Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • wcg hfst. 8 bl. 44-47
  • Hy het versoeking weerstaan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hy het versoeking weerstaan
  • Wees moedig en maak God gelukkig
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Soek dieper
  • Dink aan die lesse
  • Dink na oor die groter prentjie
  • Leer meer
  • ’n Slaaf wat gehoorsaam was aan God
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Hy het ’n groot verantwoordelikheid gehad
    Wees moedig en maak God gelukkig
  • “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen?”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Jehovah help jou om suksesvol te wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
Sien nog
Wees moedig en maak God gelukkig
wcg hfst. 8 bl. 44-47

8 JOSEF

Hy het versoeking weerstaan

Gedrukte weergawe
Gedrukte weergawe

TOE Josef jonk was, was sy pa, Jakob, en sy God, Jehovah, baie lief vir hom en het hulle vir hom spesiale aandag gegee. Maar dit het nie beteken dat Josef ’n maklike lewe gehad het nie. Hy was eerder gehaat deur sy broers. Omdat Jakob Josef op ’n spesiale manier behandel het, het sy broers jaloers en wreed geword. Toe Josef profetiese drome van Jehovah ontvang het wat gewys het dat sy familie eendag voor hom sou neerbuig, het sy broers hom selfs meer gehaat.

Eendag, toe Josef omtrent 17 jaar oud was, het Jakob hom op ’n reis gestuur wat hom ’n paar dae sou neem om te kyk hoe dit met sy broers gaan. Hulle het hom wreed aangeval en hom in ’n opgedroogde waterput gegooi. Hulle was so wreed dat hulle hom heeltemal geïgnoreer het toe hy vir hulp gesmeek het. Alhoewel hulle hom wou vermoor, het hulle eerder besluit om hom te verkoop aan ’n paar handelaars wat verbygegaan het. Later het Josef se broers Jakob mislei deur hom te oortuig dat sy geliefde Josef deur ’n wilde dier doodgemaak is. Maar eintlik was Josef geneem na Egipte in die verre suide, waar hy as ’n slaaf verkoop was aan Potifar, ’n hofbeampte in Farao se huis.

Josef kon maklik hoop verloor het. Maar hy was eerder moedig en het hard gewerk. Ons lees: “Jehovah was met Josef.” Jehovah het seker gemaak dat alles wat Josef gedoen het, suksesvol was. Potifar het hom vertrou met die sorg van sy hele huishouding.

Maar moeilikheid was aan die broei. “Josef het ’n fris geboude en aantreklike man geword”, en Potifar se vrou het dit raakgesien. Sy het dit baie duidelik gemaak dat sy in hom belangstel. Sy het selfs gesê: “Kom slaap by my.” Wat sou Josef doen? Sy familie was ver weg. Hy was ’n slaaf, net ’n besitting vir sy eienaars, hulle kon hom behandel soos hulle wou. Hierdie vrou het sekerlik die mag gehad om sy lewe baie moeilik te maak. Sou Josef vir die versoeking ingee? Sou hy die moed hê om nee te sê?

Josef stap deur Potifar se huis, hy dra ’n houer en hy kyk voor hom. Potifar se vrou staan buite haar slaapkamer en sy kyk verleidelik na Josef terwyl hy verbystap.

Josef het geweet dat sy meester se vrou sy lewe moeilik kon maak, so hoe het hy dit reggekry om vir haar nee te sê?

Die Bybel sê: “Hy het geweier.” Josef het vir haar gesê dat hy nie haar man, wat hom ten volle vertrou het, sou verraai nie. Maar Josef het iets nog belangriker gesê. Hy het gesê: “Hoe kan ek dan so ’n slegte ding doen en in werklikheid teen God sondig?” Josef se liefde vir sy Vader, Jehovah, het hom die moed gegee om dadelik nee te sê. Maar Potifar se vrou het nie opgegee nie. Sy het “dag ná dag” aangehou. Eendag toe daar uiteindelik geen ander knegte naby was nie, het sy Josef aan sy klere gegryp en vir hom gesê: “Kom slaap by my!” Josef het weggebreek en gevlug. Maar sy kleed was nog in haar hand. Later het sy dit vir Potifar gewys en gesê dat Josef haar probeer verkrag het. Potifar was baie kwaad en het Josef in die tronk gegooi.

Nou was hy in ’n diep, donker tronk. Vir ’n tyd lank was sy voete in boeie en sy nek in ysters (Ps. 105:​17, 18). Josef kon maklik alle hoop verloor het en gedink het dat sy lewe nie beter sou word nie. Het Jehovah hom verlaat? Glad nie! En Josef het nooit vertroue in sy God verloor nie. Hy het hard in die tronk gewerk, en Jehovah het hom geseën. Kort voor lank het hy groter verantwoordelikhede in die tronk gekry. Hy het jaar ná jaar moedig volhard.

As gevolg van Josef se geloof en moed, kon Jehovah aanhou om hom te gebruik. Later het God Farao profetiese drome laat sien en Josef in staat gestel om dit te verduidelik. Josef het vir die koning gesê dat die drome sewe jare van oorvloed en sewe jare van hongersnood voorspel het. Farao was baie beïndruk met Josef en het hom gekies om die nasie voor te berei vir die hongersnood wat sou kom. Hy het Josef ’n magtige heerser in die land gemaak. Net Farao het meer mag as hy gehad. As gevolg hiervan het Josef nie net die Egiptenare gered nie, maar ook sy eie familie. Toe sy broers na Egipte toe gekom het vir kos, het hulle sonder dat hulle dit weet, voor hulle jonger broer neergebuig. Die droom wat Jehovah vir Josef gegee het toe hy jonk was, het waar geword. Maar sy broers het ook bewys dat hulle met verloop van tyd beter manne geword het. Die broer wat hulle in die verlede gehaat het, het hulle, hulle pa en die toekomstige nasie Israel gered – net omdat hy moedig was en aangehou het om geloof in Jehovah te stel.

Lees die Bybelverslag:

  • Genesis 37:​1-36; 39:​1-23; 41:1–45:28

Om te bespreek:

Hoe het Josef gewys dat hy moedig is?

Soek dieper

  1. 1. Wat wys dat hierdie verhaal oor Josef se lewe in Egipte akkuraat is? (g 11/10 15 ¶2)

  2. 2. Hoe het Josef geweet dat Jehovah egbreuk as “’n slegte ding” beskou? (Gen. 39:9; w22.08 26 ¶2)

  3. 3. Hoekom het Jehovah toegelaat dat Josef eerste minister van Egipte word? (w96 5/1 11 ¶4) A

    Josef, wat nou die eerste minister van Egipte is, wys vir twee Egiptiese slawe wat hulle moet doen.

    Prent A

  4. 4. Wat het Josef gedoen toe hy 110 jaar oud was, en hoe het dit gewys dat hy nog steeds sterk geloof in Jehovah gehad het? (Gen. 50:​25, 26; w07 6/1 28 ¶10-11) B

    Israelitiese mans dra ’n kis met Josef se beendere na die plek waar hy in die Beloofde Land begrawe gaan word.

    Prent B

Dink aan die lesse

  • Wat leer jy uit die manier hoe Josef sy broers behandel het oor hoe om te reageer wanneer ’n broer of suster jou sleg behandel? (Gen. 45:​4, 5; 50:​19-21)

  • Selfs toe Josef ver van die huis af was, was hy lojaal aan Jehovah. Hoe kan sy voorbeeld ons help . . .

    • wanneer ons by die skool is? C

      ’n Jong suster stap van die skool af huis toe verby haar skoolmaats wat besig is om elektroniese sigarette te rook. Hulle kyk na haar terwyl sy met selfvertroue verbystap.

      Prent C

    • wanneer ons reis? D

      ’n Jong getroude broer wat weg van die huis is vir werk, teken by ’n hotel in. ’n Mooi jong vrou, wat nie ’n Getuie is nie, teken op dieselfde tyd in en sy kyk na hom.

      Prent D

    • wanneer ons ’n foon of ’n ander toestel gebruik? E

      ’n Jong broer wat op die bed lê, kyk na sy selfoon.

      Prent E

  • Hoe kan jy Josef se moed in jou lewe navolg?

Dink na oor die groter prentjie

  • Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?

  • Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?

  • Wat sou ek Josef graag wou vra nadat Jehovah hom opgewek het?

Leer meer

Alhoewel Jehovah Josef nie teen probleme beskerm het nie, het hy hom gehelp om te volhard. Kyk hoe Jehovah jou ook kan help.

“Jehovah help jou om suksesvol te wees” (w23.01 14-19)

Hoe kan kinders Josef navolg wanneer ander hulle lelik behandel?

Moenie opgee nie, al word jy onregverdig behandel (1:31)

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel