Hoe om jou gesondheid te beskerm
DIE uitdaging vandag is om te besluit wat die grootste invloed op ons gesondheid gaan hê. Die media het die mark oorstroom met inligting oor diëte, oefeninge, dieetaanvullings en ’n menigte ander gesondheidsake. Baie hiervan is ongelukkig teenstrydig. Die wetenskapskrywer Denise Grady sê: “Dit lyk of raad aan die publiek oor wat om te eet, watter medisyne om te neem en, basies, hoe om te lewe, elke keer verander wanneer ’n nuwe studie in ’n mediese tydskrif gepubliseer word.”
Party dokters sê dat dit verstandiger is om by die basiese dinge te bly as om met elke nuwe gesondheidsgier te eksperimenteer. The American Medical Association Family Medical Guide sê byvoorbeeld: “Jy kan jou hele lewe lank gesonder bly deur positiewe veranderinge in jou lewenswyse aan te bring en deur gereeld vir roetineondersoeke te gaan, sodat enige siekte wat ontwikkel vroeg gediagnoseer en behandel kan word.” Maar watter soort “positiewe veranderinge in jou lewenswyse” is die beste? Kom ons ondersoek drie van hulle.
Kies gesonde voedselsoorte
Mediese kenners beveel aan dat ons ’n wye verskeidenheid voedselsoorte moet eet en dat die grootste deel van ons kilojoule-inname van saamgestelde koolhidrate moet kom, veral dié wat in volgrane, bone, groente en vrugte gevind word.a Maar ons gesondheid word nie net beïnvloed deur wat ons eet nie, maar ook deur hoeveel ons eet. Dit is belangrik om matig te eet. As ons gereeld meer kilojoules inneem as wat ons liggaam kan gebruik, sal dit tot vetsug lei. Dit kan weer die hart ooreis, die liggaam verswak en ’n mens “vatbaarder maak vir hartsiekte, suikersiekte, gewrigsrumatiek en baie ander kwale”, sê een mediese handleiding.
In onlangse jare het die kwessie van vet in die dieet baie aandag gekry. Talle gesondheidsdeskundiges sê dat ’n dieet wat ryk aan versadigde vette is die risiko van hartsiekte en sekere soorte kanker verhoog. Dit beteken egter nie dat ons alle vet uit ons dieet moet uitskakel nie. “Daar is feitlik elke dag plek in ’n gesonde dieet vir ’n sekere hoeveelheid van dit waarvan jy hou”, sê Mary Abbott Hess, oud-president van die Amerikaanse Dieetkundige Vereniging. Die geheim is om porsies klein te hou en ander bronne van vet te vermy.
Dit is weliswaar nie maklik om jou eetgewoontes te verander nie. Trouens, party redeneer dalk dat die lewe nouliks die moeite werd is as hulle alewig nee moet sê vir kossoorte waarvan hulle hou. Maar pleks van ’n alles-of-niks-benadering aan te neem, moet jy ’n redelike balans probeer vind. Dit beteken dat ’n mens minder eet en nie soseer dat jy sekere kossoorte moet uitsny nie. Die Family Medical Guide wat vroeër aangehaal is, sê: “As ’n mens ’n gesonde lewenswyse aankweek, beteken dit nie dat jy moet ophou om die lewe te geniet nie.”
Dieetkundiges stel voor dat jy dit makliker kan maak om by veranderinge in jou dieet aan te pas deur ongesonde kossoorte geleidelik uit te skakel. Jy kan byvoorbeeld jou dieet oor ’n tydperk van ’n week aanpas, en dit nie net in een dag probeer doen nie. As jy tans elke dag rooivleis eet, kan jy dit tot drie keer per week probeer verminder. Dieselfde geld vir kossoorte wat ryk is aan versadigde vette, soos botter, kaas, roomys en peuselkosse wat baie vet bevat. Die doel moet wees om jou vetinname te verminder sodat dit nie meer as 30 persent van jou totale kilojoule-inname verteenwoordig nie.
Dr. Walter Willett van die Harvard-universiteit waarsku dat ’n mens nie vet in die dieet moet verminder en dit dan met kossoorte vervang wat ’n hoë stysel- en suikerinhoud het nie. Dit lei dikwels tot ’n toename in gewig. ’n Beter benadering is om die vette sowel as koolhidrate in jou dieet te verminder.
Matige oefeninge
’n Gesonde lewenswyse sluit ’n program van gereelde oefening in. Dr. Steven Blair, ’n redakteur van die Amerikaanse geneesheer-generaal se verslag oor liggaamlike fiksheid, sê: “Mense wat eers ’n sittende lewe gelei het en dan oorgaan na een van matige bedrywigheid halfveer die moontlikheid om aan hartsiekte te sterf.” Ongelukkig neem baie mense vandag nie eers aan bedrywighede deel wat matige liggaamlike inspanning verg nie. Blykbaar is 1 uit 4 mense in die Verenigde State byvoorbeeld heeltemal onbedrywig. In Kanada het ’n studie met die titel 1997 Physical Activity Benchmarks bevind dat “63 persent van Kanadese minder as ’n uur per dag liggaamlik bedrywig is”, berig The Toronto Star. En navorsers in Brittanje sê dat een groep kinders wat hulle ondersoek het “so onbedrywig [was] dat hulle hartklop wanneer hulle wakker was nie veel verskil het van wanneer hulle geslaap het nie”.—The Sunday Times.
Voorheen is daar gedink dat net intensiewe aërobiese oefeninge gesondheidsvoordele inhou. Maar jy hoef nie veeleisende oefeninge te doen om fikser te word nie. Trouens, volgens die geneesheer-generaal se verslag “kan die verbranding van net 150 kalorieë [630 kJ] per dag [deur matige oefening] die risiko van hartsiekte, hoë bloeddruk, kanker en suikersiekte verminder”.
Wanneer jy besluit om oefeninge te doen, is dit belangrik om ’n soort oefening te kies waarvan jy hou. Anders sal jy dit nie ’n deel van jou lewenswyse maak nie. Die sleutel is nie soseer wat jy vir oefening doen nie, maar hoe dikwels jy dit doen. Die Amerikaanse Nasionale Gesondheidsinstitute raai as ’n algemene riglyn aan dat “kinders sowel as volwassenes dit as ’n doelwit moet stel om gedurende die meeste dae, en verkieslik alle dae, van die week minstens 30 minute altesaam te bestee aan liggaamlike aktiwiteit wat matige inspanning verg”.
Wat word as bedrywighede beskou wat matige inspanning verg? Dit sluit dinge in soos om te swem, teen ’n flinke pas te loop, fiets te ry, die motor te was en te politoer, trappe te klim en die werf skoon te maak. Jy hoef nie by ’n gimnasium of ’n fiksheidsklub aan te sluit om jou gesondheid te beskerm nie. Daar is egter ’n woordjie van waarskuwing: Mediese kenners beveel aan dat jy ’n dokter moet raadpleeg voor jy enige oefenprogram begin as jy ’n geskiedenis van kardiovaskulêre siekte het of as jy ’n man oor 40-jarige ouderdom of ’n vrou oor 50-jarige ouderdom is.
Wat van rook, dwelms en alkohol?
Rook: Sigaretrook bevat meer as 4 000 skadelike chemiese verbindings, waarvan 200 bekende gifstowwe is. Maar ongeag hoeveel gifstowwe daar is, daar bestaan min twyfel oor die vernietigende gevolge wat rook op ’n mens se gesondheid het. Min ander verbruikersprodukte eis naastenby soveel lewens as tabak. In die Verenigde State sterf tien keer meer mense byvoorbeeld aan tabakverwante siektes as in motorongelukke. Die Wêreldgesondheidsorganisasie skat dat rook elke jaar wêreldwyd driemiljoen lewens eis!
Benewens ’n groter risiko van kanker en hartsiekte kry rokers meer dikwels verkoues, maagsere, chroniese longpypontsteking en hoër bloeddruk as nierokers. Rook verswak ook ’n mens se reuk- en smaaksin. Om op te hou rook, is duidelik een van die belangrikste voorkomende gesondheidsmaatreëls wat ’n mens kan neem. Maar wat van dwelms en alkohol?
Dwelms: Dwelmmisbruik het wêreldwyd geweldig baie lewens geëis. Die Amerikaanse Departement van Gesondheid en Menslike Dienste sê: “Elke jaar is dwelmmisbruik vir die dood van 14 000 Amerikaners verantwoordelik.” Maar onwettige dwelmgebruikers is nie die enigstes wat deur die dwelmhandel geraak word nie. Baie verslaafdes wend hulle tot geweld en ’n lewe van misdaad om vir hulle gewoonte te betaal. The Sociology of Juvenile Delinquency sê: “Wedywering om die beheer van crack-verspreidingsnetwerke het party gemeenskappe in die middestad as ’t ware in dooie gebiede verander, waar die moordsyfer so hoog is dat die polisie dit as onbeheerbare sones afgeskryf het.”
Dwelmmisbruik is natuurlik nie ’n probleem wat tot die Verenigde State beperk is nie. Volgens een skatting sterf 160 000 tot 210 000 mense elke jaar wêreldwyd weens dwelmgebruik. Daarbenewens gebruik miljoene mense ander soorte skadelike dwelms, soos khat (’n blaar met ’n stimulerende uitwerking), betelneut en kokaïen.
Alkohol: Hoewel gevaarlike dwelms soos crack-kokaïen en heroïen die publiek se aandag trek, rig alkoholmisbruik selfs groter skade aan. Alkoholisme “raak een uit 10 Kanadese”, berig The Medical Post, “en kos die gesondheidsorgstelsel $10 miljard [R62 miljard] per jaar”. Volgens skatting is alkohol in die Verenigde State ’n bydraende faktor by 50 persent van noodlottige motorongelukke en brande, 45 persent van verdrinkings en 36 persent van voetgangerongelukke. Alkoholmisbruik dra ook by tot talle gewelddadige misdade. Diegene wat hulle aan moord, aanranding, verkragting en kindermishandeling skuldig maak of selfmoord pleeg, doen dit dikwels onder die invloed van drank.
Kry hulp as iemand vir wie jy lief is van alkohol, tabak of dwelms afhanklik is.b God se Woord, die Bybel, sê: “Die vriend het altyd lief, en die broer word gebore met die oog op die nood” (Spreuke 17:17). Ja, die liefdevolle ondersteuning van familie en vriende kan baie help om ’n moeilike situasie die hoof te bied.
Maar as jy waarlik gesond wil wees, is meer as goeie liggaamlike gesondheid nodig. Verstandelike en geestelike faktore speel ook ’n belangrike rol om ’n gesonde lewenswyse te handhaaf. Die volgende artikel sal dit bespreek.
[Voetnote]
a Sien die Ontwaak! van 22 Junie 1997, bladsye 7-13, vir ’n breedvoerige bespreking van ’n gesonde dieet.
b Sien die reeks “Hulp vir alkoholiste en hulle gesinne”, in die Ontwaak! van 22 Mei 1992.
[Lokteks op bladsy 5]
“As ’n mens ’n gesonde lewenswyse aankweek, beteken dit nie dat jy moet ophou om die lewe te geniet nie”
[Lokteks op bladsy 6]
Die Wêreldgesondheidsorganisasie skat dat rook elke jaar driemiljoen lewens eis
[Lokteks op bladsy 7]
“Daar is feitlik elke dag plek in ’n gesonde dieet vir ’n sekere hoeveelheid van dit waarvan jy hou”
[Prent op bladsy 5]
Gereelde oefening kan deel uitmaak van ’n gesonde lewenswyse
[Prent op bladsy 6]
Vermy tabak en dwelms
[Prent op bladsy 7]
Vrugte en groente is goed vir jou
[Prent op bladsy 7]
Selfs daaglikse huiswerk kan gesonde oefening wees