God open die weg na genesing
“Jou genesing [sal] skielik uitspruit.”—Jes. 58:8.
Voordat die leser met die volgende drie artikels begin, sal dit goed wees as hy eers vertroud raak met die materiaal waarop die artikels gebaseer is, naamlik die profesie van Jesaja, hoofstukke 58 en 59
1. Waarom het die mensdom algemene genesing nodig?
HET die hele mensdom genesing nodig? Mense wat op hoogte van sake bly met behulp van al die hedendaagse metodes om inligting van ver en naby te versamel, sal nie aarsel om ‘Ja!’ te antwoord nie. Die vraag is: Wie van ons mense kan die broodnodige genesing teweegbring? Filantrope hou hoopvol aan om te probeer, maar al hulle opregte pogings het nie daarin geslaag om die agteruitgang van die mensdom se gesondheid op maatskaplike, morele, ekonomiese en gesinsvlak te stuit nie. Die sieklike mensdom se klaagkreet word al hoe luider!
2, 3. (a) Wie het meer rede as die mensdom self om te kla oor hoe ver die mensdom geval het? (b) Hoe word die mensdom se gevalle toestand in Romeine 3:9-18 beskryf?
2 Indien ons gewone skepsele baie rede het om te kla, hoeveel te meer dan nie die bomenslike Skepper van die heelal nie! Hy het beslis nie sy skeppingsvermoë oneer aangedoen deur sy menslike skepping aan die begin in die ellende te dompel waarin ons ons vandag bevind nie. Hy sê onomwonde dat die koms van sonde dit alles veroorsaak het. Negentien eeue gelede het hy gewys hoe ver die mensdom al van oorspronklike volmaaktheid geval het deur een van die skrywers van die boeke van die Bybel te inspireer om hierdie verduideliking neer te skryf:
3 “Wat dan? Het ons enige voorrang? Hoegenaamd nie! Want ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is, soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Hul keel is ’n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.”—Rom. 3:9-18.
4. (a) Waaruit het Paulus daar aangehaal? (b) Wat is die toedrag van sake dus vandag, 19 eeue later?
4 In die betrokke deel van sy brief wat hy omstreeks 56 G.J. aan die Christengemeente in eertydse Rome geskryf het, het die apostel Paulus aangehaal uit die Hebreeuse Skrifte wat meer as 450 jaar vantevore onder inspirasie geskryf is. Paulus haal byvoorbeeld uit Jesaja 59:7-20 aan. Dit toon dat die situasie alreeds in sy dag baie sleg was, nie net die situasie van die mensdom oor die algemeen nie, maar veral dié van diegene wat bely het dat hulle Jehovah God se volk is, naamlik die Jode of Israeliete. Paulus het sulke dinge meer as 19 eeue gelede aan die Christengemeente in die rykshoofstad Rome geskryf. Wat moet ons dan vandag verwag dat die morele en godsdienstoestand van die wêreld, onder meer dié van die sogenaamde Christendom, moet wees? Die dinge wat ’n magdom objektiewe koerante daaromtrent openbaar, is skokkend, ja, verskriklik.
5, 6. (a) Hoe moet die nasies wat die ryk van die valse Christendom uitmaak hulself gedra na aanleiding van die bron van die naam Christendom? (b) Watter groter toepassing van Jesaja se profesieë aan Israel moet ons in gedagte hou wanneer ons hulle lees?
5 Na aanleiding van die bron van hulle naam behoort die Christendom Christus Jesus na te volg en volgens sy leerstellings te lewe. Die nasies wat die Christendom uitmaak, behoort te weet hoe om dit te doen. Onder sulke sogenaamde Christennasies is daar honderdmiljoene eksemplare van die Bybel, en veral eksemplare van die “Nuwe Testament”, in al die bekende tale van hulle ryk versprei. Die meeste van hulle bewoners weet hoe om daardie geïnspireerde Skrifte te lees ten einde uit te vind hoe om ’n Christen te wees. Aangesien die Christendom hulle met Christus vereenselwig en beweer dat hulle sy gemeente is, brandmerk hulle versuim om Christus se voorbeeld te volg die Christendom as ’n huigelaar. Die Christendom se maatskaplike, morele en godsdienstoestand is soos dié van die eens “uitverkore volk” van Jehovah God in die dae van die profeet Jesaja 800 jaar voordat die Christelike godsdiens op die aardse toneel verskyn het.
6 Die valse Christendom se ellendige toestand is in werklikheid ’n parallel van dié van Israel in Jesaja se dag, want hulle beweer dat hulle Israel as God se uitverkore volk vervang het. Wanneer ons dus sekere hoofstukke van Jesaja se profesie lees, kan ons die groter toepassing daarvan op die valse Christendom in gedagte hou. Het Jesaja se God gemeen dat Israel van die profeet se tyd skynheilig was en geestelike genesing nodig gehad het? Laat Jehovah God sê wat hy bevind het!
God se bevindings oor godsdienshuigelary
7. Watter bevindinge van Jehovah moes die profeet volgens Jesaja 58:1 aan Sy uitverkore volk verkondig?
7 God se bevel aan Jesaja was: “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ’n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding [opstandigheid] en aan die huis van Jakob hulle sondes.”—Jes. 58:1, vgl. NW.
8. Hoe hard moes Jesaja Jehovah se bevindinge bekendmaak, en waarom moes hy die drang om te profeteer ervaar het?
8 Volgens daardie bevel het Jehovah God Israel skuldig bevind aan “opstandigheid” en ander onvermelde “sondes”. Hy het Jesaja gebruik as sy woordvoerder om Sy bevindinge aan te kondig, en hierdie profeet is aangesê om God se aanklagte met die geskal van ’n “basuin” of trompet rugbaar te maak. Toe daar vir Jesaja gesê is: “Hou nie terug nie”, het hy dalk gevoel soos Amos, toe daardie vroeëre profeet gesê het: “Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here HERE het gespreek, wie sal nie profeteer nie?”—Amos 3:8.
9. Tot watter mate moet Jehovah se harde boodskap vandag verkondig word, en wat moet dit die hoorders help om dit te doen?
9 Die toegewyde, gedoopte volk van die Soewereine Heer Jehovah behoort vandag net so oor die saak te voel. Hulle moet beweeg word om God se boodskap vir vandag op te neem en dit wyd en syd uit te basuin. Laat hulle as Jehovah se Getuies verkondig dat daar wêreldwyd opstandigheid is teen die Soewereine Heer van die heelal, wat vereis dat sy volk lojaal moet wees en wêreldlike sondes moet vermy. Dit verklaar waarom hierdie harde boodskap dwarsoor die aarde aangekondig word. Deur daarop ag te slaan, kan die hoorders gehelp word om genesing te vind.
10, 11. Wat het die Israeliete sonder selfbeheersing gedoen terwyl hulle ’n behae in Jehovah geveins het deur te vas en hulleself te kasty?
10 Deur die dinge wat Jesaja beveel is om aan “die huis van Jakob” uit te basuin, het hy die huigelary daarvan blootgelê deur te sê:
11 “Wel soek hulle My dag vir dag en het ’n behae in die kennis van my weë! Soos ’n nasie wat geregtigheid doen en die reg van sy God nie verlaat nie, vra hulle My na die regverdige verordeninge; hulle het ’n behae in die toenadering tot God. [En sê:] Waarom vas ons, en U sien dit nie? Waarom kwel ons ons siel, en U weet dit nie?—Kyk, op die dag as julle vas, soek julle geleentheid om sake te doen, en julle jaag al jul arbeiders aan. Kyk, om te twis en te kyf, vas julle, en om te slaan met misdadige vuis.
12. Was Jehovah se aanneemlike soort vasdag ’n tyd om ’n vertoon van vroomheid en selfkastyding te maak?
12 “Julle vas nie nou om julle stem in die hoogte te laat hoor nie. Is dit die vas wat Ek verkies, die dag as die mens sy siel gaan kwel: dat hy sy hoof buig soos ’n biesie en sak en as uitsprei om sy bed te wees? Noem jy dit vas en ’n dag wat die HERE welgevallig is?”—Jes. 58:2-5.
13. Wat het Jesus, sonder om te huigel, in sy Bergpredikasie gesê oor hoe God se volk moes vas?
13 Jesus Christus het nou wel 40 dae lank gevas nadat hy met Jehovah se gees gesalf is, maar dit was ongesien en in die wildernis van Judea. En dus kon hy later sonder enige huigelary in sy Bergpredikasie sê: “Wanneer julle vas, moenie lang gesigte trek soos die geveinsdes nie; want hulle mismaak hul gesigte, sodat dit deur die mense gesien kan word dat hulle vas. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. Maar jy, as jy vas, salf jou hoof en was jou gesig, sodat jy nie die mense laat sien dat jy vas nie, maar jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.”—Matt. 6:16-18.
14. (a) Watter soort reëling is godsdiensvaste in die valse Christendom, en waarom? (b) Wat kon formele vaste en selfkastyding in eertydse Israel nie bedek nie?
14 Geen vasdae is vir Christus se dissipels voorgeskryf nie; vas is vrywillig, opsioneel. Die valse Christendom het haar verpligte vaste, maar dit is bloot mensgemaakte reëlings. Indien die selfgekose vaste van “die huis van Jakob” in die profeet Jesaja se dag met die regte doel en beweegrede gedoen is, sou daar dalk geen beswaar daarteen bestaan het nie. Maar laat ons in gedagte hou wat in “die huis van Jakob” plaasgevind het terwyl hulle gevas het of voor of na die vasdae—die getwis, die gekyf, die geskreeu op mekaar met skril stemme, die toetakeling van mekaar met die “misdadige vuis”. Die formele vas en selfkastyding kon nooit al hierdie boosheid voor die deurdringende oë van Jehovah God bedek nie. Dit verbaas ’n mens dus nie dat dit gelyk het asof hy nie hulle vas sien of enige ag daarop slaan nie!
15. (a) Watter behandeling van die arbeiderklas in Israel het die vertoon van vroomheid en selfonthouding waardeloos gemaak? (b) Met wie is dit vandag ook die geval, en waarom is dit onbehoorlik?
15 Om vroomheid te veins het die formalistiese Jode hulle hoofde soos die pluim van ’n biesie laat hang of sak en as onder hulle uitgesprei asof hulle diep rou bedryf. Maar sulke vertonings was nie ’n opregte blyk van hartgrondige berou oor hulle sondes en opstandigheid teen God en hulle wanordelikheid en onreëlmatighede nie. Indien hulle vas ’n regte was, naamlik ’n onthouding van dinge waarop hulle gewoonweg geregtig is, waarom het hulle dan terselfdertyd hulle “arbeiders”, hulle eie broers, meedoënloos aangejaag en hulle aldus verdruk? Formele onthouding op vasdae deur werkgewers wat slawedrywer was van diegene wat vir hulle gearbei het, was waarlik skynheilig. Dit het nie God se guns of goedkeuring weggedra nie, en het hom geen genot verskaf nie. Dit is ook vandag die geval met die valse Christendom wat vaste hou, want sy beweer dat sy dieselfde God aanbid wat Jesaja geïnspireer het om die opstandigheid en sondes van God se uitverkore volk bekend te maak.
16. Watter hulpmaatreëls kon die Israeliete getref het wat God gunstiger sou beïndruk het as formele vaste?
16 Watter soort vas, watter vorm van onthouding is aanneemlik vir Jesaja se God, die God wat die valse Christendom met groot vertoon voorgee dat sy aanbid? Ons kan Jehovah se woorde, wat in Jesaja opgeteken is, lees om uit te vind. Tot voordeel van diegene wat bewus is van ’n behoefte aan geestelike genesing of wat hulle verhouding met die God van die Heilige Bybel wil verbeter, sê hy: “Is dit nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek? Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie?”—Jes. 58:6, 7.
17. Watter dinge het volgens Jesaja 58:6, 7 in Israel plaasgevind, en waarvan moes hulle dus genees word?
17 Daardie beskrywende woorde van Jehovah toon onregstreeks dat daar Israeliete was wat op onregverdige, goddelose wyse geboei is. Ander is verplig om ’n juk te dra asof hulle pakdiere was. En nog ander is verdruk deur die werklas wat op hulle gelaai is. Behoeftige Israeliete is honger of sonder behoorlike huisvesting gelaat. Diegene wat die middele gehad het om verligting te verskaf, het gemaak asof hulle nie bewus was van die ellende van hulle mede-Israeliete nie. Ja, hulle het pligsgetrou die formaliteite van ’n volksvas nagekom, maar hulle het nie genoeg broederliefde gehad om hulle eie vlees en bloed van ongeregtigheid en verdrukking te bevry nie. Blote vaste het nie sulke wrede gebruike beëindig nie en het nie gevolg gegee aan God se gebod nie: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is [Jehovah]” (Lev. 19:18). Daardie Israeliete het beslis ’n genesing nodig gehad van ’n geestelike kwaal wat die gewisse einde van hulle verhouding met God sou beteken!
18. Waarom is dit nie ’n oordrywing om te sê dat dit die einde van Israel se verhouding met Jehovah sou beteken het as hulle nie van hulle godsdienskwaal genees sou word nie?
18 Dit is nie ’n oordrywing nie, want in die eeu na Jesaja se profesie het die nasie Israel sy tuisland verloor en is hulle van 607 tot 537 v.G.J. uit die gesig in Babilonië begrawe (Eseg. 37:1-11). Alhoewel die nasie deur Jehovah se onverdiende goedheid in sy tuisland herstel is, het hulle hulle verbondsverhouding met Jehovah God 569 jaar later, in 33 G.J., verloor. In 70 G.J. het die Romeine onder generaal Titus die opstandige Jerusalem vernietig en is die Joodse volk as voorwerpe van smaad oor die hele wêreld verstrooi. Al hierdie dinge is ’n waarskuwing vir die valse Christendom wat dodelik siek is.
Diegene wat die weg na genesing ingeslaan het
19. Het Jesaja aan die geestelike kwaal van sy mede-Israeliete gely, en wat toon sy woorde wat in die boek Hebreërs aangehaal is?
19 Niemand moet dink dat die profeet Jesaja geestelik siek was aan die godsdienshuigelary waaraan sy nasie gely het nie. Die man wat Jehovah God sou gebruik om sulke huigelary aan die kaak te stel, moes ’n gesonde verhouding met Hom hê. Jesaja het op sy en sy gesin se geestelike gesondheid gewys toe hy gesê het: “Hier is ek en die kinders wat die HERE my gegee het—tot tekens en sinnebeelde is ons in Israel, vanweë die HERE van die leërskare wat op die berg Sion woon” (Jes. 8:18). Die Christenapostel Paulus het dit aangehaal in sy brief aan die Hebreërs en dit op Jesus Christus en sy gesalfde, geesverwekte dissipels toegepas met hierdie woorde: “Hy sê: Ek sal u Naam aan my broeders verkondig, in die midde van die gemeente sal Ek U prys; en verder: Ek sal my vertroue op Hom stel; en verder: Hier is Ek en die kinders wat God My gegee het.”—Hebr. 2:12, 13.
20. Wie was aanvanklik die “kinders” wat Jehovah aan die Grotere Jesaja, Jesus Christus, gegee het?
20 Die “kinders” van Jehovah God wat hy op Pinkster van 33 G.J. aan Jesus Christus gegee het, was manne en vroue wat aan die Joodse organisasie met sy hoofstad te Jerusalem behoort het. Voordat hulle op Pinkster met God se gees gesalf is, was hulle dus verbonde aan daardie geestelik siek stelsel van dinge wat diegene ingesluit het wat Jesus Christus “die verlore skape van die huis van Israel” genoem het (Matt. 10:6; 15:24). Maar van Pinkster af het hulle nie langer behoort aan die godsdiensorganisasie aan wie die profeet Jesaja beveel is om Jehovah se kritiek te verkondig nie. Onder die leiding van Jesus Christus het hulle die weg na genesing ingeslaan wat Jehovah in Jesaja 58:8 belowe het. Hulle het die organisasie verlaat wat onder meer die eiegeregtige Fariseërs ingesluit het wat in gebed by die tempel gespog het: “Ek vas twee keer in die week.”—Luk. 18:11, 12.
21. Watter voordele is profeties in Jesaja 58:8 aan Christus se dissipels beloof indien hulle die hedendaagse teenbeeld van ontroue Israel verlaat?
21 Die toegewyde, gedoopte getuies van Jehovah het vandag eweneens grotendeels uit die sektes en kerkgenootskappe van die valse Christendom, die hedendaagse teenbeeld van die nasie Israel van Jesaja se dag en van Christus se dag, gekom. As beloning omdat hulle uitgekom het uit die geestelik siek Christendom wat in duisternis gehul is, is die profetiese belofte van Jesaja 58:8 vir hulle vervul: “Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees.”
22. Wanneer het die beloofde “genesing” begin uitspruit vir die dissipels wat hulle aan die valse Christendom onttrek het?
22 Vanaf die na-oorlogse jaar 1919 G.J. is daardie profesie stiptelik vervul vir die Christengetuies van Jehovah wat hulle toe heeltemal aan die belydenisgebonde, tradisiegebonde Christendom wat deur die geestelikes beheer word, onttrek het. Vir hierdie bevrydes het die verligting van Bybelwaarheid en profesie “soos die dageraad” begin deurbreek. Hulle “genesing” tot blakende geestelike gesondheid in ’n verhouding met Jehovah God deur Christus het uitgespruit en vinnig verbeter. Net soos Jesaja by die tempel is hulle gereinig om as Jehovah se Getuies te dien.—Jes. 6:1-10; 43:10-12, NW.
23. Watter soort voorhoede en “agterhoede” het hulle selfs tydens die Tweede Wêreldoorlog gehad?
23 “Geregtigheid”, nie die valse Christendom se oneerlikheid nie, het voor hulle uit gegaan om hulle te lei op weë wat in Jehovah se oë reg is. Om hulle te beskerm, het hy tot nou toe sy posisie as ’n “agterhoede” agter hulle ingeneem. Gevolglik dra hulle steeds sy goedkeuring weg en is hulle beskerm teen die uitwissing waarmee hulle vyande hulle tydens die Tweede Wêreldoorlog van 1939-1945 bedreig het.—Matt. 24:9-14.