Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 12/8 bl. 16-17
  • ’n Kort geskiedenis van purper

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Kort geskiedenis van purper
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die kleur se geskiedenis in Mexiko
  • ’n Kykie na kleure en materiaal in Bybeltye
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Bilharzia—Is die einde daarvan in sig?
    Ontwaak!—1997
  • Die kleurproses—destyds en vandag
    Ontwaak!—2007
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 12/8 bl. 16-17

’n Kort geskiedenis van purper

DEUR ONTWAAK!- MEDEWERKER IN MEXIKO

“Wat jou betref, o mensekind, hef ’n klaaglied oor Tirus aan . . . Veelkleurige linne uit Egipte was jou uitgespande doek, om as jou seil te dien. Blou weefgaring en purperrooigekleurde wol van die eilande van Elisa was ’n bedekking vir jou dek. . . . [Hulle was] jou handelaars in pragtige klere.”—Esegiël 27:2, 7, 24.

TIRUS was die vernaamste hawestad van antieke Fenisië, in die gebied wat nou as Libanon bekend staan. Daardie hoogmoedige stad se handel in purper, oftewel pers materiaal, het gefloreer. Trouens, dit was as gevolg van Tirus dat hierdie helder kleur in die Romeinse Ryk as Tiriese purper bekend gestaan het.

Omdat dit so duur was, is die kleur pers later met koninklikes, eer en rykdom verbind.a Om die waarheid te sê, ’n nieadellike persoon wat dit gewaag het om ’n hele kleed te dra wat met die beste soort purper gekleur is, was volgens antieke Rome se keiserlike verordeninge skuldig aan hoogverraad.

Hierdie kleurstof word vandag nog, soos destyds, in klein hoeveelhede van seeslakke verkry—’n druppel van elkeen. Die Tiriërs het purperslakke gebruik, veral die brandaris en die trunculus, wat in verskeie streke aan die kus van die Middellandse See gevind word. Verskillende skakerings van die kleurstof kon verkry word, afhangende van presies waar die slakke versamel is.

Die kleur se geskiedenis in Mexiko

Eeue gelede, toe purpergekleurde materiale vir die eerste keer aan Spaanse veroweraars in Suid-Amerika gewys is, het die vastheid van die kleur hulle grootliks beïndruk. Dit het vir hulle gelyk asof die kleur verbeter wanneer hierdie materiale gewas word. Volgens argeologiese getuienis het die inboorlinge daar ’n verskeidenheid purpergekleurde kledingstukke gedra.

Die inheemse volke van Mexiko, veral die Mixteke, het hulle materiale gekleur met die afskeiding van ’n slak met die wetenskaplike naam Purpura patula pansa, wat verwant is aan ’n slak wat deur die Tiriërs gebruik is. Albei soorte slakke vervaardig ’n stof wat eers kleurloos lyk, maar pers word wanneer dit aan lug en lig blootgestel word. Die stof kleur die materiaalvesel sonder dat ’n hegmiddel nodig is—’n unieke eienskap onder kleurstowwe.

Die Mixteke het hulle Purpura- slakke uit die waters van die Stille Oseaan gehaal. Terwyl die Tiriërs en die Romeine die weekdiertjies doodgemaak het—trouens, ’n hele berg leë skulpe het uit daardie tye oorgebly—het die Mixteke die slakke net “gemelk”. Wanneer daar op die weekdier geblaas is, het hy sy kosbare vloeistof afgeskei, wat direk op die vesels gedrup is; daarna is die diertjie in die see teruggegooi. Die inboorlinge het die slakke nie gedurende die voorplantingseisoen “gemelk” nie. Hierdie gebruik het gesorg dat die slakbevolking tot vandag toe behoue gebly het.

Volgens die Nasionale Kommissie vir die Kennis en Gebruik van Biodiversiteit het Mixtek-kleurders tot en met die vroeë 1980’s ’n reis van 200 kilometer na die baaie van Huatulco onderneem om van Oktober tot Maart purper te verkry. Die balans wat deur dié skadelose praktyk gehandhaaf is, is egter tussen 1981 en 1985 versteur toe ’n buitelandse firma hierdie hulpbron uitgebuit het. Gevolglik het die Purpura-bevolking gedaal. Dit het daartoe gelei dat ’n amptelike verdrag gesluit is waarvolgens dit verbode is om hierdie slak dood te maak en slegs inheemse gemeenskappe toegelaat word om hulle op die tradisionele manier te benut.

Die toenemende toeristebedryf in die baaie waar die Purpura-slak woon, bedreig dit nog steeds. Nietemin hoop baie dat hierdie fassinerende diertjie bewaar sal word en sal aanhou om sy pragtige kleur te verskaf.

[Voetnoot]

a Die kleur pers—basies ’n kombinasie van blou en rooi—sluit verskeie skakerings in, van violet tot ’n donkerrooi. In die ou tyd is die term “purper” ook vir karmosyn gebruik.

[Prent op bladsy 16]

Die “Purpura”- slak

[Prent op bladsy 16]

Die slak word “gemelk” en dan in die see teruggegooi

[Erkenning]

© FULVIO ECCARDI

[Prent op bladsy 16, 17]

Purper gare wat gereed is om geweef te word

[Prente op bladsy 17]

’n “Posahuanco” (romp) word geweef

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel