7 JAKOB
Hy het sy gesin moedig beskerm
KORT voordat Jakob gesterf het, het hy gesê dat sy lewe kort en moeilik was (Gen. 47:9). Hy het baie moeilike dinge in sy lewe deurgemaak! Vroeër in sy lewe het hy ver na die land Haran gevlug omdat sy eie broer hom wou doodmaak. In Haran het Jakob verlief geraak op Ragel, maar haar pa, Laban, het hom bedrieg en hom eers met haar ouer suster laat trou. So Jakob het twee vrouens gehad, wat nie met mekaar oor die weg gekom het nie. Jakob het jare lank vir Laban gewerk, maar Laban het hom herhaaldelik probeer bedrieg. Ten spyte van al hierdie dinge, het Jakob nog steeds ongelooflike moed, geloof en volharding gewys.
Eendag het Jehovah vir Jakob gesê dat dit tyd was om Haran te verlaat en terug huis toe na Kanaän te gaan. Maar dit kon gevaarlik gewees het, want Laban was gierig en het gedink dat alles wat Jakob gehad het, aan hom behoort. Jakob het toe met sy familie gepraat en almal bymekaargemaak en gevlug sonder om vir Laban te sê. Toe Laban uitvind, het hy sy manne bymekaargemaak en hulle agternagesit. Hy het die familie uiteindelik gevind en het Jakob erg gekritiseer omdat hy gegaan het sonder om vir hom te sê. Laban het Jakob selfs gedreig deur te sê: “Ek het die mag om julle kwaad aan te doen.” Maar Jakob het Laban moedig reggehelp. Hy het vir Laban gesê dat Laban hom jare lank onregverdig en bedrieglik behandel het. Maar Jakob was nog steeds bereid om vrede te maak. Die twee manne het in vrede uitmekaargegaan.
Wat het Jakob gehelp om vrede te maak met familielede wat kwaad was en om selfs met ’n magtige engel te stoei?
Jakob se probleme was nog nie verby nie. Sy tweelingbroer, Esau, was op pad na hom toe. Jare gelede het hulle ma, Rebekka, Jakob gewaarsku dat Esau hom wou doodmaak. Esau was daarvan oortuig dat Jakob sy pa se seën op ’n oneerlike manier van hom af weggeneem het. Nou wou Jakob vrede maak. Hy het uitgevind dat Esau, met 400 manne, op pad na hom en sy familie was. Jakob het vir sy knegte waardevolle geskenke gegee en vir hulle gesê om dit na Esau toe te vat. Maar sou dit genoeg wees om Esau te kalmeer? Ons lees: “Jakob het toe baie bang en angstig geword.” Toe het iets ongeloofliks gebeur.
Later daardie aand, terwyl Jakob alleen was, het hy ’n man gesien wat hy nie geken het nie. Dit was ’n engel van Jehovah, en die engel het met Jakob begin stoei. Omdat Jakob gedink het dat die engel hom kon seën, het hy die moed gehad om ure lank met die engel te stoei. Jakob het geweier om op te gee – al was hy 97 jaar oud en al was die engel baie, baie sterker as hy. Hy het hard geveg. Hy het selfs gehuil (Hos. 12:4). Jakob was vasbeslote, oortuig dat enige seën van Jehovah af die moeite werd sou wees. Toe die son opkom, het die engel Jakob se heup uit lit uit gesit deur net daaraan te raak. Maar die engel het ook vir Jakob iets wonderliks vertel – dat sy naam nou Israel is. Die naam het ’n betekenis gehad. Dit verwys na iemand wat ’n stryd voer met God. Jakob het beslis nie opgegee nie, hy het al sy krag gebruik om Jehovah se seën te kry.
Jakob het sukkel-sukkel terug na sy familie toe geloop. In die verte was Esau op pad na hulle toe met sy 400 manne. Jakob het alleen vooruitgegaan om hulle te ontmoet. Toe Jakob nader aan Esau gekom het, het hy sewe keer laag voor hom neergebuig. Toe het Esau na hom toe gehardloop. Maar Esau het geen wapen in sy hand gehad nie. Hy het eerder sy arms wyd oopgemaak en Jakob omhels! Die twee manne het gehuil. Jakob se vrygewigheid en nederigheid het sy broer se hart sag gemaak. Dalk was hy ook beïndruk deur Jakob se moed. Jakob het ’n manier gevind om vrede met sy broer te maak.
Jakob het vir die res van sy lewe mank geloop as gevolg van sy beseerde heup. En hy het nog baie moeilike tye deurgemaak. Maar hy was beslis nie spyt oor sy besluite om Jehovah te gehoorsaam of om met die engel te stoei nie. Baie jare later het ’n wonderlike belofte wat Jehovah aan hom gemaak het, waar geword – Israel het ’n groot nasie geword (Gen. 28:14). Die Bybel noem Jehovah selfs die “God van Jakob” (Eks. 3:6). Jesus Christus het ook daardie woorde gebruik. Hy het bygevoeg dat Jehovah “nie ’n God van die dooies [is] nie, maar van die lewendes, want vir hom lewe hulle almal” (Luk. 20:37, 38). So Jakob sal ’n wonderlike toekoms hê. In die nuwe wêreld sal sy lewe nie kort en moeilik wees nie, maar lank en vol vreugde!
Lees die Bybelverslag:
Om te bespreek:
Hoe het Jakob gewys dat hy moedig is?
Soek dieper
1. Hoekom het Jehovah seker gemaak dat Jakob die geboortereg kry in plaas van Esau? (w03 10/15 29 ¶2)
2. Watter droom het Jehovah Jakob gegee en waarvan het dit hom verseker? (w03 10/15 28 ¶3–29 ¶1) A
Prent A
3. Hoekom was Jakob oortuig dat hy ’n seën van die engel kon kry? (w03 10/15 31 ¶1) B
Prent B
4. Wat het Jakob gedoen om sy familie teen die invloed van die Kanaäniete te beskerm? (w95 9/15 21 ¶5, vtn.)
Dink aan die lesse
Jakob het gevoel dat hy vir elkeen van Laban se skape moes sorg (Gen. 31:38-40). Hoe kan Christenherders vandag wys dat hulle baie omgee vir Jehovah se skape – hulle broers en susters? C
Prent C
Toe Jakob bang was, het hy tot Jehovah gebid (Gen. 32:6-12). Wat leer jy by Jakob oor hoe om te bid?
Hoe kan jy Jakob se moed in jou lewe navolg?
Dink na oor die groter prentjie
Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?
Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?
Wat sou ek Jakob graag wou vra nadat Jehovah hom opgewek het?
Leer meer
Hoe kan ons Jakob navolg as ons besef dat ons ’n broer of ’n suster seergemaak het?
Gebruik hierdie Bybelse prenteverhaal om jou gesin oor Jakob te leer.