13 JOSUA
Hy het ongewone instruksies gevolg
JOSUA staan en kyk na Jerigo, die stad wat God gesê het hy moet aanval en vernietig. Hy het onthou wat Jehovah vir hom gesê het voordat Moses gesterf het: “Wees moedig en sterk” (Deut. 31:23). Later het Jehovah vir hom iets soortgelyks gesê: “Wees . . . moedig en baie sterk” (Jos. 1:7). Nou moes Josua elke bietjie moed bymekaarskraap. Hoekom?
Jerigo was nie ’n baie groot stad nie, maar dit was ’n sterk en belangrike een. Dit was die eerste stad wat die Israeliete sou aanval om die Beloofde Land te oorwin, en die stad was beskerm deur versterkte mure. Agter daardie mure het die mense baie slegte dinge gedoen. Honderde jare vroeër het Jehovah vir Abraham vertel van die sondes van die Amoriete, wat na al die mense in hierdie streek van Kanaän verwys. Hy het gesê dat daar ’n tyd sou kom wanneer hy nie meer hulle slegte dade sou toelaat nie en dat hy hulle sou vernietig (Gen. 15:16). Daardie dag het nou gekom. Die mense het dinge beoefen soos afgodediens, tempelprostitusie, homoseksualiteit, bloedskande, bestialiteit en hulle het selfs hulle kinders aan walglike gode geoffer. Die Kanaäniete het so sleg geword dat hulle nie meer toegelaat kon word om in die land te bly nie. Dit was asof die land hulle moes uitbraak, of opgooi! (Lev. 18:3, 6, 21-27). Hoe sou dit gebeur?
Jehovah het vir Josua gesê om ’n stad wat omring was deur sterk mure op ’n manier aan te val wat glad nie sin gemaak het uit ’n militêre oogpunt nie
God sou Josua en sy getroue manne gebruik. Daardie soldate was reg om Jehovah se leiding te volg. Hierdie geveg sou Jehovah se eerste stap wees om ontslae te raak van die slegte mense in die land. Maar die instruksies wat Jehovah Josua gegee het, was nog steeds baie ongewoon! Jehovah het nie vir hulle gesê om die stad onmiddellik aan te val of om die stad vir ’n lang tyd te omsingel nie. Hy het eerder vir hulle gesê om vir ses dae, een keer per dag, om die stad te marsjeer. Die priesters moes ook gemarsjeer het terwyl hulle die ark van die verbond gedra het en op die horings geblaas het. Op die sewende dag moes almal sewe keer om die stad gaan – en dan moes hulle skree.
Josua het ’n bietjie ondervinding as ’n soldaat gehad. Van ’n menslike of militêre oogpunt het hierdie strategie glad nie sin gemaak nie. En wat sou gebeur as Israel hierdie geveg sou verloor? Sou al die ander Kanaänitiese stede nie moediger, selfs aggressiewer word nie?
Maar Jehovah het alreeds vir Josua rede gegee om hom te vertrou. Toe Josua twee spioene na Jerigo gestuur het, het hulle uitgevind dat die manne van Jerigo baie bang was vir die Israeliete. Later het Jehovah deur middel van ’n wonderwerk die waters van die Jordaanrivier geskei sodat die Israeliete kon deurgaan.
Josua het beslis nagedink oor daardie gebeure en hoekom hy geloof in sy God kon hê. Sy geloof het hom die moed gegee om gehoorsaam te wees. So hy en sy leërmag het om Jerigo gemarsjeer. Die priesters het op hulle horings geblaas. Maar niemand het uit die stad gekom om hulle aan te val nie, want hulle was bang. Die volgende dag het Josua weer sy leërmag gelei en presies gedoen wat Jehovah hulle beveel het om te doen. Ses dae lank het hulle dag ná dag dieselfde ding gedoen. Toe kom die sewende dag.
Josua se leërmag het sewe keer op daardie dag om Jerigo gemarsjeer. Uiteindelik, nadat hulle vir die sewende keer om die stad gegaan het, het hulle iets anders gedoen. Josua het uitgeroep: “Skree, want Jehovah het die stad aan julle gegee!” Hulle het nie nodig gehad om lank te wag nie. Ons lees: “Onmiddellik nadat die volk . . . hard geskree het, het die muur inmekaargestort.”
Josua en sy manne het reguit in die stad ingestorm en elke lewende ding vernietig, net soos Jehovah vir hulle gesê het om te doen. Wanneer Jehovah met hulle was, kon Josua en sy leërmag stad na stad en nasie na nasie oorwin. Uiteindelik was Jehovah besig om die land skoon te maak van die sondes van die Amoriete!
Maar daar was ’n baie klein deel van Jerigo se muur wat nie geval het nie. Hoekom nie? Die antwoord het te doen met die geloof en moed van ’n ongelooflike vrou, soos ons in die volgende hoofstuk sal sien.
Lees die Bybelverslag:
Om te bespreek:
Hoe het Josua gewys dat hy moedig is?
Soek dieper
1. Watter geïnspireerde geskrifte was moontlik aan Josua beskikbaar? (w09 12/1 17 ¶4, vtn.) A
Prent A
2. Wat het Jehovah vir Josua gesê om te doen voordat die Israeliete om Jerigo gemarsjeer het? Hoekom het Sy instruksies dalk nie soos ’n goeie strategie gelyk nie? (Jos. 5:2-8; w18.10 23 ¶5-7)
3. Watter bewyse is daar dat Jerigo in ’n kort tydjie oorwin was? (w15 11/15 15) B
Kennedy, Titus (2023). The Bronze Age Destruction of Jericho, Archaeology, and the Book of Joshua. Accessed via researchgate.net. Licensed under CC BY 4.0
Prent B: Houers gebrande graan is ontdek in eertydse Jerigo
4. Hoe het die profesie oor Jerigo waar geword wat in Josua 6:26 gevind word? (w98 9/15 21 ¶8)
Dink aan die lesse
Wat het Josua gehelp om vertroue in Jehovah se beloftes te hê? (Jos. 23:14) Hoe kan ons vandag dieselfde vertroue hê?
Hoe help Josua se voorbeeld ons om die instruksies te volg wat ons van God se organisasie ontvang? C
Prent C
Hoe kan jy Josua se moed navolg?
Dink na oor die groter prentjie
Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?
Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?
Wat sou ek Josua graag wou vra nadat Jehovah hom opgewek het?
Leer meer
Hoe help Josua se voorbeeld ons om by ouer mense te leer, om God se beloftes te vertrou en om getrou te bly selfs wanneer ons broers en susters ons seermaak?
Help jou kinders om van belangrike gebeure in Josua se lewe te leer.