Laat Josua jou help om Jehovah moedig te dien!
“IN DIE wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.” Jy herken moontlik daardie woorde wat gespreek is deur die man Jesus. Maar as jy Hebreeus gepraat het, sou die naam Josua by jou opgekom het, want Jesus is ’n Griekse vorm van die Hebreeuse naam Josua.—Johannes 16:33.
Heel gepas is moed dan ook ’n sleutelgedagte in die Bybelboek wat geskryf is deur Jesus se voorganger, Josua die seun van Nun. Maar jy wonder miskien hoe ons persoonlik by die boek Josua baat kan vind. Wel, kom ons kyk eers na hierdie gedagte van moedigheid.
’n Man van moed
Toe Moses die einde van sy lewe genader het, het Jehovah Josua as sy opvolger aangewys, ’n man wat beslis geen groentjie of onbeproefde jongeling was nie. Josua is as slaaf in Egipte gebore, maar na die Uittog het hy hom onderskei as ’n dapper leier toe hy die ongevraagde aanval van die Amalekiete afgeslaan het (Exodus 17:8-16). Josua het sy dapperheid en moed bevestig toe net hy en Kaleb, uit die 12 man wat gestuur is om die land Kanaan te verken, onbevrees berig het dat die onsedelike Kanaäniete met Jehovah se hulp verslaan en die Beloofde Land ingeneem kon word.—Numeri 13:1-14:9.
Omdat Moses nie toegelaat is om die Beloofde Land binne te gaan nie, het hy vir Josua gesê: “Wees sterk en vol moed, want jý sal met hierdie volk in die land ingaan wat die HERE aan hulle vaders met ’n eed beloof het om aan hulle te gee; en jý sal hulle dit laat erwe.”—Deuteronomium 31:7, 23.
Jy kan dus sien waarom ons uit die boek Josua kan leer waarom hy moedig was en hoe ons moedig kan wees. Trouens, meer as die helfte van die gevalle waar die woorde “vol moed” en “sterk” saam in ’n Bybelvers voorkom, is in die boek Josua of in kommentare oor hom. Wanneer ons hierdie boek begin lees, vind ons byvoorbeeld Jehovah se advies aan Josua: “Wees net baie sterk en vol moed, om nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het; wyk daarvan nie regs of links af nie, sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan” (Josua 1:7). Laat ons kyk na sommige van die gevalle waar Josua bewys gelewer het van die innerlike moed van geloof sowel as die uiterlike moed van optrede. Dan kan ons sien watter lesse ons daaruit kan leer.
Moedige geloof en optrede
Onmiddellik nadat Jehovah Josua aangespoor het om “baie sterk en vol moed” te wees, het hy voorbereidsels begin tref om Israel oor die Jordaan in die land Kanaan in te lei. Josua het beveel: “Maak vir julle padkos klaar; want oor drie dae sal julle deur hierdie Jordaan trek om die land in besit te gaan neem wat die Here julle God aan julle gee” (Josua 1:11). Josua se moedige geloof het hom dus nie laat dink dat hy maar net agteroor kon sit en wag dat Jehovah alles doen nie. Hy moes self optree. Ons het eweneens geloof en moed nodig om ag te slaan op Jesus se raad dat God ons sal help om genoeg voedsel en klere te kry. Maar hierdie belofte beteken nie dat ons bloot agteroor kan sit en niks hoef te doen om onsself te onderhou nie.—Mattheüs 6:25-33.
Die onmiddellike probleem waarvoor Josua te staan gekom het, was om die Jordaan in die lente oor te steek terwyl die water hoog en die oortog op sy gevaarlikste was (Josua 5:10). Josua het nie geredeneer dat dit beter sou wees om te wag tot die somer wanneer die watervlak daal nie. God het hom beveel om op te tree, en Josua het dit moedig gedoen. Sien jy ’n les hierin? Wanneer ons iets moet doen waarby ware aanbidding betrokke is, moet ons moedig optree en nie talm totdat dinge gunstiger of geriefliker lyk nie. Ja, tree op, soos Josua gedoen het.—Prediker 11:4; Jakobus 4:13, 14.
Om te toon dat Hy met Josua was, het God beveel dat die priesters die verbondsark na die vol rivier moes dra. Toe hulle voete aan die water raak, het dit verdeel. Die nasie kon toe droogvoets deurtrek. Josua het nie self die eer hiervoor geneem nie, maar Jehovah se bevel gehoorsaam en in Gilgal (veilig aan die westelike oewer) ’n gedenkteken opgerig met klippe wat uit die rivierbedding geneem is. Dit was om te beklemtoon dat “die hand van Jehovah sterk is, sodat hy altyd gevrees mag word” (Josua 3:5-4:24). Hoewel ons nie vandag daardie gedenkteken kan sien nie, behoort hierdie wonderdaad wat Jehovah deur Josua verrig het ons geloof te versterk in God se vermoë om ten behoewe van Sy volk op te tree. Daardie gedenkteken sou beslis van betekenis wees vir die Israeliete wat teen die versterkte Kanaänitiese stad Jerigo te staan gekom het.
