1 HENOG
Hy het God gelukkig gemaak
HENOG het geweet hoe dit voel om alleen te wees. Hy was baie anders as die mense om hom. Hy was die enigste persoon van sy tyd wat deur die Bybel op die volgende manier beskryf word: ‘Henog het met die ware God gewandel.’ Hoe was dit moontlik vir ’n gewone mens op aarde? En wat kan ons vandag by Henog oor moed leer?
Henog het op ten minste twee maniere met die ware God gewandel, of hom gelukkig gemaak – deur wat hy geweier het om te doen en deur wat hy gedoen het. Hy het geweier om deel te wees van die goddelose wêreld om hom. Hy was deel van die sewende generasie van Adam en Eva; Adam was baie oud, maar hy het nog gelewe. (Sien die tydlyn “Van die dae van Henog tot die tyd van die rigters”.) Die opstandige gees van die mens se eerste ouers het regdeur die hele mensdom versprei. Hulle seun Kain het sy eie broer Abel, die eerste man van geloof, vermoor. Party van Kain se kinders en kleinkinders was net so wreed soos hy of selfs wreder (Gen. 4:23, 24). Henog het moedig geweier om deur die gewelddadige gees van daardie tyd beïnvloed te word. Hy het ’n man van vrede gebly, en dit het God gelukkig gemaak.
Baie jare voordat Henog gebore was, “het mense die naam van Jehovah begin aanroep” (Gen. 4:26). Dit lyk asof hulle die naam van Jehovah op ’n disrespekvolle manier en vir valse aanbidding gebruik het. Henog het geweier om deel te wees daarvan. Hy was lief vir Jehovah se heilige naam en het dit gerespekteer, en daarom was hy anders as die mense wat daardie tyd gelewe het.
Toe mense Henog wou doodmaak omdat hulle sy boodskap gehaat het, het Jehovah hom beskerm
Henog het selfs meer moed nodig gehad toe hy gedoen het wat Jehovah hom gevra het om te doen. God het Henog ’n spesiale toewysing gegee. Hy moes as ’n profeet optree. Hy moes ’n boodskap oordra aan mense wat baie anders as hy was. Die boodskap was: “Kyk! Jehovah het met sy heilige tienduisende gekom om almal te oordeel en te straf en om al die goddeloses skuldig te bevind aan al hulle goddelose dade wat hulle op ’n goddelose manier gedoen het en aan al die skokkende dinge wat goddelose sondaars teen hom gesê het.”
Let op dat die woorde wat Henog gebruik het in die verlede tyd was, asof God se oordeel alreeds plaasgevind het. Dit wys dat Henog se woorde beslis waar sou word. En sy boodskap het gewys hoe kwaad Jehovah was oor die mense se optrede. Henog het die woord “goddelose” vier keer herhaal! Daardie woorde het die mense wat Henog se boodskap gehoor het, sekerlik kwaad gemaak. Maar hy was moedig en het vir hulle gesê wat Jehovah wou hê hulle moes hoor.
Hoe het die mense gereageer? Die Bybel sê nie presies nie, maar dit gee die idee dat daar ’n tyd was toe Henog in groot gevaar was. Hoe weet ons dit? Ons lees: “Toe was hy nie meer daar nie, want God het hom weggeneem.” Wat het gebeur? Dit lyk asof Henog vervolg was deur die goddelose mense van sy dag. In plaas daarvan om toe te laat dat hulle Henog seermaak of doodmaak, het Jehovah hom “weggeneem”, met ander woorde Hy het veroorsaak dat Henog rustig in die dood gaan slaap. Op hierdie manier kon Henog veilig in Jehovah se geheue bly, waar niemand hom kon seermaak nie.
Maar Jehovah het Henog eers ’n spesiale geskenk gegee. Ons lees: “Voordat [Henog] weggeneem is, het hy die getuienis ontvang dat hy God se hart bly gemaak het.” Dalk het Jehovah vir Henog ’n visioen gegee oor wat vir hom in die toekoms voorlê – ’n rustige lewe in ’n paradys op aarde! Voordat Henog sy oë vir die laaste keer toegemaak het, was hy heeltemal seker oor een ding: Jehovah was lief vir hom en het hom geseën omdat hy sterk geloof en moed gehad het!
Lees die Bybelverslag:
Om te bespreek:
Hoe het Henog gewys dat hy moedig is?
Soek dieper
1. Wat beteken dit wanneer die Bybel sê dat mense “die naam van Jehovah begin aanroep” het? (Gen. 4:26; w01 9/15 29 ¶3)
2. Watter spesiale toewysing het die getroue Henog ontvang, en hoe het hy dit gedoen? (w01 9/15 31 ¶5)
3. Hoe het Henog geweet dat sy moed getoets sou word selfs voordat hy geprofeteer het? (w06 10/1 19 ¶13-14) A
Prent A
4. Hoe kan jy wys dat Henog nie hemel toe geneem is nie, soos party glo? (Joh. 3:13; Heb. 11:5, 13)
Dink aan die lesse
Wanneer het ons dalk veral moed nodig om te preek? Wat kan ons help as ons na Henog se voorbeeld kyk? B
Prent B
Hoe voel Jehovah wanneer ons moedig met hom wandel? (Spr. 27:11; Heb. 11:5)
Hoe kan jy Henog se moed in jou lewe navolg?
Dink na oor die groter prentjie
Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?
Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?
Wat sou ek Henog graag wou vra nadat Jehovah hom opgewek het?
Leer meer
Hoe kan Henog se voorbeeld ons help wanneer ons met geweld te doen het?
Wees soos dié met geloof, nie dié sonder geloof nie – Henog, nie Lameg nie (2:53)
Kyk wat Henog gehelp het om geloof te ontwikkel.