Na die beeld van God of ’n dier?
DIE eerste mens, Adam, is ’n “seun van God” genoem (Lukas 3:38). Geen dier het al ooit daardie posisie geniet nie. En tog toon die Bybel dat mense ’n aantal dinge met diere in gemeen het. Mense sowel as diere is byvoorbeeld siele. Toe God Adam gemaak het, het “die mens ’n lewende siel geword”, sê Genesis 2:7. (Ons kursiveer.) Eerste Korintiërs 15:45 stem daarmee saam: “Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword.” Mense is siele, en daarom is die siel nie die een of ander skimagtige wese wat ná die dood van die liggaam voortleef nie.
Aangaande diere sê Genesis 1:24 (NW): “Laat die aarde lewende siele voortbring volgens hulle soorte, mak diere en bewegende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte.” Hoewel die Bybel dus aan mense waardigheid verleen deur te openbaar dat ons na God se beeld geskep is, herinner dit ons ook aan ons nederige posisie as aardse siele, tesame met die diere. Maar daar is iets anders wat mense en diere in gemeen het.
Die Bybel verduidelik: “Die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander . . . ’n Voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie . . . Alles gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug.” Ja, in die dood is mense en diere ook dieselfde. Albei keer terug “na die aarde”, “tot stof”, waarvandaan hulle gekom het.—Prediker 3:19, 20; Genesis 3:19.
Maar waarom word mense so erg ontstel deur die dood? Waarom smag ons daarna om vir ewig te lewe? En waarom moet ons ’n doel in die lewe hê? Ons verskil beslis baie van diere!
In watter opsigte ons van diere verskil
Sou jy gelukkig wees om deur die lewe te gaan sonder enige ander doel as om te eet, te slaap en voort te plant? Die gedagte is selfs vir toegewyde evolusioniste weersinwekkend. “Die hedendaagse mens, hierdie verligte skeptikus en agnostikus,” skryf die evolusionis T. Dobzhansky, “kan nie anders as om ten minste in die geheim oor die ou vrae te wonder nie: Het my lewe enige sin en doel bo en behalwe om myself aan die lewe te hou en om die ketting van die lewe voort te sit? Het die heelal waarin ek lewe enige sin?”
Trouens, wanneer die mens die bestaan van ’n Skepper ontken, bevredig dit nie sy soeke na die betekenis van die lewe nie. Richard Leakey haal die geskiedkundige Arnold Toynbee aan en skryf: “Hierdie geestelike vermoë van [die mens] veroordeel hom tot ’n lewenslange stryd om homself met die heelal waarin hy gebore is te versoen.”
Maar die fundamentele vrae oor die menslike natuur, ons oorsprong en ons geestelikheid bly onbeantwoord. ’n Groot kloof bestaan klaarblyklik tussen die mens en diere. Hoe groot is daardie kloof?
’n Kloof wat te wyd is om te oorbrug?
’n Fundamentele probleem in die evolusieteorie is die groot kloof wat mense en diere skei. Hoe groot is dit werklik? Beskou ’n paar dinge wat evolusioniste self daaroor gesê het.
’n Groot voorstander van die evolusieteorie in die 19de eeu, Thomas H. Huxley, het geskryf: “Niemand is sterker oortuig as ek van die ontsaglike kloof tussen . . . die mens en die diere nie . . . , want hy alleen besit die wonderlike gawe van verstaanbare en logiese spraak [en] . . . dit verhef hom sodat hy berghoog bo sy laer medeskepsele uittroon.”
Die evolusionis Michael C. Corballis sê dat “daar ’n opvallende gaping tussen mense en die ander primate is . . . ‘Ons brein is drie keer groter as wat ons sou verwag vir ’n primaat met ons liggaamsbou.’” En die neuroloog Richard M. Restak verduidelik: “Die [mens se] brein is die enigste orgaan in die bekende heelal wat homself probeer verstaan.”
Leakey erken: “Bewustheid skep vir wetenskaplikes ’n dilemma, wat party meen onoplosbaar is. Die besef dat jy ’n persoonlike wese is, iets wat elkeen van ons ondervind, is so helder dat dit alles wat ons dink en doen, verhelder.” Hy sê ook: “Taal skep beslis ’n kloof tussen Homo sapiens [mense] en die res van die sigbare wêreld.”
Peter Russell meld nog ’n wonder van die menseverstand en skryf: “Geheue is ongetwyfeld een van die belangrikste menslike vermoëns. Daarsonder sou daar geen leerproses . . . , geen intellektuele werking, geen taalontwikkeling en ook nie een van die eienskappe gewees het . . . wat gewoonlik met menswees gepaardgaan nie.”
Daarbenewens beoefen geen dier aanbidding nie. Edward O. Wilson sê derhalwe: “Die ontvanklikheid vir godsdiensoortuiging is die mees komplekse en sterkste krag in die menseverstand en na alle waarskynlikheid ’n onuitwisbare deel van die menslike natuur.”
“Menslike gedrag laat baie ander Darwinistiese raaisels ontstaan”, erken die evolusionis Robert Wright. “Watter doel dien humor en lag? Waarom doen mense sterfbedbekentenisse? . . . Wat is die presiese doel van droefheid? . . . Noudat die persoon nie meer daar is nie, hoe is droefheid vir die gene van nut?”
Die evolusionis Elaine Morgan erken: “Vier van die vernaamste raaisels oor mense is: (1) waarom loop hulle op twee bene? (2) waarom het hulle hulle pels verloor? (3) waarom het hulle so ’n groot brein ontwikkel? (4) waarom het hulle geleer praat?”
Hoe word hierdie vrae deur evolusioniste beantwoord? Morgan verduidelik: “Die gewone antwoorde op hierdie vrae is: (1) ‘Ons weet nog nie’; (2) ‘Ons weet nog nie’; (3) ‘Ons weet nog nie’ en (4) ‘Ons weet nog nie.’”
’n Wankelrige teorie
Die skrywer van die boek The Lopsided Ape het gesê dat sy doel “was om ’n algemene oorsig van die menslike evolusie deur die eeue heen te voorsien. Baie van die gevolgtrekkings was onseker, aangesien hulle hoofsaaklik op ’n paar ou tande, beendere en klippe gebaseer is.” Trouens, selfs Darwin se eie oorspronklike teorie word nie deur baie aanvaar nie. Richard Leakey sê: “Darwin se weergawe van die manier waarop ons geëvolueer het, het die wetenskap van antropologie nog tot ’n paar jaar gelede oorheers, en dit was toe al die tyd verkeerd.”
Baie evolusioniste het volgens Elaine Morgan “vertroue verloor in die antwoorde wat hulle gedink het hulle dertig jaar gelede geken het”. Dit is dus nie verbasend dat party van die teorieë wat evolusioniste gehad het nou nie meer bestaan nie.
Droewige gevolge
Party studies het bevind dat die aantal wyfies waarmee ’n mannetjie paar verband hou met die verskil in liggaamsgrootte tussen die geslagte. Hieruit het party afgelei dat menslike seksgewoontes soortgelyk behoort te wees aan dié van sjimpansees, aangesien sjimpanseemannetjies, soos hulle menslike eweknieë, net ’n bietjie groter is as die wyfies. Party redeneer derhalwe dat mense, soos sjimpansees, toegelaat moet word om meer as een seksmaat te hê. En baie mense het inderdaad meer as een maat.
Maar wat blykbaar goed werk vir sjimpansees is oor die algemeen vir mense ’n ramp. Die feite toon dat promiskuïteit ’n pad na ellende is wat besaai is met gebroke gesinne, aborsies, siektes, verstandelike en emosionele trauma, jaloesie, gesinsgeweld en verlate kinders wat wanaangepas grootword en net weer die skadelike kringloop voortsit. As mense dieselfde natuur as diere het, waarom veroorsaak dit pyn?
Evolusionêre denke laat ook twyfel ontstaan oor die heiligheid van menselewe. Op watter gesag is menselewe heilig as ons sê dat daar geen God is nie en onsself bloot as ’n hoër diersoort beskou? Dalk ons intellek? As dit die geval was, sou die vraag wat geopper is in die boek The Human Difference uiters gepas wees: “Is dit regverdig om mense te behandel asof hulle meer waarde het as honde en katte net omdat ons al die [evolusionêre] gelukslae gehad het?”
Namate die nuwer evolusionêre denkwyse versprei, “sal dit onvermydelik ’n groot uitwerking op sedelike denke hê”, sê die boek The Moral Animal. Maar dit is ’n wrede sedelikheid wat berus op die veronderstelling dat ons deur “natuurlike teeltkeuse” gevorm is, waardeur “die sterkes en slimmes die oorhand kry oor die swakkes en goedgelowiges”, soos H. G. Wells dit gestel het.
Wat opmerkenswaardig is, is dat baie teorieë van evolusioniste wat sedelikheid deur die jare heen ondermyn het weer deur die volgende groep denkers verwerp is. Maar die tragedie is dat dit nie die skade wat sulke teorieë aangerig het ongedaan maak nie.
Aanbid die skepping of die Skepper?
Evolusie laat ’n mens afkyk na die skepping vir antwoorde en nie op na die Skepper nie. Aan die ander kant laat die Bybel ons opkyk na die ware God vir ons sedelike waardes en ons doel in die lewe. Dit verduidelik ook waarom ons moet worstel om verkeerde dade te vermy en waarom net mense so gekwel word deur die dood. Daarbenewens word die verduideliking daarin oor waarom ons geneig is om verkeerd te doen deur die mens se verstand en hart as die waarheid aanvaar. Ons nooi jou om daardie bevredigende antwoord te ondersoek.
[Prente op bladsy 7]
Hoe groot is die kloof tussen die mens en diere?