Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 8/1 bl. 4-9
  • Waarom “onderdanig wees”?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom “onderdanig wees”?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ONDERDANIGHEID AAN REGERINGS
  • IN DIE CHRISTENGEMEENTE
  • IN SEKULÊRE BEROEPE
  • IN DIE GESINSKRING
  • Hoe teokratiese onderdanigheid ons help
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Godvrugtige onderworpenheid—Waarom en deur wie?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Wat godvrugtige onderworpenheid van ons vereis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Wat beteken onderdanigheid in die huwelik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 8/1 bl. 4-9

Waarom “onderdanig wees”?

ONDER die talle bevele wat herhaaldelik in God se Woord, die Bybel, aangetref word, is daar die een wat sê: “Wees onderdanig.” In Romeine 13:1 lees ons: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is”, dit wil sê, aan regerings. Jonger manne word vermaan om “aan die oueres onderdanig [te] wees” (1 Pet. 5:5). En die apostel Paulus het vermaan: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig.”—Ef. 5:22.

Onderdanigheid stuit talle onvolmaakte mense teen die bors, inderdaad tot so ’n mate dat allerhande maatskaplike bewegings gevorm is om te rebelleer teen ’n posisie van onderdanigheid en dit dikwels op gewelddadige wyse. Nie lank gelede nie het New York se Times byvoorbeeld op net een dag oor die volgende voorbeelde van gewelddadige opstand teen gesag verslag gelewer: “Twee bomme het vroeg vandag in die middestad van Londen ontplof.” ‘Nege persone is in die vyf provinsiale stede Manchester, Liverpool, Coventry, Bristol en Southampton beseer.’ Die volgende opskrif het op dieselfde bladsy verskyn: “21 Persone beseer toe ’n bom op stampvol bus ontplof.” Daar is ook berig dat Iran hom op ’n gereedheidsgrondslag geplaas het vir ’n roudag ter herinnering aan “betogers wat gesterf het tydens botsings met veiligheidsmagte”. Al hierdie mense het in werklikheid gerebelleer teen onderdanigheid aan die heersende magte.

Waarom beveel die Bybel: “Wees onderdanig”? Wie moet onderdanig wees, en aan wie? Waarom stuit onderdanigheid mense so teen die bors?

Onderdanigheid stuit mense so teen die bors weens die opstandige weg wat ons eerste ouers, Adam en Eva, ingeslaan het. Hulle het ’n neiging om te rebelleer aan hulle nasate nagelaat, ’n gees van selfsugtige wetteloosheid wat nog nooit algemener was as nou nie, net soos Jesus ook voorspel het (Matt. 24:12). Maar ’n deel van die blaam rus ongetwyfeld op die skouers van diegene wat hulle gesag misbruik het.

Die raad om ‘onderdanig te wees’ berus nietemin op goeie beginsels. Party moet eenvoudig regeer of die leiding gee en ander moet onderdanig wees. Hoe so? Omdat geen mens geheel en al alleen kan bestaan nie. Elkeen het nodig wat die ander kan voorsien in die vorm van materiële dinge en dienste in ruil vir wat hyself op die een of ander manier kan voorsien. Dit alles verg organisasie. Organisasie verg nie alleen oorlegpleging nie, maar oor ’n erkende gesag. ’n Nasie, staat of provinsie, ’n stad of ’n dorp, is almal politieke organisasies wat verg dat party regeer en ander regeer word of onderdanig is. Hierdie beginsel geld op so te sê elke ander gebied van mensebedrywigheid, hetsy sekulêr of godsdienstig, openbaar of huishoudelik.

Daar moet egter nie uit die oog verloor word dat selfs gesaghebbers soms onderdanig moet wees nie. ’n Mens kan byvoorbeeld nie verkeerswette ongestraf oortree nie. Wanneer ’n persoon hospitaal toe gaan vir ’n operasie, vind hy dat hy onderworpe is aan dokters, verpleegsters en ander lede van die hospitaalpersoneel. ’n Sakeman het moontlik baie werknemers onder hom, maar wanneer hy na sy Christengemeente gaan, is hy onderworpe aan die ouere manne wat oor hom presideer en aan sy medeaanbidders.

ONDERDANIGHEID AAN REGERINGS

In die huidige mensegemeenskap is regerings nodig sodat mense op ’n beskaafde wyse kan lewe en ’n mate van sekuriteit kan geniet, om nie eers te praat van die talle dienste wat ’n regering kan lewer nie, hetsy plaaslik of landwyd. Dit spreek dus vanself dat daar bereidwilligheid of ten minste toegeeflikheid aan die kant van die onderdane moet wees indien sulke regerings hulle doel moet bereik. Dit is waarom God se Woord Christene beveel om hulle te “onderwerp . . . want daar is geen mag behalwe van God nie”. Christene moet dus gehoorsaam wees aan die landswette, belasting pligsgetrou betaal, verkeerswette gehoorsaam en ander verpligtinge nakom. Dit is alles in die belang van vrede en orde.—Rom. 13:1-7.

Die Bybel toon egter elders dat sulke onderdanigheid aan politieke regerings nie absoluut is nie. Dit word bepaal deur ander Skriftuurlike bevele, soos: “Betaal . . . aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.” En weer: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” Ja, die bevel om aan die politieke regerings van hierdie stelsel van dinge ‘gehoorsaam te wees’ is nie absoluut nie, maar is relatief; dit geld mits dit nie strydig is met enige regstreekse gebod van God nie.—Matt. 22:21; Hand. 5:29.

IN DIE CHRISTENGEMEENTE

Die Christengemeente is ook ’n organisasie, met een hoof, naamlik, Jesus Christus. Al die lede daarvan moet aan hom onderdanig wees. Wat dit betref, is hy self ook onderdanig. Aan wie? Aan sy hemelse Vader, Jehovah God. Ja, die Christelike “gemeente [is] aan Christus onderdanig” (Ef. 5:24). Trouens, ‘Christus is die hoof van elke man’.—1 Kor. 11:3.

Hoe oefen Jesus Christus, ’n onsigbare, goddelike wese in die hemele, sy hoofskap oor ’n sigbare menslike gemeente hier op aarde uit? Een manier is deur die geïnspireerde Skrif. Die gemeente kan slegs as Christelik beskou word indien hulle gehoorsaam is aan die bevele van Jesus en dié wat onder inspirasie deur sy apostels en ander dissipels gegee is.—Matt. 18:18; 28:19, 20.

Daarbenewens oefen Jesus sy hoofskap oor die Christengemeente uit deur middel van die “trooster”, “die Gees van die waarheid”, God se heilige gees of werkende krag (Joh. 16:7, 13). Hy gebruik ook engele om sy hoofskap oor sy gemeente uit te oefen (Matt. 18:10; 24:31; Openb. 14:6). Jesus Christus oefen ook sy hoofskap oor die Christengemeente hier op aarde uit deur middel van ’n liggaam getroue gesalfde Christene, van wie Jesus gesê het: “Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.”—Matt. 24:45-47.

As Jesus Christus die werk gedoen wil kry wat hy aan sy volgelinge opgedra het, naamlik, om dissipels van al die nasies te maak, moet hulle in vrede en harmonie saamwerk. Hulle moet ‘almal eenstemmig wees’. Almal moet dus onderdanig wees aan die instrument wat dit hom behaag om te gebruik. Ons lees: “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede.” In die Christengemeente moet alles dus “welvoeglik en ordelik toegaan”.—1 Kor. 1:10; 14:33, 40.

Daarbenewens word die verskeie lede van die Christengemeente vermaan om aan mekaar onderdanig te wees. “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig” (Ef. 5:21, NW]. Veral jonger persone moet aan die ouere manne onderdanig wees. “Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”—1 Pet. 5:5.

Al die lede van elke gemeente moet ook onderdanig wees aan die aangestelde Christelike ouere manne, net soos ons lees: “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.” Daar bestaan dus twee redes waarom die Christen onderdanig moet wees. Die een is ter wille van doeltreffendheid, ter wille van vrede of harmonie, om die grootste hoeveelheid werk moontlik op die beste manier gedaan te kry. Die ander is dat ’n versuim om onderdanig te wees dit swaar sal maak vir diegene wat die leiding gee, lets wat nadelig sal wees vir diegene wat nie onderdanig is nie.—Hebr. 13:17.

IN SEKULÊRE BEROEPE

Nog ’n gebied waar die beginsel van onderdanigheid geld, is die werkgewer-werknemer-verhouding. Wanneer ’n man die een of ander soort werk aanvaar, staan hy onder verpligting om sy aanspreeklikheid voor sy werkgewer te erken, met ander woorde, hy moet aan hom onderdanig wees—solank as wat hy natuurlik nie gevra word om iets te doen wat sy gewete verkrag of waarteen hy ’n gewetensbeswaar het nie (Hand. 5:29). Onderdanigheid aan ’n mens se werkgewer beteken dat jy aan hom die eerbied gee wat sy posisie vereis asook ’n eerlike dag se werk, en dat jy niks by hom steel nie. ’n Werknemer moet “van harte soos vir Here en nie vir mense nie” in sy betrekking werk, net soos die apostel Paulus vermaan het (Kol. 3:23). Dit is tegelyk die regte en die verstandige ding om te doen. Indien ’n persoon dit nie kan doen nie, moet hy elders werk soek.

IN DIE GESINSKRING

Aangesien die gesin ’n organisasie in die klein is, volg dit dat die beginsel van hoofskap en onderdanigheid vir die lede daarvan geld. God se Woord plaas die verantwoordelikheid op ouers om toe te sien dat hulle kinders behoorlik grootgemaak en in alle opsigte goed versorg word. Dit is waarom kinders beveel word: “Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik” (Kol. 3:20). Dat kinders aan hulle ouers onderdanig moet wees, is nie alleen Skriftuurlik nie, maar ook redelik en logies. Hulle is onervare en kan nie vir hulleself sorg nie. Daarbenewens het wyse koning Salomo eenkeer gesê: “As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder.”—Spr. 22:15.

Die beginsel van hoofskap en onderdanigheid geld ook vir die ouers, tussen man en vrou. Wie is die hoof, die man of die vrou? Volgens die Een wat die eerste man en vrou gemaak het, is dit die man wat die hoofskap moet uitoefen. Die apostel Paulus herinner almal daaraan: “Die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man” (1 Kor. 11:9). God se Woord sê ook vir ons: “Soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees” (Ef. 5:24). Party hedendaagse vroue sal ongetwyfeld opkom teen hierdie bevel, maar kom ons redeneer ’n oomblik lank oor die saak.

Dit is voorwaar opmerkenswaardig dat die apostel Paulus, wat daardie woorde neergeskryf het, sy raad aan vroue onmiddellik opvolg met raad aan mans dat hulle hulle vrouens moet liefhê net soos Jesus die gemeente liefgehad het, en dit so liefgehad het dat hy sy lewe daarvoor oorgegee het. Later sê Paulus dat mans, eggenote, hulle vrouens soos hulle eie liggame moet liefhê en hulle moet voed en koester soos hulle hulle eie liggame voed en koester. Wanneer ’n man daardie soort liefde aan sy vrou bewys, sal dit vir haar ’n vreugde wees om aan hom onderdanig te wees.—Ef. 5:25-33.

Hierdie reëling is verstandig sowel as regverdig. Die man is uiteraard normaalweg beter toegerus om die leiding te gee en die inisiatief te neem. Indien hy die regte soort leiding gee, sal sy vrou heel waarskynlik behae daarin skep om hom te volg, om toe te gee. Dit is inderdaad interessant om op te merk wat een van die stad New York se vooraanstaande psigiaters oor hierdie einste onderwerp te sê gehad het. In haar boek gee sy talle geval-beskrywings wat toelig hoe vroue die hoogste mate van genot in die intiemste aspekte van hulle huwelik kan smaak. En hoe verkry hulle dit? Bloot deur die hoofskap van hulle mans in hulle verstande en harte te aanvaar.

