Die wêreldwye gesondheidsituasie—’n groeiende gaping
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË
TOE Ali Maow Maalin in 1977 in Somalië pokke gekry het, het hy in die hospitaal asook in die nuus beland. Nadat hy behandel en genees is, het die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie) in 1980 aangekondig dat pokke—nadat dit miljoene mense eeue lank uitgewis het—heeltemal uitgeroei is. Daar is gesê dat Ali die wêreld se laaste slagoffer was.
In 1992 het die WGO ander vorderings op die gebied van gesondheidsorg gemeld: Gedurende die tagtigerjare het meer mense in die ontwikkelende wêreld toegang tot veilige drinkwater en gesondheidsgeriewe verkry. Daarbenewens het ’n hoër persentasie van die bevolking in die lande wat die minste ontwikkel is, toegang tot ’n plaaslike gesondheidsdiens verkry. Gevolglik het die aantal kindersterftes gedurende die laaste dekade in party plekke afgeneem.
Skrikwekkende feite
Hierdie vorderings word egter deur mislukkings oortref en deur bedreigings oorskadu. Beskou ’n paar skrikwekkende feite.
HIV/VIGS—Wêreldwyd is meer as 17 000 000 mense besmet met HIV, die virus wat vigs veroorsaak. Nagenoeg 3 000 000 het in ’n onlangse jaar besmet geraak, ongeveer 8 000 per dag. Meer as ’n miljoen kinders is met HIV besmet. Sterfgevalle as gevolg van vigs onder kinders kan binnekort enige vordering wat met kinderoorlewing in onlangse dekades gemaak is heeltemal uitwis. En in baie plekke, soos in Asië, begin die epidemie nou eers in die vroeë stadium uitbreek. Meer as 80 persent van alle HIV-slagoffers, sê Aids and Development, woon in ontwikkelende lande.
Tuberkulose (TB)—Hoewel TB die afgelope twee dekades grootliks geïgnoreer is, teister dit weer eens die wêreld en veroorsaak dit die dood van ongeveer driemiljoen mense elke jaar, wat beteken dat dit dié aansteeklike siekte is waaraan die meeste mense sterf. Meer as 98 persent van daardie sterfgevalle het in ontwikkelende lande plaasgevind. Om die situasie te vererger, het die TB-bakterie met HIV saamgespan en ’n dodelike verbintenis gevorm wat verwoestende gevolge het. Na verwagting sal daar teen die jaar 2000 ’n miljoen HIV-besmette persone elke jaar aan TB sterf.
Kanker—Die aantal kankergevalle in ontwikkelende lande is nou meer as dié in ontwikkelde lande.
Hartsiekte—“Ons is na aan ’n wêreldwye koronêre katastrofe”, waarsku die WGO se dr. Ivan Gyarfas. Hartsiekte is nie meer net die plaag van nywerheidslande nie. In Latyns-Amerika byvoorbeeld sal twee tot drie keer meer mense aan hartsiekte sterf as aan aansteeklike siektes. Koronêre trombose en beroertes sal binne ’n paar jaar die hoofoorsaak van dood in die ontwikkelende lande wees.
Tropiese siektes—Die WGO waarsku: “Dit lyk asof tropiese siektes onbeheers toeneem, met cholera wat na die Amerikas versprei het . . . , geelkoors- en breekbeenkoors-epidemies wat al hoe meer mense tref en die malariasituasie wat versleg.” Die tydskrif Time sê: “In die wêreld se armer lande is die stryd teen aansteeklike siekte reeds ’n ramp.” Die dodetal weens malaria alleen is nou ongeveer tweemiljoen per jaar—dít nadat daar gemeen is dat dit sowat 40 jaar gelede grotendeels uitgewis is.
Diarreïese siektes—Die dodetal onder jongmense in die ontwikkelende lande is skokkend. Byna 40 000 kinders sterf elke dag as gevolg van infeksie of wanvoeding; een kind sterf elke agt sekondes aan diarreïese siektes alleen.
Gesondheid en armoede—’n Verband?
Wat vertel hierdie gesondheidsituasie ons? “Die ontwikkelende lande word dubbel getref”, sê ’n gesondheidsdeskundige. “Hulle word nou getref deur al die moderne chroniese siektes wat te voorskyn kom, maar ook met die oorblywende tropiese siektes.” Die gevolg? ’n Kwellende “geografiese skeur” het duidelik geword, sê die boek Achieving Health for All by the Year 2000. Gesondheidsorg in nagenoeg 40 Afrika- en Asiatiese lande hou dus “nie tred met die res van die wêreld nie”. Die gesondheidsgaping is ontsaglik groot—en neem steeds toe.
Hoewel daar talle redes vir hierdie toenemende gaping is, is “armoede” een hoofoorsaak van swak gesondheid, sê die tydskrif World Health. (Vergelyk Spreuke 10:15.) Armoede veroorsaak dikwels dat mense nie behoorlike blyplek het nie, en gevolglik is daar ’n gebrek aan sanitasie, ’n gebrek aan veilige en voldoende water asook oorbevolkte, beknopte lewensomstandighede. Hierdie drie faktore belemmer nie net gesondheid nie maar bevorder in werklikheid siektes. Voeg hierby nog wanvoeding, wat die liggaam se weerstand teen siekte verswak, en jy kan sien waarom armoede aan gesondheid doen wat termiete aan hout doen.
Wanneer dodelike siektes wonings besmet, liggame vermink en kinders doodmaak, word die armes die swaarste getref. Let op sommige voorbeelde: In die arm dele van Suid-Afrika is die omvang van tuberkulose honderd keer hoër as in die hoë-inkomste gebiede van dieselfde nasie. In die verarmde gebiede van Brasilië sterf ses keer meer mense aan longontsteking en griep as in die aangrensende ryker buurte. En die aantal babas wat in Indië se brandarm gesinne sterf, is tien keer hoër as dié in Indië se rykste gesinne. Dit is ongelukkig waar dat ‘armoede vir jou gesondheid gevaarlik is’!
Dit is geen wonder dat meer as eenmiljard krotbewoners oor die wêreld wanhopig is nie. Die onderliggende oorsake van armoede is buite hulle beheer, en die slegte gevolge daarvan oorheers hulle lewens. As jy die nadelige gevolge van armoede ondervind, voel jy dalk ook dat jy sonder hoop aan die haglike kant van die gesondheidsgaping vasgekeer is. Maar, of jy nou arm is of nie, daar is sekere maatreëls wat jy kan tref om jou gesondheid en dié van jou kinders te beskerm. Wat is daardie maatreëls? Die volgende artikel gee ’n paar wenke.