Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 2/1 bl. 10-11
  • Volgens watter stelsel word julle gesin regeer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Volgens watter stelsel word julle gesin regeer?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat beteken onderdanigheid in die huwelik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Waarom “onderdanig wees”?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Hoe teokratiese onderdanigheid ons help
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Die vrou se onderdanigheid—Wat beteken dit?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 2/1 bl. 10-11

Volgens watter stelsel word julle gesin regeer?

DIT lyk miskien of daar ’n groot verskil bestaan tussen die manier waarop ’n mens ’n huisgesin beheer en die manier waarop ’n land regeer word. Die een lyk soveel ingewikkelder as die ander. Maar van naderby beskou, is daar baie ooreenkomste. Nasies was immers oorspronklik groot gesinsgroepe (Gen. 10:5). Baie van die gewilde regeringstelsel van vandag het ’n parallel in hedendaagse huisgesinne. Ons kan iets leer deur enkele van hierdie parallelle te ondersoek.

Die meeste Westerse lande sê dat hulle demokrasieë is: waar die mense die mense regeer. Onder so ’n bewind word daar baie klem op persoonlike vryhede gelê. Wanneer hulle aanspraak maak op vryheid van spraak en die vryheid om te kry wat hulle begeer, wend party indiwidue hulle tot protesoptogte en stakings wat ander se lewens ontwrig. In party gesinne word dinge op ’n baie soortgelyke wyse gedoen omdat elke lid daarop aandring om ‘sy kop te volg’ en luid protesteer wanneer hy meen dat hy sy regte ontneem word.

Klink dit bekend? Dan sou jy opgemerk het dat so ’n toedrag van sake nie geluk bring of sterk gesinsbande tot gevolg het nie. Maar wanneer die algemene welsyn van die gesin in aanmerking geneem word en daar iets daaromtrent gedoen word, verskaf dit groter persoonlike geluk.

Talle demokratiese lande het koalisieregerings. Omdat die grootste party nie ’n volstrekte meerderheid het nie, word dit nodig geag om ’n alliansie, ’n “gerieflikheidshuwelik”, met ’n kleiner party aan te gaan. Hierdie kleiner koalisieparty verkry in werklikheid vetoreg. Sonder die goedkeuring daarvan kan wetsontwerpe nie aangeneem word nie. Dit besit die krag om die heersende party tot ’n val te bring deur dit aan die kant van die opposisie te skaar.

Party huwelike funksioneer op ’n soortgelyke wyse. Die man het die grootste sê, maar die vrou gebruik haar posisie om enigiets waarvan sy nie hou nie te veto. Indien hy iets ongewilds voorstel, sal sy en die kinders saam hom daarin teëgaan. Dit verswak gesinsorganisasie tot so ’n mate dat die man ‘sake maar hul gang laat gaan’. Onder sulke omstandighede sien die vrou dalk dat die man nie sekere verantwoordelikhede, soos die tugtiging van die kinders, nakom nie. Maar sy besef nie dat sy grootliks vir hierdie situasie te blameer is nie. In plaas daarvan om haar man se gesag te verswak, onderwerp die Christenvrou haar aan hom. Die man moet weer sy vrou steeds liefhê en hom nie bloedig vir haar vererg nie (Kol. 3:18, 19). Die gevolglike stabiliteit sal al die lede van die gesin tot voordeel strek.

’n Vrou kan andersyds maklik die rol van amptelike opposisie aanneem: sy doen dit deur vir haar man op alles te wys wat hy behoort te doen, soos om die dak reg te maak, die huis te verf, die motor reg te maak, die gras te sny. Sy weet natuurlik dat hierdie dinge nie van haar verwag word nie. Indien sy verder gaan en hom aan al sy foute en gebreke herinner, sal sy hom daarvan oortuig dat sy geen vertroue in hom stel nie. Maar ’n huwelik is ’n te delikate verhouding om so behandel te word. In ’n gesin moet elke lid vertroue in die ander betoon. Daar is so baie konstruktiewe dinge wat gedoen kan word dat dit onnodig—en liefdeloos—is om op mekaar se kleiner foute te wys. Indien jy na foute soek, soek dan na die waaraan jy werklik iets kan doen—jou eie.—Spr. 14:1.

Moet ons die gevolgtrekking maak dat die man absolute gesag het en dat hy kan doen net wat hy wil? Nee, dit is nie wat die Bybel leer nie. Dit sê wel dat die man die hoof van die huisgesin is (Ef. 5:22, 23). Maar is dit ’n vorm van verligte diktatorskap soos wat party heersers vandag probeer uitoefen? Nee, want ’n man het beperkte gesag. ’n Christeneggenoot is onderworpe aan plaaslike besture en nasionale regerings, aan die gemeentelike ouere manne en, van die grootste belang, aan God en Christus (1 Kor. 11:3; Tit. 3:1; Hebr. 13:7). Daarbenewens word daar Skriftuurlik van die Christeneggenoot en -vader verwag om sy hoofskap in liefde uit te oefen.—Ef. 5:25-30, 33; 6:4.

In die hedendaagse samelewing is onderdanigheid vir baie vroue onsmaaklik, maar ’n gebalanseerde beskouing kan dit verander. Die gesaghebber het groter verantwoordelikheid, en gevolglik meer probleme as die een onder hom. ’n Kind is onderworpe aan sy ouers, maar dit is nie vir hom ’n ontbering nie. Sy ouers moet egter sorg dat hy kos en klere het en opleiding ontvang. Die kind se onderworpenheid vergroot dus in werklikheid sy vryheid. Daar word baie eise aan die gesaghebber gestel. ’n Moeder het gesag oor haar kind. Maar wanneer die baba siek is en aaneen huil, is dit sy wat onderworpe is aan die baba se behoeftes en eise. ’n Man is die hoof van ’n gesin. Hy bevind hom egter ook in talle veeleisende omstandighede en het groot verpligtinge. ’n Man moet natuurlik nooit die verrigting van take vir sy vrou en kinders as ’n ondermyning van sy gesag beskou nie. Die sterkere moet die swakkere help.—Rom. 15:1, 2.

Die beste regeringsvorm vir manne op ’n huislike, nasionale of internasionale vlak is teokratiese regering: regering deur God. Totdat God se koninkryk volle gesag oor die hele aarde uitoefen, bly Christene in betreklike onderdanigheid aan die regeringsvorm wat in hulle deel van die wêreld aan bewind is. Hulle doen dit sonder om hulle vir veranderinge te beywer of om daardie bewind te probeer vervang (Rom. 13:1, 2). En wanneer ’n Christen woon in ’n huis waar die hoof van die gesin dinge nie op die Skriftuurlike wyse doen nie, moet hy sake nie ontwrig nie. Die Christenvrou en -kinders bly onderdanig in alle sake waar God se wette nie oortree word nie (Hand. 5:29; 1 Pet. 3:1). Hulle geduldige nederigheid en betreklike onderdanigheid is in ooreenstemming met God se wil, en wanneer hulle hulle Godgegewe rolle vertolk, toon hulle hulle vertroue in hom. En deur hulle hoofskap liefdevol uit te oefen, toon mans hulle onderdanigheid aan God.

Volgens watter stelsel word julle gesin dus regeer? Is dit ’n “diktatorskap in die kleine”, of volg elkeen ‘sy eie kop’? Vervul die gesinshoof sy Godgegewe rol op ’n liefdevolle wyse? Gee die ander lede van die gesin hulle samewerking en betoon hulle die nodige respek? En volg jy persoonlik die voorbeeld van Christus en sy gemeente? Dit ly geen twyfel nie: Wanneer dinge op God se manier gedoen word, sal dit die grootste eenheid en geluk in julle gesin tot gevolg hê.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel