Jou lewenswyse—Wat is die risiko’s?
DAAR was nog nooit soveel positiewe verwikkelinge wat gesondheid betref nie. ’n Verslag in 1998 deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê: “Minimum gesondheidsorg, veilige watervoorrade en sanitêre fasiliteite is nou vir meer mense as ooit tevore beskikbaar.” ’n Groot deel van die wêreldbevolking se lewensomstandighede is weliswaar nog steeds haglik, maar soos die Britse Uitsaaikorporasie berig het, “was daar wêreldwyd in die laaste 50 jaar ’n groter afname in armoede as in die vorige 500 jaar”.
Verbeteringe in die wêreld se gesondheidsorgstelsels het regoor die wêreld mense se gemiddelde lewensverwagting by geboorte met jare verleng. In 1955 was die gemiddeld 48 jaar. Teen 1995 het dit tot 65 jaar gestyg. Een rede vir hierdie toename is die vooruitgang in die stryd teen kindersiektes.
Net meer as 40 jaar gelede het kinders onder vyfjarige ouderdom 40 persent van alle sterfgevalle verteenwoordig. Maar teen 1998 was baie van die wêreld se kinders, danksy entstowwe, teen die vernaamste kindersiektes geïmmuniseer. Gevolglik het die aantal sterfgevalle van kinders onder vyfjarige ouderdom tot 21 persent van alle sterfgevalle gedaal. Volgens die WGO is daar “’n onmiskenbare neiging tot ’n gesonder, langer lewe”.
’n Langer lewe met min verbetering in die gehalte daarvan sal natuurlik ’n leë oorwinning wees. Baie mense plaas in hulle strewe na beter lewensomstandighede groot klem op materiële genietinge. Maar so ’n lewenswyse kan sy eie gesondheidsrisiko’s inhou.
’n Beter lewenswyse?
Onlangse sosio-ekonomiese verwikkelinge het groot veranderinge in mense se lewenswyse teweeggebring. Dit is nou vir baie in die ontwikkelde lande moontlik om ware en dienste te koop wat net ryker mense voorheen kon bekostig. En hoewel party van hierdie verbeteringe die moontlikheid van ’n langer lewe vergroot het, is baie mense verlok om ’n selfvernietigende lewenswyse te lei.
Miljoene het byvoorbeeld hulle groter koopkrag gebruik om onnodighede soos dwelms, alkohol en tabak te koop. Ongelukkig was die resultate alte voorspelbaar. “Die wêreld se snelgroeiendste openbare gesondheidsgevaar is nie ’n siekte nie”, sê die tydskrif World Watch, “dit is ’n produk.” Die tydskrif voeg by: “Tabakverwante siektes sal na verwagting binne 25 jaar by aansteeklike siektes oorneem as die grootste bedreiging vir die mens se gesondheid regoor die wêreld.” Daarbenewens sê Scientific American: “’n Verstommende 30 persent van noodlottige kanker kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die rookgewoonte en net soveel aan mense se lewenswyse, veral hulle eetgewoontes en gebrek aan oefening.”
Ons keuses in verband met ons lewenswyse het ongetwyfeld ’n groot invloed op ons gesondheid. Hoe kan ons dan ons gesondheid oppas of verbeter? Is dit voldoende om gesond te eet en oefeninge te doen? En watter rol speel verstandelike en geestelike faktore in ’n gesonde lewenswyse?