy niks gedoen het nie. Hy het in werklikheid van die begin van die mensegeskiedenis tot op hede vir die mensdom dinge gedoen.

2. Hoe kan mense se kort lewensduur hul denke oor hierdie saak beïnvloed?

2 Een rede waarom sommige mense die gevolgtrekking maak dat God niks doen nie, is hulle eie kort lewensduur. Dit maak hulle ongeduldig om dinge gedaan te kry in die tydjie wat hulle lewe toelaat. Hulle denke word gevolglik oorheers deur ’n begeerte om veranderinge in hulle lewensdae te sien. Hulle is dan geneig om God te oordeel op grond van sulke menslike ervaring, met al die beperkinge daarvan.

3. Hoe stel Jehovah se lewensduur hom in staat om situasies op die beste tyd moontlik te hanteer?

3 Jehovah lewe daarenteen vir ewig (Psalm 90:​2, 4; Jesaja 44:6). Vanuit sy oogpunt kan hy sien presies waar in die tydstroom sy dade die meeste nut vir al die betrokkenes sal stig sowel as sy voorneme op die doeltreffendste wyse sal volbring (Jesaja 40:​22; 2 Petrus 3:​8, 9). Dit is presies wat God gedoen het.

Hoe God homself geopenbaar het

4. Wat het Jehovah gesê is sy voorneme, en watter kennis het hy gevolglik aan die mensdom voorsien?

4 Jehovah se voorneme is om ’n regverdige administrasie of bestuur vir die hele skepping te voorsien, een wat die mensdom in vrede en eenheid sal laat lewe terwyl hulle volkome veiligheid geniet (Efesiërs 1:​9, 10, NW; Spreuke 1:​33). Maar God dwing niemand om sy administrasie te aanvaar nie. Net diegene wat hom dien en wat sy heerskappy liefhet, is welkom. Met die oog daarop om ’n grondslag te lê vir ’n hele wêreld wat volgens sy administrasie se regverdige standaarde lewe, het God kennis van daardie standaarde en hoe sy administrasie werk aan die mensdom gegee. God het dit terselfdertyd vir die mensdom moontlik gemaak om lewensbelangrike kennis oor Hom en Sy hoedanighede te verkry.—Johannes 17:3.

5. Wat kan ons uit die skeppingswerke oor God leer?

5 Daar Jehovah ’n gees is, is hy natuurlik vir die mens onsigbaar. Hoe sou hy dan hierdie dinge aan mense van vlees en bloed verstaanbaar maak? Ons kan byvoorbeeld baie aangaande die hoedanighede van die Skepper uit sy handewerk leer (Romeine 1:​20). Die wonderlike onderlinge verband tussen lewende dinge en die fisiese wette wat alle materie beheer, getuig van sy wysheid. Die ontsaglike krag wat in die oseane, in die weer en in die energie van die sterre te sien is, lewer bewys van sy almag (Job 38:​8-11, 22-33; 40:2). En die verskeidenheid van voedselsoorte wat die tong behaag, die prag van blomme, voëls, sonsopkomste en -ondergange, en die uitgelate kaperjolle van diere getuig alles van die Skepper se liefde vir die mensdom en Sy begeerte dat ons genot uit die lewe moet put. Maar God se openbaring van homself hou nie by hierdie dinge op nie.

6. (a) Hoe het God bepaalde openbaringe van sy wil gegee? (b) Op watter ander manier het God sy beginsels en hoedanighede aan die mens geopenbaar?

6 By verskeie geleenthede het hy ook uit die hemele gespreek. In sommige gevalle het hy dit persoonlik gedoen. In ander gevalle het hy dit deur engele gedoen, soos by die berg Sinai op die Arabiese skiereiland, waar hy sy wet aan miljoene Israeliete gegee het (Exodus 20:​22; Hebreërs 2:2). En deur middel van sy profete het hy deur baie eeue heen met mense gekommunikeer en hulle die openbaringe van sy wil laat neerskryf (2 Petrus 1:​21). Sodoende het Jehovah die mens geleidelik met Sy regverdige standaarde en Sy wil vertroud gemaak. ’n Belangrike aspek hiervan is die wyse waarop hy sy beginsels en hoedanighede deur middel van sy handelinge met mense geopenbaar het. Dit het die hartlike trekkrag van menslike ervaring aan sy geskrewe Woord verleen. Hoeveel leersamer en oortuigender is dit tog nie om nie net God se verklarings van sy voorneme te hoor en te lees nie, maar om ook in die Bybelverslag lewende voorbeelde te hê wat ons help om sy wil beter te verstaan! (1 Korinthiërs 10:​11). En wat openbaar daardie verslag?

7. (a) Hoe het God getoon dat hy ongeregtigheid nie vir ewig duld nie? (b) Wat moet ons doen wanneer ons leer hoe God sulke gedrag beskou?

7 Dit lewer bewys dat God ongeregtigheid nie vir ewig duld nie. Hy het weliswaar Adam en Eva se nakomelinge hulle eie weg laat inslaan en so die onvermydelike verhaal van die mens se onvermoë om homself met welslae te regeer laat opstel. Maar God het die mensdom nie sonder bewys van Sy oordeel teen hulle onregverdige weë gelaat nie. Hy het byvoorbeeld ’n vloed in Noag se dag veroorsaak omdat ‘die aarde vol geweld was’ (Genesis 6:​11-13). Hy het die sedelik verdorwe stede Sodom en Gomorra vernietig (Genesis 19:​24, 25; Judas 7). Hy het die nasie Israel, wat voorgegee het dat hulle hom dien, in ballingskap laat wegvoer omdat hulle valse godsdiens beoefen het (Jeremia 13:​19, 25). Wanneer ons leer hoe God sulke gedrag beskou, het ons die geleentheid om veranderinge in ons lewe aan te bring om ons liefde vir geregtigheid te toon. Sal ons?

8. Is daar enige oorlewendes wanneer God tot vernietiging oorgaan? Lig dit toe.

8 Die Bybelverslag toon ook dat God ’n onderskeid tussen die regverdiges en die goddeloses tref. In die wêreldvloed het God Noag, wat ’n “prediker van geregtigheid” was, nie vernietig nie, maar hom en sewe ander gespaar (2 Petrus 2:5). En voordat vuur en swawel op Sodom neergereën het, het regverdige Lot en sy huisgesin die geleentheid gehad om te vlug.—Genesis 19:​15-17; 2 Petrus 2:7.

9. Wat leer ons uit die wyse waarop Jehovah met eertydse Israel gehandel het?

9 Toe die volk Israel, wat met ’n eed beloof het om God te dien, ontrou was, het hy hulle nie dadelik verwerp nie. Hy het vir hulle gesê: “Ek [het] na julle al my knegte, die profete, gestuur, daagliks, vroeg en laat.” Maar hulle het nie geluister nie (Jeremia 7:​25, 26). Selfs toe die vernietiging van Jerusalem nader gekom het, het Jehovah gesê: “Het Ek dan miskien ’n behae in die dood van die goddelose? . . . Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie? . . . Bekeer julle dan en lewe.”—Esegiël 18:​23, 32.

10. Wat leer hierdie Bybelverhale ons oor God, benewens dat hy lankmoedig is?

10 Wat leer ons hieruit? Dat Jehovah sy groot lankmoedigheid teenoor die mensdom geopenbaar het op ’n wyse wat regverdig gesinde mense se harte diep roer. Sy handelinge maak ons terselfdertyd deeglik bewus van sy liefde vir geregtigheid en die belangrikheid daarvan dat ons volgens sy vereistes moet lewe.

11. (a) Watter verklaring van voorneme het Jehovah in Eden gedoen? (b) Wat het God sedertdien gedoen?