Sou Josua, daardie onbevreesde leërowerste, die Israeliete in ’n massa-aanval teen hierdie ommuurde stad lei? Jy weet moontlik dat Josua eerder God se bevele gehoorsaam het. En wat was dit? Sy gewapende manne het elke dag swygend om die stad gemarsjeer gevolg deur priesters, waarvan sommige op ramshorings geblaas en ander die Ark gedra het. Op die sewende dag het hulle sewe maal omgetrek. “Toe skreeu die volk, en hulle het op die horings geblaas; . . . en die muur [van Jerigo] het op sy plek ingeval”. Daarna kon Josua se manskappe ingaan en die stad vernietig. Ja, ’n klinkende oorwinning!—Josua 6:20.
Moedig en ferm, maar billik
Ons sien nog ’n aspek van Josua se moed uit twee gebeurtenisse wat vervolgens plaasgevind het. Die eerste het verband gehou met die nabygeleë stad Ai. Toe die Israeliete daarteen opgetrek het, is hulle verslaan. Waarom? Omdat Agan, in stryd met God se bevel, buit uit Jerigo geneem het. Sommige mense sal miskien sy daad verskoon omdat die dinge wat hy geneem het nuttig was en sy optrede skynbaar niemand skade berokken het nie. Jy het moontlik al soortgelyke argumente gehoor in verband met kleinskaalse stelery van ’n werkgewer of ander “geringe” oortredings. Hoe het Josua gereageer?
Met goddelike hulp het Josua die sondaar aangewys en die misdaad bevestig deur die gesteelde goedere te vind. Hoe onbeduidend moes daardie artikels tog nie gelyk het nie! Maar Josua het tot die kern van die saak deurgedring en vir Agan gesê: “Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Die HERE sal jou vandag in die ongeluk stort!” (Josua 7:25). Josua het vasgestaan vir geregtigheid en die sondaar laat teregstel, waarna dit moontlik was om Ai te verower. Gedagtig aan Josua se hantering van Agan se geval, kan ons onsself afvra: ‘Is ek so vasbeslote wanneer my kollegas of skoolmaats oneerlike of onsedelike gedrag gering ag?’
Beskou nou die tweede gebeurtenis, waarby die Kanaänitiese inwoners van Gibeon betrokke was. Toe hulle van Josua se sukses teen Jerigo en Ai gehoor het, het hulle slim te werk gegaan deur manne te stuur wat hulle voorgedoen het as reisigers van ’n ver land wat gekom het om ’n vredesverdrag met Israel te sluit. Toe het dit aan die lig gekom dat die manne in werklikheid van die nabygeleë Gibeon afkomstig was, en baie Israeliete het begin murmureer oor die manier waarop die saak gehanteer is. Sou Josua woedend wees oor die set en beveel dat Gibeon vernietig word?
’n Verbond is gesluit, en Josua het dit eerbiedig. Hy het beslis dat die Gibeoniete voortaan water moes aandra en hout moes bymekaarmaak vir God se huis. Die Gibeoniete het ingestem tot hierdie reëling, en gebeure het gou bewys dat Josua dit ook sou eerbiedig. Hoe so? Wel, vyf Kanaänitiese konings het ’n bondgenootskap gevorm en saam teen Gibeon uitgetrek. Josua het onmiddellik opgetree en, na ’n naglange opmars, die bondgenootskap aangeval. Jehovah het gehelp deur dodelike haelstene op die Kanaänitiese leër te laat neerreën, en toe die son wonderdadig ’n dag lank te laat stilstaan sodat die Israeliete die vyand heeltemal kon verslaan. Sal ons die geval van die Gibeoniete onthou en so ferm en moedig soos Josua wees as ons ’n ooreenkoms aangaan of iets belowe wat nie in stryd met God se beginsels is nie? Hou ons ons woord selfs wanneer dit moeilik of ongerieflik is?—Psalm 15:4.
Dit is van betekenis dat Josua ná hierdie geveg, en toe die vyf vyandelike konings tereggestel sou word, sy volk aangespoor het: “Wees nie bevrees of verskrik nie; wees sterk en vol moed, want so sal die HERE met al julle vyande doen teen wie julle sal veg” (Josua 10:25). Sulke krag en moed sou die Israeliete goed te pas kom terwyl hulle, ooreenkomstig God se opdrag, hulle verowering uitgebrei het, eers na die suide en daarna na die noorde, waar die koning van Hasor ook ’n mislukte bondgenootskap teen Israel gesluit het. Hoewel die Kanaäniete, met hulle versterkte stede en gewapende stryd waens, tegnologies meer gevorderd was, het die Israeliete moedig Jehovah se wil gedoen.
Ander lesse uit Josua
Ons het in die besonder gekyk na lesse uit die boek Josua wat met Josua se moed verband hou. Maar wanneer jy die boek deurlees, sal jy heel moontlik ander nuttige lesse vind.
Baie vroue is byvoorbeeld beïndruk deur die gesindheid van Ragab, wat beskerming verleen het aan twee Israeliete wat gekom het om Jerigo te verken. Die meeste van die Kanaäniete het verdedigend opgetree en Israel vreesagtig teengestaan toe hulle van God se groot dade ten behoewe van Israel gehoor het. Maar nie Ragab nie. Sy was bereid om haar tot vyand van haar volk te maak en haar lewe op die spel te plaas om Jehovah se goedertierenheid te ontvang. Sy het ook gedoen wat sy kon om haar familielede te laat verstaan wat hulle moes doen om behoue te bly. Ons kan beslis daardie verhaal gebruik om vroue vandag te help om in te sien dat ware aanbidding die voorkeur moet kry bo bande met hulle bure of selfs hulle nasie.—Josua 2:8-14.
Jy sal ’n goeie les in Josua vind oor die gevaar om verkeerde beweegredes aan ander toe te skryf. Dit behels die tyd, nadat ’n groot deel van Kanaan onderwerp is, toe Josua die land onder die stamme verdeel het. Die manne van twee en ’n half stamme het na hulle grondgebied aan die oostekant van die Jordaan teruggekeer. Op pad daarheen het hulle ’n altaar gebou. Die ander stamme het ’n verkeerde gevolgtrekking gemaak oor wat die altaar beteken het. Burgeroorlog het gedreig. Wanneer jy die verhaal in Josua hoofstuk 22 lees, kan jy let op die les dat ’n mens versigtig moet wees om nie verkeerde beweegredes aan die dade van ander toe te skryf nie. En kyk ook wat die gepaste reaksie sou wees indien jy meen dat iemand jou te na gekom of verkeerd gehandel het.
Geen samevatting van die boek Josua sou volledig wees sonder vermelding van die klem wat die boek daarop lê om van ware aanbidding gegrond op God se Woord te leer en dit aan te kleef nie. God het Josua aangeraai om Sy woord gereeld te lees en nie daarvan af te wyk nie (Josua 1:8, vgl. NW). Ná die oorwinning by Ai het Josua die hele volk noordwaarts gelei na die gebied van Sigem, tussen die berg Ebal en die berg Gerisim. Daar het hy ’n offeraltaar gebou, en toe het “hy ’n afskrif van die wet van Moses op die klippe geskrywe” (Josua 8:32). Hy het boonop die wet aan die volk voorgelees. “Daar was geen woord van alles wat Moses beveel het, wat Josua nie voorgelees het voor die hele vergadering van Israel, met die vroue en die kinders en die vreemdeling wat onder hulle saamgetrek het nie.”—Josua 8:35.
Later, nadat Josua ’n tyd lank in die dorp gewoon het wat hy beskeie as erfdeel aangevra het, het hy weer die volk byeengeroep en gesê: “Ek is oud, ek is ver op my dae; en julle het self gesien alles wat die HERE julle God aan al hierdie nasies voor julle uit gedoen het; want die HERE julle God, Hy het vir julle gestry.” Daarom het hy hulle aangespoor: “Julle moet daar baie vas by staan om sorgvuldig te doen alles wat geskrywe staan in die wetboek van Moses, dat julle daar nie regs of links van afwyk nie; . . . maar die HERE julle God moet julle aanhang.” As aansporing om dit te doen, het hy hulle herinner: “Julle moet erken . . . dat nie een woord van al die goeie woorde wat die HERE julle God oor julle gespreek het, onvervuld gebly het nie; alles het vir julle uitgekom.”—Josua 23:2-8, 14.
Eindelik het hy weer die volk bymekaargeroep vir sy laaste vermaninge, en hy het by hulle gepleit: “Kies dan vir julle vandag wie julle wil dien . . . maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.” Toe hulle hom verseker het dat hulle Hom ook sou dien, het hy ’n verbond met hulle gesluit. Die goddelike verslag lui: “En ná hierdie dinge het Josua, die seun van Nun, die kneg van die HERE, gesterwe, honderd-en-tien jaar oud.” Hierdie lojale aanbidder van Jehovah is voorwaar vir ons ’n kragtige aansporing om ook vol moed en sterk te wees terwyl ons ‘Jehovah vrees en hom in opregtheid en waarheid dien’.—Josua 24:14, 15, 29.