9 SIFRA, PUA, AMRAM, JOGEBED EN MIRJAM
‘Deur geloof is Moses weggesteek’
JOSEF was vir meer as 60 jaar dood. Die Egiptenare het vergeet van die getroue man wat Jehovah gebruik het om hulle nasie van hongersnood te red. Nou het ’n nuwe Farao die land regeer en hy het die Israeliete gehaat en gevrees. Hulle het al hoe meer geword, want Jehovah het hulle geseën. En daarom het Farao die Israeliete slawe gemaak, en die Egiptenare het hulle baie sleg behandel. Maar hierdie slawe het nog steeds meer en meer geword.
Farao se volgende taktiek was verskriklik wreed. Hy het twee Hebreeuse vroedvroue, Sifra en Pua, beveel om na hom toe te kom. Stel jou voor hoe hulle moes gevoel het toe hierdie magtige heerser hulle beveel het om al die babaseuntjies by geboorte dood te maak! Maar daardie twee moedige vrouens het “die ware God gevrees”. Hulle het geweet dat geen mens, maak nie saak hoe magtig hy is nie, die reg het om hulle te dwing om ongehoorsaam aan Jehovah, die Soewerein van die heelal, te wees nie. Hulle diep respek vir God het hulle gehelp om baie moedig te wees. “Hulle het nie gedoen wat die koning van Egipte vir hulle gesê het om te doen nie.” Hulle het eerder die teenoorgestelde gedoen: Hulle het gehelp om soveel babas as moontlik te beskerm en te red. Farao was woedend, maar hulle het dit wat hulle gedoen het, baie goed weggesteek. Jehovah het gesien wat hulle gedoen het. As gevolg hiervan “het God dit goed laat gaan met die vroedvroue”. Later het hy hulle hulle eie gesinne gegee.
Wat sou dalk met baba Moses gebeur het as dit nie vir die moed van die vroedvroue, sy ouers en sy suster was nie?
Toe Farao sien dat sy plan nie werk nie, het hy die volgende wrede bevel gegee: Gooi al die pasgebore seuntjies in die Nylrivier! Gedurende daardie donker tyd, moes ’n Hebreeuse paartjie met die name Amram en Jogebed ’n moeilike besluit neem. Hulle het alreeds twee kinders gehad, Mirjam en Aäron. Maar toe Jogebed met hulle derde kind swanger geword het, het sy en Amram geweet dat die kind in groot gevaar sou wees as dit ’n seuntjie was. Toe die seuntjie gebore was, het hulle probeer om hom so lank as moontlik weg te steek. Maar dit is nie maklik om ’n baba weg te steek nie. Toe hy drie maande oud was, het Jogebed ’n mandjie gevat en dit met asfalt en pik bedek en die baba daarin gesit. Sy het gegaan en die mandjie tussen die riete op die rand van die Nylrivier weggesteek. Haar jong dogter, Mirjam, het op ’n veilige afstand daar naby weggekruip om te kyk wat met haar klein boetie sou gebeur.
Later het Farao se dogter na die Nylrivier gekom om te bad. Sy het die mandjie gesien en een van die diensmeisies gevra om dit te gaan haal. Toe sy dit oopmaak, het die prinses die pragtige babaseuntjie gesien wat besig was om te huil, en haar hart het onmiddellik gesmelt. Sy het besluit om hom as haar eie seun groot te maak, maar sy kon sien dat die baba ’n ma nodig gehad het om hom te borsvoed en te versorg. Mirjam het onmiddellik geweet wat om te doen. Sy het moedig na Farao se dogter gehardloop en aangebied om ’n vrou te kry wat die babatjie kon versorg, en Farao se dogter het ingestem. Toe het Mirjam met haar eie ma teruggekom. Stel jou voor hoe bly Jogebed moes gewees het toe sy uitvind dat sy haar eie geliefde kind veilig kon versorg. En die koning se dogter het haar selfs betaal om dit te doen! Sy en Amram het beslis alles gedoen wat hulle kon om die seuntjie oor Jehovah te leer. Maar soos die seun ouer geword het, moes hulle hom uiteindelik aan Farao se dogter gee. Die prinses het hom Moses genoem.
Het Jehovah Amram, Jogebed en Mirjam beloon vir die geloof en moed wat hulle gehad het? Sonder twyfel! Amram en Jogebed het Mirjam en Aäron grootgemaak om getroue knegte van Jehovah te word. En hulle kon sien dat Jehovah Moses beskerm het. Die Bybel sê nie of die ouers lank genoeg gelewe het om te sien watter soort man Moses geword het nie (Eks. 6:20). Maar Mirjam en Aäron het. Hulle het gesien hoe Jehovah wonderlike dinge deur middel van Moses gedoen het. En hulle al drie het uitstekende geloof en moed gehad terwyl hulle Jehovah sy aan sy gedien het. In die volgende hoofstuk sal ons leer hoe Moses grootgeword het en hoekom hy besluit het om Jehovah te dien.
Lees die Bybelverslag:
Om te bespreek:
Hoe het die vroedvroue en Moses se familie gewys dat hulle moedig is?
Soek dieper
1. Wat het argeoloë gesê wat wys dat hierdie verslag akkuraat is? (g04 4/8 4 ¶4–5 ¶1)
2. Wat ondersteun die Bybel se verslag oor ’n papirusmandjie en oor Farao se bevel om die Hebreeuse babatjies dood te maak? (g04 4/8 6 ¶1-2) A
Christine Osborne Pictures/Alamy Stock Photo
Prent A: Papirus word selfs vandag gebruik om bote te maak
3. Wat weet ons van die Hebreeuse vroedvroue en hoe het Jehovah hulle geseën? (w03 11/1 8 ¶3-4; it “Vroedvrou”-wcgr) B
Prent B
4. Hoe het Mirjam gewys dat sy uitsonderlike geloof het selfs toe sy oud was? (ijwia artikel 7 ¶14-18)
Dink aan die lesse
Wat kan ouers by Amram en Jogebed leer?
Wat kan kinders, wat broers en susters het, by jong Mirjam leer? C
Prent C
Hoe kan jy Sifra en Pua se moed in jou lewe navolg?
Dink na oor die groter prentjie
Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?
Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?
Wat sou ek die mense in hierdie verslag graag wou vra nadat Jehovah hulle opgewek het?
Leer meer
Kyk hoe ons kan baat vind by die voorbeeld van die vrouens wat die moed gehad het om nie te doen wat die koning gesê het nie.
Hou Jehovah aan om vir dié te sorg wat moedig gehoorsaam is aan hom eerder as mense?