11 Nog iets baie fundamenteels is opvallend. Dit is van die begin af duidelik dat God ’n bepaalde doel gehad het met alles wat hy gedoen het. En hy het nooit versuim om op te tree wanneer die vervulling van sy voornemens optrede vereis het nie. Hierdie fundamentele voorneme is reg in Eden geuiter. Toe Jehovah oordeel oor Satan uitgespreek het, het Hy voorspel dat Satan die geleentheid sou hê om ’n “saad”—diegene wat sy eienskappe sou openbaar en hom sou steun⁠—​te verwek. Hy het ook voorspel dat ’n ander “saad”, ’n regverdige verlosser, voortgebring sou word. Laasgenoemde sou “die ou slang wat genoem word duiwel en Satan” noodlottig wond en die mens sodoende van sy verderflike oorheersing bevry (Genesis 3:​15; Openbaring 12:9). Nadat Jehovah hierdie verklaring van voorneme gedoen het, het hy bepaalde voorbereidings vir die uiteindelike administrasie van die aarde se aangeleenthede onder die beloofde “saad” getref. Hierdie voorbereidingswerk sou tyd verg, soos ons sal sien.

Waarom hy in die besonder met eertydse Israel gehandel het

12, 13. (a) Waarom het God Israel uitverkies en sy wette net aan daardie een nasie gegee? (b) Wat kan ons dus uit die geskiedenis van Israel en uit dié van ander nasies leer?

12 Lank voordat die hedendaagse nasies in aansyn gekom het, het God een nasie gekies wat hy honderde jare lank as sy volk gebruik het. Waarom? Ten einde ’n lewende vertoning te lewer van hoe sy regverdige beginsels werk. Daardie nasie, eertydse Israel, het bestaan uit afstammelinge van Abraham, ’n man wat groot geloof in die Skepper geopenbaar het. Aan hulle het Jehovah gesê: “Die HERE het ’n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het.”—Deuteronomium 7:​7, 8; 2 Konings 13:⁠23.

13 Nadat Jehovah hulle uit slawerny in Egipte verlos het, het hy aangebied om hulle in ’n spesiale verhouding met hom te neem, en hulle het geantwoord: “Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen” (Exodus 19:8). Jehovah het toe sy insettinge aan hulle gegee. Dit het hulle van alle ander nasies afgesonder en breedvoerige inligting oor sy regverdige standaarde verskaf (Deuteronomium 4:​5-8). Die geskiedenis van eertydse Israel bied derhalwe ’n verslag van wat gebeur wanneer God se regverdige wette gehoorsaam word of nie gehoorsaam word nie. Die geskiedenis van ander nasies toon terselfdertyd wat gebeur met diegene wat sonder God se wet lewe.

14. (a) Het God die nie-Israelitiese nasies ’n onreg aangedoen deur hom nie met hulle sake in te laat nie? (b) Hoe het hulle nietemin by God se onverdiende goedheid baat gevind?

14 Wat van daardie ander nasies? Hulle het hulle eie weg ingeslaan en hulle eie regeringsvorme gekies. Dit beteken nie dat hulle mense glad geen goedheid in hulle lewens geopenbaar het nie. Hulle het nog steeds ’n gewete gehad, en dit het hulle soms beweeg om met mensliewende besorgdheid oor hulle medemens op te tree (Romeine 2:​14; Handelinge 28:​1, 2). Maar hulle erfsonde en verwerping van goddelike leiding het hulle ’n selfsugtige weg laat inslaan wat tot wrede oorloë en verdorwe gebruike gelei het (Efesiërs 4:​17-19). God kon beslis nie verantwoordelik gehou word vir die wee wat meegebring is deur ’n lewenswyse wat hulle self gekies het nie. God het net ingegryp wanneer mensebedrywighede met die ontplooiing van sy voornemens gebots het. God het intussen goedgunstig toegelaat dat hulle die lewe, die skoonheid van die skepping en die aarde se opbrengs geniet.—Handelinge 14:​16, 17.

15. Met watter reëlings vir die uiteindelike seën van die mense van hierdie nasies was God besig?

15 Jehovah het ook nie die lede van hierdie nasies die voorreg ontsê om mettertyd die beloofde voordele deur die “saad” van Abraham te ontvang nie. Van hierdie “saad” wat deur Abraham se geslag sou kom, het Jehovah gesê: “In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het” (Genesis 22:​18). Hoewel Jehovah dus uitsluitlik met Israel gehandel het, was hy ook onpartydig besig om sy voorneme te volbring om die ander nasies later te seën, hoewel hulle nie hiervan bewus was nie.—Handelinge 10:​34, 35.

16. (a) Wat het God gedurende hierdie hele tyd in verband met die belofte aangaande die Saad gedoen? (b) Wie was daardie beloofde Saad?

16 Gedurende die tyd dat Jehovah met eertydse Israel gehandel het, het hy talle profesieë gegee wat in ’n belangrike behoefte van geloofsmense voorsien het—hoe om die beloofde Saad van Abraham te identifiseer wanneer hy eindelik sou kom. Selfs sy geslagslyn, deur die stam van Juda en die geslag van Dawid, is aangegee (Genesis 49:​10; Psalm 89:​36, 37). Sy geboorteplek, Betlehem, is by name genoem (Miga 5:1). Eeue tevore is selfs die jaar wanneer hy as Messias gesalf sou word, aangedui (Daniël 9:​24-27). Sy priesterdiens ten behoewe van die mensdom is afgeskadu. En so ook die opoffering van homself wat mense van alle nasies die geleentheid gebied het om vir ewig te lewe (Hebreërs 9:​23-28). Toe die vasgestelde tyd aangebreek het, het alles Jesus Christus onteenseglik geïdentifiseer as die beloofde Saad deur wie daar eindelik seëninge na die mensdom sou kom.—Galasiërs 3:​16, 24; 2 Korinthiërs 1:​19, 20.

Die voorbereiding van heersers vir die mensdom

17. Wat sou God deur Jesus tot stand bring, en hoe is dit ten tye van sy geboorte beklemtoon?

17 Voor Jesus se geboorte is sy moeder Maria deur ’n engel meegedeel dat haar seun ’n ewige koninkryk sou ontvang. Herders naby Betlehem is van sy geboorte in kennis gestel, en toe het hulle gehoor hoe ’n menigte van die hemelse leërskare God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae!”—Lukas 1:​31-33; 2:​10-14.

18. (a) Hoe het sy ervaringe op aarde hom voorberei vir die ampte van koning en priester? (b) Watter uitwerking het sy dood op die verkryging van vrede gehad?

18 Dink net aan al die voordele wat spruit uit die feit dat hierdie toekomstige hemelse Koning op die aarde gelewe het. As ’n mens het hy die probleme van die mensdom leer ken en verstaan. Hy het saam met hulle gelewe en gewerk, hulle smart gedeel en self ontbering verduur. Onder die strafste beproewinge het hy sy lojaliteit teenoor Jehovah sowel as sy liefde vir geregtigheid bewys. Sodoende het God Jesus voorberei om ’n simpatieke Koning sowel as Hoëpriester te wees ten einde lewegewende voordele ten behoewe van die mensdom toe te pas (Hebreërs 1:9; 4:​15; 5:​8-10). En deur sy eie lewe af te lê, het Jesus Christus daarbenewens die weg geopen vir die mensdom om weer vreedsame betrekkinge met God te geniet.—1 Petrus 3:⁠18.

19. (a) Hoe weet ons dat Jesus opgewek is en na die hemel opgevaar het? (b) Wat het hy in verband met sy koningskap gedoen nadat hy na die hemel teruggekeer het?

19 Na Jesus se dood het God hom weer opgewek en is hy deur meer as 500 mense gesien wat kon getuig dat die opstanding inderdaad plaasgevind het (1 Korinthiërs 15:​3-8). Veertig dae nadat Jesus opgewek is, het hy opgevaar hemel toe en uit die gesig van sy toeskouende dissipels verdwyn (Handelinge 1:9). Vanuit die hemel het hy sy koningskap oor sy getroue volgelinge begin uitoefen, en die voordele van sy heerskappy het hulle opvallend anders as die res van die mensdom gemaak. Maar was dit destyds die aangewese tyd vir hom om oor die nasies te begin heers? Nee, want ander aangeleenthede in God se grootse program het aandag geverg.—Hebreërs 10:​12, 13.

20. Watter nuwe werk het Jesus vir sy dissipels op aarde geopen?

20 ’n Reusetaak moes nog aardwyd verrig word. Voor Jesus se dood en opstanding het geen Israeliet as prediker uitgegaan om die mense van ander nasies te bekeer nie. Enigeen wat Jehovah graag wou begin aanbid, kon egter saam met Israel die voordele geniet (1 Konings 8:​41-43). Maar die koms van die Christelike godsdiens het ’n groot, nuwe werk meegebring. Jesus Christus self het die voorbeeld gestel en dit aan sy dissipels nagelaat deur vir hulle voor sy hemelvaart te sê: “Julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.”—Handelinge 1:8.

21. Wat het God deur middel van daardie getuieniswerk bereik?

21 Was die oogmerk wêreldbekering? Nee. Jesus het eerder getoon dat dit hoofsaaklik “die kinders van die koninkryk” sou wees wat reg tot in “die voleinding van die wêreld” versamel sou word. Ja, die ander lede van die komende Koninkryksregering moes gekies word (Mattheüs 13:​24-30, 36-43). Enigeen wat die Christelike Griekse Skrifte lees, kan maklik sien dat ander van Pinkster van 33 G.J. af genooi is om saam met Jesus Christus in sy hemelse Koninkryksbewind te deel.—2 Timotheüs 2:​12; Hebreërs 3:1; 1 Petrus 1:​3, 4.

22. (a) Watter hoedanighede het God vereis dat hierdie aanstaande erfgename van die hemelse Koninkryk moet besit? (b) Is hulle gevolglik oorhaastig gekies?

22 Die uitkiesing van hierdie toekomstige mederegeerders oor die mensdom sou tyd verg. Waarom? Daardie geleentheid moes onder meer aan mense van alle nasies gebied word. En hoewel baie bely het dat hulle dit aangegryp het, was weinig waarlik getroue volgelinge van God se Seun (Mattheüs 22:​14). Daar moes aan hoë vereistes voldoen word. Hoewel Christene nie soos eertydse Israel as ’n aparte volksgroep gelewe het nie, is hulle as vreemdelinge beskou wat ’n ander lewenswyse voorstaan (1 Petrus 2:​11, 12). Hulle moet hulself rein hou van die onsedelike en verdorwe gebruike van die wêreld om hulle (1 Korinthiërs 6:​9, 10). Om ware “kinders van God” te wees, moet hulle “vredemakers” wees deur nie deel te neem aan die oorloë van die nasies en nie wraak te neem wanneer hulle vanweë hulle geloof vervolg word nie (Mattheüs 5:9; 26:​52; Romeine 12:​18, 19). Hulle moet lojaliteit teenoor God se heerskappy toon deur te weier om politieke regerings, wat in die Bybel as ‘diere’ uitgebeeld word, voor te staan (Openbaring 20:​4, 6). As gevolg van al hierdie dinge en omdat hulle die naam van Jesus Christus in sy rol as God se gesalfde Koning hooggehou het, is hulle deur “al die nasies gehaat” (Mattheüs 24:9). Diegene wat saam met Christus hemelse heersers van die mensdom gaan wees, is dus nie oorhaastig gekies nie.

23. (a) Hoeveel sal saam met Christus in daardie hemelse administratiewe liggaam wees? (b) Uit wie is hulle gekies, en waarom?

23 Die uitkiesing het nie so lank geduur omdat die getal wat gekies moes word so groot is nie. Volgens die Skrif het God die getal van hierdie gekeurde administratiewe liggaam onder Jesus Christus tot net 144 000 individue beperk (Openbaring 14:​1-3). Maar God het hulle versigtig gekies. Hulle is “uit elke stam en taal en volk en nasie” geneem (Openbaring 5:​9, 10, NAV). Onder hulle is daar mense uit alle stande, manne en vroue, mense wat met al die verskillende probleme van die mensdom te kampe gehad het. In die proses om hulle met die nuwe Christelike persoonlikheid te beklee, was daar eenvoudig geen probleem waarmee sommige van hulle nie te kampe gehad en wat hulle nie te bowe gekom het nie (Efesiërs 4:​22-24; 1 Korinthiërs 10:​13). Hoe bly kan ons tog nie hieroor wees nie! Waarom? Want dit gee ons die versekering dat hulle simpatieke en genadige konings en priesters sal wees wat allerlei manne en vroue sal kan help om baat te vind by God se voorsiening vir die ewige lewe.

24. Wat van die miljoene ander mense wat gedurende hierdie tyd geleef en gesterf het, waarvan baie nooit iets van die Bybel af geweet het nie?