Dit sal ’n vrou help om nog ’n aspek van die man-vrou-verhouding in die lig van Bybelraad in aanmerking te neem. Weens haar wisselvalligheid of sikliese emosionele geaardheid word daar van haar man verwag om geduldig, vriendelik en bedagsaam te wees. Dit word aan die dag gelê wanneer hy keer op keer vir haar wag terwyl sy haar gereed maak of vind dat hy sy wense of voorkeur by sy vrou se wense, giere of beperkings moet aanpas. Dit is met baie goeie rede dat die apostel Petrus vermaan het: “Julle moet altyd bedagsaam wees teenoor julle vrouens. Julle moet hulle met respek behandel omdat hulle die swakker geslag is. Maar hulle het ook saam met julle ’n aandeel aan die lewe wat God julle as erfenis gegee het. Julle moet so lewe dat daar nie iets is wat julle verhinder om te bid nie.”—1 Pet. 3:7, Die Lewende Nuwe Testament.

Dit is ook nie onvanpas om te meld dat niks vrouens gelukkiger maak as wanneer hulle mans dinge vir hulle wil doen nie. Dit is waarskynlik die manier waarop ’n man sy vrou in die eerste plek gewen het—deur gaaf te wees en haar te probeer behaag deur dinge vir haar te doen. En so is dit ook dwarsdeur die huwelikslewe. Dit maak ’n vrou gelukkig wanneer haar man graag dinge vir haar doen, hetsy dit hoflike daadjies is soos om haar te help wanneer sy haar jas aantrek, huweliksherdenkings te onthou, of vir haar blomme, parfuum of iets anders te koop. Maar hoe kan sy by hom die begeerte wek om sulke dinge te doen? Nie deur baas te speel of met hom mee te ding nie, maar deur sy hoofskap te erken, deur aan hom die ‘eerbied’ te gee wat die Bybel sê hom toekom.—Ef. 5:33.

Uit die voorafgaande kan ons waarlik sien waarom die Bybel Christene vermaan om ‘onderdanig te wees’ aan regerings, aan diegene wat in die Christengemeente toesig hou, aan werkgewers, ouers, aan mans. Dit kos iets om onderdanig te wees, maar dit is die moeite werd. ’n Mens moet dalk jou trots of jou voorkeur prysgee. Dit beteken ook om beskeidenheid en nederigheid aan te kweek. Dit sal dikwels volharding verg, bereidwilligheid om op Jehovah God te wag om sake reg te stel—soos in die geval van burgerlike onreg—eerder as om van geweld gebruik te maak. Dit is nie alleen die regte en verstandige ding om onderdanig te wees nie, maar dit is ook die liefdevolle en, gevolglik, die lonendste ding om te doen.

[Venster/Prent op bladsy 5]

ONDERDANIGHEID AAN REGERINGS BETEKEN

Betreklike gehoorsaamheid

Dat belastings betaal word

Dat verkeerswette gehoorsaam word

[Venster/Prent op bladsy 6]

ONDERDANIGHEID AAN DIE CHRISTENGEMEENTE BETEKEN

Gehoorsaamheid aan Christus se gebooie

Samewerking met aangestelde ouere manne

[Venster/Prent op bladsy 7]

ONDERDANIGHEID AAN ’N WERKGEWER BETEKEN

Om op eerbiedige wyse ’n eerlike dag se werk te lewer

Om nie te steel nie

[Venster/Prent op bladsy 8]

ONDERDANIGHEID IN DIE GESINSKRING BETEKEN

Dat die man liefdevol bedagsaam is

Dat die vrou haar aan sy gesag as hoof onderwerp

Dat die kinders ouers gehoorsaam

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel