Die Bybel se beskouing
Begunstig God sekere nasies bo ander?
BAIE mense voel dat God hulle nasie bo ander begunstig. Maar watter bewyse kan hulle aanvoer as hulle gevra word? Party meld moontlik prestasies in hulle nasie se geskiedenis—soos militêre oorwinnings of ekonomiese groei. Hulle vestig dalk selfs die aandag op suksesvolle programme om honger mense te voed, minderbevoorregtes te beskerm of geregtigheid en regverdige behandeling te bevorder. Ander kom tot die gevolgtrekking dat God hulle vaderland begunstig weens die natuurskoon daarvan.
Sulke nasietrots kan in alle lande gevind word. Maar ondersteun die Bybel die opvatting dat God een nasie bo ander begunstig?
’n Belangrike eienskap van God
Die antwoord is ooglopend as ons ’n belangrike eienskap van God die Almagtige verstaan, een wat die Bybel baie duidelik beskryf. God is onpartydig. Handelinge 10:34 sê byvoorbeeld eenvoudig: ‘God is nie partydig nie.’ Die Bybel sê ook dat Jehovah God “niemand partydig behandel” nie en dat daar “by Jehovah ons God . . . geen onregverdigheid of partydigheid” is nie (Deuteronomium 10:17; 2 Kronieke 19:7). God haat partydigheid; hy stel dit selfs gelyk met onregverdigheid.
Maar jy wonder dalk: ‘Het God nie die eertydse nasie Israel bo ander nasies begunstig nie? Was dit nie ’n bewys van partydigheid nie?’ God het wel die nasie Israel in Bybeltye uitverkies, en hy het die Israeliete in sommige van hulle konflikte met ander nasies beskerm. Daarbenewens sê die Bybel van God: “Hy maak sy woord aan Jakob bekend, sy voorskrifte en sy regterlike beslissings aan Israel. So het hy aan geen ander nasie gedoen nie” (Psalm 147:19, 20). Maar toon God se handelinge met Israel dat hy partydig is? Glad nie. Kom ons kyk na drie redes.
Eerstens, God het Israel uitgesonder om alle nasies te bevoordeel. Hy het ’n verbond met Abraham, die voorvader van daardie nasie, gesluit en gesê: “Deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën” (Genesis 22:17, 18). Ja, God se doel met Israel was om ’n “saad” voort te bring waardeur die mense van “al die nasies van die aarde”, nie net die mense van een nasie nie, groot seëninge sou kon geniet.
Tweedens, God se seën was nooit beperk tot die volk Israel nie. Hy het op onpartydige wyse die weg gebaan vir individue van ander nasies om hom saam met sy uitverkore volk te aanbid (2 Kronieke 6:32, 33). Baie het daardie uitnodiging aanvaar en is gevolglik geseën. Die Moabitiese vrou Rut was maar net een so ’n welbekende voorbeeld.—Rut 1:3, 16.
Derdens, die spesiale verhouding wat God met die aardse Israel gehad het, was tydelik. In 29 G.J. het Israel die voorspelde “saad” voortgebring in die persoon van die Messias, Jesus Christus (Galasiërs 3:16). Maar Jesus se landgenote het hom as die Messias verwerp. Hy het vir hulle gesê: “Kyk! Julle huis word vir julle verlate agtergelaat” (Matteus 23:38). Daarna het God se handelinge met die mensdom niks te doen gehad met spesifieke nasies van die wêreld en hulle konflikte nie. Hy het eerder op onpartydige wyse voorsienings gemaak waarby die hele mensdom kan baat vind. Kyk na ’n paar voorbeelde.
God se gawes aan almal
Die losprysoffer van Jesus Christus is God se grootste gawe aan die mens (Romeine 6:23). Dit het ’n manier voorsien om van sonde en die dood bevry te word, wat aan elkeen van ons die geleentheid gee om die ewige lewe te beërf. Hierdie gawe is vir individue “uit elke stam en taal en volk en nasie” (Openbaring 5:9). Ja, God wil hê dat “elkeen wat geloof in [Jesus] beoefen”, die “ewige lewe” moet hê.—Johannes 3:16.
Die goeie nuus van God se Koninkryk bring baie seëninge mee vir diegene wat luister (Openbaring 14:6, 7). Dit gee hoop vir die toekoms en voorsien wyse raad wat nou tot ’n gelukkiger lewe kan lei. Jehovah het op onpartydige wyse gereël dat “hierdie goeie nuus van die koninkryk . . . in die hele bewoonde aarde verkondig [sal] word as ’n getuienis vir al die nasies” (Matteus 24:14; 28:19, 20; Handelinge 16:10). Daardie goeie nuus vind ons in die Bybel, ’n boek wat—ten minste gedeeltelik—in meer as 2 300 tale beskikbaar is. As ’n liefdevolle Vader het Jehovah aan feitlik elke persoon op aarde die “woorde van die ewige lewe” beskikbaar gestel.—Johannes 6:68; Josua 1:8.
Hierdie en ander gawes van God is beskikbaar aan almal—ja, aan mense van alle nasies, rasse en taalgroepe. Om God se guns en seën te ontvang, hang dus nie af van ons geboorteplek of etniese agtergrond nie.
Wie word deur God begunstig?
Wat moet ons dan doen om God se guns te ontvang? Die apostel Petrus antwoord deur te sê: “In elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:34, 35). Dit is duidelik dat ’n passiewe belangstelling in God nie genoeg is nie. Ons moet ’n opregte liefde vir God aankweek en vrees om hom te mishaag. Ons moet ook “regverdigheid beoefen”, of daarna streef om te doen wat goed is in God se oë.
Ter toeligting: In baie lande is opvoeding by openbare skole algemeen beskikbaar, maar slegs diegene wat klasse bywoon en hulle toelê, sal daarby baat vind. Net so kan almal God se guns verkry, maar dit verg inspanning van ons kant af. Sulke inspanning sluit in dat ons die Bybel gereeld lees, geloof in Christus se losprysoffer openbaar en ’n lewe lei wat op Bybelbeginsels gegrond is. As ons ‘Jehovah werklik soek’, is ons op die weg wat tot ’n goedgekeurde posisie voor hom lei.—Psalm 105:3, 4; Spreuke 2:2-9.
[Prent op bladsy 15]
God het die “woorde van die ewige lewe” aan mense van alle nasies beskikbaar gestel