24 Wat van die mensdom buite hierdie reëling? God het hom gedurende hierdie hele tyd nie met die verskillende regerings ingelaat nie. Hy het mense die weg laat bewandel wat hulle verkies het. Miljoene mense het natuurlik gelewe en gesterwe, baie sonder dat hulle ooit van die Bybel of die Koninkryk van God gehoor het. Maar God het hulle nie vergeet nie. Hy het voorbereidings getref vir die tyd waarvan die apostel Paulus gepraat het: “[Ek het] ’n hoop op God . . . dat daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges” (Handelinge 24:​15). Onder die gunstige toestande van God se Nuwe Orde sal hulle dan die volle geleentheid gebied word om Jehovah se weë te leer. Op grond hiervan kan hulle hulle standpunt ten opsigte van die geskil in verband met universele soewereiniteit inneem. Diegene wat geregtigheid liefhet, sal dan die geleentheid kry om vir ewig te lewe.

Wyl “die einde” nader kom

25, 26. (a) Watter verdere gesag sou Christus mettertyd ontvang, en teen wie sou hy optree? (b) Watter uitwerking sou dit op toestande op die aarde hê?

25 Voordat daardie Nuwe Orde ingelui word, moet opwindende dinge plaasvind. Die Bybel het ’n betekenisvolle verandering in wêreldaangeleenthede voorspel. Jesus Christus sou dan as Koning op die troon geplaas word, nie om net oor sy eie dissipels te regeer nie, maar met gesag om teenoor die hele wêreld op te tree. In die hemel sou die aankondiging gemaak word: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:​15, NAV). Die Koning se eerste stap sal wees teen “die owerste van hierdie wêreld”, Satan die Duiwel, en sy demone (Johannes 14:​30). Hierdie bose magte sou uit die hemele neergewerp en tot die omgewing van die aarde beperk word. Met watter gevolg?

26 Die profetiese beskrywing berig dat ’n stem uit die hemel sou sê: “Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:​12). Daar sou ongekende onrus onder die nasies wees, maar die einde sou nie dadelik kom nie.

27. (a) Watter groot skeidingswerk sou plaasvind terwyl “die einde” nader kom, en hoe? (b) Hoe groot sal die voorspelde wêreldvernietiging wees?

27 Dit sou die tyd vir ’n groot skeidingswerk wees. Onder die leiding van Jesus Christus op sy troon sou sy getroue volgelinge “hierdie evangelie van die koninkryk” in die hele bewoonde aarde tot ’n getuienis vir al die nasies verkondig. Mense oral sou die geleentheid gebied word om hulle gesindheid teenoor goddelike heerskappy te openbaar (Mattheüs 24:​14; 25:​31-33). Wanneer dit gedoen is, “dan sal die einde kom”, het Jesus verduidelik. Dit sal ’n “groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Mattheüs 24:​21). Mense sal nooit weer vra nie: Wat het God al die tyd gedoen? Net diegene wat genoeg belanggestel het om uit te vind wat hy besig was om te doen en om hulle lewens na sy vereistes te skik voordat die wêreldvernietiging kom, sal behoue bly.

28. (a) Wanneer sou Christus die troon bestyg en die mense van al die nasies geskei word? (b) Wat moet jý gevolglik sonder versuim doen?

28 Maar wanneer sal al hierdie dinge gebeur? Wanneer sou Christus die mag ontvang om as Koning te regeer en die mense van al die nasies te begin skei? Die feite toon dat God hierdie dinge in hierdie 20ste eeu gedoen het. Christus is reeds op sy hemelse troon, en die skeidingswerk is nou haas gedaan. Daar is min tyd oor waarin jy jou aan Jehovah se kant van die geskil oor universele soewereiniteit kan skaar. Die “groot verdrukking” is voor die deur! ’n Ondersoek van Bybelprofesie in die lig van eietydse geskiedenis toon dat dit die geval is. Ons spoor jou aan om dit noukeurig te ondersoek.

[Prent op bladsy 62]

Deur onder mense te lewe, het die aarde se nuwe heerser die mensdom beter leer verstaan

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel