Vasberade ondanks gebreke
Soos vertel deur Kouamé NʹGuessan
Ek en my metgesel het gesukkel om die fiets teen nog ’n heuwel op te stoot. Dit was November 2002 en daar het ’n burgeroorlog in die Ivoorkus, Afrika, gewoed. Die verlate pad het dus baie gevare ingehou. In die verte was die volgende militêre kontrolepunt sigbaar. Waarom het ek in hierdie tyd van onrus so ’n gevaarlike reis onderneem?
EK IS in 1978 gebore met ’n aftakelende siekte. Dit het begin met ’n gehoorgebrek en ’n ondraaglike pyn in my bene. Toe ek ouer geword het, het my familie my verkleineer en gesê dat ‘my bene niks werd is nie en dat my ore met gemors toegestop is’. Ouer mense het op my neergesien, en kinders het vir my geskree dat ek gebreklik is en gebreekte voete het.
Ek was agt toe ek begin skoolgaan het en ek is van die begin af deur my klasmaats sowel as die onderwysers afgeknou. Ek het dikwels gewens die aarde kon oopmaak en my insluk. Omdat mense kon sien dat ek vreesbevange was, het hulle my gespot. Ek het slegs die huis verlaat wanneer ek skool toe gegaan het.
‘Waarom het hierdie siekte my getref?’ het ek my bly afvra. My ma het gesê dit was omdat iemand ’n vloek oor my uitgespreek het. Ek het partykeer ander mense met soortgelyke gebreke gesien en gewonder: ‘Beteken dit dat hulle ook slagoffers van toordery was?’
In 1992 het ek ontsettende pyn in my elmboë begin kry. Nadat die pyn afgeneem het, kon ek nie my arms reguit maak nie. Twee jaar later het ek die gebruik van my linkeroog verloor. My ouers het my na ’n hele paar sogenaamde genesers geneem, maar tevergeefs. My gesondheid het so agteruitgegaan dat ek die skool moes verlaat.
My soeke na antwoorde
’n Godsdienstige klasmaat het my genooi om saam met hom kerk toe te gaan. Al is ek as ’n animis grootgemaak, het ek ’n jaar lank kerkdienste bygewoon.a Ek het egter min oor die Bybel geleer, en ek het dus begin wonder of daar enigiets goeds in georganiseerde godsdiens steek.
Party kerkleerstellings het my banggemaak, veral dié oor die helse vuur. Ek het nie gedink dat ek so sleg was dat ek ewige foltering verdien het nie. Maar terselfdertyd het ek nie geglo dat ek goed genoeg was om ewige geluk in die hemel te ontvang nie. Aangesien ek nie bevredigende antwoorde op my vrae gekry het nie, het ek belangstelling in godsdiens begin verloor.
Die volgende jaar is ek genooi na ’n genesingsessie in Abidjan, die hoofstad van die Ivoorkus, sowat 150 kilometer van Vavoua, ons klein dorpie. Voordat ek vertrek het, het ek vir verantwoordelike persone in die kerk gesê dat ek nie genoeg geld het vir ’n toegangskaartjie of vir kos nie. Hulle het my die indruk gegee dat daar in Abidjan na my omgesien sou word, maar dit was nie die geval nie. Hoewel ek deur ’n groot skare van tussen 40 000 en 50 000 mense omring was, het ek eensaam en neerslagtig gevoel. Niemand het enige belangstelling in my getoon nie.
Ek is terug na Vavoua, net so siek soos voorheen en boonop ontnugter. Die plaaslike kerkleiers het vir my gesê dat God my nie genees het nie omdat ek nie genoeg geloof gehad het nie. Daarna het ek alle bande met godsdiens verbreek.
Uiteindelik geestelike vertroosting
In 1996 het een van Jehovah se Getuies ons gesin besoek. Ek het nog nooit vantevore met ’n Getuie gepraat nie, maar ek het na die lewendige gesprek tussen my ouer broer en die besoeker geluister. My broer het nie belanggestel nie, maar ek het. Elke woord wat die Getuie gesê het, het onmiddellik my hart geraak.
Die Getuie het verduidelik dat sonde die mensegesin besmet het as gevolg van die ongehoorsaamheid van die eerste mens. Daardie opstand het gelei tot onvolmaaktheid en die dood vir die ganse mensdom. Jesus het egter sy lewe gegee as ’n losprys sodat ons sondes vergewe kan word en ons die ewige lewe kan geniet (Romeine 3:23; 5:12, 17-19). Verder het die Getuie uit die Bybel getoon dat Jehovah God binnekort, deur middel van sy Koninkryk, die aarde in ’n paradys gaan omskep en sonde en al die ontstellende gevolge daarvan gaan uitwis.—Jesaja 33:24; Daniël 2:44; Openbaring 21:3, 4.
Die logika van Bybelleringe het ’n diepgaande uitwerking op my gehad. Die Getuie wat ek as Robert leer ken het, het reëlings getref om die Bybel twee keer per week met my te studeer. Binne ’n paar maande het ek, toegerus met my nuwe Bybelkennis, aan die vereistes voldoen om die Getuies in hulle deur-tot-deur-bediening te vergesel. Dit was ’n uitdaging, want ek moes my vrees om met mense om te gaan, te bowe kom.
Struikelblokke
My familie was nie gelukkig oor my Bybelstudie nie. Om my te treiter, het my ouer broer snags sigarette in my slaapkamer gerook. Soggens het ek ’n hoofpyn gehad en siek gevoel. Nog ’n uitdaging was die kos wat ons geëet het. My pa was lief vir jag, en ons dieet het dus hoofsaaklik bestaan uit die vleis wat hy voorsien het. Ek het aan hom verduidelik dat die Bybel dit verbied om vleis te eet waarvan die bloed nie uitgeloop het nie (Handelinge 15:28, 29). Hy het nogtans geweier om die diere te bloei. My ma het soms vir my gewone rys eenkant gehou, maar ek het selde genoeg kos gehad.
Hoewel die Koninkryksaal in Vavoua aan die anderkant van die dorp was, het ek nooit toegelaat dat die afstand of slegte weer my daarvan weerhou om vergaderinge by te woon nie. Ek is in September 1997 gedoop by die “Geloof in God se Woord”-streekbyeenkoms in die Ivoorkus. Ek het my deelname aan die Christelike bediening uiteindelik in so ’n mate vergroot dat ek kon dien as ’n pionier, soos Jehovah se Getuies hulle voltydse bedienaars noem.
Verdere uitdagings
In September 2002 het politieke onrus in die land tot ’n burgeroorlog gelei. Binne ’n paar weke het die nasionale weermag Vavoua genader. Party mense, onder andere die meeste van Jehovah se Getuies, het uit vrees vir hulle lewe gevlug. Vyf dae nadat hulle vertrek het, het soldate die dorp oorgeneem en onmiddellik alle sosiale bedrywighede verbied. Daarna het die meeste inwoners van Vavoua die dorp verlaat, insluitende die oorblywende Getuies.
Aangesien daar geen openbare vervoer was nie, moes mense baie kilometers ver loop om by omliggende dorpe te kom. Ek kon nie so ver loop nie, en daarom was ek die enigste Getuie wat in Vavoua oorgebly het. Ek het aangehou met die predikingswerk en het gemeentelike vergaderinge gehou wat deur sommige van die plaaslike inwoners bygewoon is.
Pogings om ’n byeenkoms by te woon
’n Spesiale byeenkomsdag van Jehovah se Getuies is vir November in die dorp Daloa gereël. Ek het tot Jehovah gebid oor my begeerte om dit by te woon. ’n Getuie wat vroeër die dorp verlaat het, het onverwags teruggekeer. Ek het hom gevra of hy my op sy fiets na die byeenkoms sou neem, wat sowat 50 kilometer daarvandaan was. Hy het geredelik ingestem, hoewel hy ook aan ernstige gesondheidsprobleme gely het.
’n Gespanne klimaat het geheers, en daarom was dit nie die ideale tyd vir so ’n reis nie. Voertuie is verbied om van Vavoua na Daloa te reis. ’n Onbekende reisiger kon agterdog wek en deur ’n soldaat van een van die vyandige faksies doodgeskiet word. Ons is nietemin op Saterdagoggend 9 November 2002 met ’n fiets weg uit Vavoua na Daloa, soos aan die begin beskryf is.
Dit het nie lank geneem om by die eerste van talle militêre kontrolepunte te kom nie. Ons is deeglik deursoek en toegelaat om voort te gaan. Die rit was lank en vermoeiend. Ons het die heuwels tot bo uitgeklim en dan, wanneer ons die bopunt bereik het, het ons albei op die fiets geklim en ondertoe gery.
Later het ’n ander fietsryer aangebied om ons te help. Ek het agter op sy fiets se drarak gesit. Terwyl hierdie behulpsame vreemdeling die fiets getrap het, het ek van die geleentheid gebruik gemaak om met hom oor die Koninkryk van God te praat. Ek het verduidelik dat die regering van God ’n hemelse regering is en dat dit binnekort blywende vrede op die aarde tot stand sal bring. Hy was verstom oor die dinge wat ek gesê het en het my met vrae bestook. Toe ons in Daloa aankom, het hy vir ons kos gekoop en belowe om die volgende oggend die spesiale byeenkomsdag by te woon.
Ons het laat in die aand in Daloa aangekom, moeg maar bly dat ons ons bestemming bereik het. Ons reis van nege uur was nie maklik nie. ’n Plaaslike Getuiegesin het ons hartlik verwelkom en voorgestel dat ons by hulle bly totdat die politieke klimaat ietwat rustiger is. Ongelukkig moes die byeenkoms weens die politieke onrus gekanselleer word. Die reis was egter nie vrugteloos nie. Dit het daartoe gelei dat ek bykomende voorregte ontvang het om mede-Christene in Daloa te dien.
Vasberadenheid het tot seëninge gelei
Ek bly nou besig as ’n bedieningskneg en ’n gewone pionier in ’n gemeente in Daloa. Ek help ook met die instandhouding van die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in Daloa. Om in my materiële behoeftes te voorsien, maak en verkoop ek ornamentele skoenlappers van hout en verf ek ook reklameborde.
Ek het jare lank slegs die huis verlaat as ek skool toe gegaan het, maar sedertdien het ek baie kilometers afgelê op soek na diegene wat daarna dors om die waarheid in verband met siekte en lyding te leer. Terwyl ek op God se Koninkryk wag om alle gebreke uit te wis, hou ek aan om vir mense in die Ivoorkus die vertroostende goeie nuus van God se voornemens te vertel.
[Voetnoot]
a Animisme behels die geloof dat daar bewuste lewe in diere, plante en ander voorwerpe in die natuur bestaan.
[Prent op bladsy 13]
Op pad na Daloa om die byeenkoms by te woon
[Prent op bladsy 13]
Ek help met die werk by ons Byeenkomssaal in Daloa
[Prent op bladsy 13]
Ek maak en verkoop ornamentele skoenlappers van hout om myself te onderhou