2 NOAG
Hy het die wêreld veroordeel
NÁ HENOG gesterf het, het party engele in die hemel teen God in opstand gekom. Daardie slegte engele het die vrouens van die aarde begin begeer. Daarom het hulle menseliggame aangeneem en die vrouens wat hulle wou hê, vir hulleself gevat. Hulle kinders was half engel, half mens. Hulle was gewelddadige, wrede reuse wat die Nefilim genoem was. As gevolg van hulle slegte invloed het die mense op aarde baie goddeloos geword. In God se oë was sy pragtige skepping – die mensegemeenskap op aarde – bederf. Maar een man was anders – Henog se agterkleinseun Noag.
Noag het ’n regverdige man soos Henog geword. Ons lees: “Noag het met die ware God gewandel.” Later het hy getrou, en hy en sy vrou het hulle drie seuns geleer om ook gehoorsaam te wees aan Jehovah. Dit het hulle gesin anders gemaak as al die ander mense om hulle.
Eendag het Jehovah vir Noag gesê dat hy besluit het om al die slegte mense op die aarde te vernietig. Maar Jehovah het hom ook hoop gegee – Noag moes ’n massiewe ark bou sodat ’n paar lewens gered kon word. Noag het nog nooit iets soos hierdie wêreldwye Vloed wat Jehovah voorspel het, gesien nie. En hy het nog nooit iets so massief soos die ark gebou nie. Maar hy het Jehovah se beloftes vertrou en begin werk.
Noag en sy gesin het skrikwekkende vyande gehad wat hulle boodskap en werk gehaat het
Noag en sy gesin het moed nodig gehad om hierdie werk te doen. Baie mense het hulle seker gespot en hulle probeer keer. Die slegte engele moes sekerlik ook skrikwekkende vyande gewees het, en hulle reuse seuns was wreed teenoor ander. Maar Noag, sy vrou, sy drie seuns en hulle vrouens – agt mense – het aanhou werk. Vir baie jare, omtrent 50 jaar, het hulle dag ná dag gewerk om die ark te bou.
Gedurende daardie tyd het Noag nie stilgebly nie. Die Bybel noem hom “’n prediker van regverdigheid”. As die hoof van sy gesin het hy die leiding geneem om mense te waarsku oor wat kom. Maar niemand buiten sy huisgesin het geluister nie. Selfs baie van Noag se familielede het geweier om te luister. Die mense wou nie ophou om slegte dinge te doen nie. Daar was ’n groot verskil tussen hierdie man van geloof en die wêreld rondom hom. Ons kan sien hoekom die Bybel die volgende oor Noag sê: “Deur hierdie geloof het hy die wêreld veroordeel.”
Uiteindelik was die ark klaar. Nou moes hulle kos, water en ander dinge wat hulle sou nodig hê, bymekaarmaak en in die ark sit. Later het iets verstommends gebeur. Alle soorte diere, mannetjie en wyfie, het na die ark toe gestroom! Toe “het daar twee [van elke soort dier] na Noag toe in die ark ingegaan”.
God het alreeds vir Noag gesê om sy gesin in die ark in te neem, want dit sou oor sewe dae begin reën. Ons kan net dink hoe besig die gesin was om al die laaste goedjies reg te kry en om dit wat alreeds in die ark was, te organiseer. Dalk het mense hulle al hoe meer begin spot. Maar toe alles in die ark was, het Jehovah self die deur toegemaak. Dit het dalk dié wat hulle bespot het, stilgemaak. Toe het die reën begin neerstort! Die vloedwaters het gestyg. Dit het vir veertig dae aanhou styg totdat selfs die berge onder water was. So het Jehovah die aarde van goddeloosheid skoongemaak.
Noag en sy gesin het vir meer as ’n jaar veilig in die ark gebly. Gedurende daardie tyd het die vloedwaters stadig laer en laer geword. Uiteindelik het die ark op ’n berg stilgehou, en Jehovah het later vir Noag gesê dat dit veilig is om uit die ark te gaan. Toe die gesin uit die ark uitkom, het hulle ’n altaar vir Jehovah gebou en brandoffers op die altaar geoffer omdat hulle dankbaar was dat hy hulle gered het. Jehovah het belowe om nooit weer so ’n vloed te bring nie. Hy het vir die mensdom die reënboog as ’n teken, of waarborg, van hierdie belofte gegee.
Elke mens wat vandag lewe, kom van hierdie gesin af. Ons het goeie rede om dankbaar te wees dat hulle die moed gehad het om anders te wees in ’n slegte wêreld!
Lees die Bybelverslag:
Om te bespreek:
Hoe het Noag gewys dat hy moedig is?
Soek dieper
1. Hoe was die wêreld voor die Vloed? (w02 3/1 5 ¶3–6 ¶4)
2. Wanneer het God vir Noag gesê om die ark te bou? Wanneer het God vir Noag gesê dat die Vloed sou begin? (w12 4/15 23-24 ¶5-8)
3. Hoekom kan ons glo dat die Vloed regtig gebeur het? (ijwbq artikel 156 ¶2-5, venster) A
Historic Collection/Alamy Stock Photo
Prent A: ’n Ou Hindoe storie vertel van ’n man wat ’n boot gebou het om ’n wêreldwye vloed te oorleef. Ná die vloed het hy ’n offerande geoffer en toe die voorouer van alle mense geword
4. Wat het meer as ’n honderd jaar ná die Vloed gebeur, en hoe het dit dalk die bejaarde Noag geaffekteer? (it “Noag” nr. 1 ¶12-wcgr) B
Prent B
Dink aan die lesse
Hoe is ons dag soortgelyk aan die dae van Noag? (Matt. 24:36-39)
Wat leer Noag se voorbeeld jou oor die belangrikheid daarvan om . . .
georganiseerd te wees? C
Prent C
hardwerkend te wees? D
Prent D
geduldig te wees? E
Prent E
Hoe kan jy Noag se moed in jou lewe navolg?
Dink na oor die groter prentjie
Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?
Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?
Wat sou ek Noag graag wou vra nadat Jehovah hom opgewek het?
Leer meer
Kyk hoe ’n gesinshoof hard werk om Noag se voorbeeld te volg.
Wees soos dié met geloof, nie dié sonder geloof nie – Noag, nie die mense om hom nie (2:57)
Help jou kinders om lesse by Noag te leer.