Henog onbevrees ten spyte van ’n oormag
VIR ’n goeie man was dit die moeilikste van tye. Die aarde was vol goddeloosheid. Die sedelike toestand van die mensdom het geleidelik verswak. Trouens, daar is weldra gesê: “Die HERE [het gesien] dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was.”—Genesis 6:5.
Henog, die sewende man in die geslagslyn van Adam, het die moed gehad om anders te wees. Hy het ondanks die gevolge ’n ferm standpunt vir regverdigheid ingeneem. Henog se boodskap het goddelose sondaars so geïrriteer dat hulle hom wou vermoor, en net Jehovah kon hom help.—Judas 14, 15.
Henog en die universele geskil
Lank voor Henog se geboorte is die geskil oor universele soewereiniteit geopper. Het God die reg gehad om te heers? Satan die Duiwel het as ’t ware nee gesê. Hy het volgehou dat intelligente skepsele beter af sou wees as hulle nie van God se leiding afhanklik was nie. Satan het sy saak teen Jehovah God probeer bevorder deur mense op slinkse wyse aan sy kant te kry. Adam, sy vrou Eva en hulle eerste seun, Kain, is daarvoor bekend dat hulle Satan se kant gekies het deur hulle eie heerskappy pleks van heerskappy deur God te kies. Die eerste mensepaar het dit gedoen deur van die vrug te eet waarvan God gesê het hulle nie mag eet nie, en Kain het dit gedoen deur sy regverdige broer, Abel, opsetlik te vermoor.—Genesis 3:4-6; 4:8.
Abel het moedig Jehovah se kant gekies. Aangesien Abel se onkreukbaarheid rein aanbidding bevorder het, was Satan ongetwyfeld verheug toe hy sien hoe Kain sy moorddadige woede op hom koel. Van daardie tyd af gebruik Satan die “vrees vir die dood” as ’n intimiderende wapen. Hy wil enigeen wat die ware God wil aanbid se hart met vrees vervul.—Hebreërs 2:14, 15; Johannes 8:44; 1 Johannes 3:12.
Teen die tyd wat Henog gebore is, het dit heel moontlik gelyk asof daar heelwat ondersteuning was vir Satan se siening dat mense nie Jehovah se soewereiniteit sou ondersteun nie. Abel was dood, en sy getroue voorbeeld is nie nagevolg nie. Tog het Henog getoon dat hy ’n uitsondering was. Hy het ’n vaste grondslag vir geloof gehad, want hy was goed vertroud met wat in die tuin van Eden gebeur het.a Hoe kosbaar moes Jehovah se profesie oor ’n beloofde Saad wat Satan en sy planne tot niet sou maak tog vir hom gewees het!—Genesis 3:15.
Met hierdie hoop altyd voor hom is Henog nie geïntimideer deur die historiese moord op Abel waarvan die Duiwel die aanstigter was nie. Hy het eerder met Jehovah bly wandel en ’n lewenslange weg van regverdigheid gevolg. Henog het afgeskeie van die wêreld gebly en die onafhanklike gees daarvan vermy.—Genesis 5:23, 24.
Henog het hom boonop moedig uitgespreek en dit duidelik gestel dat die Duiwel se bose werke nie welslae sal behaal nie. Onder die invloed van God se heilige gees, oftewel werkende krag, het Henog aangaande die goddeloses geprofeteer: “Kyk! Jehovah het met sy heilige miriades gekom, om aan almal oordeel te voltrek en om al die goddeloses skuldig te bevind aan al hulle goddelose dade wat hulle op ’n goddelose wyse gedoen het en aan al die skokkende dinge wat goddelose sondaars teen hom gespreek het.”—Judas 14, 15.
Vanweë Henog se moedige verklarings het die apostel Paulus, toe hy die brief aan die Hebreeuse Christene geskryf het, hom ingesluit onder die groot “wolk van getuies” wat ’n uitmuntende voorbeeld van daadwerklike geloof gestel het (Hebreërs 11:5; 12:1).b As ’n man van geloof het Henog meer as 300 jaar lank in ’n weg van onkreukbaarheid volhard (Genesis 5:22). Hoe moes Henog se getrouheid God se vyande in die hemel en op aarde tog nie geïrriteer het nie! Henog se snydende profesie het Satan se haat laat opvlam, maar dit het Jehovah se beskerming meegebring.
God het henog weggeneem—Hoe?
Jehovah het nie toegelaat dat Satan of sy aardse knegte Henog doodmaak nie. Die geïnspireerde verslag sê eerder: “God het hom weggeneem” (Genesis 5:24). Die apostel Paulus beskryf sake soos volg: “Deur geloof is Henog weggevoer om die dood nie te sien nie, en hy was nêrens te vinde nie, omdat God hom weggevoer het; want voor sy wegvoering het hy die getuienis gehad dat hy vir God welbehaaglik was.”—Hebreërs 11:5.
Hoe is Henog “weggevoer om die dood nie te sien nie”? Of soos die vertaling deur R. A. Knox dit weergee: Hoe was Henog “weggeneem sonder om die dood te ondervind”? God het Henog se lewe vreedsaam beëindig en hom die smarte van die dood gespaar, hetsy deur siekte of gewelddadige optrede deur sy vyande. Ja, Jehovah het Henog se lewe op die ouderdom van 365 jaar kortgeknip—nogal ’n jong persoon in vergelyking met sy tydgenote.
Hoe het Henog “getuienis [ontvang] dat hy vir God welbehaaglik was”? Watter bewys het hy gehad? God het waarskynlik ’n verrukking oor Henog laat kom, net soos die apostel Paulus “weggeruk”, of weggevoer, is en blykbaar ’n visioen ontvang het van die toekomstige geestelike paradys van die Christengemeente (2 Korintiërs 12:3, 4). Die getuienis, of bewys, dat Henog vir God welbehaaglik was, kon ’n visioen van die toekomstige aardse Paradys ingesluit het waarin almal wat lewe God se soewereiniteit sal ondersteun. Miskien was dit terwyl Henog in ’n visionêre verrukking was dat God hom pynloos laat sterf het om tot die dag van sy opstanding te slaap. Dit lyk asof Jehovah, soos in die geval van Moses, van Henog se liggaam ontslae geraak het, want “hy was nêrens te vinde nie”.—Hebreërs 11:5; Deuteronomium 34:5, 6; Judas 9.
Die vervulling van die profesie
Vandag maak Jehovah se Getuies die kern van die profesie van Henog bekend. Uit die Skrif toon hulle hoe dit vervul sal word wanneer God die goddeloses binnekort vernietig (2 Tessalonisense 1:6-10). Hulle boodskap maak hulle ongewild, want dit verskil grootliks van hierdie wêreld se beskouings en doelwitte. Hulle is nie verbaas oor die teenstand wat hulle ondervind nie, want Jesus het sy volgelinge gewaarsku: “Julle sal weens my naam vir alle mense voorwerpe van haat wees.”—Matteus 10:22; Johannes 17:14.
Maar net soos Henog word hedendaagse Christene daarvan verseker dat hulle uiteindelik van hulle vyande verlos sal word. Die apostel Petrus het geskryf: “Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos, maar om onregverdige mense te bewaar vir die dag van die oordeel om afgesny te word” (2 Petrus 2:9). God ag dit dalk raadsaam om ’n probleem of ’n moeilike situasie uit die weg te ruim. Vervolging hou dalk op. Maar indien dit nie gebeur nie, weet hy hoe om “die uitweg [te] gee” sodat sy volk hulle beproewinge met welslae kan verduur. Jehovah voorsien selfs “krag wat bo die normale is” wanneer dit nodig is.—1 Korintiërs 10:13; 2 Korintiërs 4:7.
As “die beloner . . . van dié wat hom ernstig soek”, sal Jehovah sy getroue knegte ook met die ewige lewe seën (Hebreërs 11:6). Vir die meeste van hulle sal dit ewige lewe op ’n paradysaarde wees. Mag ons dus, soos Henog, God se boodskap onbevrees bekend maak. Laat ons dit, ten spyte van ’n oormag, in geloof doen.
[Voetnote]
a Adam was 622 jaar oud toe Henog gebore is. Henog het nog ongeveer 57 jaar ná Adam se dood gelewe. Hulle leeftye het gevolglik lank oorvleuel.
b Die vertaling “getuies” in Hebreërs 12:1 kom van die Griekse woord marʹtus. Volgens Wuest’s Word Studies From the Greek New Testament verwys hierdie woord na “iemand wat getuig, of kan getuig, van wat hy gesien of gehoor het of op enige ander manier te wete gekom het”. Christian Words, deur Nigel Turner, sê die woord beteken iemand wat praat “uit eie ondervinding . . . en uit oortuiging oor waarhede en beskouings”.
[Venster op bladsy 30]
God Se Naam Ontheilig
Ongeveer vier eeue voor Henog is Adam se kleinseun Enos gebore. “In dié tyd is daar begin om die naam van Jehovah aan te roep”, sê Genesis 4:26 (NW). Party Hebreeuse taalkenners meen dat hierdie vers moet lui dat hulle God se naam “op ontheiligende wyse begin” aanroep het of “toe het ontheiliging begin”. Aangaande daardie tydperk in die geskiedenis sê die Jerusalem-Targoem: “Dit was in die dae van daardie geslag dat hulle begin sondig het en vir hulleself afgode begin maak het, en hulle het hulle afgode name gegee volgens die naam van die Woord van die Here.”
In Enos se tyd is Jehovah se naam oral misbruik. Dit is moontlik dat mense die Goddelike naam op hulleself toegepas het of op sekere mense deur wie hulle voorgegee het dat hulle Jehovah God in aanbidding nader. Of hulle het dalk die Goddelike naam op hulle afgode toegepas. Hoe dit ook al sy, Satan die Duiwel het die menseras stewig in die strik van afgodery vasgevang. Teen die tyd wat Henog gebore is, was daar maar min ware aanbidders. Enigeen wat, soos Henog, die waarheid uitgeleef en verkondig het, was ongewild en gevolglik ’n voorwerp van vervolging.—Vergelyk Matteus 5:11, 12.
[Venster op bladsy 31]
Het Henog Hemel Toe Gegaan?
“Deur geloof is Henog weggevoer om die dood nie te sien nie.” Volgens party Bybelweergawes se vertaling van hierdie deel van Hebreërs 11:5 het Henog nie werklik gesterf nie. A New Translation of the Bible, deur James Moffatt, sê byvoorbeeld: “Dit was deur geloof dat Henog hemel toe geneem is sodat hy nooit gesterf het nie.”
Maar ongeveer 3000 jaar ná Henog se tyd het Jesus Christus gesê: “Geen mens het in die hemel opgevaar nie, behalwe hy wat uit die hemel neergedaal het, die Seun van die mens” (Johannes 3:13). The New English Bible sê: “Niemand het ooit na die hemel opgegaan nie behalwe die een wat van die hemel af gekom het, die Seun van die Mens.” Toe Jesus dit gesê het, het selfs hy nog nie na die hemel opgevaar nie.—Vergelyk Lukas 7:28.
Die apostel Paulus sê dat Henog en ander waaruit die groot wolk van voor-Christelike getuies bestaan “almal gesterf” en “nie die vervulling van die belofte verkry” het nie (Hebreërs 11:13, 39). Waarom? Omdat alle mense, Henog inkluis, sonde van Adam geërf het (Psalm 51:7; Romeine 5:12). Die enigste middel tot redding is deur die losprysofferande van Christus Jesus (Handelinge 4:12; 1 Johannes 2:1, 2). In Henog se dag was daardie losprys nog nie betaal nie. Henog het derhalwe nie hemel toe gegaan nie, maar hy slaap in die dood en wag vir ’n opstanding op aarde.—Johannes 5:28, 29.
[Foto-erkenning op bladsy 29]
Gereproduseer uit Illustrirte Pracht - Bibel/Heilige Schrift des Alten und Neuen Testaments, nach der deutschen Uebersetzung D. Martin Luther’s