Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 3/22 bl. 4-5
  • Ontleding van ’n aardbewing

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ontleding van ’n aardbewing
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Grootte en intensiteit
  • Aardbewings—benoudheid op benoudheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Aardbewings—’n Teken van die einde?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Nog groot aardbewings word verwag
    Ontwaak!—2010
  • Is God verantwoordelik vir aardbewings?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 3/22 bl. 4-5

Ontleding van ’n aardbewing

“ONS IS SO GEWOOND AAN VASTE GROND ONDER ONS VOETE DAT, WANNEER DIT BEGIN BEWEEG, ONS SKOON VERBYSTER RAAK.”—“THE VIOLENT EARTH.”

“A ARDBEWINGS is van die mees verwoestende en sterkste natuurkragte”, sê The World Book Encyclopedia. Daardie stelling is glad nie ’n oordrywing nie, want ’n hewige aardbewing kan 10 000 keer meer energie as die eerste atoombom vrystel! Wat selfs skrikwekkender is, is die feit dat aardbewings in enige klimaat, gedurende enige seisoen en enige tyd van die dag kan plaasvind. En al het wetenskaplikes miskien ’n idee waar kragtige aardskuddings waarskynlik sal voorkom, kan hulle nie sê presies wanneer nie.

Aardbewings kom voor weens rotsmassas wat onder die aardoppervlak verskuif. Dit gebeur voortdurend. Die skokgolwe wat ontstaan, is dikwels nie kragtig genoeg om op die aardoppervlak gevoel te word nie, maar dit kan deur ’n seismograaf waargeneem en geregistreer word.a Op ander tye breek en verskuif genoeg rots om die oppervlak hewig te skud.

Maar waarom is daar voortdurende beweging in die aardkors? “’n Verklaring kan gevind word in plaattektoniek, ’n begrip wat ’n ommekeer in die denkwyse oor aardwetenskappe teweeggebring het”, sê die Nasionale Aardbewinginligtingsentrum (NAIS). “Ons weet nou dat daar sewe groot korsplate is, wat in ’n aantal kleiner plate onderverdeel is”, voeg NAIS by, “wat almal voortdurend in verhouding tot mekaar beweeg, teen ’n spoed wat wissel van 10 tot 130 millimeter per jaar.” Die meeste aardbewings word volgens NAIS tot smal gordels beperk wat aandui waar die rande van die plate is. Dit is waar 90 persent van die groot aardbewings waarskynlik sal plaasvind.

Grootte en intensiteit

Die hewigheid van ’n aardbewing kan aan sy grootte of sy intensiteit gemeet word. Charles Richter het in die 1930’s ’n skaal ontwerp om die grootte van aardbewings te meet. Namate die aantal seismologiese stasies toegeneem het, is nuwe skale ontwerp wat op Richter se idee gegrond is. Die sogenoemde momentgrootteskaal meet byvoorbeeld die energie wat by die oorsprong van die aardbewing vrygestel word.

Hierdie skale toon natuurlik nie altyd hoeveel skade ’n aardbewing aangerig het nie. ’n Aardbewing in Junie 1994 in die noorde van Bolivia, met ’n lesing van 8,2, het byvoorbeeld volgens berig die dood van net vyf mense veroorsaak. Maar die aardbewing in 1976 in Tangsjan, China—met ’n kleiner lesing van 8,0—het honderdduisende sterftes tot gevolg gehad!

In teenstelling met die grootte toon die geregistreerde intensiteit watter uitwerking ’n aardbewing op mense, geboue en die omgewing het. Dit beskryf die hewigheid van ’n aardbewing beter uit ’n menslike oogpunt. Gewoonlik is dit nie die skuddings wat mense iets laat oorkom nie. Dit is eerder mure wat instort, stukkende gas- of kragleidings, vallende voorwerpe en so meer wat die meeste beserings en sterftes veroorsaak.

Een doelwit van seismoloë is om vroegtydige waarskuwings oor aardbewings te kan gee. ’n Digitale program word ontwerp wat die Gevorderde Stelsel vir Seismiese Navorsing en Monitering genoem word. Volgens ’n CNN-berig sal dié stelsel—saam met vinniger toegang en kragtiger programmatuurtoepassings—amptenare help om “byna onmiddellik gebiede te kan aanwys waar die hewigste skudding weens ’n aardbewing plaasgevind het”. Dit sal dan vir die owerheid makliker wees om hulp na die betrokke gebiede te stuur.

As mense op ’n aardbewing voorbereid is, kan dit ongetwyfeld beserings asook skade aan eiendom verminder en—nog belangriker—lewens red. Maar aardbewings kom nog altyd voor. Die vraag is dus: Hoe is mense al gehelp om die nadraai die hoof te bied?

[Voetnoot]

a ’n Seismograaf is ’n toestel wat die grondbeweging gedurende ’n aardbewing meet en registreer. Die eerste een is in 1890 ontwerp. Vandag is daar meer as 4 000 seismologiese stasies wêreldwyd in werking.

[Tabel op bladsy 5]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Hoeveel Aardbewings?

Beskrywing Lesing Jaarlikse gemiddelde

Hewig 8 en hoër 1

Groot 7-7,9 18

Sterk 6-6,9 120

Matig 5-5,9 800

Lig 4-4,9 6 200*

Gering 3-3,9 49 000*

Uiters gering <3,0 Lesing 2-3:

ongeveer 1 000 per dag

Lesing 1-2:

ongeveer 8 000 per dag

* Volgens skatting.

[Erkenning]

Bron: National Earthquake Information Center By permission of USGS/National Earthquake Information Center, USA

[Foto-erkenning op bladsy 5]

Seismogram op bladsye 4 en 5: Figure courtesy of the Berkeley Seismological Laboratory

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel