God se Woord is lewend
VRYGEWIGHEID BRING SEËNINGE MEE
DIE toneel is ’n bovertrek êrens in Joppe, ’n stad aan die Middellandse See. Die vrou op die bed het siek geword en gesterf. Sy was ’n eerste-eeuse Christendissipelin genaamd Tabita, wat in Grieks Dorkas is. Toe Dorkas gesterf het, is twee boodskappers na die nabygeleë stad Lidda gestuur om die apostel Petrus te gaan haal.
Toe Petrus na die bovertrek gelei is, het hy wenende vroue daar aangetref. Hulle het Dorkas liefgehad weens haar talle goeie dade. Hulle wys vir Petrus die klere wat sy vir hulle gemaak het. As ’n Christendissipelin het Dorkas seker ook baie ywerig vir ander van God se koninkryk vertel. Maar wat kon Petrus nou vir haar doen nadat sy gesterf het?
Petrus het eers almal uitgestuur. Nadat hy gekniel en gebid het, het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!” Soos jy kan sien, maak sy toe haar oë oop. Sy word lewendig! Toe het Petrus haar opgehelp.
Daarna het Petrus die ander geroep. Jy kan jou net voorstel hoe verheug hulle moes gewees het om Dorkas op en lewend te sien! Wat ’n wonderlike seën was dit tog om uit die dood opgewek te word!—Hand. 9:36-42.
Ons kan ’n les hieruit leer. Dit toon dat die persoon wat probeer om ander te help—wat vryelik van sy tyd, krag en vermoëns gee—ryklik beloon sal word. In hierdie geval het nie alleen die vroue Dorkas liefgehad weens haar goeie dade nie, maar so ook Jehovah God. Dit is waarom hy Petrus die krag gegee het om haar op te wek.
Leer dus hierdie les: As jy vrygewig teenoor ander is, sal hulle jou met liefde onthou. Daarbenewens is vrygewigheid een van die belangrike eienskappe wat jy moet hê as jy wil hê dat God jou moet onthou. En hy kan jou beloon met lewe—ewige lewe in sy regverdige nuwe orde.—Spr. 11:25, NW; 1 Joh. 2:17.